Skip to main content

Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Die herstel wat God bring sal nie net die geskenk van ‘n messiaanse leier en ‘n getransformeerde land insluit nie, maar ook ‘n getransformeerde volk om dié nuutgemaakte ruimte te betree en beleef.

Die diepste motivering daarvoor is egter nie – soos ‘n mens sou kon verwag – dat die Here die volk jammer gekry het en daarom hulle lot verander het nie – hoewel dit op ander plekke tog ‘n rol speel. Esegiël is egter skerp in sy oordeel oor die volk: “Julle moet weet, sê die Here my God, dat Ek dié dinge nie ter wille van julle doen nie.  Al wat julle pas, Israel, is skaamte en skande oor julle optrede.” (36:32).

Die diepste rede vir God se herstel is enkel en alleen ter wille van Homself: “Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het.” (36:22).

Daarom herinner die Here die volk nie net aan die sondes wat die ballingskap tot gevolg gehad het nie (36:17-19).  Hy herinner hulle op die koop toe daaraan dat dié gebeure sy Naam onder die nasies oneer aangedoen het (36:20,22,23).  Die nasies het vreemd van God begin praat oor sy hantering van die volk, al het hulle geweet wat die oorsake daarvan was.

Dít kon die Here nie toelaat nie, want Hy wou juis deur die volk sy genade aan die nasies wys sodat hulle Hom as die God van die wêreld sou aanbid.  Dít bly immers altyd God se droom.  En Hy kies om hier aan die volk in ballingskap genade te betoon, omdat dit sy Naam in ere sal herstel onder die nasies; hulle weer in ontsag sal laat vir wat God kan doen vir sy mense, al is hulle ook hóé dwaas en afvallig, en al het hulle alles verdien wat met hulle gebeur het.

Daarom bring die Here hulle terug uit die ballingskap, gooi reinigingswater oor hulle om hulle skuld voor Hom uit te delg (laat ‘n mens dink aan die teken van die doop), en gee hulle ‘n nuwe hart en gees sodat hulle volgens sy voorskrifte en bepalings van uit hulle binneste kan lewe (36:25-27).

Dit sluit in dat Hy hulle woonplek herstel, dat Hy die landboutoestande herstel (“Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is.” – 36:29), en dat hulle veilig tussen hulle omringende bure kan woon.  God se seën is altyd omvattend en sluit die omgewing in.

Die land sal weer word soos die tuin van Eden (36:35), by wyse van spreke, sodat die nasies: “sal besef dat dit Ek, die Here, is wat die verwoeste stede herbou het en die kaalgestroopte land weer beplant het.  Ek, die Here, sê dit en Ek sal dit doen.” (36:36).  Daarmee word ook die rol aangedui wat ‘n vooraf profetiese woord speel.  Dit bevestig dié dinge wat God doen, al sien ‘n mens dit nie direk raak nie.

Dit is ook opmerklik hoe God selfs hulle gebede insluit in die goeie wat Hy weer vir die volk sal doen sodat ook die volk van Israel sal besef dat Ek die Here is (36:38). ‘n Mens herinner jou aan Daniël se gebede in dié verband.

Boodskap

Esegiël dui hier duidelik die rol van profesie aan.  Omdat Esegiël se woorde aan die uitkoms daarvan gemeet kon word – dit het ‘n paar dekades later in vervulling gegaan – het hy só onomwonde God se werk in die werklikheid van die volk se toekoms bevestig, al het politieke en ander rolspelers aan hierdie geskiedenis meegewerk.  Profesie bevestig dus vooraf dat dit God is wat iets gaan doen, al sien ‘n mens dit nie direk raak wanneer dit gebeur nie.  Geloofsoë leer dus om na God se woorde en beloftes in die verlede te kyk en die vervulling daarvan in die hede raak te sien.

Dit is ook interessant hoe sterk Esegiël God se genade beklemtoon.  Dit is ter wille van Homself en is per definsie nie iets wat verdien kan word nie. Net so belangrik is die klem op innerlike transformasie – soos Jer. 31:31-34 ook al beklemtoon het, en Eseg. 11:19-20, ook uitlig.  Paulus ontwikkel dié tema uitvoerig in sy tweede brief aan die Korintiërs in hfst 3 vv. 2 Korintiërs 2:12-3:18 – Ons raak God se woorde aan die wêreld.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda