Eksodus 40 – Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel
Die trio van die Trek, die Tora, en die Tabernakel word uiteindelik voltooi met die Here se teenwoordigheid wat die Tabernakel vul. As die gee van die Tora op Sinai die onderbou verskaf het vir die lewenswyse en gedrag van die volk, het die volmaak van die Tabernakel met die teenwoordigheid van die Here die ruimte verskaf vir die aanbidding van die volk. Etiek en liturgiek in volmaakte samehang, iets wat ‘n mens later in die Psalms gereflekteer sal sien (ek sal een of ander tyd iets daaroor publiseer na aanleiding van ‘n referaat wat ek by ‘n OT kongres gelewer het).
Daarmee skets die boek die volle prentjie van wat dit beteken om coram Deo, voor die Here, te lewe. Jou hele lewe word ingesluit in die moreel-etiese tipe lewe wat die Tora voorskrywe, veral begrond in die Tien Gebooie van Eksodus 20. Jou hele lewe vind ook sy betekenis in die tipe aanbidding wat moontlik is in die ruimte van die Tabernakel wat deur God se teenwoordigheid gevul word (later natuurlik in die Here Jesus Christus), onder andere begrond in die Twaalf Gebooie van Eksodus 34.
Onlangse kommentaar