Skip to main content

Johannes 4:43–5:47 – Lewe kom deur vertroue op God en ’n gehoorsame luister na sy woorde

RUS

  • Ek raak stil voor die Here en vra vir insig in wat Hy aan my openbaar deur die evangelie.

HOOR

  • In my lees van hierdie gedeelte tref die volgende aspekte my:

Die gedeelte bestaan uit vier perikope:

  1. die 2de wonderteken van die genesing van die regeringsamptenaar se seun (Matteus 8:5-13 en Lukas 7:1-10 het ’n soortgelyke verhaal waar dit ’n slaaf is wat genees word) – 4:43-54;
  2. die 3de wonderteken van die genesing van die siek man by die bad van Betesda – 5:1-17;
  3. die verweer van Jesus teen die Jode wat reeds nou al sy dood beplan, dat Sy genesings sy band met die Vader bevestig wat die ewige lewe gee vir elkeen wat in Hom glo – 5:18-29;
  4. die werk van Jesus wat Hy as getuienis aanbied waarmee Hy mense uitnooi om die lewe uit Sy hand te aanvaar, ’n getuienis wat ooreenkom met wat die Skrifte inderdaad ook oor Hom getuig, as hulle dit net sou glo – 5:30-47.

4:43-54: Die 2de wonderteken van Jesus behels die genesing van ’n regeringsamptenaar se seun in Kapernaum.  Jesus het nie veel peil getrek op die verwelkoming van die Galileërs nie, omdat Hy geweet het dat hulle alles gesien het wat Hy by die paasfees in Jerusalem gedoen het.  Daarom skeer hy aanvanklik die geloof van die regeringsamptenaar oor dieselfde kam, en wil eers nie optree op sy versoek tot genesing van sy seun nie, al het hy 30 km gereis om in Kana vir Jesus om genesing te vra.

Let op hoe die regeringsamptenaar met al hoe groter passie sy geloof in Jesus wys met sy pleidooi om genesing, waarop Jesus ’n belangrike ding doen, om net ’n woord van genesing te spreek, sonder dat Hy naby aan die sieke is.  En let op hoe die regeringsamptenaar met net dié woord as basis met vertroue reageer, nog voordat hy die uitkoms gesien het.  En toe hy die uitkoms gesien het, het sy geloof verder verdiep, en saam met hom het ook sy huisgesin tot geloof in Jesus gekom.

5:1-17: Die volgende verhaal vind weer by ’n fees plaas, hoewel ons onseker is watter een dit was.  Jesus is weer in Jerusalem en doen aan by die bad van Betesda.  Hier tref hy ’n man aan wat al 38 jaar daar gelê het, en niemand gehad het wat hom kon help om op die regte tyd in die poel te kom wanneer die water in beweging kom, en, volgens die geloof van die tyd, daar genesing sou wees vir die eerste een wat in die water sou ingaan.

Interessant genoeg (Charlesworth) is daar ’n hele aantal slang figure uitgegrawe by hierdie poel wat aan Asclepius, die god van genesing, verbind is.  Dit is daarom moontlik dat daar ’n spanning in die storie is, dat die verlamdes by die poel nie net vir die Here se ingrype in hulle lewens gewag het nie, maar ook vir Asclepius.  Jesus se genesing van die verlamde man kon dus ook die betekenis gedra het dat dit God is wat genees en nie Asclepius nie.

Hoe dit ook al sy, hoewel die man deur Jesus genees word, word hy onmiddellik ondervra omdat dit op ’n sabbatdag gebeur het.  Wanneer Jesus hom daarna in die tempel opspoor gee Hy hom opdrag om nie meer sonde te doen nie, sodat iets ergers nie met hom gebeur nie.  Daarmee bedoel Jesus waarskynlik dat hy ’n nuwe kans op lewe gekry het, en dat hy dit nie moet vermors nie.  Jesus wys immers in hoofstuk 9 met die genesing van die blinde man juis die oorsaaklike band tussen sonde en siekte af.

In plaas daarvan om Jesus te aanbid, soos die blinde man dit later sou doen, gaan gee hy – wetend of onwetend – die Jode (tempel-owerhede?) inligting oor Jesus wat hulle teenstand teen Hom sou verskerp, soos die gesprek wat daarna volg, uitwys.  ’n Mens wonder of die genesing op die langtermyn iets vir dié siek man beteken het?

Jesus se verweer teen die beswaar van die Jode teen genesings op die sabbatdag is kort en kragtig, dat Hy dieselfde werksure as Sy Vader handhaaf.

5:18-29: Let op hoe die Jode hieroor nog des te meer vasbeslote is om Jesus dood te maak, terwyl Hy juis Homself laat ken as die een wat lewe gee. Ironies!  Hulle motivering is sy gebrek aan respek vir die reëls van die sabbatdag en dat Hy Hom met God gelyk gestel het.  Sy verweer is dat Hy nie die werke kan doen wat Hy doen, as God nie met Hom is nie, as Hy dus inderdaad nie God se Seun is nie.

Let op die intieme verhouding wat Hy met Sy Vader beskryf en hoe dit ons ’n kykie gee in die tipe gemeenskap waarheen God ons uitnooi.  Hoewel Jesus op hierdie punt nog nie iemand uit die dood opgewek het nie, skep sy beskrywing van God wat dooies opwek en lewend maak die verwagting dat dit êrens gaan gebeur (vgl Deut 32:39 en 1 Sam 2:6 waar ook die OT dít van God bely).  En ons weet dat in hoofstuk 11 Lasarus opgewek sal word uit die dood, en in hoofstuk 20 Hyself!

Sy appèl aan die Jode is dat hulle na Hom moet luister en in God moet glo wat Jesus gestuur het.  So ’n reaksie op Hom sal lei tot die ewige lewe, waaraan die fisiese dood niks sal kan doen nie.  Anders bly net veroordeling oor op die opstandingsdag vir dié wat nie daartoe bereid was nie.

5:30-47: Jesus se lewe en werk vloei volledig voort uit wat Hy van Sy Vader hoor en van Hom as opdrag kry.  Vier getuies word hier aangehaal wat die Seun se volmag om te doen wat Hy doen, bevestig:

  1. Godself – vers 32 en 37 – hoewel die Jode sy stem gemis het, omdat hulle nie bereid was om in Jesus te glo nie, die een wat God juis gestuur het (vgl Joh 1);
  2. Johannes die Doper – vers 33-35 (vgl weereens Joh 1) – hoewel die Jode sy boodskap gemis het, omdat hulle wel aanvanklik bereid was om na hom te luister, maar nie self tot geloof wou oorgaan nie (amper soos die saad wat in rotsagtige dele geval, opgekom het, maar toe deur die son verskroei is);
  3. Die werke wat Jesus doen – vers 36 – waarna Jesus reeds in die gesprek met die Samaritaanse vrou na verwys het;
  4. Die Skrifte, soos onder andere deur Moses geskrywe – vers 39 en 46-47 – hoewel dit duidelik blyk dat sonder geloof die boodskap van die Skrifte nie reg verstaan kan word nie.  Die Jode bewys hulle gebrek aan geloof deur hulle verwerping van Jesus en sy bediening, al doen hulle moeite met hulle bestudering van die Skrifte.

LEEF

  • Dat ’n mens met die Bybel in die hand God kan mis, ruk my tot stilstand.  Die Bybel en Bybelstudie mag nooit ’n doel op sigself word nie.  Dit moet altyd ’n hulpmiddel wees waardeur na God geluister word, en ’n bron waaruit geleef word.
  • Ek offer my eie lees van die Bybel aan God op om telkens ook aan my die lewe te gee.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar