Skip to main content

Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

In drie perikope word die nabye oordeel oor Juda en Jerusalem verder uitgespel.

  • In die eerste perikoop word die metafoor van ‘n bosbrand gebruik – 20:45-49. Esegiël vra egter dat die Here duideliker moet praat, want die mense sê hy praat in raaisels. Soos Peterson dit vertaal: “‘He just makes up stories.
  • In die tweede perikoop word die metafoor van ‘n swaard gebruik – 21:1-17. Dit is ontstellend dat almal wat leef daardeur getref word, “dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen.” Geen wonder dat Esegiël in opdrag van die Here hieroor bitterlik moet kreun nie. Dié slagting sal eers bedaar as die Here sy hande inmekaar slaan en sy toorn tot bedaring bring.
  • Die derde perikoop identifiseer die koning van Babel as die swaard van die Here wat die leiers sowel as die volk gaan straf weens hulle opstandigheid – 21:18-27.

20:45-49 – Die Here steek die volk aan die brand soos in ‘n bosbrand

Die Here gebruik die metafoor van ‘n bosbrand om die vuur wat Hy gaan aansteek in Israel te beskrywe: “Al wat leef, sal sien dat Ek, die Here, die vuur aangesteek het. Dit sal nie geblus word nie.” In vers 46 word eintlik drie verskillende woorde vir suide gebruik: temânâ, dârôm, nêgêv. Sommige geleerdes probeer dit geografies identifiseer, maar in die lig van die verklarende metafoor wat in die volgende perikoop gebruik word, dui aldrie dié woorde op Juda en Jerusalem.

Esegiël vra juis dat die Here duideliker moet praat, want die mense sê hy praat in raaisels. Soos Peterson dit vertaal: “‘He just makes up stories.” (The Message).

21:1-17 – Die Here bring die swaard teen almal wat leef, dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen

Die Here gebruik daarom op versoek van Esegiël ‘n duideliker metafoor in die volgende perikoop, dié van ‘n swaard, een wat nog verder in die derde perikoop met Babel geïdentifiseer sal word. Dit is gerig teen die “heiligdomme”, die “land Israel”, en “al wat leef”, die “koninklike septer” inkluis.

Dit is ontstellend dat almal wat leef daardeur getref word:“dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen.” Dit blyk ook oënskynlik in teëspraak te wees met die onderskeid wat die Here tóg tref tussen regverdiges en goddeloses in vorige uitsprake in Esegiël, soos trouens in Psalm 1 ook. Vgl. Eseg. 9:4 waar ‘n merk op die voorkop gemaak word van almal “wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.” Die Here het immers ook net tevore gesê dat iemand wat leef volgens sy wil: “sal bly lewe.” (Eseg. 18:9).

Een manier om sin te maak tussen dié twee gedagterigtings, is om Eseg. 21 as retoriese en hiperboliese uitsprake te neem wat enige moontlike gedagte dat die oordeel afgewend sal kan word, in die kiem moet smoor. Die Here stuur sy swaard en dit gaan ‘n slagting aanrig onder alle mense. Niemand gaan ontkom nie, sodat almal kan weet die Here is ernstig. Peterson vertaal vers 4 en 5 daarom as volg: “Because I’m treating everyone the same, good and bad, everyone from south to north is going to feel my sword! Everyone will know that I mean business.” (The Message).

Geen wonder dat Esegiël in opdrag van die Here hieroor bitterlik moet kreun nie en sy hande van ontsteltenis teen sy heupe moet slaan nie. Hy moet voor die oë van die ballinge ‘n ineenstorting kry om die grusaamheid van die gebeure te vertolk vir sy mense: “Elke hart sal verstyf van angs, al die hande sal slap hang, almal sal moed verloor, water sal teen al die knieë afloop”.

Die verwysing na die koninklike septer in vers 10 en 13 is moeilik om te verstaan omdat die teks op verskillende maniere vertaal kan word. Die betekenis is waarskynlik dat die koninklike septer – Sedekia, koning van Juda – die swaard – Nebukadnesar, koning van Babel – verontagsaam het, en daarom uitgewis sal word. Kortom: Sedekia sal dit nie maak teen Nebukadnesar nie.   Die NIV vertaal daarom die relevante gedeeltes in vers 10 en 13 as volg: “Shall we rejoice in the scepter of my son Judah? The sword despises every such stick.” En: “And what if the scepter of Judah, which the sword despises, does not continue?

Die vuurproef is daar.” Dié slagting sal immers eers bedaar as die Here self sy “hande inmekaar slaan” en sy “toorn tot bedaring bring”. Ontstellende en ontwrigtende woorde.

21:18-27 – Die Here bring die koning van Babel teen Juda en Jerusalem as straf vir hulle opstandigheid

Die derde perikoop identifiseer nou helder en duidelik die koning van Babel as die swaard van die Here wat die leiers sowel as die volk gaan straf weens hulle opstandigheid.

Esegiël maak twee paaie vir Nebukadesar, waarskynlik weer as ‘n model soos tevore in hfst. 4. Die een lei na Rabba van die Ammoniete (die volgende profesie handel oor hulle), die ander na Jerusalem. By die vurk in die pad, laat hy die koning kies om Jerusalem aan te val, nadat Esegiël sy onderskeidingsmetode met drie bekende praktyke illustreer: die skud van pyle, die raadpleging van afgodsbeeldjies, en die lees van ‘n dier se lewer. Die name van Rabba en Jerusalem is waarskynlik op pyle geskryf, en dan in ‘n pylekoker geskud, waarna een uitgetrek is.

Belangrik: “Die teken wat hy gesoek het, kom in sy regterhand: Jerusalem!” Die koning wou dus in elk geval Jerusalem straf vir hulle dislojaliteit, en die wiggelary (divination) was maar net ‘n rookskerm. Wiggelary en verwante maniere om God se wil te onderskei, was immers iets wat streng deur die wet verbied is (Deut. 18:9-14). Esegiël wys dus op subtiele wyse dat Nebukadnesar eintlik net sal doen wat hy in elk geval wou!

Juda, Jerusalem en die “regeerder van Israel” – Sedekia – is dus aan die kaak gestel en sal aangeval word. Deur hulle goddeloosheid sal hulle sterwe op dié dag van afrekening. Spottenderwys word die koning aangeraai om sy tulband en kroon af te haal: “Niks bly soos dit is nie; wat onder is, moet op, en wat bo is, moet af. Puin, puin, puin maak Ek dit!

Boodskap

Selfs wanneer ‘n mens aanvaar dat die Here as’t ware oorboord gaan in sy beskrywing van die onafwendbare allesomvattende oordeel, bly dit ‘n moeilike verteerbare gedagte. Dat die oordeel:“dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen,” tref, druis in teen ons sin vir regverdigheid.

Twee gedagtes help my sin maak hiervan:

  • Die Here eis onverdeelde trou aan Homself. Opstandigheid en verset laat God se toorn ontvlam en noodsaak regstelling en die strawwe van sy verbond. Dit tref daarom selfs mense wat reg doen, nie net in die soort van kruisvuur van die oorlog teen goddeloosheid nie, maar ook omdat daar niemand is wat uiteindelik op ‘n totale blaamlose en volledig skuldvrye lewe kan aanspraak maak nie. “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.” (Rom. 3:23). Dit sluit my ook in.
  • Die Here straf uiteindelik die enigste volledige Regverdige wat ooit gelewe, sy Seun, Jesus Christus. Die wonder daarvan is dat elkeen wat hierdie Regverdige Here noem, sal gered word van God se oordeel. “Maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus … Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.” (Rom. 3:24-26). God se oordeel kan dus slegs afgewend word deur die verlossende dood van die Messias.

Alles is immers genade. Niks is verdienste nie. Nie nou nie, en ook nie in Esegiël se tyd nie. En dit is ‘n boodskap wat ons ter harte moet neem.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders