Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne

Esegiël rig soos ‘n hele paar van die ander profete ook ‘n paar oordeelswoorde aan die omringende nasies, interessant genoeg, sewe nasies in getal.
In ‘n geografiese spiraal fokus Esegiël in hoofstuk 25 opeenvolgend op die Ammoniete in die noord-ooste, die Moabiete in die ooste, die Edomiete in die suid-ooste, en die Filistyne in die weste. In hoofstuk 26-28 kom Tirus en Sidon in die noorde aan die beurt – met ‘n kort heilswoord vir Israel aan die einde daarvan – voor hy die grootste deel van sy oordele in hoofstuk 29-32 – sewe profesieë in getal – teen Egipte in die verre suide uitspreek.
Daarmee getuig Esegiël van God se soewereine aanspraak op al die mense van die aarde. Hy bepaal die wel en weë van almal, selfs dié wat Hom nie aanbid nie. Hy wys ook duidelik uit dat die leedvermaak en minagting van die omringende volke op niks sal uitloop nie. Veral die eerste vier nasies sal hulle selfstandigheid verloor, terwyl Juda (Israel) weer hulle selfstandigheid sal herwin.
Babilonië word geïgnoreer, moontlik weens beide die feit dat hulle God se instrument van oordeel teen Jerusalem is, sowel as die gevaar wat dit sou kon inhou om hulle te direk aan te spreek. Sommige geleerdes sien in die uitgebreide beskrywing van Tirus en Sidon ‘n verskuilde boodskap aan Babilonië, maar die oordeel teen die twee nasies maak in elk geval sin, weens Nebukadnesar se uitgebreide veldtog net ná die inname van Jerusalem teen hulle.
Dit is redelike eenvoudige stof wat in die geval van die eerste vier nasies ook in ‘n eenvoudige formaat gegiet word. Die Here gee telkens vir hulle die redes vir sy oordeel en kondig dan die oordeel self aan.
25:1-7 – Teen die Ammoniete oor hulle leedvermaak
Die rede vir God se oordeel oor Ammon – nageslag van Lot – is hulle leedvermaak oor die ballingskap van Juda. Ons lees iets daarvan in 2 Konings 24 en Jeremia 40. Daarmee misken hulle egter God se eienaarskap van Israel en sy rol in die ballingskap: “Jy verlekker jou daarin dat my heiligdom ontwy is …” Daarom oordeel die Here hulle – die hoofstad Rabba word genoem – en laat ander hulle opbrengste geniet. Hy maak ‘n einde aan hulle onafhanklikheid soos dit inderdaad hierna gebeur het.
25:8-11 – Teen die Moabiete oor hulle minagting van Juda
Die rede vir God se oordeel oor Moab – ook nageslag van Lot – is hulle minagting van Juda. Dit beteken egter dat hulle die Here minag, asof Hy nie steeds by Juda betrokke is nie. Die boodskap is dat Juda nie met die ballingskap maar: “net soos enige ander nasies geword,” het nie. Daarom oordeel die Here hulle en vernietig hulle stede. Drie stede word genoem: Bet-Jesimot, Baäl-Meon en Kirjatajim. Hulle onafhanklikheid bly ook in die slag, soos dit histories opgeteken is. Hoewel Seïr (Edom) ook hier in vers 8 genoem word, kom die boodskap vir Edom eers in vers 12 aan die orde.
25:12-14 – Teen die Edomiete oor hulle wraaksug
Die rede vir God se oordeel oor Edom – broer van Jakob, die vader van Israel – is hulle wraaksug, soos ons onder andere in Jeremia 49 lees (vgl. Obadja se boodskap teen Edom: God straf verwaandheid en afsydigheid). Daarom roei die Here hulle ook uit en vernietig hulle onafhanklikheid – Teman en Dedan in die suide en noorde van Edom word genoem – soos dit inderdaad ook histories gebeur het. ‘n Verdere oordeel sal volg in hfst. 35.
25:15-17 – Teen die Filistyne oor hulle veragtende wraaksug
Die rede vir God se oordeel oor die Filistyne – aartsvyand van Israel regdeur hulle geskiedenis – is ook hulle wraaksug, veral die veragting waarmee dit gebeur het. Al het Dawid hulle mag gebreek, het hulle steeds Israel se teenstanders gebly. Hulle word ook Kretense genoem, waarskynlik omdat mense van Kreta by die Filistyne aan die Middelandse See aangesluit het (vgl. Sefanja 2:5 vir die soortgelyke identifikasie). Hulle onafhanklikheid as ‘n nasie kom ook in die gedrang, en al het die name van hulle stede gebly, het hulle as ‘n nasie opgehou bestaan.
Boodskap
Esegiël getuig hier van God se soewereine aanspraak op al die mense van die aarde. Dit is God wat die wel en weë van almal bepaal, selfs dié wat Hom nie aanbid nie. Esegiël wys ook duidelik uit dat die leedvermaak, minagting en wraaksugtigheid van die omringende volke op niks sal uitloop nie. Hierdie eerste vier nasies – Ammon, Moab, Edom en Filistia – sal presies daarom hulle selfstandigheid verloor, terwyl Juda (Israel) weer hulle selfstandigheid sal herwin, soos ons later sal hoor, omdat God hulle genadig is. En let op, dit is presies soos dit in die geskiedenis gebeur het.
Esegiël waarsku dus ook dat ons hierdie boodskap vir onsself ter harte moet neem. God is soewerein. Oor almal. Ook oor ons vyande. Daarom moet ons ten alle koste leedvermaak, minagting en wraak vermy. Almal van ons is immers van God se genade afhanklik. Hy moet gedien word. Deur almal. Sy oordele moet aanvaar en sy beloftes moet omarm word. Deur almal.
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL - April 10, 2015
- Inleiding op Esegiël - April 13, 2015
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C. - April 16, 2015
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem - April 21, 2015
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel” - April 23, 2015
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land - April 24, 2015
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C. - April 27, 2015
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur - May 1, 2015
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete - May 4, 2015
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie - May 5, 2015
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word - May 6, 2015
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word - May 11, 2015
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit - May 12, 2015
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem - May 15, 2015
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel - May 16, 2015
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C. - May 23, 2015
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom - May 25, 2015
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”! - May 28, 2015
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop - May 30, 2015
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C. - June 1, 2015
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne - June 2, 2015
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C. - June 9, 2015
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie - June 20, 2015
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel - June 21, 2015
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder - July 28, 2015
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel” - July 29, 2015
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself - July 30, 2015
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel - August 10, 2015
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk - August 11, 2015
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel - August 12, 2015
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C. - August 13, 2015
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel - August 17, 2015
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit - August 18, 2015
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land - August 19, 2015
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Hansie Human
Dankie Chris. Een van my dowwe spieels is nou gepoets.