Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
Die vier profesieë teen Tirus en Sidon word deur ‘n nóg langer reeks van sewe profesieë teen Egipte opgevolg. Al die profesieë, behalwe een, word gedateer in ‘n 16 jaar tydperk tussen 587 en 571 v.C., d.w.s net vóór die ballingskap van Jerusalem en net ná die beleg van Tirus voltooi is in 572 v.C. Hulle word min of meer in datum volgorde geplaas, behalwe die tweede profesie – wat eintlik die laaste in die reeks is – wat tweede geplaas word, omdat dit verband hou met die eerste profesie en dít opdateer en uitbou.
Die fokus op Egipte herinner ons aan die feit dat die kleiner koninkryke soos Juda en Jerusalem uitgelewer was aan die magspel van die wêreldmagte. Hulle moes dus rekening hou met die impak wat die omringende nasies op hulle uitgeoefen het, waarvan Babel en Egipte die grootste magte van dié tyd was.
Die versoeking was altyd groot om ‘n alliansie met een van hulle te sluit ter wille van beskerming, hoewel die Here altyd daarteen gewaarsku het. Hulle keuses was aan die een kant immers telkens dwaas – hulle het konsekwent die verkeerde mag ondersteun – en aan die ander kant, en baie meer onrusbarend, hulle het daarmee hulle verhouding met die Here in gedrang gebring. Hulle het sy waarskuwende woorde in die wind geslaan.
Met dié profesieë teen Egipte herinner die Here dus die Jode daaraan dat Hy in beheer is, en dat hulle veiligheid nie van ‘n wêreldmag afhang nie, maar van hulle verhouding met die Here. Waar Egipte in die vergetelheid sal versink, sal dit nie waar wees van die Godsvolk nie, soos die tweede helfte van die boek sal belowe. Daarop kan hulle staatmaak.
Sekondêr is dit natuurlik ook ‘n woord aan Egipte. God se oordeel kan deur bekering afgewend word, soos hoofstuk 33 almal sal herinner.
Die sewe profesieë is as volg:
- 29:1-16 – Farao, die groot krokodil, sal weggegooi word in die woestyn – 587 v.C.
- 29:17-21 – Nebukadnesar sal Egipte plunder – 571 v.C.
- 30-:1-19 – Egipte se mag sal gebreek word
- 30:20-26 – Farao se mag sal gebreek word – 587 v.C.
- 31:1-18 – God het die seder, Egipte, verwerp weens sy hooghartigheid – 587 v.C.
- 32:1-16 – Esegiël moet treur oor die val van die farao – 585 v.C.
- 32:17-32 – Esegiël moet ‘n begrafnislied sing oor hulle eerlose dood – 585 v.C.
29:1-16 – Farao, die groot krokodil, sal weggegooi word in die woestyn – 587 v.C.
Op Donderdag 5 Januarie 587 v.C., in die middel van die twee jaar beleg van Jerusalem, kom die boodskap na Esegiël dat hy as profeet teen Egipte moet optree. Die boodskap aan farao Gofra (Jer. 44:30) is dat hy vir sy verheffing teenoor God en sy verraad teen Israel geoordeel sal word.
Sy verheffing teenoor God word beskryf met die metafoor van ‘n “groot krokodil” wat dink dat die rivier deur hom gemaak is, en daarom aan hom behoort: “Dis my rivier, ek het hom gemaak!” (29:3). Die Here belowe egter dat hy hom sal wegruk uit “jou rivier” en weggooi in die woestyn.
Sy verraad teen Israel word beskryf met die metafoor van ‘n “stuk riet” waarop Israel wou leun. Hy kon egter nie sy belofte gestand doen nie. Toe Israel op hulle wou staatmaak – soos Sedekia inderdaad in dié tyd wou doen – het Gofra geknak en Israel laat steier. Sy hulp was immers, soos ons weet, van geen waarde vir Sedekia nie.
Daarom oordeel die Here hom en maak hulle ‘n verlate puinhoop, van Migdol (in die Nyldelta) af tot by Sewene (Aswan vandag) en tot aan die grens van Kus (Etiopië). Die Here voorspel ook ‘n ballingskap van veertig jaar waarna hulle darem weer bymekaar gemaak sal word, maar nooit weer dieselfde hoogtes as in die verlede sal bereik nie. Hulle sal ‘n “klein koninkrykie” wees. Hulle sal nie weer oor ander heers nie.
Uit die verloop van die geskiedenis weet ons dat farao Gofra (Herodotos noem hom Apries) van 589 tot 570 v.C. geregeer het. Een van sy generaals, Amasis II, het teen hom in opstand gekom. Gofra het uit Egipte gevlug – as’t ware in ballingskap in. In 567 v.C. het hy met Nebukadnesar se veldtog teen Egipte die kans aangegryp het om die mag te probeer terugvat, maar is deur sy eie voormalige manskappe doodgemaak. Die voorspelling oor farao in Esegiël se profesieë het dus bewaarheid geword, ten minste in terme van Gofra self.
Dit is egter ook duidelik uit Herodotos se geskiedskrywing dat die ballingskap van 40 jaar wat vir Egipte as ‘n nasie voorspel is, moontlik nie gebeur het nie. Die vraag is natuurlik hoe ‘n mens dit moet verstaan. Het Esegiël die woord van die Here verkeerd verstaan, óf het die Here iets beplan wat nie uitgewerk het nie?
Dit is ’n tergende probleem wat moeilik opgelos kan word. Die meeste geleerdes spreek hulle nie daaroor uit nie, hoewel daar ook ander is wat met ‘n ander lees van die Egiptiese kronologie die Bybelse gegewens bevestig (Jim Reilly). Tyd ontbreek my egter om op die detail hiervan in te gaan.
Wat wel waar is, is dat Egipte se mag uiteindelik deur die Mediërs en Perse gebreek is. Hulle sou nooit weer die hoogtes bereik van die vorige eeue nie. Die Mediërs en Perse en ná hulle die Grieke en Romeine sou die volgende paar eeue die ghitaar slaan tot en met die koms van Christus. Egipte kon nooit weer sy vroeëre glorie laat herleef nie.
29:17-21 – Nebukadnesar sal Egipte plunder – 571 v.C.
Hierdie profesie is eintlik die laaste in die reeks van sewe, maar pas in terme van inhoud baie goed by die eerste profesie. Dit word gedateer op Dinsdag 26 April 571 v.C. Dit vertel vooruit die verhaal van Nebukadnesar se inval in 567 v.C. van Egipte. Hy het, soos Esegiël dit sê, “harde werk” gedoen in sy aanval op Tirus. “Almal se koppe was kaal geskaaf en almal se skouers deurgeskeur.” Dit dui waarskynlik op die helms en wapenrusting wat hulle gedra het gedurende die 13 jaar se beleg van Tirus.
Omdat hulle egter nie volledig geslaag het om Tirus in te neem nie, en Nebukadnesar nie sy manne kon betaal nie, het hy besluit om teen Egipte op te trek. Esegiël verbind dit aan die Here se besluit om Egipte vir Nebukadnesar te gee: “as betaling vir sy werk daar, want hy het dit vir My gedoen.” (29:20).
Dít is ook die tyd waarna Israel se mag weer sal begin groei, en Esegiël se tong weer in sy gemeenskap sou los kom en hy: “weer vry-uit praat tussen hulle.” (29:21). Sy woorde sal die gewig dra wat dit verdien.
Esegiël se belofte vir Israel het moontlik deur die begenadiging van koning Jojagin van Juda in 560 v.C. in vervulling begin gaan. In dié jaar het Jojagin ’n hoër status begin geniet as die ander konings wat saam met hom in ballingskap was. Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het (Jeremia 52).
Twintig jaar later, in 539 v.C., kon die ballinge weer na Jerusalem terugkeer, waarmee ‘n verdere vervulling van die belofte plaasgevind het.
30-:1-19 – Egipte se mag sal gebreek word
In hierdie ongedateerde profesie word die profesie teen die farao opgevolg met ‘n woord van oordeel oor die hele Egipte. Die huursoldate in Egipte – uit Kus (Etiopië), Put (Libië), Lud (Lidië in Klein-Asië), Kub (waarskynlik ook Libië) en selfs uit Juda (“dié uit die land met wie Ek ‘n verbond gemaak het”) – sal afgemaai word.
Almal wat Egipte ondersteun, sal sneuwel van die Nyldelta (Migdol) af tot by Aswan (Sewene) aan die Etiopiese grens. Egipte sal ‘n verlate land word deur die mag van Nebukadnesar. Só roei God die afgode van Egipte uit. Die belangrikste stede van Egipte sal verwoes word: Patros (suide van Egipte), Soan (Nyldelta), No (Tebes), Sin (Pelusium), Memfis (ook Nof genoem), Awen (Heliopolis), Pi-Beset (Nyldelta) en Tagpanges (die Joodse kolonie waarheen Jeremia weggevoer is) sal verwoes word.
30:20-26 – Farao se mag sal gebreek word – 587 v.C.
Op nog ‘n sabbat, Saterdag 29 April 587 v.C. so vier maande ná die eerste profesie teen Egipte, word nóg ‘n woord teen die farao vir Esegiël gegee. Die Here gaan albei sy arms breek sodat hy homself nie kan verdedig nie. Daarteenoor sal Nebukadnesar se arms sterk wees in die oorlog.
31:1-18 – God het die seder, Egipte, verwerp weens sy hooghartigheid – 587 v.C.
Twee maande later, op Woensdag 21 Junie 587 v.C., onderstreep die Here dié boodskap met ‘n uitgebreide metafoor. In terme wat herinner aan die beskrywing van Tirus (hfst. 28), word Egipte as ‘n hoë sederboom geskets wat hoog gegroei het (soos Assirië vroeër – 31:3) en skaduwee oor die hele bos van bome gegooi het, maar deur die Here verwerp is weens hulle hooghartigheid.
Die onderaardse waters het hom groot gemaak, hy was ‘n bron van water selfs vir ander bome, die voëls het in sy takke nes gemaak, die wilde diere het hulle kleintjies in sy skaduwee gekry, niemand in die “tuin van God” kon met hom meeding nie, “maar sy hoogte het hom hooghartig gemaak”! (31:10).
Daarom het die Here hom oorgegee aan die “gesagvoerder oor die volke”, Nebukadnesar. Vreemdes het hom afgekap en omgegooi. Soos al die ander bome, is Egipte se voorland ook die dood. “Daar tussen die eerloses”, sal hulle lê saam met al die gesneuweldes: “jy, farao, en jou hele leër.” (31:18).
32:1-16 – Esegiël moet treur oor die val van die farao – 585 v.C.
Die volgende profesie word ‘n hele twee jaar later aan Esegiël geopenbaar. Op Maandag 3 Maart 585 v.C., twee maande ná hy die nuus van Jerusalem se val gekry het (33:21), word Esegiël opdrag gegee om ‘n treurlied oor die val van die farao aan te hef.
Farao word as ‘n leeu en ‘n groot monster in die see beskrywe. Die Here het egter sy vangnet oor hom uitgegooi en sal hom tot niet maak. Sy val word met kosmiese tekens beskrywe – “Wanneer Ek jou tot niet maak, maak Ek die hemel toe en laat Ek die sterre se lig nie deurkom nie.” (32:7).
Al die volkere sal verskrik staan oor wat met hulle gebeur. Hoekom? “Hulle sal sidder van angs oor hulle eie lewens dié dag wanneer jy tot ‘n val kom.” (32:10). Dit sal interessant genoeg ook rus bring vir die omgewing: “Dan sal Ek die water weer helder laat word en Egipte se strome so rustig laat vloei soos strome olie.” (32:14).
32:17-32 – Esegiël moet ‘n begrafnislied sing oor hulle eerlose dood – 585 v.C.
Die laaste profesie teen Egipte is ‘n begrafnislied oor hulle eerlose dood. Esegiël noem nie die maand waarin dié opdrag na hom kom nie, net die dag, die 15de. Indien dit egter dieselfde maand as die vorige profesie was, was dit 14 dae later, op Maandag die 17de Maart 585 v.C.
Egipte word hier metafories gesproke verdoem tot die doderyk. Hulle word verdoem tot ‘n toekoms saam met die eerlose dooies. Hulle sluit aan by ses nasies wat reeds daar is: Assirië (32:22), Elam (32:24 – in Persië), Mesek-Tubal (32:26 – in Klein-Asië; ons sal hulle weer teëkom in hfst. 38-39), Edom (32:29), die “vorste van die noorde” (32:30), en Sidon (32:20).
Dit is ‘n skrale troos dat die farao sal besef dat ander dieselfde lot as hy getref het (32:31), maar hy sal steeds tussen die eerloses die ewigheid moet slyt.
Boodskap
Dit is ’n verskriklike paar hoofstukke om te lees! Maar, dieper as die verskriklike beskrywings van oordeel en verwoesting, moet ‘n mens die prentjie raaksien wat dit van God teken. Esegiël herinner ons met hierdie oordeelsprofesieë dat die finale sê in die historiese wel en weë van die volk van God nie lê by die wêreldmagte nie, maar by God. En dit geld nie net sy volk nie. Dit geld almal op aarde.
Wat Esegiël verder vir ons sê, is dat die Here onverdeelde trou aan Hom eis. Hy vereis dat Hy geëer word vir wat Hy gemaak het, sowel as wat Hy van óns gemaak het (29:3). God maak groot. God maak klein. Met Hom moet te alle tye en ten alle koste rekening gehou word. Dit geld net so almal op aarde.
Ons kan ook by Esegiël leer dat veral dié mense wat hooghartig word oor hulle vermoëns, verneder sal word. Hoekom? Want hoogmoed IS boosheid. Hoogmoed het die onvermydelike gevolg dat jy sal dink dat jy geregtig is om onreg te pleeg. Dit sal jou laat dink dat jy verhewe is bo die reg. Daarom sê die Here oor die farao wat hooghartig geraak het oor sy “hoogte”. “Ek het die seder verwerp.” God doen met hom wat sy “boosheid verdien.” (31:10-11). Wat eintlik maar net ’n ander manier is om te sê, God doen met hom wat sy hoogmoed verdien.
Die dood is uiteindelik die groot gelykmaker. Almal wat sien hoe die oordeel die farao tref, sal verskrik staan, sê Esegiël: “Hulle sal sidder van angs oor hulle eie lewens dié dag wanneer jy (farao) tot ’n val kom.” (32:10).
‘n Mens wonder egter ook – aan die hand van die historiese uitkoms van hierdie profesieë – oor die wyse waarop God se oordeel werk. Dit is alreeds duidelik uit hierdie reeks profesieë dat die oordeel oor Tirus van hfst. 26-28 nie die gewenste uitwerking gehad het nie. “Hy (Nebukadnesar) en sy leër se moeite is nie uit Tirus beloon nie.” (29:18). Daarom stuur die Here Babel na Egipte sodat Nebukadnesar sy beloning as gestuurde van die Here kan kry: “Ek gaan Egipte vir hom gee as betaling vir sy werk daar, want hy het dit vir My gedoen.” (29:20).
Histories is dit natuurlik presies wat gebeur het. Die veldtog teen Tirus was uiteindelik onbeslis. Hoewel ‘n mens hierna Babiloniese name in die annale van Tirus optel, weet ons nie presies hoe dit gebeur het nie. Wat ons wel weet is dat Nebukadnesar nie genoeg buit gemaak het in die oorlog teen Tirus nie, en omdat dit daarby só lank geneem het, het hy besluit om in 568 v.C. Egipte binne te val en te plunder om sy manskappe te kan betaal. Hoe geslaagd dít was, is histories onseker, omdat Egipte onder die nuwe farao, Amasis II, redelike sukses gehad het, voor hulle mag finaal deur die Mediërs en Perse gebreek is. Dit is egter gebaseer op Herodotos se geskiedskrywing wat met ‘n ander lees van die Egiptiese kronologie die Bybelse gegewens kan bevestig (Jim Reilly). Soos ek gesê het, tyd ontbreek my die historisiteit hiervan na te gaan.
Hoe dit ook al sy, dit wil lyk asof wat Esegiël oor Tirus voorspel het, nie heeltemal uitgekom het soos hy voorspel het nie. Selfs wat oor Egipte voorspel is, het nie heeltemal uitgekom soos Esegiël dit voorspel het nie. Beteken dit dus dat wat die Here beplan, soms gedwarsboom word deur ander faktore, uit die perspektief van Esegiël?
Dit lyk verseker op die korttermyn só, hoewel dit tog ook duidelik is dat God se oordeel op die lange duur wel voltrek word. Ons weet uit die geskiedenis dat wat Nebukadnesar waarskynlik nie kon regkry met Tirus nie, selfs nie met ’n 13 jaar beleg nie, wel twee eeue later deur Alexander die Grote bereik is in 332 v.C. Hy het Tirus totaal verwoes en die bevolking in slawerny laat wegvoer. Die oordeel is dus deur Alexander voltrek en nie deur Nebukadnesar nie. Dieselfde geld Egipte. Die Mediërs en die Perse het reggekry wat Nebukadnesar nie kon voltooi nie.
Terloops: blykbaar was Alexander só kwaad oor die hardnekkige teenstand van Tirus en sy eie verlies van soldate dat hy die helfte van die stad se mense uitgewis het. Dit het hom wel net sewe maande geneem om daarby uit te kom, en nie 13 jaar nie, maar dit het baie moeite gekos om die kilometer vlakkerige seestraat na die eilandstad met ’n nuut geboude muur te oorbrug! Alexander het daarom net dié gespaar wat by die heiligdom skuiling gesoek het, maar hulle toe ten einde laaste as slawe verkoop. Die stad is dus uiteindelik wel soos ’n klipplaat agtergelaat, gestroop van alles daarop, soos Esegiël voorspel het (26:14). Dit was net nie die voorreg van Nebukadnesar nie, maar dié van Alexander.
Maar, terug by Egipte, dit is ook duidelik uit die geskiedenis dat die ballingskap van 40 jaar wat vir Egipte voorspel is, moontlik nie gebeur het nie (29:11-12). Dit is dus meer van ’n tameletjie. Hoekom sou dit nie gebeur het nie? Het Esegiël die woord van die Here verkeerd verstaan, óf het die Here iets beplan wat nie uitgewerk het nie? Dit is ’n tergende probleem wat moeilik opgelos kan word – en ek sal moontlik in ‘n volgende rondte hieroor navorsing doen.
Wat wel waar is, is dat Egipte se mag uiteindelik deur die Mediërs en Perse gebreek is. Hulle sou nooit weer die hoogtes bereik van die vorige eeue nie. Die Mediërs en Perse en ná hulle die Grieke en Romeine sou die volgende paar eeue die ghitaar slaan tot en met die koms van Christus. Egipte het nooit weer sy vroeëre glorie laat herleef nie.
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL
- Inleiding op Esegiël
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C.
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel”
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C.
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C.
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”!
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C.
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C.
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel”
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C.
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land
Tags: Esegiël
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Yunis, die reëling was om vermorsing te voorkom. Die pa moes bereken of sy familie ‘n lam sou kon opeet. Minder as tien mense in ‘n gesin, veral as dit kleiner kinders was, sou dit moontlik nie maak nie! Daarom kon hulle met hulle bure deel, sodat die vleis nie vermors word nie. Want, onthou, alles is verbrand aan die einde van die maaltyd. As ‘n mens simbolies daarna kyk, kan ‘n mens mededeelsaamheid en samewerking in die koninkryk daarin lees.
Yunis Duimpies
| #
Goeie middag Ds Chris
Baie dankie vir Ds se uiteensetting oor Exodus 12 in verband met die uittog uit Egipte.Ek wil net graag weet,wat beteken dit simbolies wanneer as huisgesinne die lammetjie saam moet eet en as hulle te klein is vir die lam,hulle saam met hulle bure deel.Ek hoop u verstaan wat ek bedoel.Baie dankie
Chris van Wyk
| #
Hi Yvonne, dankie vir die korreksie! Seën vir jou leeswerk hierdie jaar.
Chris van Wyk
| #
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Chris van Wyk
| #
Ek het ook ‘n paar gedagtes oor gebed by: https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/
Chris van Wyk
| #
Hi Frans – ek het ‘n paar gedagtes oor vas geplaas by: https://bybelskool.com/die-plek-van-vas-in-geloofsgewoontes/. Daarin is ‘n pdf van Calvyn oor vas.
Frans Scheepers
| #
Ek soek na handleiding vir die tyd waarin ons is, vir die pandemie. Veral oor intense gebed.
Chris van Wyk
| #
Dankie Chantelle – jy kan my bydraes oor Esegiël hier bereik: https://bybelskool.com/esegiel-blad/
Chantelle
| #
Baie Dankie hier oor Baie ekstra kennis by gelas 🙏👋, ek is op soek na notasoor die boek Esegiel.
Kan my kontak op my epos Dankie
Groete
Chantelle du Plessis
Chris van Wyk
| #
Hi Anton
Dit is nie my punt nie, maar die punt van die Dordtse Leerreëls op grond van die Skrif. Hier is dit in konteks aangehaal:
1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).
2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).
3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom 10:14,15).
4. Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh 3:36; Mark 16:16).
5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef 2:8), ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).
6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlor is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ‘n onuitspreeklike troos.
7. Hierdie uitverkiesing is ‘n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ‘n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die
gemeenskap van sy Seun bewaar word, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik. Soos geskrywe is: In Christus het God Hy ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons vir sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde (Ef 1:4,5,6); en elders: Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook
verheerlik (Rom 8:30).
8. Hierdie uitverkiesing is nie veelvoudig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg na die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Ef 1:4,5; 2:10).
9. Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees (Ef 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.
10. Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as ‘n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere bepaalde mense uit die hele menigte van sondaars as sy eiendom aangeneem het. Soos geskrywe is: Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie, …, is vir haar (nl Rebekka) gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat (Rom 9:11,12,l3); en: Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand
13:48).
11. God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie.
12. Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is die ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts (2 Kor 13:5).
13. Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te
wandel.
14. Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God – waarvoor dit in die besonder bestem is – uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ‘n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ‘n lewende troos vir sy volk (Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33,34; Heb 6:17,18).
15. Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakend~ geloof én die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God ‘n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.
16. Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie – ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof, het om hierdie dinge in ons te bewerk – moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie, behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar
hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.
17. Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen 17:7; Hand 2:39;1 Kor 7:14).
18. Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: O, mens, wie is jy wat teen God antwoord? (Rom 9:20); en ook die woorde van ons Saligmaker: Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? (Matt 20:15). Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend en met eerbied aanbid; roep saam met die apostel uit: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken of wie was sy raadsman gewees? Of wie het iets aan Hom gegee, dat dit vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid! Amen (Rom 11:33-36).