Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie
Die volgende woord van die Here is indirek gerig aan die leiers van Israel onder die ballinge wat na Esegiël toe gekom het en voor hom gaan sit het om die Here te raadpleeg. Die Here praat in respons daarop eintlik met Esegiël en waarsku hom om nie namens dié leiers met God te praat nie, want die Here sal nie en wil nie na hulle luister nie, weens hulle afgodediens.
Die hoofstuk is in drie dele opgedeel:
- 14:1-11 – Moet My nie raadpleeg namens die afvallige leiers nie
- 14:12-20 – Die drie groot voorbidders van ouds sou nie die oordeel kon afwend nie
- 14:21-23 – Die lot van die oorblyfsel sal begrip bring dat die ballingskap hulle verdiende loon was
14:1-11 – Moet My nie raadpleeg namens die leiers nie
Dit is duidelik dat die leiers wel die woorde van die Here van waarde geag het, soos hulle ook al voorheen gedoen het (Eseg. 8). Maar, die probleem was dat hulle nie na die Here alleen geluister het nie. Hulle het ook na die afgode geluister, soos die Here dit in hierdie gedeelte aan Esegiël openbaar. Meer nog, hulle het nie uitgevoer wat die Here vir hulle gesê het nie, maar eerder wat hulle via die afgode wys geword het.
Daarom, voordat Esegiël namens hulle die Here kan raadpleeg, vra die Here vir Esegiël ‘n vraag, is dit dan die moeite werd dat Ek met hulle praat, as hulle in elk geval nie gaan luister na wat Ek sê nie?! En God antwoord sy eie vraag – dit is nie! God sal wel in die enigste taal wat hulle verstaan met hulle praat, en dit is die straf van die verbond, dié verbond wat hulle verbreek het. God sal Israel sy: “harde hand laat voel.” As die leiers iets van God wil hoor, moet hulle tot bekering kom en hulle afgode laat staan (14:6).
Dit is só belangrike woord van die Here dat vers 3-6 herhaal en uitgebrei word in vers 7-11. Die eerste woord is gerig aan die leiers en die tweede aan die gewone mense, selfs aan die vreemdelinge wat onder Israel woon. God wil alleen aanbid en geraadpleeg word, nie in tandem met afgode nie. God raak sulke afvalige mense se teenstander en maak van hulle voorbeelde van sy spottende straf. Só sal hulle steeds besef dat die Here God is, al is dit dan deur middel van sy oordeel.
Dit is ontstellend om te lees dat só ‘n situasie selfs gevaarlik raak vir die profeet wat probeer om ‘n antwoord te gee. Die Here sal antwoord, maar die profeet sal dit ook ontgeld, omdat hy of sy in die eerste plek moes geweet het dat mense wat met afgode heul nie die guns van die Here sal geniet nie.
14:12-20 – Die drie groot voorbidders van ouds sou nie die oordeel kon afwend nie
Die Here onderstreep die boodskap in vers 12-20, wat in wese aan Esegiël self gerig is, deur te verwys na ‘n hipotesiese situasie waar Hy ‘n land oordeel weens hulle sonde en troueloosheid. Selfs die grootste voorbidders sal dan nie slaag om vir die land in te tree nie.
Die name van drie manne van ouds word genoem: Noag, Daniël en Job, mense wat volgens God se wil geleef het, maar wat in só ‘n situasie net hulleself in die lewe sou kon hou deur hulle gebed. Vier keer word met verskillende voorbeelde die punt onderstreep (vgl. Jer. 15:1 waar op soortgelyke wyse Jeremia se voorbidding vir die volk afgewys word en die Here sê dat selfs die groot voorbidders, Moses en Samuel, se gebede nie verandering sou kon bring nie). Hulle voorbidding sou net vir hulleself kon help. Selfs hulle kinders sou dit moes ontgeld, wat nog te sê van die ander lede van die volk nie.
Dit is ‘n versoberende gedagte. Soms raak dinge só sleg dat voorbidding nie meer help nie. Noag kon nog sy kinders deur die vloed bewaar weens die beskermende hand van die Here (Gen. 6-9). Só ook Job aan die begin van sy verhaal wat vir sy kinders weens hulle partytjies by God ingetree het in die hoop dat die Here hulle sal vergewe (Job 1:5 – “Job het dit elke keer gedoen.”!).
Maar, in lyn met wat die Here hier vir Esegiël sê, toe die Here alles van Job, behalwe sy lewe, aan die Satan oorgegee het, het selfs sy kinders dit nie gemaak nie (Job. 1:19 – “Meteens het daar ‘n sterk wind van die woestyn se kant af opgesteek en die huis van al vier kante af op u kinders omgewaai. Almal is dood.”). Hoewel Job aan die einde van die verhaal weer sewe seuns en drie dogters gekry het (Job 42:13), moes hy die wroeging van die dood deurworstel. Sy vroomheid (geregtigheid) kon hom nie die leed van die dood spaar nie.
Die Daniël wat hier genoem word, is waarskynlik nie dieselfde persoon as die een van die boek Daniël nie, omdat die spelling van die naam in die oorspronklike teks van Esegiël verskil van dié in die boek Daniël. Esegiël gebruik die spelling Danel (דָּנִאֵל) i.p.v. die spelling in die boek Daniël van Daniël (דָּנִיאֵל). Die Masorete wat vir die OT teks se oorlewering en ook vokalisering verantwoordelik was, het wel die Esegiël teks (die sogenaamde ketiv lesing – dit wat geskryf is) verander na Daniël (die sogenaamde qere lesing – dit wat gelees moet word) en daarmee waarskynlik aangedui dat Esegiël na Daniël in die boek Daniël verwys. Daarom word dit ook in die Afrikaanse vertaling as Daniël aangedui.
Esegiël verwys egter moontlik eerder na Danel, die skoonpa van Henog in die pseudepigrafiese werk Jubileum (Jub. 4:20 – wat as kanonieke teks in die Etiopiese Ortodokse kerk erken word). Daar is ook ’n Danel bekend uit die Ugaritiese Aqhat epos wat as ’n goeie regter bekend gestaan het vir wie die saak van weduwees en wese na aan die hart gelê het. Hierdie twee persone sal goed in pas in die boodskap wat Esegiël hier wil oordra.
Terloops, daar sal nog ‘n keer na hierdie Daniël verwys word. Esegiël praat van sy groot wysheid in ’n gedeelte waar die regeerder van Tirus verkwalik word dat sy eie wysheid na sy kop toe gegaan het en hy hom teen God verset het (Eseg. 28:3). Daaroor later.
14:21-23 – Die lot van die oorblyfsel sal begrip bring dat die ballingskap hulle verdiende loon was
Die Here belowe egter steeds dat die insig van wat besig is om te gebeur sal opdaag, ook vir die leiers in ballingskap. Die oorblyfsel wat uiteindelik in Babel sal opdaag ná die val van Jerusalem, sal begrip bring dat wat die Here gedoen het, die Israeliete se verdiende loon was.
Boodskap
Dit is inderdaad versoberend om hier te leer dat voorbidding nie altyd help nie. Dit is veral in situasies waar die Here naas ander afgode gedien word, waar mense weier om tot bekering te kom, dat Hy mense oorlaat aan hulle eie dwaasheid. Geen voorbidder kan dié gevolge van ‘n gebrek aan bekering voorkom nie.
Dit is waarom dit só belangrik is om die boodskap van bekering aan te gryp terwyl die tyd van genade nog daar is. En die profete van die Here, wat eintlik maar elkeen van ons is wat die Here ken, moet as wagte optree om afvallige mense te waarsku en aan te moedig om die genadetyd wat die Here gee, in volle oorgawe aan te gryp.
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL
- Inleiding op Esegiël
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C.
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel”
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C.
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C.
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”!
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C.
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C.
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel”
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C.
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land
Tags: Esegiël
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus