Skip to main content

Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Om sin te maak van die boodskap van dié twee hoofstukke, hfst. 38-39, is dit belangrik om in die eerste plek die struktuur daarvan te begryp.

  • Na die eerste twee verse waarin die Here sy opdrag aan Esegiël gee, rig Esegiël ses profesieë aan Gog van Magog, telkens ingelei met die formule: “So sê die Here my God” (38:3; 10, 14, 17; 39:1, 17). Dit beslaan die leeue-aandeel van die stof in dié twee hoofstukke: 38:3-39:24.
  • Daarná kom die sewende profesie aan die beurt, met dieselfde formule, dié keer gerig aan die hele Israel: hfst. 39:25-29.

Dit help ‘n mens om vanuit die breë prentjie van die indeling die boodskap van die gedeelte te verstaan.

  • In die eerste rondte belowe die Here op paradoksale wyse dat ná Israel se hervestiging in die land Hy hulle sal beskerm teen die toekomstige gevaar van hulle omringende vyande. ‘n Sewe-tal vyande word beskrywe:
    • Mesek en Tubal (= die land Magog – die NAV vertaal verkeerdelik Magog as ‘n sinoniem vir Gog), Gomer en Bet-Togarma is in die noorde,
    • Persië in die ooste,
    • Kus en Put in die suide.
  • In die tweede rondte herhaal die Here sy belofte dat die hele Israel sal terugkeer, soos Hy dit in hfst. 37 gedoen het. Hy fokus dus hulle aandag, anders as in die eerste ses profesieë, op die nabye toekoms, en bevestig die terugkeer na die land as die logiese uitvloeisel van die uitstorting van sy Gees op Israel (39:29 – vgl. 37:5,14).

In die tweede plek is dit belangrik om die apokaliptiese taal van die beskrywings van God se oorlog teen hulle raak te sien.  Daar is ‘n groot aardbewing, die visse en voëls wat bewe, die berge wat omgekeer word, die kranse wat inmekaarstort, die pes, dood, wolkbreuke, hael en brandende swael wat hulle vernietig (38:17-23).  Slegs die swaard wat ook genoem word, dui op ‘n menslike agent.  Dit res van dié oorlog word deur die Here self gevoer.

Dit laat ‘n mens onmiddellik besef dat dit God se oorlog teen sy volk se vyande is.  Gog is daarom ‘n simbool van al die vyande van die Godsvolk, soos dit inderdaad ook in Openbaring 20 interpreteer word.

Dit maak dus nie veel sin om die teks te letterlik te probeer interpreteer nie, want die letterlike betekenis verdwyn in die figuurlike betekenis daarvan.

Die verbintenis van die leier van dié bedreiging, Gog, bv. aan koning Gyges van Lidië in Klein-Asië, weens die gewaande ooreenkomste in die name, het dus min waarde.  Hy word as die “die prins, die hoof van Mesek en Tubal” (soos dit letterlik in die Hebreeus staan) aan ons voorgestel.  Maar Gyges was nie meer koning in dié tyd nie.  Hy het regeer in die 7de eeu v.C. en was al meer as twee eeue net ‘n herinnering.  Dit kan wees dat sy naam gebruik word vir ‘n toekomstige “Hitler”, by wyse van spreke, maar dan bevestig ‘n mens in elk geval die figuurlike betekenis van die teks.

Vir wat dit werd is:

  • Mesek en Tubal (nageslag van die seuns van Jafet – Gen. 10) was twee nasies in Klein-Asië ongeveer waar Kappadosië vandag is. Mesek en Tubal was daarom deel van die land Magog.  Magog is dan ‘n naam wat vir Lidië, vandag die deel wat ons as Wes-Turkye ken, gebruik word (nie ‘n sinoniem vir Gog nie, soos dit verkeerdelik in die NAV aangedui word).  Interessant genoeg, vir skerp waarnemers, ons het al ‘n boodskap oor Mesek en Tubal se komende nederlaag in hfst. 32 in die sewetal profesieë teen Egipte teëgekom.  Hier is egter iets meer op die spel.
  • Die Persië wat hier genoem word, is waar die huidige Iran geleë is (hoewel dit ook met Patros in noord-Egipte verbind kan word wat beteken dat die eerste drie name dan almal volkere uit Afrika sou kon aandui). Kus is waarskynlik die deel wat ons as die huidige Ethiopië ken, en Put dui waarskynlik op die land wat ons as Libië in Afrika ken.
  • Gomer was ‘n land in die noorde in Esegiël se tyd. Bet-Togarma waarskynlik ook.  Gen 10:3 dui hom as seun van Gomer aan.

Daar is ook ‘n ander interpretasie wat sommige maak aan die hand van ‘n ander vertaling van die frase: “die prins, hoof van Mesek en Tubal”.  Sommige vertaal die woord hoof  (rosh in Hebreeus) as ‘n eienaam en verbind dié naam met Rusland.  Dan moet ‘n mens dié frase vertaal as: “prins van Rusland, Mesek en Tubal”.  Só het die OAV dit dan ook gehad: “die vors van Ros, Meseg en Tubal”.

Dié interpretasie is egter etimologies en andersins heeltemal onoortuigend.  Die woord rosh word nêrens in die Bybel in enige ander betekenis as letterlik “kop” of  figuurlik “hoof” gebruik nie.  Hier word die woord rosh inderdaad in die figuurlike betekenis gebruik.  Dit is daarby ‘n volledig anakronistiese lees van die teks.  Dit beteken, die betekenis Rusland word vanuit ons eie tyd ingelees in die teks.  Rusland was immers nooit in die tyd van Esegiël enigsins ‘n wêreldleier nie, of ‘n bedreiging vir Israel, ook nie in die afsienbare toekoms nie.  Rusland se geskiedenis begin eers regtig in die 9de eeu n.C.

Om my interpretasie te bevestig, kan ons ook kyk na hoe Johannes die name Gog en Magog gebruik in sy Openbaring.  Daar word hulle as oud-Israelitiese simbole van die vyande van die Godsvolk gebruik in ‘n beskrywing van die eindtyd oorlog teen die Satan en sy trawante (vgl. my bydrae: Openbaring 20 – Die oordeel oor die Satan baan die weg vir die bekendmaking van die mense in die Boek van die Lewe).  Dit kan selfs wees dat die profesie van Esegiël in dié rigting dui, maar dit oorspan waarskynlik die betekenis van Esegiël se profesieë.  Esegiël gebruik die woorde Gog en Magog eerder slegs as metafore, soos hy dit ook in hfst. 23 doen met Ohola en Oholiba wat as metaforiese name vir die twee ryke van Israel gebruik word.

Hier volg nou ‘n kort uiteensetting van die sewe profesieë:

38:3-9 – Die hordes van Gog trek op

Let op dat die Here die geveg van die begin af beplan: “Ek gaan hake in jou kakebene steek en jou uit jou land bring.”  (38:4).  ‘n Menigte volkere is tot sy beskikking, selfs meer as die sewe wat ek in die inleiding aangedui het: Mesek, Tubal, Persië, Kus, Put, Gomer en Bet-Togarma. “Daar is ‘n menigte volke tot jou beskikking.” (38:6).

Let ook op dat dit in die verre toekoms gebeur wat die apokaliptiese betekenis bevestig (38:8).  Ná die terugkeer van Israel, net wanneer hulle almal veilig woon, sal Gog se hordes soos ‘n stormwind op die Godsvolk toeslaan.

38:10-13 – Gog bedink ‘n bose plan

Daardie dag sal daar gedagtes by jou opkom en sal jy ‘n bose plan bedink.” (38:10).  Dit herinner ons daaraan dat menslike denke nie gebeur sonder die Goddelike bewussyn en bestuur daarvan nie!

Dit is ook opmerklik dat dit juis die onbesorgdheid en rustigheid van die Godsvolk is wat Gog en sy hordes uitnooi om te plunder en uit te buit.  Dit wys die inherente boosheid van dié invalle duidelik uit.  Dit is nie om soseer iets te bekom nie, maar om ander te benadeel.  Gog is dus die simbool van die aartsboelie, die mens/instansie/land wat hulle vreugde vind in die vernietiging van ander.  Soos Taylor hom beskryf: “the personified head of the forces of evil which are intent on destroying the people of God.” (Ezekiel).

Die nasies na die suid-ooste van Israel, Skeba en Dedan en dié na die weste, Tarsis, sal verstom wees oor die plundertog en moontlik in die versoeking wees om self tot die stryd toe te tree ter wille van eie voordeel, so lei ‘n mens uit die vraagstelling af.

38:14-16 – Gog sak op Israel toe

Gog word dus aangevuur deur die kommervrye veilige bestaan van die Godsvolk om sy mag te misbruik om hulle aan te val.  Maar, met God het Gog hom misreken.  Die Here was die hele tyd bewus van sy gedagtes en sal Gog laat ervaar: “dat Ek die heilige God is.” (38:16).  God oorwoeker dus Gog se gedagtes, hoewel dié twee motiewe – menslike en Goddelike bedoelings – oor mekaar skuif.

38:17-23 – God se toorn breek teen Gog los

Dan sluit die Here aan by vorige profesieë oor Gog en kondig sy toekomstige apokaliptiese toorn oor Gog aan.: “Ek sê dit met drif, in gloeiende gramskap …” (38:18).  Gog is natuurlik nie by dié naam in vorige profetiese uitsprake genoem nie, maar ‘n mens kan hom herken in Jesaja se “sterk nasie” en die “Leviatan” (vgl. die Apokalips van Jesaja 24-27 – Van tragedie na triomf) en in Jeremia 25:15-38 se personifiering van die: “oorlog wat Ek onder hulle loslaat”.

Die Here lys  die elemente van sy oorlog teen Gog, dinge wat in baie van die vorige profete ook genoem word.  Byna alles is natuurkragte: daar is ‘n groot aardbewing, die visse en voëls wat bewe, die berge wat omgekeer word, die kranse wat inmekaarstort, die pes, dood, wolkbreuke, hael en brandende swael wat hulle vernietig (38:17-23).  Slegs die swaard wat ook hier genoem word, dui op ‘n menslike agent.  Die res van dié oorlog word deur die Here self gevoer.

En die doel hiervan?  “Ek sal My voor die oë van al die nasies laat ken as die groot en die heilige God, en hulle sal besef dat Ek die Here is.” (38:23).  Dit is die altydteenwoordige doel van God se oordeel: die bewussyn en erkenning van sy Godheid.

39:1-16 – God breek die mag van die Gog-hordes

Dit is daarom die Here self wat die oorlog teen die vyande van die Godsvolk optree.  Hy gebruik die inval van die grondgebied van sy volk as die vernietigende veldslag waar sy vyande oorwin word: “Jy en al jou hordes en die ander volke wat tot jou beskikking is, sal op die berge van Israel sneuwel.” (39:4).

Let op dat dit eintlik die Here is wat die vyande begelei, maar met die doel om hulle te ontwapen en te vernietig.  Weereens beklemtoon die Here die doel van dié omvattende en grusame oordeel.  Die nasies sal besef dat God die Here is en die Here se naam sal in ere herstel word.  Ook vir sy volk sal dié besef onderstreep word.  Vir sewe jaar lank sal hulle vuurmaak met brandhout gemaak van die wapens, net so lank as wat dit sal duur om die lyke op te ruim.  Gog se begraafplaas sal genoem word Vallei van die Gog-hordes!

39:17-24 – God maak van Gog ‘n offermaaltyd

Die toppunt van vernedering sal wees dat hulle gebroke liggame nie begrawe sal word nie, maar ‘n feesmaal vir die diere van die veld sal wees.  Die Here noem dit in kultiese taal ‘n offermaaltyd!  So het Jesaja (34:6 – “Die Here hou ‘n offerfees in Bosra.”) en Jeremia (46:10 – “Daar is ‘n offerfees vir die Here … daar in die noordland, op die oewer van die Eufraat.”) en ‘n paar ander profete dit ook al verwoord.

Ook Johannes sal in sy Openbaring hierna verwys en die bruilofsfees van die Lam kontrasteer met die feesmaal vir die roofvoëls van die vleis van die maghebbers wat teen God in opstand gekom het: vgl. Openbaring 19 – Gelowiges jubel oor die bruilofsfees van die Lam en God se regverdige oordeel en uitwissing van die Bose.

Die oordeel van God is ‘n grusame ervaring.  Dit is bedoel om af te skrik, om te waarsku, sodat mense tot bekering kom en nie die lot van God se teenstanders beleef nie: die vuurpoel wat vir altyd brand nie.  Uiteraard is dít metafore, maar metafore wat ‘n werklikheid beskryf wat waarskynlik erger sal wees as maar net dat ‘n fisiese vuur die goddeloses verbrand.

Daarby sal die nasies tot die insig kom dat die straf van Israel nie ‘n teken van God se swakheid was nie, maar van sy geregtigheid.  God se liefde word immers ook in sy geregtigheid ten toon gestel, wat beteken dat oordeel ook deel is van die pad wat Hy met mense stap.  Oordeel bring altyd insig in God se regverdigheid en laat die bewussyn van God se teenwoordigheid selfs by sy teenstanders opdaag.  Voor God sal elke knie immers uiteindelik buig en elke tong bely: GOD IS HERE.  (Jes.45:23; Rom 14:11).

39:25-29 – God verander die lot van die hele Israel

Esegiël sluit dié oordeelsboodskap oor Gog af met ‘n hoopvolle boodskap van ‘n lotsverandering vir die hele Israel.  Hulle sal hulle skandes vergeet in die herstel van God se teenwoordigheid by hulle, soos die volgende nege hoofstukke sal bevestig: “Ek sal hulle nooit weer verwerp nie; Ek het my Gees uitgestort op Israel.” (39:29).

Boodskap

Dit is ‘n baie ryk gedeelte wat verskillende aspekte van God se omvattende ingrype in die lewe van die mense van hierdie wêreld uitlig.  Daar is die fokus op die boosheid van boelies, mense wat nie soseer iets goeds wil verkry nie, maar iets goeds wil vernietig.  Daar is die fokus op die voorsiening van die Here beide vir die nabye toekoms en die verdere apokaliptiese toekoms.  Daar is die fokus op die intieme betrokkenheid van die Here selfs by dié wat Hom teenstaan.

Maar wat vir my moontlik die meeste uitstaan, is dat oordeel deel van God se geregtigheid is.  Dit is ‘n grusame werklikheid, maar ook deel van die werklikheid van sy genade.  Die hele geskiedenis van die mensdom stuur af op hierdie twee feeste.  Aan die een kant sal daar die fees van die bruilof van die Lam van God wees waar gelowiges die vrug van die Here Jesus Christus se lewe en bediening sal geniet.  Aan die ander kant sal daar die fees van die roofvoëls wees waarin goddeloses self die maaltyd sal wees.  Die een groep sal vreugde ervaar.  Die ander verguising.  Die keuse watter maaltyd jy bywoon, lê in geloof in die Here Jesus Christus.  Kies daarom die bruilofsfees!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.