Skip to main content

Johannes 19:1-42 – Dit is volbring!

RUS

  • Dit is wonderlik om die reën op die dak te hoor drup en God se seën en genade daarin te hoor.
  • Ek kan God vertrou ook vir ander behoeftes in my lewe.

HOOR

  • Ek lees die kruisigingsverhaal.
  • Die volgende aspekte tref my daarin:

In vier bedrywe word die kruisigingsverhaal vertel:

  • Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – 19:1-16;
  • Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – 19:17-27;
  • Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – 19:28-37;
  • Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – 19:38-42.

19:1-16: Jesus moet die pyn van die kruisigingsproses deurstaan (die geseling was met ’n sweep wat uit ’n klomp rieme bestaan het, waaraan stukkies been en metaal vasgewerk is), sowel as die ekstra vernedering van die doringkroon en die pers mantel met die soldate wat met Sy koningskap spot.  Hy kies ook om nie Pilatus se onskuldigbevinding en duidelike ongemaklikheid met die situasie uit te buit tot sy voordeel.  Die uitlewering van ’n onskuldige Jesus aan die Jode is eintlik ’n verkragting van die Romeinse regstelsel.  Selfs wanneer Pilatus egter bang raak vir die dreigemente van die Jode, en dit duidelik blyk dat hy ’n manier soek om Jesus los te laat, staan Jesus nie die boosheid van die Jode en die wispelturigheid van Pilatus teë nie.

Wat ’n mens dus raaksien tussen die weifelende maar ook strategiese Pilatus (sy amnestie prosedure met Barabbas het nie gewerk nie, nou probeer hy lyfstraf om hulle simpatie met Jesus te probeer ontlok, wat ook nie werk nie) en die moorddadige skynheilige Jode, is ’n kalm roepingsbewuste Jesus wat die rol wat God Hom gegee het, tot die einde toe speel.  Dít is waarvoor Hy na die wêreld gekom het – om sy lewe te gee vir sy skape, dié wat in Hom glo – en dít is waarvoor Hy Homself nou oorgee.  Let op, Hy wys Pilatus (en voor dit ook die Jode) op die betekenis van wat hulle doen, maar Hy keer hulle nie om hulle planne en keuses uit te voer nie.

En hoe verskriklik klink die woorde van die Jode nie: “Ons het nie ’n koning nie, ons het net die keiser.”  En daarmee voltrek hulle ook die oordeel oor hulleself, want hulle verwerp dié
Een wat vir hulle die lewe kon gee (soos Israel destyds in Samuel se tyd – 1 Sam 8:7).

19:17-27: Die reis van Gabbata na Golgota begin.  Dit is ’n reis vanaf Pilatus se regsverydeling, ter wille van sy eie lewe, na Jesus se reddingsdaad, ter wille van ander se lewe.  Die een kies om sy lewe te behou, en sal dit verloor.  Die Ander kies om sy lewe te gee, en sal dit uiteindelik behou.

Die moordenaars wat langs Jesus gekruisig is, word wel genoem, maar Johannes kies om nie meer detail oor hulle te vertel nie.  Ironies genoeg verklaar die opskrif oor Jesus presies wie Hy in werklikheid is, al het Pilatus min daarvan besef.

Die vier soldate se verdeling van sy klere word deur Johannes as vervulling van Ps 22:19 beskou, ’n Psalm waarin ’n hele paar Messiaanse betekenisse gehoor kan word. Ironies genoeg staan daar ook vier vroue – saam met Johannes – by die kruis: 1 Maria, Jesus se ma, 2) haar suster (waarskynlik Salomé – Mark 15:40), 3) Maria, die vrou van Klopas (waarskynlik dieselfde persoon as Kleopas waarvan ons in Luk 24 lees), en 4) Maria Magdalena (van Magdala), dié een wat die voorreg sou hê om die eerste die leë graf te beleef (hfst. 20).

Let op in hoe ’n kontras Johannes Jesus teenoor Pilatus plaas.  Pilatus het uit vrees opgetree en Jesus onskuldig laat sterwe.  Jesus het uit liefde opgetree en hier in sy sterwensuur nog ’n liefdesdaad vir sy ma verrig, deur haar aan Johannes toe te vertrou – die eerste kruiswoord waarvan Johannes ons vertel.

19:28-37: Dit bly moeilik om oor Jesus se dood te skrywe – al besef ’n mens dat Hy dit gekies het, dat God Hom daarvoor gestuur het, en dat dit die lewe vir my en duisende ander beteken het.

Die ander twee kruiswoorde wat Johannes beskryf vat egter vir my op pynlik-inspirerende wyse vas wat hier gebeur.

  • Jesus is volledig mens wat pyn en lyding ervaar presies soos wat ek dit doen: “Ek is dors” (’n aanhaling uit Ps 69:22 wat hier ’n Messiaanse betekenis kry).  En ten spyte van sy dors volhard Hy onwrikbaar op die lydenspad.
  • En met ’n laaste woord voltooi Hy sy missie en lewensroeping: “Dit is volbring”.  Hy het die wenstreep behaal en die geloof behou.

Die gebruik was om gekruisigdes se bene te breek om die dood te verhaas. Anders kon gekruisigdes vir ’n paar dae lank so lank as moontlik probeer regop staan om die dreigende versmoring (long- en hartversaking) as hulle aan hulle arms sou hang, te vermy.  Vir Jesus was dit egter nie nodig nie, omdat Hy Homself aan die kruisdood oorgegee het en reeds dood was.  Johannes verbind dit aan Ps 34:21 (hy sou ook na Eks 12:46; Num 9:12 kon verwys waar die Paaslam se bene ook nie gebreek is nie) en haal ook Sag 12:10 aan wat van die “deurboring”  praat, soos die soldate dit inderdaad uitgevoer het.

19:38-42: Josef van Arimatea en Nikodemus, die twee geheime dissipels, vra vir Jesus se liggaam en begrawe Hom in ’n tuin naby aan Golgota teen die aand van die Vrydag, Goeie Vrydag.

LEEF

  • Ons het baie voorbeelde van helde wat volhard het met hulle opdragte of enduit volgehou het met ’n spesifieke lewenstaak.  Maar daar is niemand wat meer gedoen het as Jesus nie, veral as ’n mens die blote vernedering van menswees vir God, en die afgryslike vernedering van ’n onskuldige kruisdood in ag neem.
  • Omdat U dít vir my gedoen het, verdien U om die middelpunt van my hele lewe te wees.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar