Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Om sin te maak van die boodskap van dié twee hoofstukke, hfst. 38-39, is dit belangrik om in die eerste plek die struktuur daarvan te begryp.

  • Na die eerste twee verse waarin die Here sy opdrag aan Esegiël gee, rig Esegiël ses profesieë aan Gog van Magog, telkens ingelei met die formule: “So sê die Here my God” (38:3; 10, 14, 17; 39:1, 17). Dit beslaan die leeue-aandeel van die stof in dié twee hoofstukke: 38:3-39:24.
  • Daarná kom die sewende profesie aan die beurt, met dieselfde formule, dié keer gerig aan die hele Israel: hfst. 39:25-29.

Dit help ‘n mens om vanuit die breë prentjie van die indeling die boodskap van die gedeelte te verstaan.

  • In die eerste rondte belowe die Here op paradoksale wyse dat ná Israel se hervestiging in die land Hy hulle sal beskerm teen die toekomstige gevaar van hulle omringende vyande. ‘n Sewe-tal vyande word beskrywe:
    • Mesek en Tubal (= die land Magog – die NAV vertaal verkeerdelik Magog as ‘n sinoniem vir Gog), Gomer en Bet-Togarma is in die noorde,
    • Persië in die ooste,
    • Kus en Put in die suide.
  • In die tweede rondte herhaal die Here sy belofte dat die hele Israel sal terugkeer, soos Hy dit in hfst. 37 gedoen het. Hy fokus dus hulle aandag, anders as in die eerste ses profesieë, op die nabye toekoms, en bevestig die terugkeer na die land as die logiese uitvloeisel van die uitstorting van sy Gees op Israel (39:29 – vgl. 37:5,14).

In die tweede plek is dit belangrik om die apokaliptiese taal van die beskrywings van God se oorlog teen hulle raak te sien.  Daar is ‘n groot aardbewing, die visse en voëls wat bewe, die berge wat omgekeer word, die kranse wat inmekaarstort, die pes, dood, wolkbreuke, hael en brandende swael wat hulle vernietig (38:17-23).  Slegs die swaard wat ook genoem word, dui op ‘n menslike agent.  Dit res van dié oorlog word deur die Here self gevoer.

Dit laat ‘n mens onmiddellik besef dat dit God se oorlog teen sy volk se vyande is.  Gog is daarom ‘n simbool van al die vyande van die Godsvolk, soos dit inderdaad ook in Openbaring 20 interpreteer word.

Dit maak dus nie veel sin om die teks te letterlik te probeer interpreteer nie, want die letterlike betekenis verdwyn in die figuurlike betekenis daarvan.

Die verbintenis van die leier van dié bedreiging, Gog, bv. aan koning Gyges van Lidië in Klein-Asië, weens die gewaande ooreenkomste in die name, het dus min waarde.  Hy word as die “die prins, die hoof van Mesek en Tubal” (soos dit letterlik in die Hebreeus staan) aan ons voorgestel.  Maar Gyges was nie meer koning in dié tyd nie.  Hy het regeer in die 7de eeu v.C. en was al meer as twee eeue net ‘n herinnering.  Dit kan wees dat sy naam gebruik word vir ‘n toekomstige “Hitler”, by wyse van spreke, maar dan bevestig ‘n mens in elk geval die figuurlike betekenis van die teks.

Vir wat dit werd is:

  • Mesek en Tubal (nageslag van die seuns van Jafet – Gen. 10) was twee nasies in Klein-Asië ongeveer waar Kappadosië vandag is. Mesek en Tubal was daarom deel van die land Magog.  Magog is dan ‘n naam wat vir Lidië, vandag die deel wat ons as Wes-Turkye ken, gebruik word (nie ‘n sinoniem vir Gog nie, soos dit verkeerdelik in die NAV aangedui word).  Interessant genoeg, vir skerp waarnemers, ons het al ‘n boodskap oor Mesek en Tubal se komende nederlaag in hfst. 32 in die sewetal profesieë teen Egipte teëgekom.  Hier is egter iets meer op die spel.
  • Die Persië wat hier genoem word, is waar die huidige Iran geleë is (hoewel dit ook met Patros in noord-Egipte verbind kan word wat beteken dat die eerste drie name dan almal volkere uit Afrika sou kon aandui). Kus is waarskynlik die deel wat ons as die huidige Ethiopië ken, en Put dui waarskynlik op die land wat ons as Libië in Afrika ken.
  • Gomer was ‘n land in die noorde in Esegiël se tyd. Bet-Togarma waarskynlik ook.  Gen 10:3 dui hom as seun van Gomer aan.

Daar is ook ‘n ander interpretasie wat sommige maak aan die hand van ‘n ander vertaling van die frase: “die prins, hoof van Mesek en Tubal”.  Sommige vertaal die woord hoof  (rosh in Hebreeus) as ‘n eienaam en verbind dié naam met Rusland.  Dan moet ‘n mens dié frase vertaal as: “prins van Rusland, Mesek en Tubal”.  Só het die OAV dit dan ook gehad: “die vors van Ros, Meseg en Tubal”.

Dié interpretasie is egter etimologies en andersins heeltemal onoortuigend.  Die woord rosh word nêrens in die Bybel in enige ander betekenis as letterlik “kop” of  figuurlik “hoof” gebruik nie.  Hier word die woord rosh inderdaad in die figuurlike betekenis gebruik.  Dit is daarby ‘n volledig anakronistiese lees van die teks.  Dit beteken, die betekenis Rusland word vanuit ons eie tyd ingelees in die teks.  Rusland was immers nooit in die tyd van Esegiël enigsins ‘n wêreldleier nie, of ‘n bedreiging vir Israel, ook nie in die afsienbare toekoms nie.  Rusland se geskiedenis begin eers regtig in die 9de eeu n.C.

Om my interpretasie te bevestig, kan ons ook kyk na hoe Johannes die name Gog en Magog gebruik in sy Openbaring.  Daar word hulle as oud-Israelitiese simbole van die vyande van die Godsvolk gebruik in ‘n beskrywing van die eindtyd oorlog teen die Satan en sy trawante (vgl. my bydrae: Openbaring 20 – Die oordeel oor die Satan baan die weg vir die bekendmaking van die mense in die Boek van die Lewe).  Dit kan selfs wees dat die profesie van Esegiël in dié rigting dui, maar dit oorspan waarskynlik die betekenis van Esegiël se profesieë.  Esegiël gebruik die woorde Gog en Magog eerder slegs as metafore, soos hy dit ook in hfst. 23 doen met Ohola en Oholiba wat as metaforiese name vir die twee ryke van Israel gebruik word.

Hier volg nou ‘n kort uiteensetting van die sewe profesieë:

38:3-9 – Die hordes van Gog trek op

Let op dat die Here die geveg van die begin af beplan: “Ek gaan hake in jou kakebene steek en jou uit jou land bring.”  (38:4).  ‘n Menigte volkere is tot sy beskikking, selfs meer as die sewe wat ek in die inleiding aangedui het: Mesek, Tubal, Persië, Kus, Put, Gomer en Bet-Togarma. “Daar is ‘n menigte volke tot jou beskikking.” (38:6).

Let ook op dat dit in die verre toekoms gebeur wat die apokaliptiese betekenis bevestig (38:8).  Ná die terugkeer van Israel, net wanneer hulle almal veilig woon, sal Gog se hordes soos ‘n stormwind op die Godsvolk toeslaan.

38:10-13 – Gog bedink ‘n bose plan

Daardie dag sal daar gedagtes by jou opkom en sal jy ‘n bose plan bedink.” (38:10).  Dit herinner ons daaraan dat menslike denke nie gebeur sonder die Goddelike bewussyn en bestuur daarvan nie!

Dit is ook opmerklik dat dit juis die onbesorgdheid en rustigheid van die Godsvolk is wat Gog en sy hordes uitnooi om te plunder en uit te buit.  Dit wys die inherente boosheid van dié invalle duidelik uit.  Dit is nie om soseer iets te bekom nie, maar om ander te benadeel.  Gog is dus die simbool van die aartsboelie, die mens/instansie/land wat hulle vreugde vind in die vernietiging van ander.  Soos Taylor hom beskryf: “the personified head of the forces of evil which are intent on destroying the people of God.” (Ezekiel).

Die nasies na die suid-ooste van Israel, Skeba en Dedan en dié na die weste, Tarsis, sal verstom wees oor die plundertog en moontlik in die versoeking wees om self tot die stryd toe te tree ter wille van eie voordeel, so lei ‘n mens uit die vraagstelling af.

38:14-16 – Gog sak op Israel toe

Gog word dus aangevuur deur die kommervrye veilige bestaan van die Godsvolk om sy mag te misbruik om hulle aan te val.  Maar, met God het Gog hom misreken.  Die Here was die hele tyd bewus van sy gedagtes en sal Gog laat ervaar: “dat Ek die heilige God is.” (38:16).  God oorwoeker dus Gog se gedagtes, hoewel dié twee motiewe – menslike en Goddelike bedoelings – oor mekaar skuif.

38:17-23 – God se toorn breek teen Gog los

Dan sluit die Here aan by vorige profesieë oor Gog en kondig sy toekomstige apokaliptiese toorn oor Gog aan.: “Ek sê dit met drif, in gloeiende gramskap …” (38:18).  Gog is natuurlik nie by dié naam in vorige profetiese uitsprake genoem nie, maar ‘n mens kan hom herken in Jesaja se “sterk nasie” en die “Leviatan” (vgl. die Apokalips van Jesaja 24-27 – Van tragedie na triomf) en in Jeremia 25:15-38 se personifiering van die: “oorlog wat Ek onder hulle loslaat”.

Die Here lys  die elemente van sy oorlog teen Gog, dinge wat in baie van die vorige profete ook genoem word.  Byna alles is natuurkragte: daar is ‘n groot aardbewing, die visse en voëls wat bewe, die berge wat omgekeer word, die kranse wat inmekaarstort, die pes, dood, wolkbreuke, hael en brandende swael wat hulle vernietig (38:17-23).  Slegs die swaard wat ook hier genoem word, dui op ‘n menslike agent.  Die res van dié oorlog word deur die Here self gevoer.

En die doel hiervan?  “Ek sal My voor die oë van al die nasies laat ken as die groot en die heilige God, en hulle sal besef dat Ek die Here is.” (38:23).  Dit is die altydteenwoordige doel van God se oordeel: die bewussyn en erkenning van sy Godheid.

39:1-16 – God breek die mag van die Gog-hordes

Dit is daarom die Here self wat die oorlog teen die vyande van die Godsvolk optree.  Hy gebruik die inval van die grondgebied van sy volk as die vernietigende veldslag waar sy vyande oorwin word: “Jy en al jou hordes en die ander volke wat tot jou beskikking is, sal op die berge van Israel sneuwel.” (39:4).

Let op dat dit eintlik die Here is wat die vyande begelei, maar met die doel om hulle te ontwapen en te vernietig.  Weereens beklemtoon die Here die doel van dié omvattende en grusame oordeel.  Die nasies sal besef dat God die Here is en die Here se naam sal in ere herstel word.  Ook vir sy volk sal dié besef onderstreep word.  Vir sewe jaar lank sal hulle vuurmaak met brandhout gemaak van die wapens, net so lank as wat dit sal duur om die lyke op te ruim.  Gog se begraafplaas sal genoem word Vallei van die Gog-hordes!

39:17-24 – God maak van Gog ‘n offermaaltyd

Die toppunt van vernedering sal wees dat hulle gebroke liggame nie begrawe sal word nie, maar ‘n feesmaal vir die diere van die veld sal wees.  Die Here noem dit in kultiese taal ‘n offermaaltyd!  So het Jesaja (34:6 – “Die Here hou ‘n offerfees in Bosra.”) en Jeremia (46:10 – “Daar is ‘n offerfees vir die Here … daar in die noordland, op die oewer van die Eufraat.”) en ‘n paar ander profete dit ook al verwoord.

Ook Johannes sal in sy Openbaring hierna verwys en die bruilofsfees van die Lam kontrasteer met die feesmaal vir die roofvoëls van die vleis van die maghebbers wat teen God in opstand gekom het: vgl. Openbaring 19 – Gelowiges jubel oor die bruilofsfees van die Lam en God se regverdige oordeel en uitwissing van die Bose.

Die oordeel van God is ‘n grusame ervaring.  Dit is bedoel om af te skrik, om te waarsku, sodat mense tot bekering kom en nie die lot van God se teenstanders beleef nie: die vuurpoel wat vir altyd brand nie.  Uiteraard is dít metafore, maar metafore wat ‘n werklikheid beskryf wat waarskynlik erger sal wees as maar net dat ‘n fisiese vuur die goddeloses verbrand.

Daarby sal die nasies tot die insig kom dat die straf van Israel nie ‘n teken van God se swakheid was nie, maar van sy geregtigheid.  God se liefde word immers ook in sy geregtigheid ten toon gestel, wat beteken dat oordeel ook deel is van die pad wat Hy met mense stap.  Oordeel bring altyd insig in God se regverdigheid en laat die bewussyn van God se teenwoordigheid selfs by sy teenstanders opdaag.  Voor God sal elke knie immers uiteindelik buig en elke tong bely: GOD IS HERE.  (Jes.45:23; Rom 14:11).

39:25-29 – God verander die lot van die hele Israel

Esegiël sluit dié oordeelsboodskap oor Gog af met ‘n hoopvolle boodskap van ‘n lotsverandering vir die hele Israel.  Hulle sal hulle skandes vergeet in die herstel van God se teenwoordigheid by hulle, soos die volgende nege hoofstukke sal bevestig: “Ek sal hulle nooit weer verwerp nie; Ek het my Gees uitgestort op Israel.” (39:29).

Boodskap

Dit is ‘n baie ryk gedeelte wat verskillende aspekte van God se omvattende ingrype in die lewe van die mense van hierdie wêreld uitlig.  Daar is die fokus op die boosheid van boelies, mense wat nie soseer iets goeds wil verkry nie, maar iets goeds wil vernietig.  Daar is die fokus op die voorsiening van die Here beide vir die nabye toekoms en die verdere apokaliptiese toekoms.  Daar is die fokus op die intieme betrokkenheid van die Here selfs by dié wat Hom teenstaan.

