Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem

Esegiël hanteer in hierdie hoofstuk die moeilike vraagstuk van die verband tussen kollektiewe en persoonlike verantwoordelikheid.
Aan die een kant was dit duidelik dat die ballingskap ‘n kollektiewe strafmaatreël van die Here is. Soos Hy vir hulle as volk verkies en in ‘n verbond aan Hom gebind het, hulle die beloofde land ingebring en daar versorg het, só het Hy hulle nou met die strawwe van daardie verbond getref. Die vorige hoofstuk het dié aksie van God met die gelykenis van die wingerdstok aan hulle misplaaste verbintenis aan die “ander” arend, Egipte, gewyt. Die hele volk is dus kollektief deur dié ongelukkige en dwase keuses, in dié geval veral van die leiers, getref.
Maar, aan die ander kant was daar egter ook min mense wat regtig hulle hande in onskuld kon was, soos Esegiël verskeie kere uitgewys het. Hulle het immers saam skuld gehad aan die magsmisbruik en afgodery, hetsy deurdat hulle eie toedoen óf deurdat hulle hulle nie daarteen verset het nie (vgl. hfst. 7). Die individuele lede van die volk het dus in mindere of meerdere mate ook persoonlik ‘n aandeel gehad in die kollektiewe afvalligheid van die volk as geheel.
Die mense wat nou in ballingskap was, het hulle eie verantwoordelikheid boonop nog verder probeer minimaliseer deur die volgende spreekwoord op hulle van toepassing te maak: “Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp.” (vgl. Jer. 31:30). Hierdie verontskuldiging en verplasing van alle blaam op die voorvaders, kon maklik lei tot ‘n totale fatalisme – die lewe is nou eenmaal só en ek kan daaraan niks verander nie – en ‘n algehele ontduiking van persoonlike verantwoordelikheid om die Here te dien en aan Hom gehoorsaam te lewe.
Daarom kom die woord van die Here na Esegiël en spreek dié situasie aan. Die ballinge was vir Hom nie net kosbaar nie, hulle lewe en lewenstyl het vir Hom saak gemaak. Hy doen dit as volg:
- 18:1-4 – Al die mense behoort aan My
- 18:5-20 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur die geslagte
- 18:21-29 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur sy eie lewe
- 18:30-32 – Laat vaar al julle oortredings en kry ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees
18:1-4 – Al die mense behoort aan My
Die volk in ballingskap het met die spreekwoord van die vaders wat groen druiwe eet en die kinders se tande wat stomp word, hulle eie verantwoordelikheid probeer ontduik om aan die Here gehoorsaam te lewe. Daarop reageer die Here deur hulle onomwonde op hulle eie persoonlike verantwoordelikheid te wys. Al die mense, ouers en kinders, behoort aan die Here en is lojaliteit aan Hom verskuldig. Elkeen sal dus ook sy eie skuld dra as “groen druiwe” geëet word.
18:5-20 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur die geslagte
Dié beginsel van persoonlike verantwoordelikheid wat die Here hier neerlê, word nou op twee maniere uitgelê. Eers word daar in vers 5-20 gewys op die feit dat elkeen die vrugte of straf van sy eie lewe sal kry regdeur die geslagte. Daarna word in vers 21-29 gewys op die feit dat dit selfs waar sal wees regdeur iemand se eie lewe.
Esegiël gebruik hier drie opeenvolgende geslagte om dié beginsel van persoonlike verantwoordelikheid regdeur die geslagte uit te spel. Sommige verklaarders dink aan die opeenvolgende konings Hiskia, Manasse en Josia wat dié drie geslagte – goed, boos, goed – sou kon verteenwoordig, maar dit is waarskynlik ‘n bietjie spitsvondig.
Die eerste geval wat geteken word, is iemand wat volgens God se wil lewe. Vyftien beginsels uit die wetboek word saamgebundel as illustrasie van dié dinge wat volgens God se wil gedoen word en die lewe vir só iemand sal verseker: “Wie wil leef volgens my wil, sal reg laat geskied en reg doen”. Dit is veral moreel- en sosiaal-etiese (geen owerspel, geen verdrukking, verpande goed teruggee, niemand beroof nie, kos vir hongeriges, kleding vir behoeftiges, rentevrye lenings, geen woekerwins, van onreg weerhou, goeie regspraak verseker) maar ook geestelik-godsdienstige beginsels (geen vreemde offers, geen afgode, geen gemeenskap tydens menstruasie [wat jou kulties onrein sou maak], lewe volgens God se voorskrifte, gehoorsaam en getrou aan God se bepalings).
Die tweede geval is ‘n “wilde seun” van eersgenoemde pa wat moord pleeg of van bogenoemde sondes doen en daarom “nie kan bly lewe nie”. ‘n Seleksie van die beginsels word gelys.
Die derde geval is ‘n kleinkind wat sy pa se sondes sien en besluit om eerder die Here te dien en nie sulke sondes te doen nie: “So iemand sal nie sterf vir sy pa se sondes nie, hy sal bly lewe.” Weereens word ‘n seleksie van bogenoemde beginsels gelys.
Daarmee deurbreek die Here die gedagte dat die sondes van die vaders outomaties ‘n effek op die kinders en kleinkinders het, soos soms verkeerdelik uit die Tien Gebooie afgelei word (Eks. 20:5). Sonde kan ‘n patroon word in die geslagte, maar deur persoonlike verantwoordelikheid ook weer verander word.
Daarom hou ek van die NET Bible se vertaling van Eks. 20:5-6 wat dit meer genuanseerd weergee: “You shall not bow down to them or serve them, for I, the LORD, your God, am a jealous God, responding to the transgression of fathers by dealing with children to the third and fourth generations of those who reject me, and showing covenant faithfulness to a thousand generations of those who love me and keep my commandments.” Let op dat dit daar gaan oor die weiering om afgode te dien, en dat God se genade onmiddellik inskop wanneer iemand begin om die afgode te verwerp en die Here alleen te dien, ook tot voordeel van die nageslag. Dit skep nuwe patrone!
Niemand is dus uitgelewer aan die sondes van die voorgeslagte nie. Die Here se genade troef die patrone van sonde in alle gevalle wanneer Hy alleen gedien word. Daarom word elkeen uiteindelik op grond van sy eie verhouding met die Here beoordeel. God se regverdigheid word só deur Esegiël bevestig, maar ook God se eis tot persoonlike verantwoording.
18:21-29 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur sy eie lewe
Vervolgens hanteer Esegiël tweedens die verwante vraag na wat in iemand se lewe gebeur as hy of sy enersyds tot bekering kom, of andersyds afvallig raak. Wat is die lot van iemand wat verander, ten goede of ten kwade?
In die eerste plek beskryf hy iemand wat eers goddeloos lewe, maar hom dan tot die Here bekeer en begin om wel die Here te dien. Hoe wonderlik klink die belofte van die Here nie: “Nie een van sy oortredings wat hy begaan het, sal teen hom gehou word nie.” (18:22).
Hieraan word die allerbelangrike insig in wie God is, gekoppel: “Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moes sterf nie … dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” (18:23).
Die teendeel is egter ook waar dat as iemand in die tweede plek eers God se wil doen, en dan afvallig word, daarvoor gestraf sal word. Die Here is regverdig en billik teenoor alle mense, goddeloos én gelowig.
18:30-32 – Laat vaar al julle oortredings en kry ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees
Daarom roep die Here die volk op – as geheel en individueel – om hulle tot Hom te bekeer, sodat Hy vir hulle ‘n nuwe gesindheid (hart), ‘n nuwe gees kan gee. Dit is sy wil vir alle mense: “Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie … maar dat hy hom bekeer en bly lewe.” (18:32)
Hierdie opdrag hou verband met die vorige belofte in Eseg. 11:19-20 – “Ek sal hulle ’n ander hart gee en ’n nuwe gees onder hulle laat posvat …” – en sal weer vermeld word in Eseg. 36:26-27: “26Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”
Boodskap
Die ballingskap kon die volk op twee maniere lamlê.
Dit kon aan die een kant hulle fatalisties maak. Hulle pa’s en ma’s het drooggemaak, en nou is hulle in ballingskap sonder hoop en sonder uitkoms. Hulle dra die kollektiewe skuld van die verlede en sal as gevolg daarvan verlore gaan.
Dit kon hulle egter aan die ander kant verlei om hulleself te verontskuldig, hulle ouers die skuld te gee, en nie self verantwoordelikheid te aanvaar nie. Hulle kon hulle eie aandeel aan die verlede en die persoonlike verantwoordelikheid vir hulle gedrag in die hede geringskat.
In beide gevalle kon hulle dus besluit om te doen wat hulle wil. Hulle sou kon lewe met die idee dat om God te dien en Hom te gehoorsaam, geen doel dien nie. Hulle sou kon reken gehoorsaamheid al dan nie gaan nie saak maak vir God nie. Hulle lot is in elk geval verseël en sal op niks uitloop nie. Doen dan liewer presies wat ‘n mens self wil, en vergeet van God en sy gebod.
Daarom moedig Esegiël hulle aan om aan die een kant met die hoop te lewe dat God regverdig en genadig is. Nie net behoort alle mense aan Hom nie (18:4). Dit is duidelik beslis nie God se wil dat mense sterf nie, selfs nie die goddelose nie. “My wil is dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.” (18:23). Soos Petrus lank hierna sal sê: “Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9).
Aan die ander kant moedig hy hulle aan om persoonlik verantwoordelikheid te neem om volgens God se wil te lewe, reg te laat geskied en reg te doen (18:5). God seën dié wat met “‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees”, lewe (18:31), wat toelaat dat Hy hulle lewens beheer. En dít het nie net ‘n persoonlike uitkoms nie, maar ook een vir die geslagte, soos die woord in Eksodus 20:6 ons herinner: “Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.”
Só sluit Esegiël ook vir ons die toekoms oop. Dit is ómdat ons die hoop het dat God regverdig en genadig is, dat ons onsself aan Hom kan toewy en aan Hom gehoorsaam kan lewe. Só sê Paulus immers in Filippense 2: “12Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL - Apr 10, 2015
- Inleiding op Esegiël - Apr 13, 2015
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C. - Apr 16, 2015
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem - Apr 21, 2015
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel” - Apr 23, 2015
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land - Apr 24, 2015
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C. - Apr 27, 2015
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur - May 1, 2015
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete - May 4, 2015
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie - May 5, 2015
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word - May 6, 2015
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word - May 11, 2015
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit - May 12, 2015
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem - May 15, 2015
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel - May 16, 2015
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C. - May 23, 2015
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom - May 25, 2015
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”! - May 28, 2015
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop - May 30, 2015
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C. - Jun 1, 2015
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne - Jun 2, 2015
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C. - Jun 9, 2015
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie - Jun 20, 2015
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel - Jun 21, 2015
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder - Jul 28, 2015
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel” - Jul 29, 2015
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself - Jul 30, 2015
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel - Aug 10, 2015
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk - Aug 11, 2015
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel - Aug 12, 2015
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C. - Aug 13, 2015
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel - Aug 17, 2015
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit - Aug 18, 2015
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land - Aug 19, 2015