Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem
Die Here gee in dieselfde jaar, 593 v.C., vir Esegiël die opdrag om vyf simboliese aksies uit te voer (4:1-5:4). Die vyf aksies dra die boodskap van die dreigende ballingskap van Jerusalem wat nie net groot nood vir hulle sal bring nie, maar afstand tussen hulle en God sal bring. Hy sal nie meer na hulle hulpgeroep luister nie. Die Here lê dan dié simboliese aksies verder uit as sy woorde van oordeel téén die volk (5:5-17). Hulle het sy voorskrifte nie nagekom nie, sy heiligdom met al hulle afskuwelikhede verontreinig, en sy naam onder die ander volke in diskrediet gebring. God tree dus teen hulle op. Daar is geen omkeer meer moontlik nie. Let ook op dat dié optrede as ‘n waarskuwing en afskrikmiddel vir die nasies bedoel word. God eis onverdeelde trou aan Homself.
4:1-5:4 – Jerusalem sal beleër en in ballingskap weggvoer word
Die vyf simboliese aksies word almal in die huis van Esegiël uitgevoer, maar só dat die res van die mense in ballingskap dit kon sien. Dit is amper soos ‘n “huisteater” wat die profetiese boodskap van die Here vir die volk opvoer. Veral die derde simboliese aksie het lank geduur, meer as ‘n jaar lank. Vandaar dat die volgende gedateerde profesieë in hfst. 8 twee jaar ná die eerste visioen van Esegiël gedateer is.

1. Die eerste simboliese aksie behels ‘n baksteen wat Esegiël voor hom neer sit en die stad Jerusalem daarop teken. Daar rondom plaas hy ‘n beleëringswal, ‘n kamp en ‘n paar stormramme. Dit stel die beleëring van Jerusalem voor.
2. Die tweede simboliese aksie behels ‘n ysterplaat wat tussen hom en die baksteenstad geplaas word. Dit stel God se afskeiding van die stad voor. Hy wil hulle nie meer sien nie, en gaan nie meer na hulle luister nie. Dit herinner aan Jeremia se beskrywing van God wat in ‘n wolk gehul is: “sodat geen gebed na U kon deurkom nie.” (Kl. 3:44).
Dit alles is ‘n teken vir Israel. Soos Jeremia na die baksteen kyk, maar dit nie kan sien deur die ysterplaat nie, só sorg die Here dat Hy nie langer hulle afskuwelike sondes hoef gade te slaan nie. Soos Jeremia die baksteen beleër het, só gee die Here die stad oor aan Nebukadnesar se beleëring. Hy is dus afsydig – luister nie na hulle gebede nie – en vyandig – gee hulle oor aan vernietiging.

3. Die derde simboliese aksie behels Esegiël wat 390 jaar op sy linkersy gaan lê om die sonde van Israel simbolies te dra, en 40 jaar op sy regtersy om die sonde van Juda te dra. Die 390 jaar hou moontlik verband met die tydperk tussen die afskeiding van die noordryk onder koning Jerobeam in 931 v.C. tot en met die terugkeer uit ballingskap in 538 v.C. Die veertig jaar hou moontlik verband met die tydperk van die laaste wegvoering uit Jerusalem in 582 v.C. (Jer. 52:30), vyf jaar nadat Jerusalem vernietig is, tot en met die terugkeer uit die ballingskap. Beide tydperke kan ook doodgewoon simbolies bedoel wees.
Dit alles is ‘n profetiese handeling wat die sekerheid van die ballingskap aan die volk moet oordra. Die volk sal die volle impak van God se oordeel oor hulle sonde moet dra, vóór daar weer die moontikheid van verlossing en omkeer sal kom.
4. Die vierde simboliese aksie behels Esegiël wat ses tipes kos neem – koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt – en in ‘n skottel daarvan kos maak vir hom. Die verskillende soorte illustreer die skaarsheid van die kos wat beskikbaar sal wees in die ballingskap. Hy moet soort van raap en skraap om dit bymekaar te kry. Die hoeveelheid wat Esegiël elke dag mag eet, word ook presies gerantsoeneer, net soos die hoeveelheid water wat hy mag drink. Dit dui op die hongersnood, broodsgebrek en waternood wat die volk sal deurmaak in Jerusalem.
Die Here wil verder hê dat Esegiél die kos gaarmaak op die droë uitwerpsel van mense om die kos daarmee onrein te maak. Dit simboliseer die verontreinigende impak wat die verstrooiing op die volk sal hê. Esegiël protesteer – die eerste keer dat ons lees dat hy in gesprek tree met die Here – en die Here laat hom toe om die kos op beesmis gaar te maak.
5. Die vyfde simboliese aksie behels Esegiël wat ‘n skerp swaard neem en as ‘n skeermes inspan om sy hare en baard af te skeer. Dié hare word in derdes verdeel om te illustreer wat die mense in die stad gaan beleef – verbrand, fyngekap en verstrooi. ‘n Klompie word beskerm in sy klere, hoewel ‘n deel daarvan ook verbrand sal word. Niemand is eintlik veilig nie. Die hele Israel sal die vuur van die Here aan hulle bas voel.
5:5-17 – God word Jerusalem se teenstander omdat hulle nie volgens sy voorskrifte leef nie
In verskillende uitsprake van die Here word die motivering vir en betekenis van Esegiël se optrede in die volgende deel uitgespel, telkens ingelei met: “So sê die Here my God …”
Die beleëring en ballingskap van Juda is weens die verset teen God se bepalings en voorskrifte. Hulle was eintlik slegter as die nasies om hulle. Dié het hulle eie riglyne nagekom, maar Juda nie. Daarom word die Here Jerusalem se teenstander en straf Hy hulle oor die verontreiniging van die heiligdom – waaroor in hfst. 8 verder uitgebrei sal word. God se medelye en genade vir hulle het opgedroog.
Esegiël sluit spesifiek aan by die vyfde simboliese aksie se boodskap van verstrooiing. Wanneer dít afgehandel is, sal God se toorn ook afgekoel wees, sal Hy tevrede wees. Want sy hoop is dat hulle dán sal besef dat Hy die Here is. Trouens, dat dit ‘n waarskuwing en afskrikmiddel vir die nasies rondom hulle sal wees, sodat dié ook kan besef dat Hy die Here is.
Boodskap
Dié simboliese handelinge van Esegiël herinner ‘n mens aan die gelykenisse van die Here Jesus in die NT. Dit dra die boodskap van die Here op ‘n visuele manier oor waarmee méér betekenis oorgedra kan word as maar net die feitelike beskrywing van wat God doen. In terme van Esegiël se boodskap met dié vyf simboliese handelinge is dit duidelik dat hierdie simboliese handelinge onverdunde oordeeluitsprake van die Here is. Dit is bedoel om te waarsku en af te skrik. Dit is bedoel om die werklikheid van die Here se betrokkenheid in alles helder en omomwonde te onderstreep. En die boodskap aan ons is duidelik. Met God moet ‘n mens rekening hou.
Hoewel dié optrede van die Here vir ons vreemd en vervreemdend voorkom, moet ons onthou dat dit daarom sin maak. Dit is wat profetiese interpretasie in wese is. Dit probeer sin maak van die natuurlike prosesse van oorlog en natuurrampe wat mense ervaar. En in dié geval wil God sy oordeel oor ongehoorsaamheid duidelik laat blyk. En dit ís vervreemdend. Dit is bedoel om só te wees.
Dit is dán, waar God se impak in die werklikheid erken word, selfs as dit vervreemdend is, en ‘n mens jou oorgee oom aan Hom gehoorsaam te begin lewe, dat jy dáár die ander simboliese handelinge van Esegiël – dié wat nog kom in die boek en wat praat van die hoop en transformasie wat God bring – na waarde kan begin skat. En dat jy die ander deel van Esegiël se boodskap ook ter harte kan neem. Die Here seën dié wat Hom erken en gehoorsaam. Wat vir ons ook helder sê: Op dié God kan ‘n mens vertrou.
En laat ons nie vergeet nie, die gelykenisse van Jesus se leringe en die simboliek van Jesus se optredes het ook altyd dieselfde twee kante van God beklemtoon. Sy gelykenisse oor die koninkryk sluit ook die oordeel oor die magsmisbruik van mense in (Matt. 21). Dit sluit ook in dat daar ‘n skeiding kom tussen dié wat na Hom luister en sóós Hy met deernis in dié wêreld optree, en dié wat dit nie doen nie (Matt. 25). Met God moet almal rekening hou. Terselfdertyd kan ‘n mens Hom vertrou.
View all posts in this series
- Bybelskool 2de kwartaal 2015: ESEGIËL - April 10, 2015
- Inleiding op Esegiël - April 13, 2015
- Esegiël 1-3 – Esegiël se roeping en opdrag – 593 v.C. - April 16, 2015
- Esegiël 4-5 – Die beleg en val van Jerusalem - April 21, 2015
- Esegiël 6 – Die oorlog teen die “Berge van Israel” - April 23, 2015
- Esegiël 7 – Die einde kom vir die land - April 24, 2015
- Esegiël 8-11 – Die ballingskap is naby vir die land. God se teenwoordigheid verlaat hulle – 592 v.C. - April 27, 2015
- Esegiël 12 – Die ballingskap gaan NOU gebeur - May 1, 2015
- Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete - May 4, 2015
- Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie - May 5, 2015
- Esegiël 15 – Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word - May 6, 2015
- Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word - May 11, 2015
- Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit - May 12, 2015
- Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem - May 15, 2015
- Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel - May 16, 2015
- Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C. - May 23, 2015
- Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom - May 25, 2015
- Esegiël 21:28-32 – ‘n Woord teen die Ammoniete
- Esegiël 22 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”! - May 28, 2015
- Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop - May 30, 2015
- Esegiël 24 – Ellende wag vir die stad, sowel as vir Esegiël – 588 v.C. - June 1, 2015
- Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne - June 2, 2015
- Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C. - June 9, 2015
- Esegiël 28:25-26 – ‘n Woord vir Israel
- Esegiël 29-32 – Sewe woorde teen Egipte – 587, 571, 587, en 585 v.C.
- Hier is die skakels na die vorige twee bydraes
- Esegiël 33:1-20 – God soek bekering nie die dood nie - June 20, 2015
- Esegiël 33:21-33 – Grypsug en selfsug word geoordeel - June 21, 2015
- Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder - July 28, 2015
- Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel” - July 29, 2015
- Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself - July 30, 2015
- Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel - August 10, 2015
- Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk - August 11, 2015
- Esegiël 40-48 – INLEIDING: God se teenwoordigheid in die tempel en land word herstel - August 12, 2015
- Esegiël 40-42 – God skep ‘n tempel vir sy terugkeer na die land – 573 v.C. - August 13, 2015
- Esegiël 43-44 – God se magtige teenwoordigheid neem intrek in die tempel - August 17, 2015
- Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit - August 18, 2015
- Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land - August 19, 2015