Skip to main content

Johannes 10:1–42 – Die Goeie Herder se skape ken sy stem

RUS

  • Ek luister na die reën wat daarbuite val en raak bewus van God se grootheid.

HOOR

  • Ek lees Johannes 10 en dink na oor die volgende aspekte van die verhaal wat my tref:
Die eerste deel van hierdie hoofstuk sit die gesprek voort met die Jode na sy genesing van die blinde man, en skets Jesus as die Goeie Herder, hoewel selfs die meesleurende boodskap hiervan hulle nie sovêr kry om in Hom te glo nie.  Die tweede deel van die hoofstuk vind plaas tydens die fees van die tempelwyding[1] waar Jesus die rede vir hulle ongeloof uitspel – dat hulle nie van sy skape is nie – hoewel daar tog steeds mense is wat ten spyte van die teenstand in Hom begin glo.  Hoofstuk 11 sal Jesus se Goeie Herderskap bewys, met Lasarus wat uit die dood opgewek word.

10:1-21: Jesus gebruik in vers 1-6 die beeld van die herder om sy eienaarskap, versorging en begeleiding van sy mense te beklemtoon.  Die Jode verstaan egter nie wat Hy vir hulle daarmee wil sê nie – waarmee veral die leiers onder hulle, hulle valse herderskap bewys.  Hulle ken nie vir God nie en werk nie vanuit ’n verhouding met Hom nie.

In vers 7-18 spel Jesus dit nog dieper uit, deurdat Hy ook die ingang vir die skape is (op soortgelyke wyse is Hy ook die leer na die hemel – Joh 1:51; en die weg na God – Joh 14:6), sowel as die Goeie Herder.  Dit beklemtoon dat dit slegs in ’n verhouding met Hom moontlik is om deel van sy kudde te wees – Sy skape ken Sy stem.  Vir dié gelowiges wat in Hom glo en Hom begin gehoorsaam, gee Hy lewe in oorvloed.  Die ander skape waarvan hier gepraat word, dui op die heidene wat nog in Hom sou glo.

Om dit nog beter te verstaan: ’n skaapkraal het in daardie tyd baie keer verskillende kuddes geakkommodeer, veral wanneer dit nie aan ’n huis vas gebou was nie.  ‘n Herder het dus baie tyd met sy skape deurgebring, sodat hulle sy stem kon leer ken.  Dit het beteken dat hy hulle dus kon beheer met sy stem – net sy skape het agter hom uit geloop as hy hulle geroep het om uit die kraal te gaan vir weiding.

Dít is die tipe intieme prentjie wat vir ons Jesus se verhouding met ons teken – Hy wil hê elke gelowige moet Sy stem só goed leer ken (Sy Woord), dat Hy letterlik voor kan loop en ons begelei na die lewe en oorvloed wat Hy wil gee.  En onthou, dit is met dié stem dat Jesus vir Lasarus uit die graf uit roep en opwek … dit is hoe kragtig Sy stem is!

Maar getrou aan wat Hy reeds met die beeld van die brood wat lewe gee, gesê het, hou Sy herderskap letterlik sy dood in, want Hy lê sy lewe af vir sy skape (Sag 13:7).  Let op hoe Hy ook praat van sy lewe weer opneem, soos Sy Vader dit vir Hom moontlik sal maak – waarmee Hy sy eie opstanding uit die dood voorspel.

Die Jode het egter nog meer probleme met hierdie woorde, en dink dat Jesus óf van die duiwel besete is, óf mal – hoewel daar tog ook mense was wat gesê het, sy woorde bewys die teendeel.

10:22-42: Met die fees van die tempelwyding – die herdenking van die verlossing uit Siriese onderdrukking in die 2de eeu vC deur die Makkabeërs – gaan die gesprek voort, hierdie keer oor sy Messiaanse (=Christus) karakter, al dan nie.  Weereens beklemtoon Jesus dat ’n mens sy Messiasskap net kan begryp, as jy in Hom glo, in in verhouding met Hom lewe – dws een van sy skape sou wees.  En dit is die ongelowiges Jode nie.  Daarom kan selfs die dade wat Jesus doen, wat bewys dat Hy God is, hulle nie oortuig nie.

Tussendeur verseker Hy dié wat wel in Hom glo dat dit vir hulle die ewige lewe beteken en dat niemand hulle uit Sy hand sal kan ruk nie.  Dit is die enigste ware basis van sekerheid in hierdie lewe – dat God jou vashou.  En Hy bevestig sy goddelikheid deur weer van Sy eenheid met Sy Vader te praat.

Die ongelowige Jode wil Hom egter stenig, selfs al kan Hy uit die einste wet waarop hulle soveel peil trek, bewys dat wat Hy sê waar is – immers, as die OT die benaming “gode” op mense van toepassing kan maak (Ps 82:6), hoeveel te meer kan dit nie op Jesus wat van God af kom, van toepassing gemaak word nie.  En sy dade bevestig dit ook nog!

Tog lei dit steeds nie tot geloof by die Jode nie, waarvan die meeste waarskynlik  deel van die leierskap was.  Gewone Jode het steeds na Jesus gestroom, selfs toe Hy weer by die Jordaan, in die landstreek Perea, vir ’n tyd gaan bly het, maar die leiers het Sy dood beplan.

LEEF

  • Dit tref my dat van die mooiste gedeeltes in die Bybel midde in strydgesprekke opgeteken is.  Dit is terwyl die Jode net nie so ver kan kom om in Jesus te glo nie, dat Jesus ’n verhouding met Hom praat, en van Sy Goeie Herderskap praat, iets wat ook vir my bedoel is.  En die hoofdoel van my lewe moet wees om Sy Stem só goed te leer ken, dat ek dit kan volg “ at a moment’s notice”.  Niks is belangriker as dit nie.
  • Ek loof die Here dat ek in ’n verhouding met Hom kan lewe en dat Hy ook vir my die Goeie Herder is.  En ek verbind my opnuut om na Sy Stem te luister.

[1] Die fees van die tempelwyding  het die Makkabeër-opstand in herinnering geroep.  Hulle het Jerusalem bevry na ’n driejaar lange oorlog en die beeld van Zeus (Jupiter in Latyn) wat deur die Siriese koning Antiogos IV Epifanes (Daniël 7-12) in 168 vC in die tempel geplaas is, verwyder.  Só het hulle die Joodse staat weer gevorm en die tempel se godsdienstige rol weer herstel.  Die geskiedenis daarvan is opgeteken in die twee Makkabeër boeke wat in die Rooms-Katolieke OT verskyn, hoewel die Jode self dié twee boeke nie in die Hebreeuse kanon ingesluit het nie.  Ons volg die Hebreeuse tradisie en nie die Rooms-Katolieke een nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.