Skip to main content

Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C.

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Dit is Woensdag 14 Augustus 591 v.C. Esegiël is nou al net meer as twee jaar besig om die woord van die Here aan die volk deur te gee. Min of meer ‘n jaar gelede het ‘n aantal leiers van Israel (in ballingskap) na Esegiël gekom om die Here te raadpleeg. Hulle het waarskynlik ‘n verwagting gehad dat die terugkeer na Israel naby was, omdat sommige profete dit voorspel het.

Dié hoop was moontlik onder andere gegrond op profesieë, soos dié van die profeet Gananja wat ‘n twee-jaar ballingskap voorspel het reeds in 594 v.C. Jeremia het hom sterk teëngestaan (vgl. Jeremia 28), maar die leiers het waarskynlik gehoop dat Gananja eerder as Jeremia reg sou wees. Die leiers moes by dié geleentheid egter onverrigter sake weggaan. Die Here wou hulle nie eers te woord staan nie (Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie).

Hulle kom egter nou weer ‘n jaar later voor Esegiël sit in die verwagting dat daar tóg ‘n woord van die Here sal wees. Dit het waarskynlik begin duidelik word dat mense soos Gananja vals profete was, omdat die voorspelling van ‘n twee-jaar ballingskap nie waar geword het nie. Maar, die vraag was waarskynlik steeds, is daar nie tog hoop nie? Moet ons regtig sewentig jaar wag, soos Jeremia voorspel het?

Die Here antwoord Esegiël in vers 1-3 egter weer onomwonde dat Hy Hom nie deur hierdie leiers sal laat raadpleeg nie. Die vorige keer (hfst. 14) het die Here vir Esegiël immers gewaarsku om nie eers namens dié leiers met Hom te praat nie, want die Here sal nie en wil nie na hulle luister nie, weens hulle afgodediens. Hulle moet eers tot bekering kom, vóór die Here sal luister.

Hierdie keer gee die Here vir Esegiël egter tóg ‘n opdrag in vers 4-44 om as profeet met hulle in gesprek te gaan. Die Here vra van hom om die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het vir hulle uit te spel. Hy vra dat Esegiël vir hulle inderwaarheid ‘n geskiedenisles sal gee in die afgodery en afvalligheid van die volk, selfs nou hier in die ballingskap, om hulle oë oop te maak vir die voortgaande verbreking van die verbond. Daardeur hoop die Here dat daar tóg insig sal kom. Hy hoop dat hulle die dwaasheid van verset teen sy voorskrifte vir die lewe sal insien, selfs hier in ballingskap. En dat hulle die hoop op ‘n terugkoms op God se terme sal omhels.

‘n Mens kan die geskiedenisles as volg opsom:

  • 20:4-9 – Verset van die uitverkore geslag deur afgodery in Egipte
  • 20:10-17 – Verset van die eerste generasie deur afgodery en afvalligheid in die woestyn
  • 20:18-26 – Verset van die tweede generasie deur afgodery en afvalligheid in die woestyn
  • 20:27-29 – Verset van die volk deur afgodery in die Beloofde Land
  • 20:30-31 – Verset van die volk deur afgodery selfs in ballingskap!
  • 20:32-39 – God oordeel die opstandiges selfs in ballingskap!
  • 30:40-44 – God sal sy eer beskerm deur ‘n goedgunstige terugkeer na die land

20:4-9 – Verset van die uitverkore geslag deur afgodery in Egipte

Esegiël kry die opdrag om die leiers te herinner aan die geskiedenis van verset teen God wat reeds met hulle verkiesing in Egipte sy kop uitgesteek het. Esegiël verwys hier moontlik na die moeite wat Moses aanvanklik gehad het om die volk en hulle leiers te oortuig dat die Here dit ernstig met hulle bedoel, en dat die bevryding uit Egipte inderdaad voorhande was.

Toe die farao met die eerste plae die Israeliete se las swaarder gemaak het, het hulle Moses en Aäron vervloek: “Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao …” (Eks. 5:21). Dit het Moses baie moedeloos gemaak, maar selfs met die hernude bemagtiging van die Here het die Israeliete sy woorde verwerp: “in hulle moedeloosheid oor die harde werk het hulle nie na hom geluister nie.” (Eks. 6:8).

Geen wonder dat die Here van die vierde plaag af gesorg het dat die Israeliete nie ook daardeur getref is nie, slegs die farao en sy mense. Dit was aan die een kant ‘n teken aan farao dat God dit ernstig bedoel met sy volk, maar aan die ander kant ook ‘n teken aan die volk dat hulle God kan vertrou. Daarom het die volk uiteindelik vir Moses uit Egipte gevolg.

Die verleiding van die blootstelling aan die afgode van Egipte sou egter steeds ‘n versoeking vir Israel bly, waaraan hulle van tyd tot tyd toegegee het, soos die geskiedenis deur die woestyn gewys het. Geen wonder dat die eerste twee gebooie by die wetgewing op Sinai dié probleem dus probeer aanspreek het nie: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak … (en) hulle vereer of dien nie.” (Eks. 20:2-5).

Die Here se reaksie op hulle afvalligheid en afgodery was egter deurgaans om sy toorn te temper: “Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die oë van die nasies tussen wie my volk gewoon het nie.” (20:9). Daarom het die Here sy plan deurgevoer om hulle uit Egipte uit te laat trek, al het hulle hulle aanvanklik verset daarteen.

20:10-17 – Verset van die eerste generasie deur afgodery en afvalligheid in die woestyn

Esegiël vervolg met die eerste woestyn-generasie se soortgelyke verset teen die Here se begeleiding, spesifiek teen die voorskrifte en bepalinge wat die Here by Sinai bekend gemaak het. Hoewel die Here se bedoeling daarmee was dat: “elkeen wat daarvolgens optree, in die lewe sou bly” (20:11), het hulle hulle nie daaraan gesteur nie. Hy noem spesifiek die sabbatte – die vierde gebod – wat eintlik as onderskeidingsteken moes dien onder die volke, maar deur die volk geïgnoreer is.

Die Here se reaksie op hulle afvalligheid en afgodery was weerens om sy toorn te temper en te doen: “wat die eer van my Naam vereis het”. God wou nie dat sy Naam oneer aangedoen word voor die oë van die nasies wat gesien het hoe God hulle uit Egipte uit laat trek het. God het dus in die eerste plek ter wille van sy eie eer opgetree, maar ook omdat Hy hulle jammer gekry het: “Ek het hulle jammer gekry en hulle nie uitgeroei nie, Ek het nie ‘n end aan hulle gemaak in die woestyn nie.” (20:17).

Esegiël verwys hier waarskynlik na die roerende geskiedenis in Eksodus waar die Here die volk wou uitwis en van Moses ‘n groot nasie wou maak. Moses het hom op God se eer en deernis beroep: “Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig.” (vgl. die verhaal in Eks. 32). En die Here het inderdaad die volk gespaar.

20:18-26 – Verset van die tweede generasie deur afgodery en afvalligheid in die woestyn

Die verset het egter nie met die eerste generasie opgehou nie. Ook die tweede generasie in die woestyn het gesondig met hulle afgodery en afvalligheid. Weereens word die ontheiliging van die sabbatte genoem. Weereens word ook die Here se tempering van sy toorn genoem wat hulle van totale uitwissing gered het.

Vers 25-26 is ‘n unieke kykie in die insig wat vir die Here oopgaan in sy worsteling met die volk se getrouheid. Hy sê: “Ek het vir hulle voorskrifte gegee wat nie goed was nie en bepalings waardeur hulle nie in die lewe kon bly nie. Ek het hulle onrein laat word deur hulle offergawes waarin hulle al hulle eersgeborenes verbrand het.

Esegiël verwys hier moontlik na die voorskrifte waardeur eersgeborenes as offergawes aan die Here gewy is: “Julle moet elke eersgeborene aan My wy, elke eersteling wat in Israel gebore word, mens en dier. Dit is Myne.” (Eks. 13:2). Dit was ‘n gebod wat in Moses se toespraak met hulle vertrek uit Egipte aan hulle gegee is teen die agtergrond van die tiende plaag waarin die eersgeborenes van Egipte dood is. Moses het ook by dieselfde geleentheid verkondig dat die eersgeborenes losgekoop kan word waarop by latere geleenthede met praktiese voorbeelde uitgebrei is.

Maar, dié offergedagte is soms geïnterpreteer dat dit letterlik kinderoffers legitimeer, iets waarteen die Here heftig gekant was. Dié voorskrif het dus nie ‘n goeie uitwerking gehad nie, soos ons onder andere lees van koning Agas (2 Kon. 16:3) en koning Manasse (2 Kon. 21:6) wat van hulle kinders geoffer het. Vandaar die Here se beoordeling dat dié voorskrif nie gewerk het nie.

En indien die volk dan dié voorskrif letterlik as ‘n kinderoffer wou verstaan, speel Esegiël saam, en sê: “Ek wou hulle skrikbevange maak sodat hulle sou besef dat Ek die Here is.” Indien die letterlike interpretasie korrek was, moes die afgryse van kinderoffers hulle laat besef het dat ‘n letterlike interpretasie nie die bedoeling van die Here kon gewees het nie. Soos Peterson die laaste deel van die vers daarom vertaal: “The very horror should have shocked them into recognizing that I am God.” (The Message).

20:27-29 – Verset van die volk deur afgodery in die Beloofde Land

Die Intog in die Beloofde Land het egter nie ‘n verandering gebring in die verhouding van die volk met God nie. Ook daar het hulle afgodery bedryf: “op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.” (20:28). Dit het die Here in sy eer gekrenk.

20:30-31 – Verset van die volk deur afgodery selfs in ballingskap!

Die fokus verskuif nou na die leiers van die volk wat by Esegiël sit. Hulle doen dieselfde dinge, selfs hier in ballingskap. Die Here gaan nie toelaat dat hulle Hom raadpleeg nie. Hulle wil dan soos al die ander nasies wees wat hout en klip dien, eerder as die lewende God.

20:32-39 – God oordeel die opstandiges selfs in ballingskap!

So seker as die Here dus leef, sal Hy sy toorn verder laat losbreek selfs teen dié opstandiges wat reeds in ballingskap is! Hy skets ‘n prentjie van ‘n versameling uit al die plekke waarheen hulle verdryf is na die woestyn tussen Babel en Israel waar Hy hulle sal vernietig. Niemand wat hom of haar verset teen die Here en teen Hom opstandig is, sal kom in die land wat die Here weer in die toekoms sal herstel nie. Hy sal hulle oorlaat aan hulle eie planne. Hulle het geen deel in die toekoms wat die Here vir sy volk beplan nie.

30:40-44 – God sal sy eer beskerm deur ‘n goedgunstige terugkeer na die land

Daar is egter ‘n silwer randjie om die donker wolk van God se oordeel. Hy sal tóg sorg dat Israel Hom weer in hulle eie land sal dien. Hoe mooi klink dit nie as die Here sê: “Daar sal Ek weer goedgesind wees teenoor hulle en daar sal Ek bereid wees om hulle offergawes, hulle eerstelingoffers en al hulle geskenke aan die heiligdom te ontvang.

Dít sal God se eer herstel onder die nasies en die regte Godsbewussyn herstel onder sy volk. Hulle sal ‘n weersin kry in al die sondige dinge wat hulle gedoen het, en besef dat God die Here is. “Dit, Israel, sê die Here my God”, sluit Esegiël sy woorde aan die leiers af.

Boodskap

Dit is ‘n baie ryk gedeelte. Van die dinge wat vir my uitstaan, is die wyse waarop die letterlike verstaan van God se voorskrifte jou op ‘n dwaalspoor kan lei. God het nooit gesê dat eersgeborenes geoffer moet word nie, maar sommige het steeds voortgegaan om op grond van hulle waninterpretasie kinders te offer en die Here se gebod as verskoning aangedui. Hoe tragies. Hoe misplaas.

Die Here duld egter nie sulke vergrype nie. Hy soek mense wat sy bedoeling met sy voorskrifte sal soek. Hy wil mense op ‘n deernisvolle wyse na die lewe begelei, nie na die dood nie. Soos Peterson oor dié letterlike waninterpretasie sê: “The very horror should have shocked them into recognizing that I am God.” (The Message).

Esegiël sluit egter met ‘n woord van hoop af. Dié mense wat God se guns en teenwoordigheid ontvang as die geskenk wat dit is, sal in die regte Godsbewussyn die lewe ontvang. Hulle lewens sal al hoe meer ‘n weersin in sondige dinge vertoon, en lei tot ‘n lewe wat God se eer bo alles stel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar