Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C.

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Die laaste gedateerde boodskap in die reeks van oordele oor Jerusalem word aan Esegiël openbaar op die sabbat, Saterdag, 15 Januarie 588 v.C. Dít is die dag waarop die Here Esegiël ingelig het dat die koning van Babel vir Jerusalem aangeval het. As getuienis van die sekerheid van God se woorde aan hom, laat die Here hom “dié datum aanteken, presies dié datum.” En ons weet uit die vergelykbare detail in 2 Konings 25:1 en Jeremia 52:4 dat dit korrek was.

Interessant genoeg wil dit voorkom asof dié (tiende) maand ná die terugkeer uit ballingskap ‘n vastyd geword het om die volk aan die tragedie van die ballingskap te herinner (Taylor). Vgl. die boodskap in Sagaria 8:19 waar die Here onder andere belowe dat dié vasdae – die tiende maand verwys na die ballingskapsvas – in die toekoms in feesdae omgekeer sal word.

Daarmee sluit Esegiël die oordeelsboodskap van die heilige God af oor die onreg en verydeling van mense in Juda en Jerusalem wat Hom minag. Hy verwyder hulle daarom uit hulle land en stuur hulle in ballingskap, terwyl Hy ook sy teenwoordigheid van hulle onttrek. Die volgende hfste. van 25 tot 36 sal die fokus na God se oordeel ook oor die nasies verskuif voor die boodskap van heil in die tweede deel van die boek, hfste. 37-48, aan die beurt sal kom.

In twee roerende laaste metafore word Jerusalem eerstens beeldryk vergelyk met ‘n geroeste pot wat deur geen vuur roesvry gemaak kan word nie (24:1-14). Tweedens sterf die vrou van Esegiël as ‘n tragiese voorbeeld van wat met Jerusalem, God se heiligdom, sal gebeur (24:15-27).

  • 24:1-14 – Jerusalem is ‘n geroeste pot wat geen vuur roesvry kan maak nie
  • 24:15-27 – Esegiël se vrou sterf as voorbeeld van Jerusalem se ballingskap

24:1-14 – Jerusalem is ‘n geroeste pot wat geen vuur roesvry kan maak nie

Dié duidelike detail wat die Here vir Esegiël gee oor die aanvang van die beleëring van Jerusalem bevestig die Goddelike karakter van die profesieë van Esegiël. Dit gebeur sonder menslike toedoen en sonder dat hy dit self kan sien.

Die metafoor van die pot is al voorheen deur Esegiël ingespan (Esegiël 11). Hier gebruik hy dit op twee maniere.

In die eerste – 24:3-5 (let op dat hy dit ‘n gelykenis noem) – word slegs die beleëring van Jerusalem voorgestel. Jerusalem is die geroeste pot, die Galdeërs die vuur, en die Jode die vleis in die pot. Die vuur doen sy werk en die vleis – die mense van Jerusalem – word gaar in die pot.

In die tweede – 24:6-14 – word die ellende wat hulle gaan tref, uitgespel. Maar, ‘n mens sien dat die Here eintlik die roes van die pot wil afbrand – dit is, hulle afskuwelike onreinheid. Die Here wil die pot skoonmaak, sodat dit weer sy doel kan dien. Tevergeefs. Nie die hoeveelheid vleis daarin, óf die hoeveelheid vuur, óf die hittegraad van die vuur, het enige effek nie. Al word die brons rooiwarm, die onreinheid van die mense kom net nie tot ‘n einde nie!

Daarom kom die ballingskap onvermydelik: “Jy gaan gestraf word soos jy verdien, soos jou optrede dit eis.

24:15-27 – Esegiël se vrou sterf as voorbeeld van Jerusalem se ballingskap

Dit is vir my ongelooflik ontstellend dat die Here die sterfte van die vrou van Esegiël as ‘n voorbeeld gebruik van wat met Jerusalem, God se heiligdom, sal gebeur. Sy word letterlik as die “lus van sy oë” beskryf. Sy word egter “skielik” van hom af weggeneem, moontlik met ‘n beroerte, soos die Hebreeuse woord “slag” (strike/blow) vertaal kan word. Dit kan egter op enige skielike dood dui.

En dit het skielik gebeur. Die môre kry hy nog dié boodskap van die Here. Die nag het sy vrou gesterf. Dat hy boonop verbied word om oor haar te treur, klink dubbeld so hartseer. Soos Allen dit sê van mense wat God se woorde moet oordra: “They are called again and again to surrender their private lives to the requirements of their public responsibility.” (aangehaal in Taylor).

Toe hy die volgende dag die boodskap daarvan aan die volk verduidelik, kom ‘n mens agter hoe dit eintlik die hartseer wat alle Jode gaan beleef met die verdere ballingskap, verbeeld. Die Here teken vir hulle ‘n prentjie van hoe hulle self oor almal wat hulle verloor het sal treur. En die ergste sal wees dat hulle van hulle sonde: “sal wegteer en by mekaar sit en kla.” (24:23).

Die Here voorspel ook aan Esegiël dat iemand ná die ballingskap van Jerusalem sal aankom om hom die berig van Jerusalem se val te bring. Díe dag sal Esegiël weer kan begin profeteer. Dit wil voorkom asof hy vir ‘n tyd lank stil was, moontlik in die verwerking van sy eie verlies, of, meer waarskynlik, in afwagting van die volgende woord van die Here wat sterker op die nuwe toekoms wat die Here beplan, sou fokus (Eseg. 33:21 vv.).

Boodskap

Vir die Here is afvalligheid en ongehoorsaamheid soos roes aan ‘n pot. Dit laat selfs die beste vleis sleg smaak. Selfs die grootste hitte het egter geen effek op roes nie. Die roes smelt nie af nie. Só ook nie die onreinheid van die volk nie. Selfs nie deur die krasheid van die oordeel nie. ‘n Ander manier moet gevind word om die volk van binne af te genees, dít wat die Here in hfst. 37 sal belowe: “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe …” (37:14).

Dat Esegiël in dié proses die: “vrou wat jou soveel vreugde gee,” verloor, is ongelooflik tragies. En net verteerbaar omdat hy daarmee iets ervaar van wat God in sy verhouding met Israel ervaar het. Só het Esegiël ook besef wie die Here is, dié Een wat treur oor sy mense wat die dood kies bó die lewe saam met God. Ons kan dít weet van God: “Hy wil nie hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9).

In die proses moet Esegiël self baie verduur. Soos só baie ander profete en mense van God. Soos die Here Jesus self ook moes verduur. God se mense: “are called again and again to surrender their private lives to the requirements of their public responsibility.” (Allen).

View all posts in this series

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Chris,
    vers 26 en 27 praat van `n vlugteling wat `n boodskap sal bring en dat Esegiël nie meer stom sal wees nie. Help asb!
    Wie is die Boodskapper en was Esegiel stom? Net gedemonstreer?
    Groete!

    • Hi Elna, Dit wil voorkom asof Esegiël vir ‘n tyd lank stil was, moontlik in die verwerking van sy eie verlies, of, meer waarskynlik, in afwagting van die volgende woord van die Here wat sterker op die nuwe toekoms wat die Here beplan, sou fokus. Dit sou ingelei word deur ‘n woord van ‘n vlugteling wat van die verwoesting van Jerusalem sou kom vertel. Ons lees daarvan in Eseg. 33:21 vv. Dit is baie keer hoe die Here met sy boodskappers werk. Hulle moet wag tot Hy ‘n opdrag gee.

  • Dankie Chris!
    Ek sal die 53 vertaling met kruis verwysings moet uithaal! Sjoe… stom geraak van skok. Ek is seker dit was dit…foeitog wat `n lewens opdrag!
    Jou B studie oor Esegiël help baie!
    Dankie.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: