Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur

http://www.prophetasartist.com/about-the-artist/
http://www.prophetasartist.com/about-the-artist/

Die boodskap van hierdie hoofstuk is opgebou rondom die opdrag aan Egesiël om ‘n teken van ballingskap vir die volk te word. Dit behels twee aksies:

  • Die eerste aksie is Esegiël se dramatiese uitbeelding van die naderende ballingskap (12:1-7). “Miskien sien hulle dit raak …” Die Here het steeds die hoop dat die volk sal luister, hoewel Hy besef hulle is ‘n weerbarstige volk.
  • Die tweede aksie is Esegiël wat sy kos al bewende eet en sy water met ontsteltenis en kommer drink asof hy in balingskap is (12:17-20). Die teken onderstreep die rede vir die ballingskap. God straf hulle weens hulle gewelddadigheid teenoor mekaar.

Daaraan word drie verklarende woorde van die Here gekoppel wat die onafwendbare nabyheid van die ballingskap uitspel. Die ballingskap gaan NOU gebeur. Dit is aan drie gehore gerig:

  • Aan Sedekia en Jerusalem waarin hulle lotgevalle uitgespel word, dinge wat op ontstellende wyse presies só gebeur het (12:8-16),
  • aan die ballinge om die stelligheid van wat gaan gebeur te onderstreep, waarskynlik spesifiek gerig aan die valse profete met hulle “gladde waarsêerpraatjies” wat sy boodskap as wensdenkery afgemaak het (12:21-25) en,
  • aan dié in Jerusalem wat gedink het dat sy boodskap net op ‘n verre toekoms dui (12:26-28). Dit Here se boodskap aan hulle is egter duidelik: “Niks van wat Ek gesê het, sal meer uitgestel word nie.

12:1-7 – Esegiël gaan simbolies in ballingskap

Egesiël kry die opdrag om ‘n teken van ballingskap vir die volk te word. Die eerste aksie wat dit illustreer, is Esegiël se dramatiese uitbeelding van die naderende ballingskap waar sy mede-ballinge dit kan sien. Hy neem die goed wat hy sou saamneem as hy in ballingskap sou gaan, breek ‘n gat in die muur en vertrek in die donker. Hy maak sy gesig toe sodat hy die land nie kan sien nie.

Dit is natuurlik ietwat ironies, want Esegiël is reeds in ballingskap. Die punt van die aksie is egter om die ballingskap visueel te illustreer sodat mense daaroor kan gesels en die boodskap duideliker by hulle aankom. Die gestrooptheid van besittings, die geweld van die ballingskap en die donkerte wat neersak op die ballinge word daarmee treffend onderstreep.

Hulle moet jou dit kan sien doen. Miskien sien hulle dit raak …”, sê die Here. Hy het dus steeds die hoop, al is dit vinnig besig om te verdwyn dat die volk sal luister. Die Here weet egter hulle is ‘n weerbarstige volk. Selfs dié wat reeds in ballingskap is, luister nie eers na Hom nie. Hoeveel te meer sal dit nie waar wees van die mense wat nog in Jerusalem is nie.

12:8-16 – Esegiël verkondig aan koning Sedekia en Jerusalem hoe die ballingskap hulle gaan raak

Hierdie simboliese aksie is direk gerig aan die koning in Jerusalem – let op hoe Esegiël hom nie by name noem nie! – en die res van die bevolking van Jerusalem. Esegiël spel vir hulle presies uit wat met hulle gaan gebeur, dinge wat op ontstellende wyse presies só gebeur het, soos ons in 2 Kronieke 36, 2 Konings 25 en Jeremia 52 lees.

Koning Sedekia se naam was eintlik Mattanja, ‘n naam wat Nebukadnesar aan hom gegee het om sy onderdanigheid aan Babel te onderstreep. Sedekia se gebrek aan vertroue op die Here en sy weerbarstige verset teen Babel, selfs al is die skrif teen hierdie tyd al so duidelik aan die muur, staan uit in die Bybelse verhale oor hom. Hy betaal daarvoor die prys om nie net in ballingskap weggevoer te word nie, maar ook die vernedering te moet ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag word. Soos Esegiël hier voorspel: “hy sal dit nie sien nie en sal daar sterf”, word sý oë daarna uitgesteek en is hy oneer in ballingskap in Babel dood. ’n Grillerige gru-verhaal!

Let op dat die Here steeds die verhouding met sy volk wil herstel. Hy wil hê dat hulle Hom as Here sal herken en erken. Daarom beloof Hy dat daar ‘n paar van hulle sal oorbly. Hy wil selfs hê dat in hierdie hele proses die nasies Hom sal leer ken, deurdat die ballinge hulle stories vir die nasies sal vertel. God se oordeel het die herstel van die Godsbewussyn en Godsverhouding ten doel, hoewel dit uiteraard nie altyd gebeur nie.

12:17-20 – Esegiël illustreer simbolies die toestande van die ballingskap

Die tweede simboliese aksie is dat Esegiël die opdrag kry om sy kos al bewende te eet en sy water met ontsteltenis en kommer te drink asof hy in ballingskap is. Daarmee gee die Here ‘n boodskap van ontbering aan die volk deur. In die proses onderstreep Hy die rede vir die ballingskap. God straf hulle weens hulle gewelddadigheid teenoor mekaar. Maar, weereens, Hy wil hulle tot ‘n bewussyn van Homself beweeg, sodat daar vir hulle ‘n toekoms van hoop kan aanbreek.

12:21-25 – Esegiël bestry die “gladde waarsêerpraatjies” dat die ballingskap uitgestel is

Die Here sluit af met twee verdere woorde wat die heersende gedagterigtings onder die ballinge sowel as dié wat nog in Jerusalem is, aanspreek. Die eerste woord is gerig aan die ballinge om die stelligheid van wat gaan gebeur, te onderstreep. Dit is waarskynlik spesifiek gerig aan valse profete in Babel wat met hulle “gladde waarsêerpraatjies” Esegiël se boodskap as wensdenkery afgemaak het. Die Here sê egter: “Die tyd kom vinnig nader en so ook die vervulling van elke gesig.

12:26-28 – Esegiël verkondig die onafwendbare nabyheid van die ballingskap

Die tweede woord is gerig aan dié in Jerusalem wat gedink het dat Esegiël se boodskap net op ‘n verre toekoms dui. Dit gaan hulle nie tref nie. Die Here se boodskap aan hulle is egter duidelik: “Niks van wat Ek gesê het, sal meer uitgestel word nie.” En ses jaar later het dit inderdaad gebeur.

Boodskap

Wat my tref vandag is die hoop wat die Here selfs in die ontplooiing van sy oordeel koester dat mense eerder tot insig en bekering sal kom. Soos Petrus eeue later sou sê: “Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9).

Esegiël praat – soos Jesus dit self veel later doen – in beeldende taal, meer nog in simboliese handelinge, om die volk van die dwase pad wat hulle ingeslaan het, terug te laat kom. Hy voer sy roeping en opdrag met groot passie en oortuiging uit – terwyl die volk in ‘n sekere sin ook getrou bly, maar aan die dwaasheid van hulle ongehoorsaamheid aan God, selfs in ballingskap!

Dit is egter daarom ook so dat die dag van die Here “so onverwags soos ‘n dief” (2 Pet. 3:10) sal kom. Waar mense kies om dit te ignoreer, die waarskuwings wat die Here gee eerder in die wind te slaan, dáár wag groot ontsteltenis en leed.

View all posts in this series

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (15)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: