Skip to main content

Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Esegiël se visie op ‘n herstelde volk (hfst. 37) wat na die land terugkeer (hfst. 39), word nou in die volgende nege hoofstukke opgevolg met ‘n visie op die toekomstige herstel van God se teenwoordigheid in die land (hfst. 40-48): “Daar sien ek toe die magtige verskyning van die God van Israel uit die ooste uit … Die magtige teenwoordigheid van die Here het deur die oospoort na die tempel toe beweeg.” (Eseg. 43:2,4).

Dáár, sê Esegiël, sal die volk weer die vreugde van eenheid met God beleef, sowel as eenheid as volk, soos hy reeds uitgedruk het met die simboliese eenwording van die twee stukke hout, Juda en Josef (Eseg. 37).

Die jaar van hierdie profesieë word as 573 v.C. aangegee, twintig jaar ná Esegiël met sy bediening begin het.  Die tiende dag van hierdie nuwejaar kan óf Dinsdag 28 April (op grond van die berekening van die Israeliese Nuwejaar vóór die ballingskap) óf Donderdag 22 Oktober (op grond van die berekening van die Israeliese Nuwejaar ná die ballingskap) daardie jaar wees (40:1).

Esegiël beskryf hierdie visie in twee dele:

  • Die nuwe tempel – uitvoerig beskrywe in 40-44 – sal nou die sentrum van die volk wees, nadat hulle lewend gemaak is deur die Gees. Die boodskap word ook in twee dele geskryf: 1) die herstel van die tempel (hfst. 40-42) en 2) die herstel van God se teenwoordigheid in die tempel (hfst. 43-44).
  • Hulle sal op die koop toe ook die vreugde van die herstel van die land en stad belewe – 45-48. Die boodskap word ook in twee dele geskryf: 1) God herstel die land, regeerders, offers, feeste, en grondbesit (hfst. 45-46), en 2) God gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land (hfst. 47-48).

Die teenwoordigheid van die Here vanuit die tempel sal daarom die bron van lewe wees, voorgestel as ‘n lewende stroom water wat genesing bring: “Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei.  Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie.  Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom.  Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.” Johannes sou in sy eindtyd visioene by hierdie beeld aansluit (Openb. 22 – vgl. ook Psalm 1).

Dit verklaar ook waarskynlik hoekom Haggai en Sagaria só sterk optree toe die volk, ná hulle terugkeer na die land in 538 v.C., ná 20 jaar nog nie aan die gang gekom het met die herbou van die tempel nie.  Hulle sterk standpunte het dele van Esegiël se visie in werking gestel toe die volk in ‘n vier jaar tydperk van 520 – 516 v.C. die fondamente van die tempel gelê en weer herbou het.

Dit lyk egter ook asof hulle nie Esegiël se planne gevolg het nie, eerder dié van die vorige verwoeste tempel van Salomo, hoewel daar natuurlik ook ooreenkomste tussen elemente van dié twee tempelplanne is (vgl. 1 Kon. 6-8 met Eseg. 40-42).  Dit beteken waarskynlik dat daar – soos met die profesieë van die Gog van Magog – simboliese en selfs apokaliptiese betekenisse in Esegiël se beskrywings van die tempel is.  Dieselfde geld die beskrywing van die verdeling van die land in hfst. 45-46.

Hoe dit ook al sy, Esra, Maleagi en Nehemia sou nog verder werk aan die vestiging van God se teenwoordigheid onder die volk, wat saamhang met Esegiël se visie dat God self die sentrum van die volk se lewe sal word.

  • Esra het die volk in 458 v.C. gehelp om weer geheg te raak aan die wet van die Here.
  • Maleagi het in 432 v.C. gefokus op die herstel van hulle geestelike verhouding met God, geëggo in hoe hulle die tempeldiens met offers ondersteun, asook in hulle absolute getrouheid in die huwelik.
  • En Nehemia het in dieselfde tyd gefokus op die herstel van die mure van Jerusalem, asook op die volk se getrouheid aan sosiale geregtigheid, onder andere in die wyse waarop armes hanteer is.

Maar daaroor kan julle meer lees in my bydraes by die skakels hierbo.

Ons lees die volgende hoofstukke dus in vier dele versprei oor die volgende vier dae: 40-42, 43-44, 45-46, en 47-48.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders