Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel

Ná Esegiël die nuwe tempel beskryf het (hfst. 40-42) fokus hy vervolgens op die herstel van God se teenwoordigheid in die tempel (hfst. 43-44). In sy visioen gebeur dit in drie fases:
- Die magtige teenwoordigheid van die Here beweeg weer terug deur die oospoort – 43:1-12.
- Die altaar word gereinig vir diens aan die Here – 43:13-27.
- Die verdere reëlings vir die heiligdom word gegee – 44:1-31.
43:1-12 – Die magtige teenwoordigheid van die Here beweeg weer terug deur die oospoort
Die magtige teenwoordigheid van die Here beweeg weer terug deur die oospoort na die tempel, in die omgekeerde scenario van hfst. 11 waar die Here se teenwoordigheid uit die stad uit opgestyg en op die berg oos daarvan gaan staan het (11:23). Net soos dit met die inwyding van die tempel van Salomo gebeur het (1 Kon. 8; 2 Kron. 5) en net soos Jesaja dit eenmaal self ervaar het (Jes. 6), só ervaar Esegiël dit in sy visioen. God se teenwoordigheid vul die tempel en dwing ontsag by almal af.
Die Here spel dan vir Esegiël die doel van die visioen van die tempel uit wat as boodskap aan die volk gelewer moet word:
1. Die tempel is in die eerste plek bedoel om Israel te laat skaam kry oor hulle oortredings.
Hoekom?
Aan die een kant is dit sodat hulle self nie langer afgodery sal bedryf as hulle terug is in die land nie. Ek wil dit só opsom: Die vergifnis wat God gee, moet hulle van afvalligheid na aanbidding beweeg. Iets wat ook ons eie aanbidding vandag moet struktureer. Geen wonder die wet en skuldbelydenis het só ‘n groot rol deur die eeue in eredienste gespeel. Sonder vergifnis is dit onmoontlik om God te aanbid soos dit hoort.
Aan die ander kant is dit sodat hulle gesamentlik – en dit is ‘n baie belangrike verandering – die konings nie sal toelaat om met hulle afskuwelike optrede die Naam van die Here oneer aan te doen nie. Die volk moet dus verantwoordelikheid neem vir die leiers. Hulle kan nie hulle hande in onskuld was oor wat die leiers aanvang nie!
Hierdie laaste opdrag kom waarskynlik omdat die konings vóór die ballingskap eintlik voortdurend op die terrein van die tempel oorskry het. Hulle is selfs naby die tempel begrawe sodat in die perspektief van die volk die skeiding tussen staat en kerk, tussen regering en godsdiens, baie maklik vervaag het. Dít moes nou omgedraai word. Die leiers is ook aanbidders saam met die volk, al het hulle steeds sekere spesifieke voorregte. God is die Leier en alles moet om Hom wentel.
2. Die tempel is daarom in die tweede plek bedoel om ‘n bewussyn van God se teenwoordigheid te vestig.
Ek wil dit só stel: Die gewydheid van die atmosfeer van aanbidding en die presiese liturgiese voorskrifte wat daar geld in die teenwoordigheid van God moet die volk se lewe daarbuite omvattend struktureer. Soos die Here dit vir Esegiël uitspel: “Jy moet dit voor hulle oë neerskryf, sodat hulle die hele uitleg van die tempel en al die voorskrifte wat vir hom geld, in ag kan neem, en daarvolgens kan optree.” (43:11). Soos die tempel in elke detail om God se teenwoordigheid draai, moet die detail van elke gelowige se lewe om God se teenwoordigheid draai. Trouens, alles moet om God draai en aan Hom gewy wees: “Dit, en niks minder nie, is die reëling in verband met die tempel.” (43:12).
43:13-27 – Die altaar word gereinig vir diens aan die Here
Ná Esegiël die afmetings van die groot drie-vlak altaar beskryf het, word hy opdrag gegee om – onthou dit is nog steeds ‘n visioen – die altaar met ‘n hele paar sondeoffers (vir onbedoelde sondes) te reinig om dit geskik te maak vir diens aan die Here. Daarna kan die ander brandoffers en maaltydoffers gebring word wat deel is van die reinigingsproses in hulle aanbidding. Hulle aanbidding sal dan aanneemlik wees vir die Here weens dié reiniging.
44:1-31 – Die verdere reëlings vir die heiligdom word gegee
Die reëlings vir die tempel sluit die verbod op die gebruik van die oospoort in, omdat die Here daardeur sy intrek in die tempel geneem het (44:1-2). Dit sluit ook die voorreg in van die regeerder om in dié poortgebou in God se teenwoordigheid te eet (44:3). Hy mag egter nie die tempelterrein betree vanwaar die Here ingekom het nie, sodat daar nie ‘n verwarring bestaan oor wie nou eintlik gedien moet word nie.
Esegiël self gaan saam met die man met die meetstok via die noordpoort in tot by die tempel en val in aanbidding voor die teenwoordigheid van die Here neer. Onthou Esegiël kon vroeër nog by die oospoort ingaan met die aanvanklike begin van die visioen, vóór die Here sy intrek geneem het, maar nou nie meer nie.
Vanuit die tempel gee die Here vir Esegiël nog ‘n paar verdere reëlings in verband met die ander mense wat die tempel mag gebruik. Let op hoe sorgvuldig en presies dié reëlings is wat vir die heiligdom geld.
Dié reëlings sluit onder andere ‘n verbod op onbesnede uitlanders in. Uiteraard kan hulle deel van die volk word en daarná die tempel betree, soos ons aflei uit Eseg. 47:22-23 waar dié vreemdelinge wat al ‘n geslag lank woon onder die Israeliete ook ‘n plek kry in die land. Maar hulle moet deel van die volk word om te deel in die voorreg van die tempel.
Terloops: dit was een van die redes waarom die vroeë kerk so geworstel het met die vraag van die status van die onbesnede gelowiges wat in Christus geglo het. Moes hulle in alle opsigte ook “Jode” word, óf was geloof in Christus die enigste voorwaarde vir die voorreg van die gemeenskap van die gelowiges? Hulle het op laasgenoemde besluit (vgl. Handelinge 15:1-35 – Gesamentlike geloofsonderskeiding oorbrug dreigende verskille).
Die reëlings aan Esegiël sluit ook ‘n afgradering van die diens van die Leviete in weens hulle vroeëre bydrae tot die vervreemding van die volk, hoewel hulle steeds as wagte, tempelbediendes en slagters kon optree.
Die priesters uit die nageslag van Sadok is die enigstes wat getrou gebly het aan die Here in die stormagtige tyd voor die ballingskap en mag daarom die dienswerk aan die Here self bly verrig. Daar was egter ook steeds baie spesifieke voorskrifte, wat hulle kleredrag (hulle mag nie sweet nie!) en bediening ingesluit het.
In terme van hulle persoonlike gewydheid moet hulle onberispelik wees, veral in dinge soos dieet (alkohol- en eetgebruike), en verhoudings (huwelike – nie met weduwees of geskeides nie – en kontak met gestorwenes – net direkte gesinslede). In terme van hulle publieke rol was hulle vernaamste geestelike taak ten opsigte van die volk om hulle ‘n sin te gee vir wat gewyd en nie gewyd is nie, rein en onrein. Daarby het hulle ook verantwoordelikhede gehad in die regspraak en die godsdienstige kultus – feesdae en sabbatte. Die Here voorsien ook mildelik vir hulle: “As eiendom ontvang die priesters van wat My toekom.” Dit is die vertrekpunt vir die vergoeding van leraars uit die gemeentelike dankoffers selfs vandag nog.
Boodskap
Dit maak my opgewonde om dié gedeelte te lees. Dit skets ‘n ideale prentjie van hoe die aanbidding van God werk. Aan die een kant wys Esegiël hoe die vergifnis wat God gee, hulle van afvalligheid na aanbidding sal beweeg. Ons het altyd ‘n element van toewyding nodig in ons eredienste en byeenkomste. Aan die ander kant is dit juis ook dié tipe aanbidding wat vanaf die tempel na alle vlakke van die lewe toe moet uitsprei. Dít bly die droom van hoe die kerk moet werk. En dit inspireer my om my fokus op dié dinge te bly vestig.
Dit is ook duidelik dat dit juis die gewydheid van die atmosfeer van aanbidding is, en die presiese liturgiese voorskrifte wat daar in die tempel in die teenwoordigheid van God geld, wat gelowiges se lewe daarbuite omvattend moet struktureer. Waar dié ontsag vir God in ons eredienste ontbreek, word die effek van die bewussyn van God in die erediens van die lewe afgeswak.
Dit is ook opmerklik hoe belangrik dit raak dat die volk verantwoordelikheid moet neem vir hulle leiers. Ons kan nie ons hande in onskuld was as dinge op leiersvlak verkeerd loop nie. Elke gelowige het die dure opdrag om te bid vir, en te praat met leiers in ondersteuning van die bediening. Saam doen ons beter!
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL - Apr 10, 2015
- Inleiding op Esegiël - Apr 13, 2015
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C. - Apr 16, 2015
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem - Apr 21, 2015
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel” - Apr 23, 2015
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land - Apr 24, 2015
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C. - Apr 27, 2015
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur - May 1, 2015
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete - May 4, 2015
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie - May 5, 2015
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word - May 6, 2015
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word - May 11, 2015
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit - May 12, 2015
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem - May 15, 2015
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel - May 16, 2015
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C. - May 23, 2015
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom - May 25, 2015
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”! - May 28, 2015
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop - May 30, 2015
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C. - Jun 1, 2015
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne - Jun 2, 2015
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C. - Jun 9, 2015
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie - Jun 20, 2015
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel - Jun 21, 2015
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder - Jul 28, 2015
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel” - Jul 29, 2015
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself - Jul 30, 2015
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel - Aug 10, 2015
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk - Aug 11, 2015
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel - Aug 12, 2015
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C. - Aug 13, 2015
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel - Aug 17, 2015
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit - Aug 18, 2015
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land - Aug 19, 2015