Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Waar Esegiël tot hier toe gefokus het op die onafwendbare val van Juda en Jerusalem en die redes daarvoor, begin sy profesieë van hier af fokus op die toekoms wat die Here belowe ná die ballingskap.  Hy hak hier aan by twee vorige profesieë – oor sy eie persoonlike opdrag as wag vir die volk (hfst. 3) en die noodsaak vir die volk om persoonlike verantwoordelikheid te neem vir hulle lewe (hfst. 18) – en brei verder daarop uit, veral omdat dit begin lyk asof daar ‘n kentering by die volk kom en hulle verantwoordelikheid begin neem vir wat gebeur het: “Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?” (33:10).

Daarom beklemtoon die Here dat die profeet persoonlike verantwoordelikheid moet bly aanvaar om as wag vir die volk op te tree, én dat die volk eweneens persoonlike verantwoordelikheid moet bly aanvaar vir hulle lewe voor die Here, soos hulle dit inderdaad nou begin doen. Dit word in twee profesieë aan Esegiël duidelik uitgespel:

  • 33:1-9 – “Ek het jou die wag vir Israel gemaak”
  • 33:10-20 – “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie”

33:1-9 – “Ek het jou die wag vir Israel gemaak”

Esegiël word herinner aan sy eie persoonlike verantwoordelikheid om as wag vir die volk op te tree, soos die Here dit in hfst. 3 uitgespel het.  Dit is ‘n dure verantwoordelikheid wat uitgevoer moet word onafhanklik van die volk se reaksie.  As hulle luister na hom het sy waarskuwing sy doel gedien.  As hulle nie luister nie, is dit hulle eie verantwoordelikheid.  Esegiël word dus nie beoordeel aan die hand van hulle gehoorsaamheid al dan nie, net aan sy eie gehoorsaamheid al dan nie.

33:10-20 – “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie”

Vers 10 getuig van die eerste positiewe reaksie onder die volk in ballingskap op die boodskap van Esegiël.  Dit lyk op die oog af asof daar ‘n kentering by hulle gekom het en hulle verantwoordelikheid begin neem vir wat gebeur het: “Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?” (33:10).  Hulle blameer nie meer hulle ouers soos dit nog die geval was in hfst. 18 nie.

Hierdie woorde ontlok die baie positiewe reaksie van die Here waarin Hy bevestig dat die doel van alles wat Hy doen in, onder en aan die volk van God, gemik is op verandering en bekering.  Daarmee word die karakter van die Here as ‘n deernisvolle, genadige God onomwonde bevestig: “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe.”  Dit is wie God is, selfs en veral in sy oordeel.  Daarop kan ‘n mens staatmaak, soos dit trouens regdeur die boodskap van Esegiël die geval is.

Daarom word die volk opgeroep om die daad by die woord te voeg en hulle te bekeer van hulle bose optrede.  Hulle goeie of slegte dade in die verlede is van minder belang as hulle gehoorsaamheid in die hede, hier uitgespel as beide sosiale en geestelike geregtigheid: die doen van wat reg is, die teruggee van goed wat as waarborg vir skuld geneem is,  sowel as die leef volgens God se voorskrifte “wat lewe gee” (33:14-15).  Soos Peterson die laaste frase vertaal: “cultivating life-nourishing ways that don’t hurt others.”  (The Message).  Sulke optredes sal wys dat die bekering eg was en is.

Die volk word dus opgeroep om nooit op hulle louere te rus in terme van hulle gehoorsaamheid van die verlede nie.  Die verbintenis aan die Here moet in die hede uitgeleef word.  Netso moet hulle nie hulleself verknies oor dinge wat in die verlede verkeerd gegaan het nie.  “Every man has his chance and every man must act according to God’s word to him.” (Taylor).

Hoewel die skuld egter nie meer op die ouers gepak word nie, was daar tóg sommige wat nog die Here blameer het, soos Esegiël dit opteken: “Die Here tree nie reg op nie.” (33:17).  Daarop reageer die Here met ‘n eenvoudige regstelling waarin sy regverdigheid beklemtoon word: “Ek sal elke mens onder julle oordeel volgens sy doen en late.” (33:20).  Daarop kan hulle staatmaak.

Boodskap

Dit is wonderlik om te sien dat daar stadigaan verandering by die gemeenskap in ballingskap kom.  Dit is nog wonderliker om in die Here se positiewe reaksie daarop te sien dat dit na alles presies is hoe God nog altyd was en altyd sal wees.  Hy is deernisvol en genadig.  Hy soek nie mense se dood nie, selfs nie sondaars s’n nie.  “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe.

Ek hou besonder baie van die manier waarop Peterson ons verantwoordelikheid uitspel: “cultivating life-nourishing ways that don’t hurt others.”  (The Message).  Dit is wat dit beteken om te  leef volgens God se voorskrifte.  Dit is gemik op ‘n lewenstyl: “wat lewe gee” (33:14-15).  Daaraan kan ‘n mens mos jou lewe wy!

View all posts in this series

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: