Skip to main content

Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C.

Met dank aan Logos Bible Software Infographics
Met dank aan Logos Bible Software Infographics

Die mag van die Here neem van Esegiël besit en bring hom in ‘n gesig na die land Israel toe.  Dit is eksegeties van belang dat dit nie na Jerusalem toe is nie, anders as wat dit in die NAV vertaal is.  Die OAV vertaal vers 2 korrek soos dit in die grondteks lui: “In gesigte van God het Hy my in die land van Israel gebring en my neergesit op ’n baie hoë berg, en daarop iets wat soos ’n stad gebou was, teen die suide.”  Trouens die naam Jerusalem kom glad nie voor in hoofstukke 40-48 nie.   Daar word net generies na “stad” verwys, hoewel ‘n mens agterkom uit hfst. 43:3 dat hierdie stad wel met Jerusalem verbind word.

Dit laat ‘n mens onmiddellik besef dat hier iets meer aan die gang is as dat die ou bedeling vóór die ballingskap net maar voortgesit sal word ná die ballingskap.  Dit fokus ook die aandag daarop dat die nuwe tempel die simbool van God se teenwoordigheid gaan raak.  God gaan die sentrum van alles word, ook van die stad.

Esegiël word dus in die visioen op ‘n hoë berg neergesit waarop daar aan die suidekant geboue is wat vir hom lyk asof dit ‘n stad se geboue is, maar met sy nader beweeg daarnatoe blyk die nuwe tempel te wees (vgl. Jes. 2:2 vir dieselfde visie in my bydrae: Jesaja 2 – geroep as ontmoetingsplek vir die nasies met God).  Dit is ook van belang dat die tempel in die gesig klaar gebou is, en daar geen opdrag is dat hierdie tempel as sodanig herbou moet word nie.

By die ingang na die tempel sien Esegiël ‘n man wat gelyk het asof hy van brons is, d.w.s. ‘n bo-natuurlike wese.  Hy het twee maatstokke gehad: ‘n linnetou, waarskynlik vir korter mates, hoewel dit lyk asof hy dit nooit gebruik nie, en ‘n meetstok vir langer mates, laasgenoemde drie meter lank (eintlik 3.15 meter lank).

Esegiël kry van dié man die opdrag om baie goed te kyk en fyn te luister, want hy moet hierdie boodskap aan Israel gaan oordra (40:4).  Later sal dit nog helderder uitgespel word dat dié visioen bedoel is:

  1. om Israel eerstens te laat skaam kry oor hulle oortredings, sodat hulle nie langer afgodery sal bedryf nie, en die konings sal toelaat om met hulle afskuwelike optrede die Naam van die Here oneer aan te doen nie (43:10);
  2. dat tweedens die gewydheid van die plek en die wonder van God se teenwoordigheid daar, hulle lewe sal struktureer: “Jy moet dit voor hulle oë neerskryf, sodat hulle die hele uitleg van die tempel en al die voorskrifte wat vir hom geld, in ag kan neem, en daarvolgens kan optree.” (43:11). Alles moet om God draai en aan Hom gewy wees: “Dit, en niks minder nie, is die reëling in verband met die tempel.” (43:12).

Hierna word die tempel beskryf aan die hand van die man met die meetstok se begeleide toer daardeur.

  • Let op hoe simmetries alles gebou is, bv. die vierkantige mure reg rondom van 250 meter elk. Dit dui waarskynlik op die volmaakte plan wat God vir sy mense het.
  • Let op dat geen boumateriaal voorgeskryf word nie, net die mates en oppervlaktes word beskryf. Dit maak ‘n mens bedag daarop dat die simboliek belangriker is as die fisiese beskrywing.
  • Let veral op dat die tempel hierdie keer die paleis uitsluit, anders as in die tyd van Salomo. Dit was juis die beswaar van die Here dat die konings teenoor Hom oortree het deurdat hulle: “hulle paleis se drumpel en deurkosyn teenaan my huis s’n gesit het, sodat daar net ‘n muur tussen ons was en hulle my heilige Naam oneer aangedoen het met hulle afskuwelike optrede.” (43:8).  Koningskap word dus heeltemal anders gedefinieer in die bedeling ná die ballingskap.
  • Let ook op dat daar sekere elemente van die vorige tempel afwesig is: die verbondsark, die waskomme, die lampstaanders, en die toonbrode. Daar is nog steeds voorsiening vir aanbidding (brandoffers en graanoffers) en vergifnis (sondeoffers en skuldoffers), maar die fokus is op ‘n lewe voor God se aangesig.  En onthou, in die nuwe Jerusalem is daar geen tempel nie, net die Here self: “’n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.”  (Openb. 21:22)!

Dit help baie om aan die hand van ‘n kaart hierdie drie hoofstukke te lees.  Dit help ook baie om dié tempel van Esegiël te vergelyk met die tabernakel, Salomo se tempel, en Herodes se herbouing daarvan.  Hier is vier kaarte van elke aanbiddingsruimte sowel as twee kaarte wat die onderskeie groottes met mekaar vergelyk.  (met dank aan Lexham Press, 2009. Logos Bible Software Infographics, Bellingham, WA: Lexham Press).

Esegiël se tempel is beduidend groter as enige van die ander drie.  Terloops, die hemelse stad Jerusalem verdwerg op sy beurt hierdie tempels.  Dit is 144 000 000 000 000 m2 (144 biljoen m2) of te wel 144 000 000 km2 (144 miljoen km2) in oppervlak (as my somme sin maak!).

 Tabernakel-Logos Salomo-tempel-Logos Herodes-tempel-Logos
 Esegiel-tempel-Logos Tempelgrootte-vergelyking-Logos Tempelgrootte-vergelyking1-Logos

Ek gaan dit dus kortliks hier beskrywe, maar volg dit gerus op die kaarte:

  • Die toer begin met die muur rondom die tempelgeboue – 40:5;
  • Hulle gaan die oospoort binne met ‘n beskrywing van die vertrekke wat deel is daarvan – 40:6-16;
  • Hulle gaan die buitenste voorhof binne met sy dertig vertrekke – 40:17-19;
  • Hulle bekyk die buitenste noordpoort met sy geboue – 40:20-23;
  • Hulle bekyk die buitenste suidpoort met sy geboue – 40:24-27;
  • Hulle bekyk die binneste suidpoort met sy geboue – 40:28-31;
  • Hulle bekyk die binneste oospoort met sy geboue – 40:32-34;
  • Hulle bekyk die binneste noordpoort met sy geboue – 40:35-37;
  • Hulle kyk na die tafels vir die voorbereiding van die offers wat die brandoffer (‘n vleis-geskenk aan God, as blyke van aanbidding, wat heeltemal verbrand is), sondeoffer (vir onbedoelde sondes) en skuldoffers (vir sondes wat skade berokken het) insluit – 40:38-43;
  • Hulle kyk na die kwartiere van die tempelpersoneel wat die diens aan die Here verrig – 40:44-46;
  • Hulle bekyk die binneste voorhof en die tempelgebou self (uiteraard aan die westekant van die kompleks sonder enige buitenste poort), die langste beskrywing, wat die Allerheiligste insluit, met sy tempelpleine en kamers rondom, die mure wat met gerubs en palmversierings mooi gemaak is, die hout-altaar wat as “die tafel wat in die teenwoordigheid van die Here staan” beskryf word en die eetplek van die priesters wat aan die Here die besondere gewyde offers bring, die graanoffer (soortgelyk aan die brandoffer, ‘n graan-geskenk aan God, as blyke van aanbidding, waarvan net ‘n deel verbrand is, die res was vir die priesters), sondeoffer (vir onbedoelde sondes) en skuldoffer (vir sondes wat skade berokken het) – 40:47-42:14;
  • Hulle bekyk weer van die oostekant af die vier mure reg rondom die tempelgebou wat die grens tussen die gewyde gebied en die wêreld daarbuite vorm – elke muur was 250 meter lank, ‘n gebied dus van 62 500 m242:15-20.

Boodskap

Wat my tref van hierdie gesig van Esegiël is dat die wonder van God se teenwoordigheid die Godsvolk se lewe sal struktureer.  Alles moet om God draai en aan Hom gewy wees, tot op die laaste detail daarvan. Hy verskaf immers aan Esegiël die gesig van hierdie tempel, en verwag dat die volk Hom op dieselfde gewyde en presiese wyse sal dien.  Vanuit hierdie tempel sal die stroom van lewende water aan alles die lewe gee.

Dit raak my ook dat Esegiël op twee aspekte van hierdie verhouding met God uitbrei.  Dit is in aanbidding (brandoffers/graanoffers) en vergifnis (sondeoffers/skuldoffers) wat die lewe vir ons opgesluit lê. Die fokus van ons hele lewe moet dus op ‘n lewe voor God se aangesig gerig wees.  Ons moet aan Hom toegewy lewe.  Selfs wanneer ons sonde of skuld het, want Hy het ook daarvoor oorvloedig voorsien.  Niks minder as dit sal deug nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar