Esegiël 23 – Ohola en Oholiba, die twee susters Samaria en Jerusalem het dieselfde pad geloop

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Op soortgelyke wyse as in hoofstuk 16 word die twee ryke van Israel – met die hoofstede Samaria en Jerusalem – op afgryslik metaforiese wyse as die twee owerspelige susters, Ohola en Oholiba, beskrywe. Dié twee het aan die Here behoort, maar hulle het gesmag na ander minnaars en só ontrou aan die Here geraak. Daarom het die Here hulle gestraf as voorbeeld wat ander moes afskrik.

Die kru en onkuise taal getuig van Esegiël se passie vir die eer van God en sy afgryse aan die verbondsverbreking van beide dele van die volk. Die metafoor ontvou in vier dele:

  • 23:1-10 – Ohola (Samaria) is in die mag van haar minnaars, die Assiriërs oorgegee
  • 23:11-21 – Oholiba (Jerusalem) het eers gesmag na die Babiloniërs en toe na die Egiptenare
  • 23:22-35 – Die Here straf Oholiba vir haar aanstootlike gedrag en onsedelikheid
  • 23:36-49 – Albei volke dra die straf vir hulle sonde met afgode

23:1-10 – Ohola (Samaria) is in die mag van haar minnaars, die Assiriërs oorgegee

Die hele geskiedenis van Ohola en Ohiliba is uit die Here se perspektief een van owerspel reg van die begin af. Hulle het in Egipte reeds hulleself aan afgodery – onsedelikheid in terme van die metafoor – blootgestel. Metafories dui die twee name op die twee ryke van Israel met Samaria en Jerusalem as hoofstede. Albei name, Ohola en Oholiba, is van die Hebreeuse naam vir “tent” – die naam wat ook vir die tabernakel gebruik is – afgelei wat implisiet beteken dat die afvalligheid/onsedelikheid om afgodediens gegaan het.

Ohola (Samaria) het uiteindelik in ‘n verbintenis met die Assiriërs gegaan en die prys daarvoor betaal. Die oordeel van ballingskap. Dit moes as ‘n teken en waarskuwing aan almal dien: “Die straf wat sy ondergaan het, het van haar ‘n voorbeeld gemaak wat vrouens moes afskrik.” (23:10).

23:11-21 – Oholiba (Jerusalem) het eers gesmag na die Babiloniërs en toe na die Egiptenare

Oholiba (Jerusalem) was eintlik nóg erger. Nie net het sy niks geleer by haar ouer suster Ohola (Samaria) nie, maar sy het haar verontreinig met nie net die Assiriërs nie, maar die Babiloniërs en die Egiptenare ook. Die verskuiwing van haar lojaliteit van die Babiloniërs na die Egiptenare het nie net die Babiloniërs ‘n teësin in haar laat kry nie, maar ook die Here ‘n teësin in haar gegee: “Sy het gesmag na die wellustinge onder hulle wat so goed bedeeld was soos donkiehingste en perdehingste.” Die NET Bible vertaal meer letterlik: “She lusted after their genitals—as large those of donkeys, and their seminal emission was as strong as that of stallions.” (23:20).

23:22-35 – Die Here straf Oholiba vir haar aanstootlike gedrag en onsedelikheid

Daarom straf die Here vir Oholiba (Jerusalem) deur die gramskap van die Babiloniërs teen haar op te wek. Die Babiloniërs en Galdeërs was natuurlik verskillende name vir dieselfde mense. Saam met die mense van Pekod (Aramese stam naby die Tigris), Soa (nomadiese stam in Mesopotamië) en Koa (Mesopotamiese stam) en dié wat oorgebly het van Assirië, sal hulle Jerusalem uit die noorde aanval en die Jode straf: “volgens hulle gebruike.

Let op hoe God se werk en dié van die vyand oorvleuel: “Ek gee my woede teen jou vrye teuels: hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en jou ore afsny.” (23:25). Die rede daarvoor? “Jou afstootlike gedrag, jou onsedelikheid doen dit aan jou. Jy het in jou ontrou ander nasies nagevolg en jou met hulle afgode verontreinig.” (23:29-30).

Die beker wat haar suster moes drink, is nou ook die lot van Jerusalem. Die skrilheid van die oordeel word met ‘n kriptiese gedig uitgedruk wat as volg letterlik vertaal kan word (23:32-34 – die koppeltekens beteken dat dit aanmekaar geskrywe word in Hebreeus):

“Beker van-jou-suster jy-sal-drink
diep en-wyd.
Jy-sal-wees vir-lag en-spot
baie bevat.
Dronkenskap en-kommer jy-sal-vol-wees
beker-van-vermorsing en-verlatenheid.
Beker van-jou-suster, Samaria,
jy-sal-drink dit en-ledig;
En sy-skerwe jy-sal-knaag
En-jou-borste jy-sal-uitmekaar-skeur.”

Die diepste rede lê egter in die gebroke Godsverhouding: “Omdat jy My vergeet het en jou rug vir My gedraai het, sal jy die straf vir jou aanstootlike gedrag en jou onsedelikheid dra.” (23:35).

23:36-49 – Albei volke dra die straf vir hulle sonde met afgode

Die laaste deel van sy boodskap word gerig aan albei ryke van die volk. Hulle afvalligheid in terme van afgodery sowel as die gruwelike gebruik van kinderoffers het die Here se toorn laat ontvlam. Die teken van God se teenwoordigheid by hulle, die heiligdom in Jerusalem, is ontheilig. Die teken aan ander dat hulle aan God behoort, die sabbat, is eweneens ontheilig. Hulle het die dinge wat God hulle gegee het om Hom mee te vereer, wierook en olie, vir afgode gebruik.

Die flirtasie met die laaste volk wat genoem word, Seba (Jemen), word opgevolg met ‘n volksvergadering wat metafories gesproke hulle stenig soos dit owerspeliges betaam (Lev. 20:10-27). Die Here oordeel die volk en vernietig die stede en voer hulle in ballingskap weg as ‘n teken van sy oordeel en as ‘n waarskuwing aan almal dat Hy sulke afstootlike gedrag nie duld nie.

Boodskap

Dit is moeilik om dié hoofstuk te lees. Die taal is skokkend en eksplisiet, meer nog in Hebreeus as in Afrikaans. Maar, dit is natuurlik doelbewus. Daarmee druk Esegiël onomwonde die Here se afgryse oor die verbondsverbreking van sy volk uit. Afvalligheid in terme van afgodery sowel as die gruwelike gebruik van kinderoffers stuit die Here teen die bors. Dit tas sy eer aan en daarmee kan Hy nooit vrede maak nie.

Ons sal goed doen om aan die een kant hierin die Here se afgryse oor die sonde raak te sien. Sonde en afvalligheid dompel ‘n mens in die diepste van ellende. Dit dryf ‘n wig in tussen ons en God. Dit in ‘n daarom ‘n waarskuwing selfs vir ons eie tyd.

Maar, ons moet aan die ander kant ook uit die NT raaksien dat die Here se verlossing juis vir dié dinge bedoel is. Dít is waarvoor die Here Jesus gekom het. Daar is niks wat só erg is, dat die Here dit nie kan vergewe nie. Daarin lê ons hoop en verwagting.

View all posts in this series

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: