Skip to main content

Johannes 17:1–26 – Jesus bid passievol vir eenheid in Sy kerk

RUS

  • Ek raak stil voor die Here na ’n besige dag en laat sy vrede van my hart besit neem.

HOOR

  • Ek lees hierdie baie bekende Skrifgedeelte en vra dat die Here my insig sal verdiep.
Dit tref my dat hierdie gebed in Johannes eintlik die rol inneem van die gebed wat Jesus in Getsemane gebid het, en waar sy dissipels nie wakker kon bly nie.  Dit is sy finale aardse gebed (en lering) vir die dissipels.  Hierna sou Hy as Hoëpriester hemelse gebede bid vir hulle (Hy is daar ons Voorspraak – 1 John 2:1; Hy leef daar vir altyd om vir ons in te tree – Heb 7:25; Hy pleit daar vir ons [nes die Gees in ons harte] waar Hy sit aan die regterhand van God – Rom 8:34).  En die inhoud van die gebed is net so omvattend soos die Ons Vader wat Jesus aan sy dissipels geleer het.

Die gebed vertoon die volgende drie-delige (Westcott) struktuur wat interessante ooreenkomste vertoon met die wyse waarop Aäron sy rol as Hoëpriester gespeel het (doen versoening vir homself, die priesters en die hele gemeente – Lev 16:17):

  • Jesus bid vir Homself en die voltooiing van sy roeping: dat God Hom sal verheerlik soos tevore, want Hy het sy taak voltooi (“dit is volbring” – Joh 19:30), om God se woorde aan mense bekend te maak – 17:1-8;
  • Jesus bid vir die dissipels:
    • Vir die beskerming van die dissipels se onderlinge gemeenskap, sodat hulle net soos Hy en die Vader een kan wees – 17:9-12;
    • Vir die beskerming van die Bose (soos in die Ons Vader) deurdat hulle toegewy bly aan die waarheid van God se woord, al erken Jesus dat Judas verlore is soos die Skrif voorspel het (Ps 41:10) – 17:13-19;
  • Jesus bid vir kerk:
    • die eenheid van al die gelowiges wat deur die dissipels se werk tot geloof in Jesus sal kom, as ’n verdere getuienis aan die wêreld – 17:20-23;
    • Jesus bid vir ’n hereniging met die gelowiges dat hulle Sy ware heerlikheid kan sien en Sy liefde volkome in hulle kan bly – 17:24-26.

Let op dat die ewige lewe nie op die hemel as sodanig dui nie, ook nie op ’n tydloosheid nie, maar op ’n onbelemmerde verhouding met God.

Let ook op dat die eenheid tussen gelowiges gehandhaaf moet word in die midde van die eksterne aanvalle van die Bose en die interne aanvalle van gelowiges wat nie die eenheid genoegsaam koester nie.

 

LEEF

  • Dit bly die primêre Skrifgedeelte wat die eenheid van die gemeenskap van gelowiges as ’n fundamentele waarheid beskryf, wat altyd ’n aanmoediging sal bly om waar daar skeuring is, alles in ’n mens se vermoë te doen om die eenheid te herstel.  Paulus sou baie tyd aan hierdie gedagtes spandeer en dit verder uitspel (1 Kor 12-14; Ef 3-4).  Dit is die lewende testament van Jesus – Hy bid vir en werk vir eenheid, ’n eenheid presies soos Hy dit met die Vader en die Gees beleef.  Niks minder as dit kan ooit my doelwit en passie bly nie.
  • Ek wy my opnuut aan die proses om gelowiges van verskillende oortuigings in ’n eenheid met mekaar te snoer.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Eenheid, Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar