Skip to main content

Esegiël 13 – ‘n Woord teen die profete

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Esegiël spreek in dié hoofstuk twee groepe profete aan: “Mense wat as profete optree uit hulle eie verbeelding” (13:2), en “die vroue van jou volk, dié wat as profete optree uit hulle eie verbeelding” (13:17). Die vroue wat hier genoem word, was boonop moontlik eerder towenaresse, omdat hulle met toorbande en sluiers teen betaling geprofeteer het (13:18-19).

Hierdie valse profete was waarskynlik profete onder die ballinge waar Esegiël homself bevind het, sowel as dieselfde profete waarteen Jeremia homself en sy boodskap ook moes verdedig (Jeremia 23 – Ellende wag vir julle leiers; Jeremia 27 – Ek gee al die lande in die mag van Nebukadnesar; Jeremia 28 – Die Here vee Gananja van die aarde af weg; Jeremia 29 – Ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie).

Die Here roep Esegiël op om aan hulle die ellende te verkondig wat Hy oor sulke mense sal gebied. Die ellende sluit in dat hulle hulle vertroulike posisie sal verloor by die volk, sowel as om lid te wees van die Godsvolk (“nie opgeskryf word in die boek van Israel nie”), en op die koop toe ook nie die terugkeer en herstel van Israel sal meemaak nie (13:9).

Die Here maak hier ‘n baie belangrike punt. Hy praat nie maar net deur mense se eie gedagtes en verbeelding nie, maar deur die gesigte en woorde wat Hy gee sowel as die simboliese aksies waartoe Hy opdrag gee. Van die maatstawwe wat ‘n mens kan aanlê om agter te kom of profesieë werklik van God kom, óf net uit die verbeelding van mense, is of dit:

  • in lyn is met vorige bevestigde boodskappe van die Here (bv. die straf en seën van Deut., sowel as die profesieë oor die ballingskap wat op hierdie stadium deel van ‘n hele korpus van profetiese boeke uitgemaak het: Jesaja, Amos, Jona, Hosea, Sefanja, Nahum, Jeremia, Habakuk, Joël, Obadja, – die hele geopenbaarde Woord van die Here vervul uiteindelik daardie funksie),
  • bewaarheid word in die geskiedenis en omstandighede soos dit ontvou,
  • slegs uiterlike vertoon gebruik (toorbande, sluiers – vgl. 13:18),
  • ter wille van eie gewin gedoen word (vgl. 13:19 – “’n paar handevol gars en ‘n paar stukkies brood”),
  • mense wat God se wil wil doen, moed laat verloor, óf die teenoorgestelde bewerk, dat mense wat goddeloos lewe aangemoedig word om met só ‘n lewe aan te hou en nie aan te dring daarop dat hulle tot bekering kom nie (13:22). Hoe verskriklik!

Die Here se probleem met die valse profete is drieërlei:

  • Die profete is soos jakkalse wat aas wat daar te aas is tussen die puinhope van wat van die volk en hulle lewe oor is (13:4). Hulle probeer munt slaan uit dít wat op tragiese wyse met die volk gebeur.
  • Hulle het aan die een kant nie die werk gedoen wat God van hulle eintlik verwag het nie, en dit is om ‘n muur om hulle te bou sodat Israel staande kan bly in die oordeelsdag wat kom nie (13:5).
  • Maar, belangrik, hulle het aan die ander kant die muur afgewit wat besig was om om te val (13:11). D.w.s., toe die skrif aan die muur was, het hulle, by wyse van spreke, die skrif toegewit en die volk gepaai met die boodskap van vrede … terwyl die stortreëns, haelstene en stormwinde aan die losbreek was teen die volk.

Daarom bring die Here ellende oor die profete, sodat nie net hulleself nie, maar ook die volk sal kan agterkom dat die Here Here is, dat sy woord geldig is, en dat sy woord sal uitrig waartoe Hy dit uitstuur. Die valse profete sal in die skande kom oor hulle gesigte: “oor hoe goed dit sou gaan terwyl dit nie goed sou gaan nie.” (13:16).

Die Here sal die volk uit die profete se mag verlos: “Hulle sal nie meer ‘n magtelose prooi in julle hande wees nie. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” (13:21).

Boodskap

Om te profeteer, is nie iets wat uit ‘n mens se eie gedagtes of verbeelding voortspruit nie. Profesie is volgens Esegiël 13 die woorde en insigte wat God gee aan die een kant met die doel om mense moed te gee om sy wil te doen. Aan die ander kant het dit ten doel om goddelose mense van hulle verkeerde lewe te bekeer sodat hulle hul lewens kan behou.

Dié woorde móét dus in lyn wees met die vorige openbarings van God – vir ons geld die hele Bybel as dié openbaring – en móét op ‘n manier, al is dit gedeeltelik, of al is dit selfs na ‘n lang tyd, bewaarheid of bevestig word in die konkrete geskiedenis.

Geen wonder dat Paulus profesie so hoog aanskryf in die gemeente – die uitleg van God se woord vir die lewe van die gemeente wat: “geestelik opbou en bemoedig en vertroos” (1 Kor. 14:3). Maar dat Petrus ook waarsku dat geen profesie in die Skrif op grond van “eie insig reg uitgelê (kan) word nie.” (2 Pet. 1:20). En dít kan slegs onder die leiding van die Heilige Gees gedoen word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Welkom, stuur sommer vir my die aangepaste een ook, asb. Laai dit hier af:Eenjaar Bybellees program 2020
  • Elmarie Allies on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Goeiemore Ons wil graag die Bybel in 1 jaar deurlees. Ek kry dit slegs op pdf. Kan dit asb vir my in wordformaat stuur sodat ek die datums kan aanpas asb. Ons is 'n nuutgestigte gebedsgroep. Baie dankie
  • Chris van Wyk on SpreukeHi Retha, ek kan jou nie self terugsit nie. Jy kan dit hier doen: https://wordpress.com/reader/subscriptions. Kies Bybelskool.com daar.
  • Retha Roux on SpreukeSal graag weer gereeld die Bybelstudie per epos wil ontvang. Groot asseblief. retharoux@telkomsa.net My epos het op stadium probleme gegee en ek kon niks ontvang nie, masr is nou weer herstel. Baie dankie. Retha Roux
  • Chris van Wyk on Psalm 6Hi Japie, uit die konteks van vers 8-9, en 11 in die Psalm lyk dit asof Dawid verwys na verlossing van vyande wat met Absalom se opstand of Saul se vervolging te make kan hê.
  • Japie Martin on Psalm 6Hi Ds Chris: is daar meer inligting rondom vers 10 van die Psalm
  • Chris van Wyk on Genesis – Die oorsprong van alle dingeHi, ek verkies om met die skriftelike bronne te werk wat die geskiedenis beskryf. Die skriftelike bronne van die Sumeriërs beskryf die geskiedenis tot so 3 000 jaar v.C. Die skriftlike bronne van die Jode, dit wat ons as die OT ken, bevat geslagsregisters, wette en verhale wat die vroeëre geskiedeni…
  • Louis Scheun on Genesis – Die oorsprong van alle dingeEk het sopas aangesluit. Wat my nog altyd pla is dat daar byvoorbeeld van inwoners in die Amerikas 10.000 of 20.000 daar aangekom het. Hoe sinkroniseer ons dit met die Bybelse tyd. Baie dankie. Louis Scheun.
  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