Johannes 7:53–8:11 – Ek veroordeel jou ook nie

RUS

  • Ek raak stil voor die Here en dank Hom vir die insig wat Hy gee in Wie Hy is, en wat Hy doen.

HOOR

  • Ek lees die kort verhaal en die volgende aspekte tref my:
Jesus oornag op die Olyfberg (Luk 21:37; 22:39), waarskynlik om met Sy Vader in gesprek te tree, voordat Hy vroeg die volgende môre weer die mense in die tempel leer.[1]

Die skrifgeleerdes en Fariseërs bring dan ’n vrou wat op owerspel betrap is na Hom toe om Hom uit te lok met die vraag of sy nie gestenig moet word nie (Lev 20:10).  Hulle het geen gevoel vir die vrou self nie – die man met wie sy owerspel gepleeg het, is onder andere nie daar nie, en moes volgens wet saam met haar doodgemaak word (Deut 22:22-24) – en wil net iets kry om Jesus mee aan te kla.

Jesus ignoreer aanvanklik hulle vraag en optrede deur op die grond te skrywe.  Daar is baie teorieë oor wat Hy geskryf het, maar niemand weet wat dit was nie.  Miskien was dit net om hulle kans te gee om af te koel en na te dink oor wat hulle van plan was om te doen.  Steniging was in elk geval ’n gebruik wat baie min toegepas is, en nie eers iets wat in die wet vir die doodmaak van owerspeliges voorgeskryf is nie.  Boonop sou só ’n aksie Hom in konflik met die Romeinse owerhede bring, wat nie toegelaat het dat sulke wette toegepas word nie.

Maar toe hulle aanhou vra, gee Hy die briljante antwoord dat dié van hulle wat ’n skoon gewete het, die eerste klip op haar moet gooi. Hy handhaaf dus die wet, maar laat die lig van die wet ook op hulle gewetens val.

Hulle kry dit dan nie reg om te begin klippe gooi nie, waarskynlik weens hulle gewetens wat hulle aankla, omdat owerspel in die geheim ook onder mense in die hoogste geledere van die Joodse godsdiens plaasgevind het, soos van die ander geskrifte uit Jesus se tyd aandui.  Jesus word alleen saam met die vrou gelaat in die middel van die kring mense wat dit alles dopgehou het.

Jesus stuur haar sonder veroordeling weg (Joh 3:17), hoewel hy nie haar sonde goedkeur nie.  Sy opdrag aan haar om nie meer sonde te doen nie, herinner aan die opdrag aan die siek man van Betesda.  Let op dat sy Hom Here noem, ’n aanduiding dat sy iets verstaan het van wie Jesus is, en dat dit vir haar betekenis gehad het.

LEEF

  • Die manier waarop Jesus omgee deur nie te veroordeel nie, maar ook nie sonde goed te praat nie, tref my.
  • Ek loof die Here dat Hy my ook nie veroordeel nie, maar ook nie los om maar net aan te karring soos ek lus het nie.

[1] Hierdie perikoop kom nie in die oudste manuskripte voor nie.  Die inhoud klop egter met die res van die verhale van Jesus.

View all posts in this series

Johannes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: