Skip to main content

Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel

Met dank aan Logos Bible Software Infographics
Met dank aan Logos Bible Software Infographics

Ná Esegiël die nuwe tempel beskryf het (hfst. 40-42) fokus hy vervolgens op die herstel van God se teenwoordigheid in die tempel (hfst. 43-44).  In sy visioen gebeur dit in drie fases:

  1. Die magtige teenwoordigheid van die Here beweeg weer terug deur die oospoort43:1-12.
  2. Die altaar word gereinig vir diens aan die Here43:13-27.
  3. Die verdere reëlings vir die heiligdom word gegee 44:1-31.

43:1-12 – Die magtige teenwoordigheid van die Here beweeg weer terug deur die oospoort

Die magtige teenwoordigheid van die Here beweeg weer terug deur die oospoort na die tempel, in die omgekeerde scenario van hfst. 11 waar die Here se teenwoordigheid uit die stad uit opgestyg en op die berg oos daarvan gaan staan het (11:23).  Net soos dit met die inwyding van die tempel van Salomo gebeur het (1 Kon. 8; 2 Kron. 5) en net soos Jesaja dit eenmaal self ervaar het (Jes. 6), só ervaar Esegiël dit in sy visioen.  God se teenwoordigheid vul die tempel en dwing ontsag by almal af.

Die Here spel dan vir Esegiël die doel van die visioen van die tempel uit wat as boodskap aan die volk gelewer moet word:

1.  Die tempel is in die eerste plek bedoel om Israel te laat skaam kry oor hulle oortredings.

Hoekom?

Aan die een kant is dit sodat hulle self nie langer afgodery sal bedryf as hulle terug is in die land nie.  Ek wil dit só opsom: Die  vergifnis wat God gee, moet hulle van afvalligheid na aanbidding beweeg.  Iets wat ook ons eie aanbidding vandag moet struktureer.  Geen wonder die wet en skuldbelydenis het só ‘n groot rol deur die eeue in eredienste gespeel.  Sonder vergifnis is dit onmoontlik om God te aanbid soos dit hoort.

Aan die ander kant is dit sodat hulle gesamentlik – en dit is ‘n baie belangrike verandering – die konings nie sal toelaat om met hulle afskuwelike optrede die Naam van die Here oneer aan te doen nie.  Die volk moet dus verantwoordelikheid neem vir die leiers.  Hulle kan nie hulle hande in onskuld was oor wat die leiers aanvang nie!

Hierdie laaste opdrag kom waarskynlik omdat die konings vóór die ballingskap eintlik voortdurend op die terrein van die tempel oorskry het.  Hulle is selfs naby die tempel begrawe sodat in die perspektief van die volk die skeiding tussen staat en kerk, tussen regering en godsdiens, baie maklik vervaag het.  Dít moes nou omgedraai word.  Die leiers is ook aanbidders saam met die volk, al het hulle steeds sekere spesifieke voorregte.  God is die Leier en alles moet om Hom wentel.

2.  Die tempel is daarom in die tweede plek bedoel om ‘n bewussyn van God se teenwoordigheid te vestig.

Ek wil dit só stel: Die gewydheid van die atmosfeer van aanbidding en die presiese liturgiese voorskrifte wat daar geld in die teenwoordigheid van God moet die volk se lewe daarbuite omvattend struktureer.  Soos die Here dit vir Esegiël uitspel: “Jy moet dit voor hulle oë neerskryf, sodat hulle die hele uitleg van die tempel en al die voorskrifte wat vir hom geld, in ag kan neem, en daarvolgens kan optree.” (43:11).  Soos die tempel in elke detail om God se teenwoordigheid draai, moet die detail van elke gelowige se lewe om God se teenwoordigheid draai.  Trouens, alles moet om God draai en aan Hom gewy wees: “Dit, en niks minder nie, is die reëling in verband met die tempel.” (43:12).

43:13-27 – Die altaar word gereinig vir diens aan die Here

Ná Esegiël die afmetings van die groot drie-vlak altaar beskryf het, word hy opdrag gegee om – onthou dit is nog steeds ‘n visioen – die altaar met ‘n hele paar sondeoffers (vir onbedoelde sondes) te reinig om dit geskik te maak vir diens aan die Here.  Daarna kan die ander brandoffers en maaltydoffers gebring word wat deel is van die reinigingsproses in hulle aanbidding.  Hulle aanbidding sal dan aanneemlik wees vir die Here weens dié reiniging.

44:1-31 – Die verdere reëlings vir die heiligdom word gegee

Die reëlings vir die tempel sluit die verbod op die gebruik van die oospoort in, omdat die Here daardeur sy intrek in die tempel geneem het (44:1-2).  Dit sluit ook die voorreg in van die regeerder om in dié poortgebou in God se teenwoordigheid te eet (44:3).  Hy mag egter nie die tempelterrein betree vanwaar die Here ingekom het nie, sodat daar nie ‘n verwarring bestaan oor wie nou eintlik gedien moet word nie.

Esegiël self gaan saam met die man met die meetstok via die noordpoort in tot by die tempel en val in aanbidding voor die teenwoordigheid van die Here neer.  Onthou Esegiël kon vroeër nog by die oospoort ingaan met die aanvanklike begin van die visioen, vóór die Here sy intrek geneem het, maar nou nie meer nie.

Vanuit die tempel gee die Here vir Esegiël nog ‘n paar verdere reëlings in verband met die ander mense wat die tempel mag gebruik.  Let op hoe sorgvuldig en presies dié reëlings is wat vir die heiligdom geld.

Dié reëlings sluit onder andere ‘n verbod op onbesnede uitlanders in. Uiteraard kan hulle deel van die volk word en daarná die tempel betree, soos ons aflei uit Eseg. 47:22-23 waar dié vreemdelinge wat al ‘n geslag lank woon onder die Israeliete ook ‘n plek kry in die land.  Maar hulle moet deel van die volk word om te deel in die voorreg van die tempel.

Terloops: dit was een van die redes waarom die vroeë kerk so geworstel het met die vraag van die status van die onbesnede gelowiges wat in Christus geglo het.  Moes hulle in alle opsigte ook “Jode” word, óf was geloof in Christus die enigste voorwaarde vir die voorreg van die gemeenskap van die gelowiges?  Hulle het op laasgenoemde besluit (vgl. Handelinge 15:1-35 – Gesamentlike geloofsonderskeiding oorbrug dreigende verskille).

Die reëlings aan Esegiël sluit ook ‘n afgradering van die diens van die Leviete in weens hulle vroeëre bydrae tot die vervreemding van die volk, hoewel hulle steeds as wagte, tempelbediendes en slagters kon optree.

Die priesters uit die nageslag van Sadok is die enigstes wat getrou gebly het aan die Here in die stormagtige tyd voor die ballingskap en mag daarom die dienswerk aan die Here self bly verrig.  Daar was egter ook steeds baie spesifieke voorskrifte, wat hulle kleredrag (hulle mag nie sweet nie!) en bediening ingesluit het.

In terme van hulle persoonlike gewydheid moet hulle onberispelik wees, veral in dinge soos dieet (alkohol- en eetgebruike), en verhoudings (huwelike – nie met weduwees of geskeides nie – en kontak met gestorwenes – net direkte gesinslede).  In terme van hulle publieke rol was hulle vernaamste geestelike taak ten opsigte van die volk om hulle ‘n sin te gee vir wat gewyd en nie gewyd is nie, rein en onrein.  Daarby het hulle ook verantwoordelikhede gehad in die regspraak en die godsdienstige kultus – feesdae en sabbatte.  Die Here voorsien ook mildelik vir hulle: “As eiendom ontvang die priesters van wat My toekom.” Dit is die vertrekpunt vir die vergoeding van leraars uit die gemeentelike dankoffers selfs vandag nog.

Boodskap

Dit maak my opgewonde om dié gedeelte te lees.  Dit skets ‘n ideale prentjie van hoe die aanbidding van God werk.  Aan die een kant wys Esegiël hoe die vergifnis wat God gee, hulle van afvalligheid na aanbidding sal beweeg.  Ons het altyd ‘n element van toewyding nodig in ons eredienste en byeenkomste.  Aan die ander kant is dit juis ook dié tipe aanbidding wat vanaf die tempel na alle vlakke van die lewe toe moet uitsprei.  Dít bly die droom van hoe die kerk moet werk. En dit inspireer my om my fokus op dié dinge te bly vestig.

Dit is ook duidelik dat dit juis die gewydheid van die atmosfeer van aanbidding is, en die presiese liturgiese voorskrifte wat daar in die tempel in die teenwoordigheid van God geld, wat gelowiges se lewe daarbuite omvattend moet struktureer.  Waar dié ontsag vir God in ons eredienste ontbreek, word die effek van die bewussyn van God in die erediens van die lewe afgeswak.

Dit is ook opmerklik hoe belangrik dit raak dat die volk verantwoordelikheid moet neem vir hulle leiers.  Ons kan nie ons hande in onskuld was as dinge op leiersvlak verkeerd loop nie.  Elke gelowige het die dure opdrag om te bid vir, en te praat met leiers in ondersteuning van die bediening.  Saam doen ons beter!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…