Inleiding op Esegiël
Ek stuur dié inleiding reeds vandag om jou tyd te gee om dit te lees. Donderdag kom die bydrae oor die eerste drie hoofstukke. Ek sien uit na die reis deur Esegiël saam met jou!
Die historiese agtergrond
Esegiël was ‘n priester, die seun van Busi, wat in Galdeërland (Babilonië) opgetree het tydens die ballingskap van Juda in die 6de eeu v.C. Hy was een van die ballinge wat saam met die jong 18-jarige koning Jojagin (2 Kron. 36:9 se grondteks sê eintlik hy was 8 jaar oud!) weggevoer is tydens die eerste veldtog van Nebukadnesar teen Juda in 598-597 v.C.
Esegiël was met die begin van sy profetiese roeping omtrent 30 jaar oud, ‘n afleiding wat ons maak uit die frase in Eseg. 1:1: “Op die vyfde van die vierde maand in die dertigste jaar …” wat ook die vyfde jaar van koningin Jojagin se ballingskap was, d.w.s. 593 v.C. Hoewel daar baie verskillende interpretasies van die betekenis van dié dertigste jaar is, waarvan geeneen regtig bevredigend is nie, is die verklaring van Origines die mees aanvaarbare, dat die datum op sy eie ouderdom dui.
Indien dít die geval is, is Esegiël gebore in die tyd van koning Josia se hervormings in Jerusalem, in die twintigerjare van die vorige eeu, hervormings wat ongelukkig nie die toets van die tyd deurstaan het nie. Josia se een seun, die afskuwelike koning Jojakim (Eljakim), het hom in 609 v.C. opgevolg. Hy was ‘n dwase koning en het onder andere die boekrol met die profesieë van Jeremia opgesny en verbrand (Jeremia 36) en hom só verset teen die Here.
Tydens Nebukadnesar se veldtog teen Jerusalem het Jojakim gesneuwel. Sy seun, Jojagin, het hom opgevolg, maar is ongelukkig na net 3 maande en 10 dae as koning afgesit en weggevoer in Maart 597 v.C. deur Nebukadnesar saam met die elite van Jerusalem. Dit het die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere, die amptenare, die soldate, die vakmanne en die smede ingesluit, sowel as die jong priester, Esegiël.
Esegiël was getroud, hoewel sy vrou – die een “wat jou soveel vreugde gee” – op tragiese wyse skielik sterf as deel van die boodskap van God aan die volk (Eseg. 24:15-27). Hy kry die ontsettende opdrag: “Jy mag nie treur en huil nie, nie ‘n traan stort nie. Jy moet in stilte sug, jy mag nie rou nie.” Alles as deel van die voorbeeld wat die Here vir die volk gee van wat met hulle gaan gebeur. Ons lees egter nie van enige kinders nie. Esegiël was ook redelik vermoënd, want hy bly in Babel in sy eie huis (Eseg. 3:24).
Esegiël is saam met die ballinge gevestig langs die Kebarrivier, een van die sytakke van die Eufraatrivier, waar hy amper vyf jaar later, in Julie 593 v.C., as profeet geroep is en die woordvoerder van die Here geword het vir beide die ballinge as vir dié wat agtergebly het in Juda en Jerusalem. Hy sou sy visioene en woorde lewer oor ‘n tydperk van ongeveer 22 jaar tot en met 571 v.C., die laaste van die daterings wat in die boek aangegee word (Eseg. 29:17).
Esegiël tree dus op in dieselfde tyd as Jeremia, Habakuk, Joël, Obadja (ook gemik teen Edom soos Esegiël dit doen in hfst. 35-36) en Daniël. Daniël was toe al amper ‘n dekade daar nadat hy gedurende Jojakim se regering na Babel weggevoer is. Dit was in 605 v.C. net na Nebukadnesar die veldslag teen Egipte by Karchemis gewen het en hy vir Jojakim gestraf het met die wegvoering van ‘n deel van sy mense weens sy ondersteuning van Egipte en verset teen Babel.
Terloops, Jojagin is in die 37ste jaar van sy ballingskap begenadig, d.w.s. 560 v.C., en kon van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was. Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het (Jeremia 52). Geen wonder dat Matteus in die geslagsregister van Jesus Jojakim se naam uitlaat, en eerder vir Jojagin insluit as voorsaat van Jesus (Matt. 1:11 – lees meer in Matteus).
‘n Tyd van ongelooflike onrus en ontwrigting.
Dit was dus ‘n tyd van ongelooflike onrus en ontwrigting. Nie net is Esegiël saam met sy mense ontwortel en in ballingskap ver van hulle land gevestig nie. Die dwase besluite van koning Jojakim is voortgesit deur sy jonger broer, koning Sedekia. Sy naam was eintlik Mattanja. Nebukadnesar het sy naam verander om sy onderdanigheid aan Babel te onderstreep.
Sedekia se gebrek aan berou teenoor die Here (“Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer”, sê die Kronis in 2 Kron. 36:13) staan veral uit en word ironies genoeg geëggo in sy verset teen Nebukadnesar, aan wie hy “voor God trou gesweer het”, waarskynlik in die tempel. Hy betaal daarvoor die prys om nie net in ballingskap weggevoer te word nie, maar ook die vernedering te moet ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag, sý oë daarna uitgesteek en hy oneer in ballingskap in Babel dood is (2 Kon. 25:6-7; Jer. 52:10-11). ’n Grillerige gru-verhaal!
Geen wonder dat die Here waarskynlik hierna verwys in sy opdrag aan Esegiël in hfst. 3: “7Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie eens na My luister nie. Al die mense van Israel is koppig en onversetlik. 8Maar Ek maak jou net so onversetlik as wat hulle is, jou kop net so hard as hulle s’n. 9Soos diamant, harder as rots, so maak Ek jou kop. Moenie vir hulle bang wees, vir hulle skrik nie. Hulle is ’n weerbarstige volk.”
Hoewel ‘n mens tog in Jeremia 34 agterkom dat Sedekia uiteindelik erg geraak word deur die hongersnood en die dreigende ballingskap, kry hy dit net nie oor sy hart om die regte ding te doen nie. In dié verhaal in Jeremia sit hy tydens die beleg van Jerusalem in 588-586 v.C. by die derde ingang van die tempel en laat Jeremia haal om verder met hom te praat – in plaas daarvan om soos sy voorouers die tempel binne te gaan en die Here om genade te smeek! Hy weet wel die einde is in sig, maar is steeds meer bekommerd oor sy eie lot as oor dié van sy mense en wil by Jeremia weet wat hom te doene staan.
Jeremia kry hom eers sover om te sweer dat Sedekia hom nie iets sal aandoen nie, gegewe sy ervaring in die put!, en spel dan ’n pad van hoop vir Sedekia uit. Dit sou beteken dat Sedekia homself aan Nebukadnesar sou moes oorgee, soos sy voorganger en broerskind, Jojagin, dit gedoen het. Ongelukkig steur Sedekia hom nie daar aan nie en ly hy die vernederende dood soos Kronieke, Konings en Jeremia (hfst. 39-40) dit uitspel.
Die boodskap van Esegiël
Dit is in dié situasie wat Esegiël deur die Here geroep word om deur visoene en woorde van God aan die volk die volgende boodskap te verkondig. Hy gebruik gewone prosa, nie enige poëtiese taal nie, hoewel hy ook ‘n fabel (hfst 17 – wingerdstok), simboliek (bv. hfst. 37 – twee stukke hout vir Juda en Josef) en metaforiese taal (bv. hfst. 23 – Ohola en Oholiba as name vir die susters Samaria en Jerusalem) inspan:
- HOOFSTUK 1-36: Aan die een kant verkondig Esegiël die oordeel van die heilige God oor die onreg en verydeling van mense wat Hom minag (veral hfst. 1-36). Hy verwyder hulle daarom uit hulle land en stuur hulle in ballingskap, terwyl Hy ook sy teenwoordigheid van hulle onttrek. Die profesieë sluit ook God se oordeel oor die nasies in (hfst. 25-36), hoewel Esegiël hom interessant genoeg nie teen Babel self uitspreek nie. Dié hoofstukke is geskryf tot en met die val van Jerusalem in 586 v.C. waarvan iemand wat ontsnap het vir Esegiël so ses maande later kom sê het (Eseg. 33:21).
- HOOFSTUK 37-48: Aan die ander kant verkondig Esegiël die hoop wat daar tog is in terme van God se deernisvolle, maar ook soewereine selfstandige besluit – ter wille van sy eie eer (Eseg. 36)! – om die lot van die volk te verander en hulle weer die voorreg van sy teenwoordigheid te laat geniet in hulle eie land (veral hfst. 37-48). Die tempel raak die sentrum van die lewe wat God gee vir alles en almal. Dié hoofstukke is geskryf ná die val van Jerusalem waarvan die laaste datum wat aangedui is, 571 v.C. is (Eseg. 29:17).
Dit help om die terugskouende perspektief van die Kronis op die ballingskap in gedagte te hou in jou verwerking van die impak van Esegiël. Die Kronis help ‘n mens om perspektief te kry oor dié ontstellende gebeure van die ballingskap. Hy wyt God se optrede aan die konsep van ’n sabbatsjaar, waarin die land as’t ware braak moes lê om te vergoed vir die ongehoorsaamheid deur die loop van 5 eeue.
Geen wonder dat Esegiël sy boodskap van oordeel, sowel as sy boodskap van hoop onder andere aan die “berge van Israel” in hfst. 6 en 36 onderskeidelik rig. Die sewentig jaar van die ballingskap bring dus ‘n lafenis vir dié stuk land wat soveel onreg en verydeling moes verduur. Jojakim en Sedekia se koppige, weerbarstige en onversetlike houding was dus ook maar net die laaste strooi in ‘n lang geskiedenis van ongehoorsaamheid deur die leiers en die volk.
Esegiël verkondig daarom in die eerste deel van sy boek die onvermydelike val van Juda en Jerusalem en die wegvoering in ballingskap van die res van die volk as gevolg van hulle volhardende sonde en die feit dat die Here sy teenwoordigheid van hulle onttrek, uitgebeeld met die visioen: “Die magtige teenwoordigheid van die Here het uit die stad opgestyg …” (Eseg. 11:23).
Die boodskap van hoop sluit daarom egter in die tweede deel van sy boek ook die toekomstige terugkeer van die teenwoordigheid van die Here na Jerusalem en die tempel in: “Daar sien ek toe die magtige verskyning van die God van Israel uit die ooste uit … Die magtige teenwoordigheid van die Here het deur die oospoort na die tempel toe beweeg.” (Eseg. 43:2,4). Daar, sê Esegiël, sal die volk weer die lewe van ‘n eenheid met God beleef, sowel as ‘n eenheid as volk, uitgedruk met die simboliese stukke hout, Juda en Josef (Eseg. 37).
Die nuwe tempel – uitvoerig beskrywe in hfst. 40-44 – sal nou die sentrum van die volk wees, nadat hulle lewend gemaak is deur die Gees, hoewel hulle ook die vreugde van die herstel van die land en stad op die koop toe sal belewe – hfst. 45-48.
Die teenwoordigheid van die Here vanuit die tempel sal die bron van lewe wees, voorgestel as ‘n lewende stroom water wat genesing bring: “Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.” Johannes sou in sy eindtydelike visioene by hierdie beeld aansluit (Openb. 22 – vgl. ook Psalm 1).
Dit verklaar ook vir ‘n mens hoekom Haggai en Sagaria só sterk optree toe die volk, ná hulle terugkeer na die land in 538 v.C., ná 20 jaar nog nie aan die gang gekom het met die herbou van die tempel nie. Hulle sterk standpunte het Esegiël se visie in werking gestel toe die volk in ‘n vier jaar tydperk van 520 – 516 v.C. die fondamente van die tempel gelê en weer herbou het.
Esra, Maleagi en Nehemia sou nog verder werk aan die vestiging van God se teenwoordigheid onder die volk. Esra het die volk in 458 v.C. gehelp om weer geheg te raak aan die wet van die Here. Maleagi het in 432 v.C. gefokus op die herstel van hulle geestelike verhouding met God, geëego in hoe hulle die tempeldiens met offers ondersteun, asook in hulle absolute getrouheid in die huwelik. En Nehemia het in dieselfde tyd gefokus op die herstel van die mure van Jerusalem, asook op die volk se getrouheid aan sosiale geregtigheid, onder in die wyse waarop armes hanteer is. Maar daaroor kan julle meer lees in my bydraes by die skakels hierbo.
Die indeling van die leeswerk
Ons gaan die boek hoofstuk-vir-hoofstuk deurwerk. Soms strek ‘n profesie egter oor meer as een hoofstuk. Ek gaan dit dan as ‘n eenheid hanteer en die dae waarop ek ‘n bydrae plaas daarby aanpas. Hoofstukke 1-3 is bv. ‘n eenheid, so ek sal dit as ‘n eenheid plaas op die 1ste dag, en eers hoofstukke 4-5, ‘n volgende eenheid, op die 4de dag plaas. Hoofstuk 6 volg dus op die 6de dag en hoofstuk 7 op die 7de dag, ensovoorts. Hoop dit maak sin! Soos gewoonlik plaas ek nie bydraes op naweke nie.
My voorlopige indeling is dus as volg (begin 16 April, ná hierdie inleiding):
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C.
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel”
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land en God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C.
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie
- Esegiël 15-16 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word
- Esegiël 17 – ‘n Fabel oor die wingerdstok – wie is regtig klein en wie groot
- Esegiël 18 – God eis individuele verantwoordelikheid
- Esegiël 19 – ‘n Treurlied oor die konings van Israel
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C.
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – Dit is julle verdiende loon
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem, het dieselfde pad geloop
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C.
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete en Filistyne
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C.
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie
- Esegiël 33:21-33 – Jerusalem is ingeneem – 585 v.C.
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel”
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel
- Esegiël 38-39 – Ek vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk
- Esegiël 40-42 – Ek herstel die tempel in Jerusalem – 573 v.C.
- Esegiël 43-44 – God se teenwoordigheid neem weer sy intrek in Jerusalem
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste, en grondbesit
- Esegiël 47-48 – God gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land
Lees hoofstuk-vir-hoofstuk
Ek het al baie geskrywe oor die manier waarop ons ‘n Bybelboek hoofstuk-vir-hoofstuk deurlees, persoonlik, in kleingroepe óf in ‘n Bybelskool omgewing. Jy kan hier meer daaroor lees: Kies ‘n manier van Bybellees, Lectio Divina, en Luistersiklus. Onthou ook die hulpmiddels wat beskikbaar is om persoonlik te gebruik: Gratis hulpmiddels vir Bybellees op rekenaars, tablette en selfone.
Die manier van Bybellees wat vir my die beste werk, is die volgende:
RUS
- Raak stil. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte.
HOOR
- Lees die gedeelte in die Bybel soos dit aangetoon word. Fokus op wat jou tref.
- Lees my bydrae oor die gedeelte.
- Kies een gedagte wat jou tref en dink daaroor na. Dink veral oor die praktiese betekenis daarvan vir jou.
- Antwoord die Here in gebed.
- Geniet ‘n paar oomblikke die teenwoordigheid van die Here sonder woorde.
LEEF
- Besluit op ‘n praktiese manier om op God se woord aan jou te reageer.
Die betekenis van die boek
Ten slotte: As jy alles verloor het, of op moedverloor se vlakte sit, is dit wonderlik om die boek Esegiël te lees. Hoekom? Want hy paai ‘n mens nie met goedkoop troos nie. Hy is trouens vlymskerm in sy eerlike analise oor wat verkeerd is. Hy praat kaalkop God se waarheid. Dit help immers nie om ander te blameer vir foute in jou eie lewe nie. Jy moet self begin om die Here te dien.
Dít is daarom egter ook ware troos. Dán hoor ‘n mens sy boodskap van hoop as iets wat ook jou sal insluit, al is jy in totaal ander omstandighede as die ballinge van die 6de eeu v.C.: “‘Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe … Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,’ sê die Here.” (37:14).
Dié persone wat by bybelskool.com ingeskryf is, sal dus my bydraes van 15 April af per e-pos ontvang. Almal wat kan, is ook welkom om die gesprekke Woensdagaande in my gemeente by te woon, selfs al wil jy net luister. Die eerste byeenkoms is 15 April 18:00-19:00 in die konsistorie van NGK Somerstrand in Port Elizabeth.
LEKKER LEES!
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL - April 10, 2015
- Inleiding op Esegiël - April 13, 2015
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C. - April 16, 2015
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem - April 21, 2015
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel” - April 23, 2015
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land - April 24, 2015
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C. - April 27, 2015
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur - May 1, 2015
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete - May 4, 2015
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie - May 5, 2015
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word - May 6, 2015
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word - May 11, 2015
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit - May 12, 2015
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem - May 15, 2015
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel - May 16, 2015
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C. - May 23, 2015
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom - May 25, 2015
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”! - May 28, 2015
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop - May 30, 2015
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C. - June 1, 2015
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne - June 2, 2015
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C. - June 9, 2015
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie - June 20, 2015
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel - June 21, 2015
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder - July 28, 2015
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel” - July 29, 2015
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself - July 30, 2015
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel - August 10, 2015
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk - August 11, 2015
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel - August 12, 2015
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C. - August 13, 2015
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel - August 17, 2015
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit - August 18, 2015
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land - August 19, 2015
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jan Fielies
Baie dankie Chris vir die wonderlike Bybelstudie oor Esegiel . Dit het my baie gehelp om ‘n werkstuk te voltooi in my opleiding .
Chris van Wyk
Hi Jan. Ek is bly! Moet sê, dit was een van die moeilikste take wat ek al op my geneem het. Maar dit was die moeite werd. Groete.
Frikkie Fensham
Middag Chris
ek is van die Lewende Woord Gemeente in Lydenburg
Ons behandel tans die boek in ons dienste.
Wat n bemoediging was dit nie vir my om studie te lees oor Esegiel want :
” As jy alles verloor het, of op moedverloor se vlakte sit, is dit wonderlik om die boek Esegiël te lees. Hoekom? Want hy paai ‘n mens nie met goedkoop troos nie. Hy is trouens vlymskerm in sy eerlike analise oor wat verkeerd is. Hy praat kaalkop God se waarheid.”
baie dankie
Frikkie
Chris van Wyk
Dankie Frikkie – ek het so pas ‘n bietjie nagedink oor Job se verhaal, en dieselfde boodskap daaruit gekry vir myself. Soos Esegiël eerlik is oor wat verkeerd is, leer Job my om ook eerlik te wees oor ‘n mens se eie situasie. Dit is al manier om uiteindelik te kan wag op God se uitkoms en nie jou eie kop te volg nie. Vrede en seën vir jou.
Rena Regina Nell
Goeie More Chris
ek vandag vir die eerste keer op die Bybelskool afgekom. ek vanoggend my bybel by Esegiel 1 oop gemaak en besluit om dit te lees en gesoek na inligting wat meer oor die boek kan deel is baie opgewonde om die pad te stap
Chris van Wyk
Geniet!