Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

“UITEINDELIK … werksdruk het verlede kwartaal sy tol geëis en toe het my verlof aangebreek.  Hier is dus die eerste van nege laaste aflewerings in my saamlees van Esegiël met jou.  Alle beplanning natuurlik Deo Volente.  Geniet!”

Gegewe die vorige hoofstuk se geweldige negatiewe beoordeling van beide die agtergeblewenes en die ballinge, sowel as al hulle leiers, is dit geen wonder nie dat hierdie volgende boodskap na Esegiël toe kom.

  • Die Here beveel Esegiël om as profeet op te tree teen die ”herders” wat net vir hulleself sorg en die “kleinvee” laat wegdwaal en oor die aarde laat verstrooi. Die Here maak ‘n end aan dié herders (34:1-10).
  • Die Here belowe Hy sal self sy kleinvee se herder wees. In verbondstaal belowe die Here: “Julle is my kleinvee, julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God.” (34:11-31).

34:1-10 – “Ek gaan optree teen die herders.”

Ellende wag vir die herders van Israel wat net vir hulleself sorg.”  Dit is nie asof die volk verskoon word deur hierdie uitspraak nie.  Daarvoor was die Here te duidelik in die vorige hoofstukke oor die afvalligheid en hardkoppigheid van sy mense.  Maar, van leiers word meer verwag as dat hulle net vir hulleself sorg.  Met die metafoor van die herder en sy kleinveekudde, word die leiers veroordeel omdat hulle die melk, wol en vleis van die kleinvee geniet, sonder om vir hulle te sorg.  Die gesonde kleinvee word nie waardeer nie, en die swakkes en siekes nie gehelp en gedokter nie.  Die afgedwaaldes word nie gesoek en teruggebring nie.

Julle was harde en wrede regeerders,” is die oordeel van die Here.  Daarom straf Hy die wrede herders en verwyder hulle uit hulle posisie sodat die kwaad wat hulle doen nie langer ‘n verwoestende uitwerking op die kleinvee sal hê nie.

34:11-31 – “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.”

Daarom sê die Here: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.”  Die Here skilder ‘n prentjie van ‘n totale transformasie wat duidelik messiaanse kenmerke het, nie net 1) met die versorging op die berge, in die klowe en in al die woonplekke van die land nie, maar ook 2) in die regverdige oordeel tussen skaap en skaap, en skaap en bok (vgl. Matt. 25 se eindoordeel tussen die skape en die bokke), sowel as 3) in die herstel van herderskap van God se dienaar Dawid (34:23 – vgl. Luk. 15:1-7 se gelykenis van die verlore skaap, sowel as die twee ander wat daarop volg, die gelykenis van die verlore muntstuk en die verlore seun).

Die Here wys hiermee sy bewussyn van die feit dat sommige skape (en bokke) die beste gras afgewei het, die oorblyfsel vertrap het en so baljaar het in die water dat niemand ná hulle dit kon drink nie.  Daarom oordeel die Here tussen die “vet skape en die maeres”.  Hy bring gelykstelling in sy oordeel, sodat al het sommige skape gely en gekrepeer, selfs ten sterwens toe, Hy hulle status herstel sodat hulle nie meer uitgelewer is aan boelies en uitbuiters nie.

‘n Mens hoor hierdie perspektief weerklink in die verhaal wat Jesus vertel oor die arm Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van sy tafel te ete sou kry, maar verniet.  Geen wonder dat die ryk man vir water vra om sy tong af te koel in die pyniging wat hy in die doderyk verduur, maar verniet … (Luk. 16:19-31).  Die pyn wat ons in hierdie lewe verduur, weeg nie op teen die pyn wat ons in die lewe hierna sou kon verduur nie.

Dit beteken ook dat die Here nie net die slegte leiers sal uitsorteer nie. Hy sal ook die slegte mense uitsorteer, mense wat op soortgelyke wyse as die slegte leiers, nie omgee vir ander nie, en nie sorg dat die reg en die waarheid seëvier nie, en net sorg dat hulle aan die wenkant bly in die samelewing en gemeenskap.

Die Messiaanse trekke van die beskrywing van die vrede en oorvloed wat God se volk onder sy Dawidiese herder – wat eintlik niemand anders as die Here is nie – sal beleef, word in gloeiende taal beskryf – geen roofdiere, veilig in die weiveld, kan slaap in die bosse, reëns op die regte tyd, bome lewer vrugte, grond lewer opbrengs, geen slawerny, geen vrees vir ander nie, geen hongersnood en geen vernedering nie:  “Hulle sal besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is en dat hulle my volk Israel is.” Hyself sal hulle Herder wees.

Sjoe, watter prentjie om na uit te sien, selfs ook vir hierdie lewe, waar die Here dit vir ons ten dele laat waar word!

Terloops, dit is waarskynlik dat die Here Jesus Esegiël 34 gelees het vóór Hy die gelykenisse en verhale in Lukas 15 en 16 vertel het, sowel as vóór Hy Homself as die “Goeie Herder” in Johannes 10 beskryf het.  Dit lei ‘n mens af nie net uit die ooglopende ooreenkomste in metafore nie, maar ook uit die kleiner detail, soos die ooreenkoms tussen die metafoor van die: “vet skape en die maeres” met die verhaal van Lararus en die ryk man.

Boodskap

Hierdie is ‘n woord wat goed pas in die ontwrigtende tyd van die ballingskap.  Beide die agtergeblewenes en die ballinge is in die steek gelaat deur hulle leiers.  Maar die misbruik van die agtergeblewenes se meerderheidsmag in Juda (hulle steel die ballinge se grond), sowel as die saampraat in veroordeling daarvan deur die ballinge in Babel, terwyl hulle self nie doen wat die Here vra nie, staan onder die oordeel van die Here.

Die volk is dus net so skuldig soos hulle leiers, hoewel die Here beter van die leiers verwag het.  Hy weet immers hoe kragtig die mag van ‘n leier in sy gemeenskap is wat stewig staan vir die reg en die waarheid.  Wat ook verklaar hoekom Hy uiteindelik die roete van die “Goeie Herder” kies, soos Johannes 10 ons vertel.

Dit is daarom ook ‘n woord wat baie goed pas by enige situasie waar regeerders net vir hulleself sorg en nie waarderend en omarmend teenoor hulle volgelinge optree nie; waar die reg en die waarheid vertrap word deur diefstal en leuens.  Maar dit is daarom ook nie net die regeerders wat aangespreek word en veroordeel word nie.  Elke mens is verantwoordelik om te luister na God en die reg en die waarheid na te streef.  Dít is diegene vir wie die Here die “Goeie Herder” sal wees.

Dit is dié vir wie Hy reg sal laat geskied en vir wie Hy sal sorg dat hulle goeie weiding kry, in dié lewe, en nog meer só in die lewe wat kom.

View all posts in this series

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: