Skip to main content

Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Esegiël se visie op ‘n herstelde volk (hfst. 37) wat na die land terugkeer (hfst. 39), word nou in die volgende nege hoofstukke opgevolg met ‘n visie op die toekomstige herstel van God se teenwoordigheid in die land (hfst. 40-48): “Daar sien ek toe die magtige verskyning van die God van Israel uit die ooste uit … Die magtige teenwoordigheid van die Here het deur die oospoort na die tempel toe beweeg.” (Eseg. 43:2,4).

Dáár, sê Esegiël, sal die volk weer die vreugde van eenheid met God beleef, sowel as eenheid as volk, soos hy reeds uitgedruk het met die simboliese eenwording van die twee stukke hout, Juda en Josef (Eseg. 37).

Die jaar van hierdie profesieë word as 573 v.C. aangegee, twintig jaar ná Esegiël met sy bediening begin het.  Die tiende dag van hierdie nuwejaar kan óf Dinsdag 28 April (op grond van die berekening van die Israeliese Nuwejaar vóór die ballingskap) óf Donderdag 22 Oktober (op grond van die berekening van die Israeliese Nuwejaar ná die ballingskap) daardie jaar wees (40:1).

Esegiël beskryf hierdie visie in twee dele:

  • Die nuwe tempel – uitvoerig beskrywe in 40-44 – sal nou die sentrum van die volk wees, nadat hulle lewend gemaak is deur die Gees. Die boodskap word ook in twee dele geskryf: 1) die herstel van die tempel (hfst. 40-42) en 2) die herstel van God se teenwoordigheid in die tempel (hfst. 43-44).
  • Hulle sal op die koop toe ook die vreugde van die herstel van die land en stad belewe – 45-48. Die boodskap word ook in twee dele geskryf: 1) God herstel die land, regeerders, offers, feeste, en grondbesit (hfst. 45-46), en 2) God gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land (hfst. 47-48).

Die teenwoordigheid van die Here vanuit die tempel sal daarom die bron van lewe wees, voorgestel as ‘n lewende stroom water wat genesing bring: “Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei.  Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie.  Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom.  Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.” Johannes sou in sy eindtyd visioene by hierdie beeld aansluit (Openb. 22 – vgl. ook Psalm 1).

Dit verklaar ook waarskynlik hoekom Haggai en Sagaria só sterk optree toe die volk, ná hulle terugkeer na die land in 538 v.C., ná 20 jaar nog nie aan die gang gekom het met die herbou van die tempel nie.  Hulle sterk standpunte het dele van Esegiël se visie in werking gestel toe die volk in ‘n vier jaar tydperk van 520 – 516 v.C. die fondamente van die tempel gelê en weer herbou het.

Dit lyk egter ook asof hulle nie Esegiël se planne gevolg het nie, eerder dié van die vorige verwoeste tempel van Salomo, hoewel daar natuurlik ook ooreenkomste tussen elemente van dié twee tempelplanne is (vgl. 1 Kon. 6-8 met Eseg. 40-42).  Dit beteken waarskynlik dat daar – soos met die profesieë van die Gog van Magog – simboliese en selfs apokaliptiese betekenisse in Esegiël se beskrywings van die tempel is.  Dieselfde geld die beskrywing van die verdeling van die land in hfst. 45-46.

Hoe dit ook al sy, Esra, Maleagi en Nehemia sou nog verder werk aan die vestiging van God se teenwoordigheid onder die volk, wat saamhang met Esegiël se visie dat God self die sentrum van die volk se lewe sal word.

  • Esra het die volk in 458 v.C. gehelp om weer geheg te raak aan die wet van die Here.
  • Maleagi het in 432 v.C. gefokus op die herstel van hulle geestelike verhouding met God, geëggo in hoe hulle die tempeldiens met offers ondersteun, asook in hulle absolute getrouheid in die huwelik.
  • En Nehemia het in dieselfde tyd gefokus op die herstel van die mure van Jerusalem, asook op die volk se getrouheid aan sosiale geregtigheid, onder andere in die wyse waarop armes hanteer is.

Maar daaroor kan julle meer lees in my bydraes by die skakels hierbo.

Ons lees die volgende hoofstukke dus in vier dele versprei oor die volgende vier dae: 40-42, 43-44, 45-46, en 47-48.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!