Maar wat vir my moontlik die meeste uitstaan, is dat oordeel deel van God se geregtigheid is.  Dit is ‘n grusame werklikheid, maar ook deel van die werklikheid van sy genade.  Die hele geskiedenis van die mensdom stuur af op hierdie twee feeste.  Aan die een kant sal daar die fees van die bruilof van die Lam van God wees waar gelowiges die vrug van die Here Jesus Christus se lewe en bediening sal geniet.  Aan die ander kant sal daar die fees van die roofvoëls wees waarin goddeloses self die maaltyd sal wees.  Die een groep sal vreugde ervaar.  Die ander verguising.  Die keuse watter maaltyd jy bywoon, lê in geloof in die Here Jesus Christus.  Kies daarom die bruilofsfees!

View all posts in this series

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (6)

  • Chris Vermeulen

    Môre. Die vernietiging van Gog, is dit die “armaggedon” waarvan die Woord ons ook vertel? God bless!

    • Hi Chris, ja, daar is ‘n ooreenkoms met die finale oorlog, die Armageddon (Openb 16:16), aan die einde van die laaste dae, soos Johannes dit ook verder in Openbaring 20:8 vir ons beskryf. Hy gebruik ook die terme Gog en Magog soos Esegiël dit doen.

  • Louisa van Vliet

    Baie dankie vir hierdie pragtige uiteensetting van Gog….ek het dit vanmore weer en weer raakgelees na soveel jare, en vandag maak die woord Gog vir my sin nadat ek besef het dit is ons vyande….. en bietjie ondersoek ingestel het oor die woord “gog” en hier kry ek duidelik my antwoord, en ek glo vas, dat die Here hulle gebruik om mense se o3 oop te maak, en dat ook God hulle gaan verslaan op die einde….want die woord vertel dit vir ons. baie dankie, God rykste seën word jou toegewens, want die waarheid sal seëvier aan Sy kinders wat opreg deel in Sy woord… mooi dag vir Chris..

  • Pierre Pretorius

    Nou jou verduideliking gelees. Wat en waar sal jy die huidige ontwikkeling tussen Rusland en Hokraiene plaas. Dit is duidelik dat Afrika in meerderheid met instemming is in voordeel vir Rusland. Wat ek vra is of die huidige gebeure in die profesieë uitspeel, of is dit iets anders.

    Baie dankie

    • Gog en Magog is die name wat in beide Esegiël 38-39 en Openbaring 20:7-10 vir die onheilige nasies gegee word wat die Godsvolk bedreig. Dit is nie maar net Israel en Jerusalem wat bedreig word nie. Veral in Openbaring is dit duidelik dat dit alle gelowiges is wat bedreig word. Die nasies wat genoem word in Esegiël strek van Europa tot in Asië en ook tot in Afrika (Esegiël noem 7 nasies), dws reg rondom die grondgebied van Israel. Maar, Openbaring sê hulle kom van al vier hoeke van die aarde af. Dit verteenwoordig dus alle nasies wat God en die Godsvolk, dws dié wat in Jesus glo, teenstaan, waar hulle hulself ook al mag bevind.

      In Esegiël 38 word die Hebreeuse woord “rosj” gebruik wat sommige met Rusland verbind. Dit is egter nie ‘n goeie interpretasie nie, want “rosj” beteken doodgewoon “hoof.” Rusland het in elk geval eers ‘n rol begin speel van die 9de eeu nC af, so hulle het geen invloed in die bedeling van die OT gehad nie. Dat Rusland een van dié nasies kan wees wat die Godsvolk bedreig aan die einde van die tyd, kan dus wel so wees. Maar dan as een van die nasies “van die vier hoeke” van die aarde af, nie omdat hulle direk in die teks aangedui word nie.

      Rusland se inval in die Oekraïne kan om ‘n ander rede ook nie verbind word aan die Gog en Magog nie, want Oekraïne is nie gelykstaande aan die Godsvolk nie. Die inval van Rusland is eerder deel van die algemene tekens van die tye waarin oorloë sal toeneem.

      Ons stuur egter uiteindelik af op ‘n groot oorlog aan die: “einde van jare.” (Eseg 38:8). In Openbaring word die tydperk van hierdie oorlog geplaas ná die duisendjarige vredesryk en is dit ook opmerklik dat God self veg namens die geloofsgemeenskap. Hy verwoes die nasies met vuur en gooi die duiwel in die poel van vuur en swael waar hy saam met die dier en die valse profeet – die drie-tal van die onheilige triniteit – vir ewig gepynig sal word. Direk daarna kom die wit troon oordeel en die skeiding tussen gelowiges en ongelowiges.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: