Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel

Esegiël vervolg met twee treurliedere oor die konings van Israel. In die eerste verwys hy na die onverkwiklike regering van twee van die onlangse konings van Juda: Joahas en Jojakim. Hulle koningskap is onderskeidelik deur Egipte en Babel beëindig. In die tweede verwys hy na die soortgelyke onverkwiklike regering van die huidige koning van Juda: Sedekia. Sy koningskap sou deur die Galdeërs van Babel onder leiding van Nebukadnesar beëindig word.
Tog hoor ‘n mens geen leedvermaak in die beskrywing van hulle termyne nie. Al het die konings onder die oordeel van die Here gestaan weens hulle ongehoorsaamheid aan Hom, bly die toedrag van sake tragies. Dit is ‘n klad op die naam van die volk van Juda. Trouens, hierdie woord van die Here is twee treurliedere wat bedoel was om gesing te word. Vandaar die beeldende metafore van ‘n leeuwyfie en haar welpies, en ‘n wingerstok met haar sterk lote wat die lot van hierdie konings beskryf.
19:1-9 – Treurlied oor Joahas en Jojakim
Die eerste treurlied gebruik die metafoor van ‘n leeuwyfie wat ‘n klomp jong welpies grootgemaak het. Die simbool van Juda was immers ‘n leeu (Gen. 49:9). Twee van die jong leeus het mensvreters geword het wat daarom deur die nasies, Egipte en Babel, gevang en weggevoer is – 19:1-9. Die leeuwyfie staan vir die volk Israel, en die twee mensvreters kan verbind word met koning Joahas en koning Jojakim.
Joahas was die 21ste koning van Juda, Sy verhaal word vir ons in 2 Kronieke 36 vertel. Die burgers van die land het Joahas koning gemaak om sy pa Josia op te volg op die jeugdige ouderdom van 23. Hy is gebore vir Josia toe dié net 16 jaar oud was. Jeremia noem hom Sallum (Jer. 22:11). Hy was die 4de oudste van Josia se kinders met Joganan, Jojakim en Sedekia ouer as hy (1 Kron. 3:15).
Joahas het egter nie veel tyd vir regeer nie en word na net 3 maande deur die koning van Egipte, Neko, afgesit en na Egipte weggevoer (“met hake na Egipte toe gesleep” – 19:4), waarskynlik as straf vir die koppige dwaasheid van Josia wat in die konflik met Neko gesterf het. Die Kronis gee geen beoordeling van sy regering nie, hoewel Konings vermeld dat hy die Here nie gedien het nie en in Egipte gesterf het (2 Kon. 23:30-34), soos Jeremia ook voorspel het (Jer. 22:11-12).
Jojakim was die 22ste koning van Juda. Sy regte naam was Eljakim. Hy was eintlik Joahas se ouer broer, en word op 25 jarige ouderdom as koning aangestel deur die Egiptiese koning. Sy naam word na Jojakim verander om duidelik aan die volk te kommunikeer dat Juda nou onderdanig is aan Egipte.
Hoewel hy 11 jaar in Jerusalem regeer, staan sy regering volledig in die teken van die afvalligheid van sy voorsate. Die Kronis gee nie enige detail nie, maar verkwalik Jojakim vir die “afskuwelike dinge” wat hy sou gedoen het. Konings wyt die opeenvolgende konflikte wat Juda beleef aan die sonde van Manasse wat nog ’n groot invloed in die land gehad het, veral weens die onskuldige bloed wat in die land vergiet is (2 Kon. 24:4).
Jeremia brei uitvoerig daarop uit en wys dat Jojakim kwistig daaraan meegedoen het: hy het sy huis met onreg gebou, sy mense sonder betaling laat werk, nie die saak van die swakke en arme behartig (soos sy pa Josia) nie, homself verryk ten koste van ander en (soos sy grootjie Manasse) mense onskuldig laat doodmaak (Jer. 22:13-19). Jeremia het nog baie ander materiaal oor Jojakim wat jy gerus kan lees vir ’n meer volledige prentjie van die regeringstyd van Jojakim: Jeremia 25 – Die ballingskap sal sewentig jaar duur; Jeremia 26 – Jerusalem sal soos Silo verwoes word; Jeremia 36 – Jojakim verbrand Jeremia se boekrol
Jeremia se oordeel oor Jojakim is: “Hy sal soos ’n donkie begrawe word: hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.” (Jer. 22:19). Soos Esegiël hier oor hom skryf: “Hulle het hom in ‘n hok gesit en hom met hake na die koning van Babel toe gesleep.” (19:9).
Die Kronis sluit hierby aan en sê dat Jojakim met bronskettings geboei is om na Babel weggevoer te word, hoewel geleerdes verskil oor die uitkoms hiervan. Die Hebreeus kan verstaan word asof Jojakim geboei is om weggevoer te word, maar dat die uitkoms daarvan oopgelaat word: “geboei met bronskettings om na Babel toe te vat …” Dit kan dus beteken dat hy nooit daar uitgekom het nie.
Hoe dit ook al sy, dit gebeur in 597 v.C. en Jerusalem word vir die eerste keer ingeneem deur koning Nebukadnesar van Babel – volgens Konings, weens Jojakim se opstand teen Nebukadnesar na ’n tydperk van 3 jaar se onderdanigheid (2 Kon. 24:1). Die tempel word geplunder en Jojakim se regering op 36 jarige ouderdom beëindig.
19:10-14 – Treurlied oor Sedekia
Die tweede treurlied gebruik die metafoor van ‘n wingerdstok met sterk lote wat uitgeruk en verbrand is. Nou kan die wingerdstok geen sterk lote meer lewer wat as koninklike nasate kan dien nie – 19:10-14. Die wingerdstok kan op soortgelyke wyse met die volk Israel en die komende ballingskap van koning Sedekia verbind word.
Sedekia, Joahas se jongste broer en oom van Jojagin (maar omtrent dieselfde ouderdom) word op 21 jarige ouderdom koning, die laaste koning van Juda. Sy naam was eintlik Mattanja (2 Kon. 24:17), maar is deur Nebukadnesar verander na Sedekia om die feit van Juda se onderdanigheid te onderstreep.
Hy regeer 11 jaar tot en met die ballingskap in 586 v.C. toe Nebukadnesar finaal vir Jerusalem en Juda in ballingskap weggevoer het. Volgens die oordeel van Kronieke was Sedekia ’n slegte koning wat nie net gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here sy God nie, maar spesifiek ook nie geluister het na die profeet Jeremia nie, toe dié op bevel van die Here na hom gestuur is nie.
Sy gebrek aan berou teenoor die Here (“Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer”) word geëggo in sy verset teen Nebukadnesar, aan wie hy “voor God trou gesweer het”, waarskynlik in die tempel, waarvoor hy die prys betaal om nie net in ballingskap weggevoer te word nie, maar ook die vernedering te moet ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag is, sý oë daarna uitgesteek is en hy oneer in ballingskap in Babel dood is (2 Kon. 25:6-7; Jer. 52:10-11). ’n Grillerige gru-verhaal!
Die leiers van die priesters en die volk het hom nagevolg en die tempel ontwy met hulle afgodsdiens, die boodskappers van die Here, soos Jeremia, uitgelag, God se woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here onherroeplik oor sy volk losgebreek het. Baie mense het hulle lewens verloor met die laaste veldtog van Nebukadnesar en is saam met die laaste skatte van die tempel na Babel weggevoer. Die pragtige tempel van Salomo is afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles van waarde verwoes.
Die Kronis wyt dié ontsetting van die ballingskap aan die konsep van ’n sabbatsjaar waarin die land as’t ware kon braak lê om te vergoed vir die ongehoorsaamheid oor die loop van 5 eeue, wat ’n hele sewentig jaar lank sou duur.
In 2 Konings 24:18-25:21 en Jeremia 52:1-30 word die verhaal van Sedekia met meer detail vertel. In Jeremia word nóg meer detail oor die regering van Sedekia gegee: Jeremia 21 – Ek het besluit om hierdie stad nie te spaar nie; Jeremia 24 – Die ballinge van Juda is goeie vye; Jeremia 27 – Ek gee al die lande in die mag van Nebukadnesar; Jeremia 28 – Die Here vee Gananja van die aarde af weg; Jeremia 29 – Ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie; Jeremia 32 – Daar sal weer huise, grond en wingerde in hierdie land gekoop word; Jeremia 33 – Ek sal die lot van Juda, Israel en Jerusalem verander; Jeremia 34 – Koning Sedekia en die volk sal verwoes word omdat hulle van gedagte verander het; Jeremia 37 – Die Galdeërs sal Jerusalem verbrand; Jeremia 38 – Jeremia ly in die put totdat Sedekia hom raadpleeg.
Boodskap
Dit is ‘n treurlied oor die konings van Juda. Daar is geen leedvermaak, net die afgryse en hartseer oor die verydeling van jong leeus wat mensvreters geword het en ‘n wingerdstok met sterk lote wat uitgeruk, uitgedor en verbrand is. Die hoop op goeie leierskap het gefaal. Die laaste konings van Juda vóór die ballingskap het die volk en die land in die afgrond in bestuur. Dit is om van te huil.
Esegiël leer ons hiermee dat daar nie net vingers gewys moet word as dinge in ‘n land en regering misluk en leiers met dwase keuses daartoe bygedra het nie. Daar moet doelbewus daaroor getreur word. Die Here se aangesig moet daaroor gesoek word en vir sy ingrype gebid word. Jesus het nie verniet gesê: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matt. 5:4).
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL - Apr 10, 2015
- Inleiding op Esegiël - Apr 13, 2015
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C. - Apr 16, 2015
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem - Apr 21, 2015
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel” - Apr 23, 2015
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land - Apr 24, 2015
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C. - Apr 27, 2015
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur - May 1, 2015
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete - May 4, 2015
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie - May 5, 2015
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word - May 6, 2015
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word - May 11, 2015
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit - May 12, 2015
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem - May 15, 2015
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel - May 16, 2015
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C. - May 23, 2015
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom - May 25, 2015
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”! - May 28, 2015
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop - May 30, 2015
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C. - Jun 1, 2015
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne - Jun 2, 2015
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C. - Jun 9, 2015
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie - Jun 20, 2015
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel - Jun 21, 2015
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder - Jul 28, 2015
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel” - Jul 29, 2015
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself - Jul 30, 2015
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel - Aug 10, 2015
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk - Aug 11, 2015
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel - Aug 12, 2015
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C. - Aug 13, 2015
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel - Aug 17, 2015
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit - Aug 18, 2015
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land - Aug 19, 2015