Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C.
Die profesieë teen die nasies word voortgesit met ‘n meer uitgebreide reeks van vyf profesieë teen Tirus en Sidon, die Fenisiese tweeling stadstate aan die kus in die gebied wat ons vandag as Libanon ken, net noord van die grens van die noordryk van Israel (26:1-28:24). Daaraan word ‘n laaste kort profesie van hoop vir Israel gekoppel (28:25-26).
Tirus veral word veroordeel vir sy arrogante uitbuiting van die ander nasies, omdat hulle die leidende ekonomiese mag in die tyd van Esegiël was (Stuart). Só ook Sidon wat met ‘n hawemuur aan Tirus – wat eintlik op ‘n eiland naby die kus geleë was – verbind was. Hulle word veroordeel vir hulle minagting van die verbintenisse wat hulle met Israel en Juda gehad het.
Saam was die twee stadstate immers bekend vir hulle uitgebreide handeldrywende netwerke wat nasies kommersieel aan mekaar verbind het. Tirus en Sidon het onder andere uitgebreide handelsbetrekkinge met Dawid en Salomo gehad veral met die bou van hulle paleise en ook die tempel (vgl. 1 Kronieke 22; 2 Kronieke 2). Dieselfde het die res van die bekende wêreld gegeld.
Die jaar van die profesieë teen Tirus en Sidon word aangedui as 586 v.C., die elfde jaar van koning Jojagin se ballingskap. Die presiese maand van die profesieë word egter nie gegee nie. Dit moes egter in die eerste helfte van die jaar gewees het, d.w.s voor Woensdag, die 18de Julie 586 v.C., want dít is die dag waarop Jerusalem geval het.
Die profesieë beslaan drie hoofstukke:
- 26:1-21 – Die Here vee die beroemde stad Tirus plat
- 27:1-36 – Esegiël treur oor dit vir altyd klaar is met Tirus
- 28:1-10 – Die Here oordeel die hooghartigheid van die koning van Tirus
- 28:11-19 – Esegiël treur oor die koning se gewelddadige handelsbedrywigheid wat tot sy val gelei het
- 28:20-24 – Die Here tree teen Sidon op weens sy minagting van Israel
26:1-21 – Die Here vee die beroemde stad Tirus plat
Dit is duidelik dat Tirus hom verlekker het oor die naderende val van Jerusalem, omdat ‘n belangrike handelsopponent daarmee uit die weg geruim is. Jerusalem was bekend as die “Poort van die Volke” weens sy goeie ligging op die belangrike handelsroetes van daardie tyd. Esegiël verwyt hulle dat hulle hulle nou verlekker in die feit dat hulle die voordeel van Jerusalem se val kan uitbuit tot hulle eie voordeel.
Daarom verkondig Esegiël die optrede van die Here téén Tirus. Die nasies, met Nebukadnesar as instrument, sal soos die golwe van die see oor hulle spoel. Hulle sal net ‘n plek word waar visnette droog gemaak word.
Met die detail van perde, strydwaens, beleëringswalle en stormramme word die beleg van Tirus beskrywe wat alles wat mooi en goed is in Tirus sal vernietig. Só gaan die Here ‘n einde aan hulle maak wat ‘n gevoel van ontsetting en verskrikking by ander hawestede sal bring, uitgedruk met ‘n kort treurlied.
Hulle lot word beskryf met ‘n verdere metafoor ontleen aan die neerdaal van die dooies na die onderwêreld: “sal Ek jou ondertoe laat gaan saam met dié wat in die graf in afdaal, na die mense van ouds toe.” Die chaosmagte van die onderwêreldse waters neem van hulle besit. Daarmee word die onherroeplike lot van Tirus beseël: “Jy sal nie terugkom nie … Dit is klaar met jou.”
27:1-36 – Esegiël treur oor dit vir altyd klaar is met Tirus
In dié treurlied word Tirus as ‘n mooi handelskip geskets wat ten spyte van al sy prag en praal verpletter is op die diepsee: “Jou rykdom, jou handelsware, jou goedere, jou seemanne, jou matrose, die manne wat jou lekplekke moes toestop, dié wat met jou goedere handel moes dryf en al jou soldate, die hele menigte in jou, het in die diepsee afgestort die dag toe jy vergaan het.” (27:27). Haar rykdom het te swaar geword vir die skip op die see!
In die uitbeelding van Tirus se invloed en mag word die rykdom van ‘n hele aantal handel items, goedere sowel as mense, genoem wat afkomstig was van dié lande met wie hulle handel gedrywe het. Dit beskryf ‘n uitgebreide en omvattende prentjie van ‘n netwerk van handelsbedrywighede.
- BESTUURDERS: bevare seemanne uit Tirus self; leiers en vakmanne uit Gebal (die stad Biblos in Libanon);
- WERKERS: roeiers uit Sidon self en Arwad (eiland naby Sidon);
- SEKURITEIT: (huur)soldate uit Paras (Persië), Lud (Lidië in Klein-Asië), Put (Libië), en Gammad (onseker);
- HANDELAARS: ‘n verskeidenheid (groot)handelaars uit Tarsis (moontlik aan die kus van Spanje), Aram, wat ook ‘n verskeidenheid produkte gelewer het (vandag Sirië), Damaskus (Sirië), Dan (in Israel), Griekeland, Arabië, Kedar (in Arabië), Skeba (Arabië), Rama, Haran, Kanne, Eden (al vier waarskynlik in Mesopotamië), Skeba, Assirië en Kilmad (moontlik in Assirië);
- AGENTE: ‘n verskeidenheid (verkoops)agente uit Griekeland, Tubal (Silisië in Klein-Asië), Mesek (Frigië in Klein-Asië), Dedan (in Edom), Juda, en Israel;
- PRODUKTE: veelkleurige seile uit Egipte; pers en rooi wolstof uit die Elisa-eilande (moontlik ook Ciprus) en wol uit Sagar (ook waarskynlik in Sirië); landbouprodukte uit Minnit (oos van die Jordaan), wyn uit Gelbon (noord van Damaskus); verwerkte produkte uit Usal (naby die Tigris, ook bekend vir wyn);
- BOUMATERIAAL: sipresse uit Senir (waarskynlik Hermon in noorde van Israel) en die Kittiëreilande (Ciprus); groot bome uit Basan (in die gebied van Manasse, ongeveer waar die Golan hoogtes vandag is);
- VERVOERMIDDELE: uit Bet-Togarma (ook in Silisië).
Dit alles kom tot ‘n stilstand weens die ingrype van die Here. Hulle het ryk geword en baie mag gekry. Hulle is bewonder oor die hele wêreld, veral deur die regeerders van die wêreld. Maar, hoogmoed kom voor die val … en hulle val was groot. Hulle oorvloedige voorspoed het ironies genoeg hulle verstommende val veroorsaak!
Niemand kon met Tirus se rykdom vergelyk word nie, maar tóg het hulle tot ‘n val gekom, tot verskrikking vir al die ander nasies. “Die handelaars onder die volke fluit van verbasing oor wat met jou gebeur het. Jy het ‘n afskrikmiddel vir ander geword, dit is vir altyd klaar met jou.” (27:36).
28:1-10 – Die Here oordeel die hooghartigheid van die koning van Tirus
Die regeerder van Tirus, waarskynlik Etbaal III, word uitgesonder vir ‘n spesiale oordeelswoord. Die Here spreek hom aan oor sy selfverheffing: “In jou hooghartigheid het jy gesê: ‘Ek is ‘n god, ek woon op die woonplek van die gode, omring deur die see.’” Daarop reageer die Here met die duidelike boodskap: Om jouself as ‘n god te beskou, maak nog nie van jou ‘n god nie! “Jy is ‘n mens, nie ‘n god nie. Jy het jou verbeel jy is ‘n god.” Etbaal III se wysheid, wat interessant genoeg nie as ‘n valse aanspraak afgewys word nie, het hom verlei om hooghartig te word, om homself bó God, ás god te verhef.
Etbaal III se wysheid word met dié van Daniël vergelyk, maar soos vroeër gesê, dit is nie dieselfde Daniël wat saam met Esegiël in ballingskap is nie. Esegiël verwys moontlik eerder na Danel, die skoonpa van Henog in die pseudepigrafiese werk Jubileum (Jub. 4:20). Daar is ook ’n Danel bekend uit die Ugaritiese Aqhat epos wat as ’n goeie regter bekend gestaan het vir wie die saak van weduwees en wese na aan die hart gelê het, iets wat uiteraard groot wysheid van só iemand gevra het. Enigeen van hierdie twee persone sal dus goed inpas in die boodskap wat Esegiël hier wil oordra.
Esegiël wys dus uit hoe die weliswaar groot wysheid van Etbaal III, die regeerder van Tirus, sy kop te groot vir sy lyf gemaak het en hy hom soos ‘n dwaas teen God verset het. Daarom bring die Here die wrede nasies om teen hom en sy mense op te trek en hulle te vernietig. In ‘n stuk Goddelike ironie wys die Here uit: “Vir dié wat vir jou dood gaan sorg, sal jy ‘n mens wees, nie ‘n god nie.” Sy dood sal bewys dat sy gewaande goddelikheid net ‘n verbeeldingsvlug was.
28:11-19 – Esegiël treur oor die koning se gewelddadige handelsbedrywigheid wat tot sy val gelei het
Esegiël word die opdrag gegee om nóg ‘n treurlied aan te hef, dié keer oor die koning van Tirus oor wie hy so pas ‘n oordeelswoord uitgespreek het, Etbaal III. In ‘n metaforiese beskrywing wat by die Paradysverhaal, die tuin van Eden (Gen. 1-3), aansluit, word die koning met ‘n gerub vergelyk, “’n seël wat met sorg vervaardig is, ‘n pragtige produk van volmaakte vakmanskap.” Wat van die gerub waar was in dit tuin van Eden – waarskynlik Satan – word nou van toepassing gemaak op Etbaal III. Sy val word metafories vergelyk met die uitskop uit die tuin van Eden (Eseg 28:15-16). Die onreg wat hom uit God se guns laat val het, was sy gierige geweld (Eseg 28:16), sy selfverheffing (hooghartigheid), sy dwaasheid (verlies aan wysheid – Eseg 28:17), en sy ontheiliging van dít wat geestelike en godsdienstig heilig is (Eseg 28:18). Die Here laat hom wat met edelstene beklee was, Etbaal III, slegs ‘n hopie as op die grond word. Hoe tragies.
28:20-24 – Die Here tree teen Sidon op weens sy minagting van Israel
In die laaste gedeelte word Sidon, die tweeling stad van Tirus, geoordeel oor hulle minagting van Israel wat soos ‘n pendoring bly steek: “Dan sal daar nie meer onder die buurvolke van wie Israel soveel minagting verduur, ‘n doring wees wat hom bly steek, ‘n pendoring wat hom bly pynig nie. Israel sal besef dat Ek die Here God is.” (Eseg. 28:24).
Uit die geskiedenis weet ons dat dié oordeel voltrek is net hierna. Nebukadnesar het inderdaad dié twee stede beleër direk ná die val van Jerusalem vir 13 jaar van 585 tot 572 v.C. Dié profesieë het dus binne ‘n jaar ná Esegiël dit gelewer het in vervulling begin gaan. Hoewel die stede nie volledig vernietig is in dié tyd nie, het Alexander die Grote met die opkoms van die Griekse wêreldryk, hulle finaal verslaan.
Boodskap
Dit is duidelik dat God frons oor mense wat hulle verlekker oor ander se nood, veral waar dié nood tot jou voordeel is. Die treurliedere wat Esegiël hier moes sing, verbeeld die regte reaksie op dinge wat verkeerd gaan. Oor nood – of dit nou weens God se oordeel is óf weens ‘n sameloop van omstandighede – moet mens treur, nie triomfeer nie.
Geen wonder die Here Jesus het in die saligsprekinge die volgende riglyn vir ons gegee nie: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”(Matt. 5:4) God het die nederiges van hart lief, die sagmoediges, nie die hooghartiges, soos die oordeel oor die koning van Tirus dit illustreer nie. “Jy is ‘n mens, nie ‘n god nie.” (28:2).
Daarom mag ‘n mens jou nie aanstellerig hou en dink jy is beter as ander nie. Etbaal III moes dit tot sy skade leer. Die hooghartigheid wat van rykdom kom, is van korte duur. Sy selfverheffing oor sy rykdom het juis sy ondergang beteken.
Dit beteken egter dat ons ook ons eie minagting moet bely van mense wat op korrupte wyse hulleself verryk – soos dit al hoe meer van hooggeplaastes in ons eie land en ook in die wêreld berig word – dink aan die Nkandla en FIFA skandale van die afgelope tyd.
Ons mag egter ook bid dat die Here self die skuldiges sal oordeel, op voetspoor van Esegiël se profesie. Maar sonder leedvermaak en wraaksugtigheid. Ons mag immers bid dat geregtigheid sal seëvier in die samelewing. Jesus het mos ook gesê: “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.” (Matt. 5:6).
Maar só ‘n gebed moet uiteindelik dan ook uitloop op ‘n bereidheid om self die regte dinge te doen, selfs al lei dit tot vervolging en verguising: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Matt. 5:10).
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL
- Inleiding op Esegiël
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C.
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel”
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C.
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C.
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”!
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C.
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C.
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel”
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C.
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land
Tags: Esegiël
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus