Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C.

Dit is die 31ste Julie 593 v.C., die vyfde van die vierde maand, Tammuz. As my berekeninge reg is, is dit ‘n Vrydag net voor die sabbat die aand begin. Dit is die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin. Esegiël is tussen die ballinge aan die Kebarrivier, waarskynlik besig om die Here te aanbid (vgl. Ps. 137 en Hand. 16). Hy is 30 jaar oud.
Skielik het die hemele vir hom oopgegaan – soos vir Jesus (ook dertig jaar oud), Stefanus en Johannes in die NT – en het hy gesigte gesien wat van God af kom. Die mag (hand) van die Here het vir Esegiël in besit geneem. Let op dat die gesig wat Esegiël sien as ‘n: “woord van die Here” vertolk word (1:4). Die rede is dat die visioen wat Hy sien God se boodskap aan die volk oordra. Esegiël word nou God se woordvoerder.
Die eerste magtige verskyning van die Here loop uit op Esegiël se roeping en opdrag wat in die eerste drie hoofstukke in drie dele beskryf word:
- Eerstens is daar die gesig self waarin die magtige teenwoordigheid van God op luisterryke wyse aan hom verskyn in ‘n teofanie (1:4-28).
- Tweedens word die gesig opgevolg deur ‘n stem wat met Esegiël praat (2:1-3:15), en hom roep as profeet. Dit sluit spesifieke opdragte in, onder andere die eet van ‘n boekrol, soos Johannes op Patmos ook later sou doen.
- Sewe dae ná hierdie roepingsvisioen (Jesaja het ‘n soortgelyke ervaring gehad – Jesaja 6) kom in die derde plek ‘n verdere woord van die Here wat Esegiël onder geen illusie laat dat hy ‘n absolute verantwoordelikheid het om sonder om te skroom presies te doen wat God hom opdra (3:16-27). Hierdie deel speel in twee ruimtes af: by die rivier tussen die ballinge (3:15), en in ‘n vallei daar naby (3:22-23). Die verdere openbarings, sê die Here, sal by sy huis ontvang word (3:24).
Hierdie magtige verskyning van die Here in ‘n visioen sal nog twee keer in die boek beskrywe word.
- In hoofstuk 8-11 wys die Here vir Esegiël die gruwelike en afskuwelike dinge wat die volk in die tempel van Jerusalem doen, en styg die magtige teenwoordigheid van die Here uit die stad uit op as teken daarvan dat die Here Jerusalem verlaat.
- In hoofstuk 40-48 wys die Here vir Esegiël die omgekeerde, die wyse waarop die nuwe tempel in Jerusalem herbou sal word, en keer die magtige teenwoordigheid van die Here weer terug na die tempel toe.
Jy kan elke dag een van hierdie drie gedeeltes lees óf die hele gedeelte vandag. Die volgende bydrae kom eers weer oor drie dae. Terloops, ek volg Dyer se datums in Walfoord en Zuck se kommentaar in The Bible Knowledge Commentary: An Exposition of the Scriptures.
1:4-28 – Die magtige verskyning van die Here
Esegiël beskryf in detail die gesig wat hy sien (kyk hier na een uitbeelding hiervan). Let op na die volgende vier aspekte wat my opval:
- GOD REGEER ORAL: Die kern van die visioen is die glansryke verskyning van die Here wat op sy troon sit. Hy regeer op luisterryke manier oor alles vanuit ‘n onweerstaanbare glans van vuur en lig.
- GOD IS ORAL: God se heerskappy strek vanuit die hemel tot op die aarde, en ook oral op die aarde. Net waar die Gees wil, kan God wees, uitgebeeld met die wiele dwars binne ander wiele wat rondom vol van oë is. Dié deel van die visioen stel dus God se alomteenwoordigheid en alwetendheid voor.
- GOD IS ALMAGTIG IN EN VIR DIE HELE SKEPPING: Die vier wesens onder begeleiding van die Gees voer God se opdragte uit deur die hele skepping. Hulle vier gesigte wat na alle kante toe kan kyk, stel die omvattende krag van God in die skepping voor, uitgedruk met die gesigte van ‘n mens, leeu, bul en arend. Hy is almagtig. Tegelykertyd verteenwoordig die vier wesens ook die skepping by God. Joodse rabbi’s het immers dié vier voorstellings as verteenwoordigend van die hele skepping uitgelê: die mens is die slimste, die leeu die edelste, die bul die sterkste, en die arend die vinnigste in die skepping. Die mens kan uiteraard ook as simbool van die mensheid, die leeu as simbool van die wilde diere, die bul as simbool van die mak diere, en die arend as simbool van die voëls in die lug geneem word. Johannes neem dié beskrywing amper net so oor in sy eie troonvisie in Openbaring 4.
- GOD HET DIE GESTALTE VAN ‘N MENS: Dit is waarskynlik die mees troosvolle deel van hierdie gesig. Daar is meer as net ‘n terloopse ooreenkoms tussen ons en God. Hy is uiteraard méér as ons, maar tog ook vergelykbaar met ons. Geen wonder dat Genesis 1 ons as beeld van God, as sy verteenwoordigers kan beskrywe nie. Daar is ook meer as toevallige ooreenkoms tussen dié verskyning van God as Here (Jahwe), en die verskyning van die verheerlikte Jesus as Here (Kurios) in Openbaring 1. ‘n Mens kan immers selfs sê, God tree in Jesus, die Kurios van die NT, op soos Jahwe, die Kurios van die OT. Vergelyk my bydrae daaroor.
Let egter op dat Esegiël net ‘n interpretasie gee van wat hy sien: “iets wat gelyk het soos ‘n gewelf” (1:22), “iets soos saffier met die vorm van ‘n troon” (1:26), “het dit vir my gelyk na …” (1:27) ensovoorts. Hy som sy gesig op as volg : “Dit was soos die magtige verskyning van die Here.” (1:28) Hy is dus bewus daarvan dat die volle werklikheid van God nie volledig deur die gesig beskryf kan word nie. Sy woorde beskryf ‘n werklikheid wat meer is as wat hulle kan vasvang.
2:1-3:15 – Die roeping en opdrag van die Here
Die doel van hierdie magtige verskyning van die Here word nou duidelik. Esegiël word aangespreek en gestuur. Hy word regdeur die boek aangespreek as “seun van ‘n mens” wat geen spesifieke teologiese betekenis het nie. Dit dui hom slegs as mens in die teenwoordigheid van God aan, vandaar die vertaling: “Mens” (2:1).
Let op dat die Gees in Esegiël kom om Hom in staat te stel om voor God te kan staan en op sy roepstem te kan reageer. Soos met Jesaja en Jeremia hou die opdrag aan Esegiël in dat die uitvoering van sy roeping teenstand gaan ontlok en konflik sal ontketen. Die volk is immers opstandig, moedswillig, hardkoppig en weerbarstig, soos hulle hier beskrywe word. Hy moet egter gehoorsaam wees, kom wat wil, of hulle luister of nie.
Versterk deur die Gees kom nou die woorde van God, in die vorm van ‘n boekrol wat aan albei kante volgeskryf is met klaagliedere, treurliedere en smartroepe. Esegiël moet die woorde “eet” om in staat gestel te word om met die mense van Israel te gaan praat.
Johannes kry ook op Patmos ‘n boekrolletjie wat hy moet eet wat die verlossingsplan vir die wêreld bevat. Dit is ook soet met die “eet” daarvan, maar bitter in die maag wat dui op die lyding wat die uitvoering van die plan vir die verkondigers daarvan meebring. Vergelyk verder in Openbaring 10.
Die beskrywing van die mense van Israel verwys waarskynlik na al die Jode wat nog in Juda is (3:4). Die beskrywing van hulle weerbarstigheid pas presies by die tipe teenstand wat veral koning Sedekia en die Joodse leiers in Jerusalem teen die boodskap van Jeremia gebied het, soos in die inleiding verduidelik, hoewel nie by name nie. Die woorde is in die tweede plek gerig aan die ballinge waar Esegiël hom bevind (3:11). Dit is ook waarheen hy teruggeneem word, na Tel-Abib, naby die Kebarrivier.
Regdeur word Esegiël deur die Gees versterk om dié woorde van God te kan internaliseer, maar die ervaring laat hom swaarmoedig en ontsteld: “Die mag van die Here het my op ‘n harde manier in besit geneem.” (3:14). Vir sewe dae lank het hy verskrik tussen die ballinge gesit om dié verskyning en die impak daarvan op sy lewe te verwerk, waarskynlik tot net voor die volgende sabbat.
3:16-27 – Die absolute verantwoordelikheid om die volk te waarsku
Ná die sewe dae, waarskynlik die volgende Vrydag, die 6de Augustus 593 v.C., kom die woord van die Here weer na Esegiël. Die Here stel hom as ‘n “wag vir Israel” aan, ‘n opdrag wat later herhaal sal word (Eseg. 33:7). Dit beteken dat Hy die volk moet waarsku soos die Here dit aan hom opdra.
Die Here spel ook uit wat Hy bedoel by dié waarskuwing. Hy eis absolute getrouheid van Esegiël om sonder skroom die waarskuwende woord van die Here aan mense te bring. Hy sal hom op geen manier verskoon as hy dit nie presies doen soos die Here dit wil hê nie.
Aan die ander kant is dit ook duidelik dat die Here herstel en verandering beoog. “As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou.” (3:21). Dit is ‘n wonderlike vertroostende woord. Binne God se oordeelsaankondiging is die evangelie ook opgesluit. As iemand hom of haar laat waarsku, sal die Here sy oordeel verander en lewe gee.
Niemand sal God dus kan beskuldig van wispelturigheid, as hy of sy gewaarsku is nie. Daarvoor is hierdie “wag” van die Here, Esegiël, nodig. In ‘n laaste rondte neem die Gees hom na ‘n vallei daar naby en laat hom weer die magtige verskyning van die Here sien. Dit lei tot die opdrag om homself in sy eie huis te gaan opsluit, totdat die tyd ryp is vir hom om te praat. Dit beteken dat hy net mag sê wat God sê. Tot dan sal hy daarom stom wees: “Laat dan luister wie wil en laat skouers optrek wie wil. Hulle is ‘n weerbarstige volk.” (3:27).
Boodskap
Hierdie ryk en omvattende gedeelte herinner ons aan God se alomteenwoordige betrokkenheid by alles in die skepping. Die feit dat God in ‘n menslike gedaante aan Esegiël verskyn, maak Hom op ‘n paradoksale manier toeganklik. Hy is ontsagwekkend anders, soveel so, dat Esegiël voor Hom platval. Maar Hy is ook soos ons, en kommunikeer sy wil op verstaanbare en uitvoerbare wyses aan ons.
Dit beteken dat ons Hom ernstig kán neem. Wat Hy sê en wat Hy doen, dra gewig. Ons kan Hom vertrou as alwetende God wat nie net reageer op wat gebeur nie, maar inderdaad dinge laat gebeur. Hy gee sy Gees sowel as sy woorde om sy opdrag te kan uitvoer.
Dat gehoorsaamheid aan Hom tot konflik kan lei, is egter ook deel van die prentjie. Esegiël is vir sewe dae swaarmoedig, ontsteld, en verskrik. Die vreugde van God se verskyning kan nie die verskrikking van die implikasies daarvan wegneem of versag nie. Aan hierdie visioen moet Esegiël gehoorsaam wees. Hy is die “wag” van die Here wat die mense moet waarsku.
Die gedeelte stel ons dus gerus. God is in beheer. Hy is oral. Hy weet alles. Ons kan Hom vertrou. Die gedeelte wil ons egter ook verontrus. God roep sy mense om onverdund sy woorde aan ander te bring. Dit sluit oordeel en hoop in. Ons het dus ook die dure verpligting om die volle waarheid aan ander te bring, soos die Here dit op ons hart lê.
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL - Apr 10, 2015
- Inleiding op Esegiël - Apr 13, 2015
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C. - Apr 16, 2015
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem - Apr 21, 2015
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel” - Apr 23, 2015
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land - Apr 24, 2015
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C. - Apr 27, 2015
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur - May 1, 2015
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete - May 4, 2015
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie - May 5, 2015
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word - May 6, 2015
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word - May 11, 2015
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit - May 12, 2015
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem - May 15, 2015
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel - May 16, 2015
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C. - May 23, 2015
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom - May 25, 2015
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”! - May 28, 2015
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop - May 30, 2015
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C. - Jun 1, 2015
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne - Jun 2, 2015
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C. - Jun 9, 2015
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie - Jun 20, 2015
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel - Jun 21, 2015
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder - Jul 28, 2015
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel” - Jul 29, 2015
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself - Jul 30, 2015
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel - Aug 10, 2015
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk - Aug 11, 2015
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel - Aug 12, 2015
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C. - Aug 13, 2015
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel - Aug 17, 2015
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit - Aug 18, 2015
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land - Aug 19, 2015
Elzan
Baie dankie hiervoor. Wat my tref is die smart wat hy moet eet. Hoeveel van ons kan die daarmee assossieer nie! En om te verstaan dat dit n moeilike proses is om dit ten goede te laat werk. Dit val my op dat die beelde in die visioene bekende beelde was uit die mitologie/godsdiens van daardie tydperk. Die “leeu van babylon” n bekende uitbeelding (ook op die befaamde poorte), verwant aan beide die heerser sowel as die godin Ishtar (godin van die hemel,van fertiliteit en oorlog: n energieke simbool dus), die arend, wat ook die siel vervoer (vlerke is orale in die beelde van die tyd te sien), so ook die wiel. Maar laat ek julle nou nie hier verveel nie! My bron is n ou boek “Myths of Babylonia & Assyria deur D.A. Mackenzie. As iemand sou belangstel: Google gerus “images legends and myths of ancient Babylon”, of “images religion middle east 600 bc”..(Mackenzie vermoed ‘n invloed van antieke Hinduisme, so bv die “wheel of life” en die “eagle Garuda.” )