Skip to main content

Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Waar Esegiël tot hier toe gefokus het op die onafwendbare val van Juda en Jerusalem en die redes daarvoor, begin sy profesieë van hier af fokus op die toekoms wat die Here belowe ná die ballingskap.  Hy hak hier aan by twee vorige profesieë – oor sy eie persoonlike opdrag as wag vir die volk (hfst. 3) en die noodsaak vir die volk om persoonlike verantwoordelikheid te neem vir hulle lewe (hfst. 18) – en brei verder daarop uit, veral omdat dit begin lyk asof daar ‘n kentering by die volk kom en hulle verantwoordelikheid begin neem vir wat gebeur het: “Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?” (33:10).

Daarom beklemtoon die Here dat die profeet persoonlike verantwoordelikheid moet bly aanvaar om as wag vir die volk op te tree, én dat die volk eweneens persoonlike verantwoordelikheid moet bly aanvaar vir hulle lewe voor die Here, soos hulle dit inderdaad nou begin doen. Dit word in twee profesieë aan Esegiël duidelik uitgespel:

  • 33:1-9 – “Ek het jou die wag vir Israel gemaak”
  • 33:10-20 – “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie”

33:1-9 – “Ek het jou die wag vir Israel gemaak”

Esegiël word herinner aan sy eie persoonlike verantwoordelikheid om as wag vir die volk op te tree, soos die Here dit in hfst. 3 uitgespel het.  Dit is ‘n dure verantwoordelikheid wat uitgevoer moet word onafhanklik van die volk se reaksie.  As hulle luister na hom het sy waarskuwing sy doel gedien.  As hulle nie luister nie, is dit hulle eie verantwoordelikheid.  Esegiël word dus nie beoordeel aan die hand van hulle gehoorsaamheid al dan nie, net aan sy eie gehoorsaamheid al dan nie.

33:10-20 – “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie”

Vers 10 getuig van die eerste positiewe reaksie onder die volk in ballingskap op die boodskap van Esegiël.  Dit lyk op die oog af asof daar ‘n kentering by hulle gekom het en hulle verantwoordelikheid begin neem vir wat gebeur het: “Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?” (33:10).  Hulle blameer nie meer hulle ouers soos dit nog die geval was in hfst. 18 nie.

Hierdie woorde ontlok die baie positiewe reaksie van die Here waarin Hy bevestig dat die doel van alles wat Hy doen in, onder en aan die volk van God, gemik is op verandering en bekering.  Daarmee word die karakter van die Here as ‘n deernisvolle, genadige God onomwonde bevestig: “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe.”  Dit is wie God is, selfs en veral in sy oordeel.  Daarop kan ‘n mens staatmaak, soos dit trouens regdeur die boodskap van Esegiël die geval is.

Daarom word die volk opgeroep om die daad by die woord te voeg en hulle te bekeer van hulle bose optrede.  Hulle goeie of slegte dade in die verlede is van minder belang as hulle gehoorsaamheid in die hede, hier uitgespel as beide sosiale en geestelike geregtigheid: die doen van wat reg is, die teruggee van goed wat as waarborg vir skuld geneem is,  sowel as die leef volgens God se voorskrifte “wat lewe gee” (33:14-15).  Soos Peterson die laaste frase vertaal: “cultivating life-nourishing ways that don’t hurt others.”  (The Message).  Sulke optredes sal wys dat die bekering eg was en is.

Die volk word dus opgeroep om nooit op hulle louere te rus in terme van hulle gehoorsaamheid van die verlede nie.  Die verbintenis aan die Here moet in die hede uitgeleef word.  Netso moet hulle nie hulleself verknies oor dinge wat in die verlede verkeerd gegaan het nie.  “Every man has his chance and every man must act according to God’s word to him.” (Taylor).

Hoewel die skuld egter nie meer op die ouers gepak word nie, was daar tóg sommige wat nog die Here blameer het, soos Esegiël dit opteken: “Die Here tree nie reg op nie.” (33:17).  Daarop reageer die Here met ‘n eenvoudige regstelling waarin sy regverdigheid beklemtoon word: “Ek sal elke mens onder julle oordeel volgens sy doen en late.” (33:20).  Daarop kan hulle staatmaak.

Boodskap

Dit is wonderlik om te sien dat daar stadigaan verandering by die gemeenskap in ballingskap kom.  Dit is nog wonderliker om in die Here se positiewe reaksie daarop te sien dat dit na alles presies is hoe God nog altyd was en altyd sal wees.  Hy is deernisvol en genadig.  Hy soek nie mense se dood nie, selfs nie sondaars s’n nie.  “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe.

Ek hou besonder baie van die manier waarop Peterson ons verantwoordelikheid uitspel: “cultivating life-nourishing ways that don’t hurt others.”  (The Message).  Dit is wat dit beteken om te  leef volgens God se voorskrifte.  Dit is gemik op ‘n lewenstyl: “wat lewe gee” (33:14-15).  Daaraan kan ‘n mens mos jou lewe wy!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda