Skip to main content

Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel

Michael Buesking: Ezekiel Joining Two Sticks - with permission
Michael Buesking: Ezekiel Joining Two Sticks – with permission

Op soortgelyke wyse as wat Esegiël aan die begin van sy bediening na ‘n vallei geneem is – hfst. 3:22 – neem die mag van die Here weer van Esegiël besit, waarskynlik so 10 jaar ná die eerste gebeure, en bring hom deur die Gees van die Here uit en sit hom neer in ‘n laagte.  Dit is waarskynlik dieselfde plek, omdat dieselfde Hebreeuse woord gebruik word.

Waar met die eerste besoek aan die plek die Here vir Esegiël ‘n gesig van Homself gegee het wat hom op die grond laat neerval het, gee die Here hier vir Esegiël ‘n gesig van die volk as ‘n duisternis dooie bene wat dink dit is klaar met hulle.  Waar Esegiël die eerste keer nie enigiets mag gesê het vir die “weerbarstige” volk nie, word hy dié keer ‘n opdrag gegee om nie net nuwe lewe en eenheid te profeteer oor die volk nie, maar selfs as profeet met die Gees te praat in opdrag van die Here om op tree (37:1-14).

Soos die vorige keer beveel die Here hom ook om ‘n simboliese handeling uit te voer, as kragtige verbeeldingryke metafoor, hierdie keer deur op twee stukke hout te skryf en hulle tot een stuk in sy hand saam te voeg (37:15-28).  Daarmee hou die Here die droom van eenheid onder dié wat Hom aanbid, lewendig.  Die ou verdelings tussen noord en suid sal verdwyn in die fokus op die Here se teenwoordigheid.

37:1-14 – “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.

Die Here gee vir Esegiël ‘n gesig van die volk as ‘n duisternis dooie bene wat dink dit is klaar met hulle.  Die Here gee hom ‘n opdrag om nie net nuwe lewe en eenheid te profeteer oor die volk nie, maar selfs as profeet met die Gees te praat om op tree in opdrag van die Here.

Let op hoe beide die woord van God sowel as die Gees van God die lewe bring.  Die profetiese “prediking” skep die verwagting en bereidheid om te luister.  Die profetiese “gebed” – by gebrek aan ‘n beter woord om die gesprek met die Gees te benoem – laat mense in beweging kom as direkte resultaat van die Gees wat lewe bring.  Só bewerk die praat met mense en die praat met God die hernuwing wat nodig is.

Albei is nodig, maar die praat met mense kan nie slaag sonder die praat met God nie.  Soos John Taylor sê: “What preaching by itself failed to achieve, prayer made a reality.” (Ezekiel).

Die belofte van God is dus dat die volk uit die doodsbestaan in die vreemde – die duisternis dooie bene dui op die volk en die grafte op die ballingskap – verlos sal word en na hulle eie land teruggebring sal word.  “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.”

Die evangelie van Johannes gebruik waarskynlik perspektiewe uit hierdie gedeelte op ten minste twee plekke.  In Jesus se gesprek met Nikodemus is Jesus verbaas dat hy nie verstaan dat ‘n mens van bo-af gebore moet word nie – hfst. 3.  En in Joh. 5:25 verwys Jesus op soortgelyke wyse na die lewe wat Hy bring vir dooies: “Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe.” Dit is inderdaad iets wat Jesus ook fisies geïllustreer het met die opstanding van Lasarus en natuurlik uiteindelik van Homself.

Geen wonder dat hierdie gelykenis van volksherstel in die tyd van Esegiël uiteindelik ‘n gelykenis en belofte van geestelike geboorte en ook herstel in die tyd van die kerk geword het nie.

37:15-28 – “Ek sal van hulle een volk maak in die land.

Soos die vorige keer in hfst. 4 vv. beveel die Here Esegiël om ‘n simboliese handeling uit te voer.  Hy skryf die name van die twee dele van Israel op twee stukke hout – Juda en hulle bondgenote, Josef en hulle bondgenote – en voeg hulle tot een stuk in sy hand saam (vgl. Moses se soortgelyke aksie met twaalf kieries – Num. 17:1 – asook die omgekeerde simboliek in Sagaria met die twee kieries welwillendheid en samehorigheid).

Die belofte van die Here is dat Hy hulle weer een volk sal maak in die land.  Terloops: Efraim was Josef se eersgebore seun en mettertyd die belangrikste stam in die voormalige noordryk.  Die name Efraim en Josef is dus ook as name vir Israel in die betekenis van die noordryk gebruik.

Dit is belangrik om te besef dat geen poging ooit voorheen daarin kon slaag om die verdeling tussen die suid- en noord-ryk – wat ná die tyd van Salomo gekom het met die konflik tussen Jerobeam en Rehabeam (1 Konings 12) – te deurbreek nie.  Hiskia en Josia het ná die ballingskap van die noordryk pogings aangewend om die volk te verenig rondom die gesamentlike viering van die Paasfees, maar tevergeefs.

Esegiël se aksie wys egter dat die Here nooit dié droom laat vaar het nie.  God se droom bly altyd een van eenheid onder dié wat Hom aanbid.  Hy self sal die droom van eenheid lewendig hou soos ook Hosea, Jesaja en Jeremia dit verwoord het.  God gee nooit moed op vir eenheid nie, soos Jesaja so pragtig in sy hfst. 11 geskrywe het.

Die volk sal daarom nie net terugkeer nie, maar die ou verdelings tussen noord en suid sal verdwyn in die fokus op die Here se teenwoordigheid.  Hulle sal een nasie in hulle eie land wees, aan die een kant onder die heerskappy van die beloofde (messiaanse) Dawidiese koning en aan die ander kant in die teenwoordigheid van die Here, soos verder deur die bou van die tempel in hfst. 40-48 geïllustreer sal word.

Dit is in hierdie visie wat die NT prentjie van die verenigde geloofsgemeenskap as die “twaalf stamme van Israel” (Matt. 19:28) gewortel is.  Dit sluit die gelowige Jode in, want Paulus sê bv. van die Jode die volgende: “Ons twaalf stamme dien God nougeset dag en nag juis omdat hulle die hoop het dat Hy sal doen wat Hy belowe het.” (Hand. 26:7).  Soos Jakobus ook daaroor skryf: “die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is.” (Jak. 1:1). Maar uiteindelik gebruik Johannes dit as ‘n metafoor vir die kerk as die ware Israel soos ons in sy Openbaring lees.  Vgl.  Openb. 7 en Openb. 21.

Boodskap

Hierdie gedeelte word baie keer gelees net as ‘n belofte van geestelike hernuwing sonder om die historiese konteks daarvan in ag te neem.  Die impak van die boodskap van hernuwing word egter verhoog as ‘n mens dit in die eerste plek hoor as ‘n belofte aan die volk in ballingskap.  Hoekom?  Want hierdie profesie van Esegiël hét in vervulling gegaan met die terugkeer van die ballinge in 538 v.C. soos Esra en Nehemia dit vir ons vertel.

Natuurlik was dit net ten dele: sommige aspekte van die hernuwing is immers eers vervul in die tydvak wat met Jesus Christus aangebreek het; sommige aspekte sal eers aan die einde van die tyd vervul word, bv. die omvattende eenheid waarvan hier sprake is.  Maar, die terugkoms en vestiging in Juda is ‘n genoegsame bewys van die konkrete vervulling van die belofte om as inspirerende getuienis van God se waarmaking van sy beloftes vir ander kontekste te dien.  Esra en Nehemia wys immers hoe die herbou van die tempel, die fokus op die Woord en die herbou van die mure van Jerusalem die geloofsgemeenskap weer hernuwe het.  Dít kan God altyd weer doen.

Dit beteken daarom dat ons met ‘n nog groter vrymoedigheid in ons eie kontekste op hierdie God kan staatmaak wat belowe: “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.” (37:4,14).  Hy het dit op ‘n spesifieke manier in die verlede bewaarheid.  Hy kan dit ook in die hede in nuwe kontekste laat gebeur.  Esegiël teken dus vir ons ‘n prentjie van ‘n aktiewe God wat op soewereine manier intree in hopelose situasies en deur sy Woord en Gees verandering bring. Ons kan daarop vertrou en daarvoor bid, totdat ons ook ervaar wat Israel ervaar het: “’Ek het dit (immers) gesê en Ek sal dit doen,’ sê die Here.” (37:14).

Esegiël leer ‘n mens egter ook hoe belangrik die regte tydsberekening is.  Die eerste boodskap in hierdie laagte/vallei was om stil te bly en simboliese handelinge van oordeel uit te voer.  Die tweede boodskap in dié plek was om die woord van lewe aan beide die volk en die Gees te verkondig sowel as om simboliese handelinge van hoop daar uit te voer.  Ons het daarom ook vandag nog hierdie tipe profetiese onderskeiding nodig om te weet watter boodskap op watter tyd die woord van God is, sodat dit nie maar net die vrug van ons eie verbeelding is nie.

Daarin speel die Woord en die Gees, die eenheid van die geloofsgemeenskap in al sy diversiteit, sowel as die prediking en gebed van sy leiers ‘n belangrike rol.  En as ‘n mens die dubbele opdrag in gedagte hou – preek en bid – is die praat met die Gees van God van selfs nog groter belang as die praat met mense, trouens van beslissende belang.  Iets wat gerus ons manier van doen kan verander!

Mag ons deur hierdie gedeelte in Esegiël geïnspireer word om só naby die Here te lewe, om só met Hom in gesprek te tree, dat ons inderdaad sal groei in ons onderskeiding van dié dinge wat God besig is om te doen, sodat ons ook die seën van God se teenwoordigheid kan ervaar.  Dan sal ons woorde aan mense die oortuigingskrag hê wat van die Gees self af kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar