Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C.
Meer as ‘n jaar na Esegiël se eerste gesig, terwyl hy in sy huis op ‘n Maandag met die leiers van Juda op 17 September 592 v.C. sit en gesels, het die mag (hand) van die Here weer van hom besit geneem. Hy word in hierdie gesig na die tempel en die stad Jerusalem geneem om nie net die geestelike toestand van die mense wat tot die oordeel gely het, te sien nie, maar ook hoe God se magtige teenwoordigheid uit die stad uit weggeneem word. Daar is ‘n sprankie hoop vir die ballinge dat God “vir hulle ‘n heiligdom” sal bly in die lande waarheen hulle verstrooi is, sowel as ‘n belofte van terugkeer in die toekoms.
Jy kan dié vier hoofstukke in een sitting lees en daarna my bydrae, óf jou leeswerk oor vier dae versprei en my bydraes op soortgelyke wyse lees. Hoofstuk 12 kom dus aan die einde van die week.
- 8:1-18 – Die leiers dink die Here sien nie hulle afgodediens nie
- 9:1-11 – Die straf is naby vir die stad Jerusalem
- 10:1-22 – Die Here maak gereed om die stad te verlaat
- 11:1-25 – Die Here verlaat die stad met die belofte van ‘n terugkeer
8:1-18 – Die leiers dink die Here sien nie hulle afgodediens nie
Jahwe verskyn weer in ‘n mensvormige gestalte aan Esegiël soos met die eerste visioen. Hy lig Esegiël aan sy hare (waarskynlik teruggegroei!) op en bring hom deur die Gees (die woord kan ook wind beteken) na Jerusalem.
Die Here wys vervolgens vir Esegiël vier tonele wat God se toorn oor Jerusalem laat ontvlam. Onthou dat dit ‘n visioen is en nie noodwendig presies vergelykbaar met wat in werklikheid in Jerusalem op dié moment aan die gang was nie. Die afbreek van die muur gebeur bv. nie werklik nie. Die ander detail, bv. die Asjera altaar en afgodsbeeld en die mense wat hy herken, kon moontlik met die werklikheid verband gehou het, maar dit word in die eerste plek meer simbolies bedoel, soos bv. spesifiek van die verwoesting van hfst. 9-10 die geval is.
1. Die eerste toneel is van die altaar wat vir ‘n ongenoemde afgodsbeeld gebou is net buite die ingang na die tempel (8:3-6). Dit is waarskynlik Asjera, die hemelkoningin, aangesien dieselfde woord in 2 Kron. 33:7,15 vir afgodsbeeld gebruik word en met haar geïdentifiseer word. Dit het ‘n “heftige toorn” by die Here laat ontstaan teen die volk wat haar aanbid het. Dit nogal met hulle rug na die tempel!
2. Die tweede is ‘n toneel waarin Esegiël die afbeeldings van allerlei kruipende goed en diere sien wat teen die mure binne-in die tempel uitgekap is (8:7-12). Die (moontlik Egiptiese) afbeeldings is deur sewentig (‘n verteenwoordigende getal) van die leiers van Israel in die geheim (in die donker!) aanbid met wierookbakke in hulle hande. Die Here se kommentaar op dié afskuwelike afgodediens is: “Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.” Hulle lojaliteit is dus van God af na ander afgode verplaas.
Esegiël herken vir Jaäsanja, seun van Safan, wat moontlik ‘n vierde seun van dié gevierde staatsekretaris van koning Josia was (2 Kon. 22). Hy volg dus nie in die spore van sy pa nie, maar verplaas sy lojaliteit soos die ander leiers na die afgode. Let wel, hy is nie dieselfde persoon as Jaäsanja, seun van Assur, wat in hfst. 11:1 genoem word nie. Hulle was waarskynlik aan Esegiël bekend uit sy vroeëre verblyf in Jerusalem.
3. Die derde toneel is die aanbidding van Tammus (8:13-15). Die vroue het gesit en huil oor Tammus, die god Dumuzi. Sover ek kan agterkom uit die verwarrende inligting oor dié mite, was Dumuzi vir ses maande na die onderwêreld verban as plaasvervangende straf vir sy vrou Inanna se indiskresie om op haar suster Ereshkigal se troon te gaan sit. In rituele van rou kon hy herroep word om vir ses maande van die jaar weer die lewe te smaak saam met sy vrou. Sy terugkeer sou dan verband hou met die aanbreek van die reënseisoen. Hoe dit ook al sy, met dié rites het hulle God se voorsiening in die natuur aan ‘n afgod toegeskryf, baie soos dit die geval met die Baälgodsdiens was.
4. Die vierde toneel is die aanbidding van die son in die binneste voorhof van die tempel (8:16-18). Vyf en twintig man aanbid die son met hulle rug na die altaar van die Here! Nie net het hulle die land vol geweld gemaak nie, maar hulle tart die Here met die druiweranke wat hulle voor hulle neuse rondswaai. Dit is onseker wat die agtergrond vir dié gebruik was, maar die betekenis is seker – dit is ‘n obsene, spottende gebaar (amper soos die “middelvinger” vandag gebruik word). Die LXX (die v.C. Griekse vertaling van die OT) vertaal dit daarom as volg: “Hulle is soos spotters …”
In plaas van om voor die Here se teenwoordigheid in die stad en tempel neer te val, aanbid die mans en vroue afgode vanuit die res van die wêreld. Op die koop toe terg hulle die Here met absolute obsene minagtende gebare.
Die Here se woede het nou geen perke nie: “Ek gaan nou doen wat my gramskap eis. Ek gaan nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Al roep hulle hoe hard na my, Ek sal hulle nie hoor nie.”
9:1-11 – Die straf is naby vir die stad Jerusalem
Die Here kondig dus aan dat die straf naby is vir die stad Jerusalem.
In ‘n ontsagwekkende toneel kom ses manne met wapens van verwoesting in hulle hand – soos futuristiese Terminators! Die man met die linneklere is net “onder” of “tussen” hulle, soos dit korrek in die OAV vertaal is, en dus ‘n sewende agent van die Here. Sy taak is om met ‘n pen uit sy skrywersakkie ‘n merk (dit is die letter t in Hebreeus wat in dié tyd as ‘n X geskryf is) op die voorkoppe te maak van: “almal wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.” (9:4 – amper soos van Lot in Sodom en Gomorra gesê word – 2 Petr 2:7).
God se mense, dié wat nie meedoen aan die afskuwelikhede en daaroor treur, word dus gespaar. Terloops, in Openbaring 13 gebeur eintlik die teenoorgestelde met die mense wat die merk van die dier moet dra om ekonomies aktief te kan wees.
God se optrede hier laat ‘n mens dink aan die eerste twee van die saligsprekinge van Jesus:
- Die eerste sê: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Dit is dus dié wat arm van gees is, nie hulle lojaliteit van God na die afgode verplaas nie, wat deur Hom geëer en geseën word in Esegiël se taal.
- Dit is verder dié wat hartseer is oor al die onreg en ongehoorsaamheid wat hulle rondom hulle sien, wat deur God gemerk word as syne in Esegiël 9. Dieselfde gesindheid hoor ‘n mens in die tweede saligspreking van Jesus: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matt. 5:4).
Trouens, daar is nog twee van dié saligsprekings van Jesus wat gaan oor die sug na, en doen van dit wat reg is:
- “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.” (Matt. 5:6).
- En: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Matt. 5:10).
Die hele Bergrede wentel immers rondom die tema van geregtigheid, soos ek in my hantering van Matteus gewys het: Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid; Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid; Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid.
Terug by Esegiël. Die magtige teenwoordigheid van die Here styg op dié punt vanuit die tempel op om plek te maak vir die verwoestende werk van die ses vernietigers. Dit tref oumense, jongmense, kinders en vrouens. En die mense by die tempel is eerste aan die beurt. Só word die heiligdom verontreinig en die mense van die stad uiteindelik uitgeroei.
Esegiël kom slegs vir die tweede keer in die boek persoonlik aan die woord en bid-vra – as intersessor – in afgryse of die Here dan almal gaan uitroei. Die Here antwoord bevestigend en wyt dit aan die feit dat die land vol moord en die verdraaiing van die reg is. Hulle kry dus hulle verdiende loon.
10:1-22 – Die Here maak gereed om die stad te verlaat
Die man met die linneklere verander nou van beskermer na bederwer en kry die opdrag om kole van vuur oor die stad uit te gooi. ‘n Mens herroep die prentjie van Sodom en Gomorra wat ook met swael en vuur vernietig is (Gen. 19).
Die magtige teenwoordigheid van die Here word in drie tonele beskryf met die doel om aan te dui hoe Hy met verdrag die tempel begin verlaat. Esegiël besef skielik, toe hy sien dat die Here se teenwoordigheid van die gerubs in die tempel af opstyg, dat dit dieselfde wesens is as wat hy in die visioen van hfst. 1 gesien het. Hy herken hulle daarom nou as gerubs, wesens wat nie net die tuin van Eden bewaak het nie (Gen. 3), maar spesifiek in gegote vorm op die deksel van die verbondsark aangebring is (Eks. 25) as teken van God se heerlikheid (Hebr. 9:25).
Jy kan jou geheue verfris oor die detail van sy beskrywing deur weer Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag te lees.
11:1-25 – Die Here verlaat die stad met die belofte van ‘n terugkeer
Soos in die eerste deel van die visioen tel die Gees (wind) Esegiël op en bring hom na die ingang van die poort wat oos kyk. Daar sien Esegiël ‘n vergadering van vyf en twintig leiers van die volk onder wie hy twee persone herken, Jaäsanja, seun van Assur en Pelatja, seun van Benaja – andersins egter onbekend.
Hierdie leiers, sê die Here vir Esegiël, gebruik twee metafore om hulle eie magsmisbruik te regverdig.
- Die eerste een: “Dit is nie nou tyd om huise te bou nie,” verwys waarskynlik na die onteiening van ander se huise tot hulle eie voordeel (vgl. Miga 2:9 se veroordeling van leiers wat die vrouens uit hulle huise jaag en hulle kinders se waardigheid aantas).
- Die tweede een: “Die stad is die pot en ons is die vleis,” verwys waarskynlik na hulle eiewaan dat hulle belangriker is as die ander mense van die stad, en daarom sonder skroom die volk kan uitbuit.
Die Here roep Esegiël om teenoor hulle te profeteer – in die visioen natuurlik – en hulle vir hulle magsmisbruik en onreg te veroordeel. Hy keer die tweede metafoor oor die pot en die vleis om, en verklaar die mense as die vleis – d.w.s. belangriker as hulle – en veroordeel hulle tot die dood. Hulle sal besef dat God die Here is wat dié mense straf wat nie volgens sy voorskrifte leef nie.
In die visioen sterf Pelatja ewe skielik – soos Ananias in Hand. 5:5 dit veel later ook sou oorkom – wat Esegiël weereens in ontsteltenis laat bid-vra of die Here dan ‘n einde gaan maak aan wat van Israel oor is. Dit voel vir hom asof die Here nie net ‘n streep deur die leier se toekoms getrek het nie, maar deur die hele volk se toekoms.
Die Here antwoord Esegiël egter hierdie keer anders as met die vorige keer se veroordelende boodskap. Hierdie keer antwoord die Here met ‘n woord van hoop. Die oorblyfsel van Israel sal inderdaad nie heeltemal uitgewis word nie.
Trouens daar is twee beloftes vir hulle.
- Die eerste is dat die Here “vir hulle ‘n heiligdom” sal bly in die lande waarheen hulle verstrooi word (11:16). Die Here sal hulle nie verlaat nie, selfs nie in die vreemde nie. Die mense in Jerusalem dink verniet dat die land hulle s’n sal bly sonder die teenwoordigheid van die Here.
- Die tweede is dat die Here die oorblyfsel ook sal bymekaarmaak tussen die ander nasies uit, hulle sal versamel uit die ander lande waarheen Hy hulle verstrooi het en hulle sal terugbring om nie net al die afskuwelike goed uit die stad te verwyder nie. Hy sal hulle hart en gees verander om Hom te kán dien soos dit moet. Die enigste manier waarop enigiemand die Here voluit en volhardend kan dien – as die Here self ‘n mens se hart en gees verander om Hom te gehoorsaam.
Dié tweede belofte van die Here is regtig inspirerend, soos ook die soortgelyke beloftes in Jeremia 31:31-34 en verder aan in Esegiël 36:26 self:
“Ek sal hulle ‘n ander hart gee en ‘n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.” (11:19-20).
Die magtige teenwoordigheid van die Here het verder opgestyg en op die berg oos van die stad gaan staan. God het sy volk nou verlaat. Die oordeel sal oor hulle voltrek word.
Met dié is Esegiél terug na die ballinge toe – wat waarskynlik die hele tyd by Esegiël was terwyl die visioen gebeur het – en het hy hulle alles vertel wat die Here hom laat sien het.
Boodskap
Esegiël sien hier as’t ware met sy eie oë hoe ernstig die verval in Jerusalem is. Hy het ses jaar vroeër aan sy eie bas die gramskap van die Here ervaar met die wegvoering in ballingskap. Niks het egter verander in Jerusalem nie. Trouens dit het selfs vererger. Dít kon hy nou in die visioen eerstehands ervaar.
Die visioen gee daarom ‘n visuele regverdiging en motivering vir die drastiese veroordeling van die Here. God sien alles, anders as wat die leiers gedink het terwyl hulle in die donker met hulle konkelwerk besig was – kulties in die tempel (8:12), en sosiaal in terme van grondbesit (11:3). Dit is ‘n kant van God wat ons goed sal doen om altyd te onthou. Hy is nie net die God wat vertroos nie. Hy is ook die God wat veroordeel.
Die visie van hfst. 11:19-20 is egter ‘n toekomsvisie wat net soseer iets is om aan vas te gryp. Die oplossing vir die probleem van ongehoorsaamheid lê uiteindelik nie in die volk self en hulle vermoë om die Here te dien nie. Dit lê in die hartsverandering wat net die Here alleen in mense kan bewerk, iets wat met die bediening van die Here Jesus ‘n aanvang sou neem en deur sy Gees in die hart en gees van gelowiges gewerk sou word (Joh. 3:5-8).
Die belofte van Esegiël is dus iets wat ons ook kan aangryp:
“Ek sal hulle ‘n ander hart gee en ‘n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.” (11:19-20).
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL
- Inleiding op Esegiël
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C.
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel”
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C.
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C.
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”!
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C.
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C.
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel”
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C.
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land
Tags: Esegiël
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus
Chris van Wyk
| #
Hi Awie, “beter” beteken hier “het ‘n groter impak.” Dit is my weergawe van Paulus se lering dat Korintiërs hulle moet toelê op die “groter / belangriker gawes” soos die Grieks in 1 Korintiërs 12:31 vertaal moet word (χαρίσματα τὰ ⸀μείζονα). Hy gee die lering omdat die Korintiërs die spreek in tale verkies (hoër geag) het eerder as profesie, terwyl profesie juis ‘n belangriker gawe was wat ‘n groter impak in die gemeente gehad het. Dit is waarom die 2020-vertaling van “belangriker genadegawes” praat (1 Kor 12:31). Want, dit is waaroor dit gaan. Op soortgelyke wyse vertaal die 2020-vertaling die een wat profeteer as “van groter waarde” as die een wat in tale spreek (1 Kor 14:5). Gawes is dus gelyk in die sin dat die Gees dit aan elkeen uitdeel soos Hy dit wil. Maar dit is ongelyk in terme van die impak wat dit in ander se lewe kan hê. Tale stig jouself en as dit reg gedoen word, is dit ‘n teken aan ongelowiges (1 Kor 14:22), maar profesie – die uitleg van God se Woord vir vandag – bring almal tot insig, verantwoording en aanbidding omdat die geheime van die hart blootgelê word (1 Kor 14:24-25). Profesie is dus ‘n “groter” of “belangriker” gawe in die konteks van die gemeente. Hoop dit help!
Chris van Wyk
| #
Hi Roland, ek verduidelik dit in die breër konteks van die perikoop. Lukas 17:20-36:
Teks en konteks
Let op hoe Jesus in die eerste twee verse in gesprek met die Fariseërs gaan oor die huidige onsigbaarheid van die koninkryk van God. Om net daarna tot en met vers 37 met sy dissipels oor die uiteindelike sigbaarheid van die koninkryk van God te praat. Die boodskap van die huidige onsigbaarheid is dus vir die Fariseërs wie se oë blind is vir wat Hy doen onder hulle. Die boodskap van die toekomstige sigbaarheid is vir sy eie mense om hulle hoop te versterk, selfs al moet hulle self in verwagting leef en nie in aanskoue nie.
17:20-21 Met die Fariseërs praat Jesus hier oor die feit dat die koninkryk van God wel in sy aardse bediening raakgesien kan word. Dit is wat die frase beteken: “die koninkryk van God is onder julle.” Hulle het egter ‘n politieke of militêre koninkryk verwag. Daarom is die koninkryk vir hulle onsigbaar. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Dis die “vinger van God” wat uit die onsigbare geestelike sfeer sy impak in hierdie wêreld maak (vgl Luk 11:20; Matt 12:28). Die Fariseërs het nie oë om dit raak te sien nie, want hulle glo nie in Hom nie.
17:22-23 Met die dissipels praat Jesus oor die toekomstige koninkryk van God wat uiteindelik sigbaar sal word wanneer Hy weer na die aarde toe sal terugkom. Dit sal aan die een kant ‘n uitdaging vir hulle wees, omdat hulle sal verlang om dit te sien, maar dat die wagtyd lank gaan wees. Waarvoor hulle veral versigtig moet wees, is om nie mislei te word deur mense wat voortydig allerlei aansprake maak dat Hy hier is of daar.
17:24 Jesus se wederkoms sal onverwags, maar duidelik herkenbaar wees, soos die weerlig op een plek slaan, maar die hele hemelruim verlig.
17:25 Dan keer Jesus terug na die hede en praat oor sy lyding en verwerping deur “hierdie geslag”, ‘n verwysing na die Joodse leiers.
Jesus verwys dan na twee voorbeelde uit die geskiedenis wat die dissipels sal help om die wederkoms te verstaan. Die verhaal van Noag en die oordeel van die vloed. En die verhaal van Lot en die oordeel oor Sodom. Albei hierdie verhale is van ‘n ongeïnhibeerde boosheid wat die samelewing oorgeneem het. Totdat God met sy oordeel ingegryp het.
17:26-27 Die mense het in Noag se tyd vir ongeveer ‘n eeu lank aangegaan met hulle lewe terwyl Noag die ark gebou het. Geëet, gedrink, en getrou. Totdat alles klaar was, Noag in die ark ingegaan het, die vloed van God se oordeel gekom en almal uitgewis is. So sal dit ook wees met Jesus se wederkoms.
17:28-30 Die mense het in Lot se tyd dieselfde gedoen. Hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant, gebou. Maar, op die dag wat die engele Lot en sy mense uit Sodom gered het, het die vuur en swael van God se oordeel uit die hemel gereën en almal uitgewis. So sal dit ook wees die dag waarop die Seun van die mens aan almal geopenbaar sal word. Hy sal kom met ‘n verlossende oordeel.
17:31-32 Jesus illustreer die gereedheid wat hy van sy dissipels verwag met die voorbeeld van iemand wat op die dak van sy huis is. Hy moenie nog tyd verspil om ‘n paar besittings uit die huis te gaan haal as die Here kom nie. Hy wat in die veld is, moenie terugdraai na wat by die huis is nie. “Onthou Lot se vrou!” Sy het in ‘n pilaar van sout verander toe sy teruggedraai het na wat agtergebly het in Sodom en Gomorra en is agtergelaat (Gen 19:17, 26). Sy het só haar redding verloor.
17:33 Jesus verklaar hierdie beginsel vir sy dissipels soos volg. As jy hier jou lewe probeer behou deur in te pas by hierdie wêreld, sal jy juis jou lewe daar met die wederkoms verloor. Maar, selfs as jy jou lewe hier verloor, omdat jy aan Hom getrou bly, sal jy jou lewe vir ewig behou in die hiernamaals (vgl Luk 9:24).
17:34-35 Die wederkoms sal ook ‘n skeiding bring tussen mense. Tussen eggenote en werkgenote. Die “aanneming” is ‘n verwysing na die engele se werk om die gelowiges van die ongelowiges te skei by die wederkoms. Wie Jesus in hierdie lewe “aanneem” (Joh 1:12), sal met sy Wederkoms “aangeneem word.”
17:36 Die dissipels probeer dan die plek agterkom waar dit sal gebeur. As die tyd dan onbekend is. Miskien kan hulle ten minste die plek identifiseer waar dit sal gebeur. Jesus antwoord hulle egter nie direk nie. Hy gebruik ‘n moeilike interpreteerbare verwysing na aasvoëls. Dit kan dui op die herkenbaarheid van die wederkoms, soos ’n mens weet daar is ’n lyk as aasvoëls daarom vlieg. Hulle sal dus weet as die wêreld ryp is vir oordeel. Die wêreld sal soos ’n verrottende lyk wees waarom die aasvoëls draai. Dan sal die einde kom.
Boodskap en betekenis
Hierdie verhale van Noag en Lot, en Jesus se toepassing daarvan, moet ons waaksaam maak om Jesus te gehoorsaam in hierdie lewe, en gereed maak sodat ons Hom in die volgende lewe kan ontvang as Hy terugkeer. Die tragiese feit dat die wederkoms ook skeiding sal bring tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie, moet ons aanvuur om die evangelie aan almal te bring.