Esegiël 7 – Die einde kom vir die land

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

In opvolg van hfst. 6 se uitspel van die implikasie van die vyf simboliese handelinge van hfst. 4-5 word in hfst. 7 verder daarop uitgebrei in meer digterlike taal. Waar in hfst. 6 die “Berge van Israel” aangespreek is, word hier op soortgelyke wyse die “land Israel” aangespreek en gefokus op die verwoesting wat dwarsoor die land die inwoners van die land sal tref, maar met spesiale verwysing na die verwoesting van die stad Jerusalem en die heiligdom.

Waar in hfst. 6 veral die ongehoorsaamheid in aanbidding – die plekke van aanbidding sowel as die persone in aanbidding – aangespreek is, fokus Esegiël hier ook op die magsmisbruik in die land. Die probleem is: “Soos die mag toegeneem het, het die eiegeregtigheid ook toegeneem.” (7:10b). Interessant genoeg gaan die opstand téén die magsmisbruik nie kom van die kant van die inwoners van die land nie: “nie deur hulle verset, hulle protes nie, nie deur ‘n klag van hulle kant nie”, maar van die toorn van die Here wat op almal in die land rus. (7:11).

Omdat die volk die onreg stilswyend aanvaar, en boonop ook nog daaraan meedoen deur nie die magteloses by te staan nie, dáárom sal die Here hulle nie verskoon nie, hulle nie jammer kry nie, en die straf van die ballingskap oor hulle laat kom: “Die dag is hier, dit kom, die ergste gaan gebeur.” (7:10a).

Die ekonomie sal dit ontgeld, kopers en verkopers tegelyk. Silwer en goud sal nutteloos wees en niemand kan red nie (7:19a). Trouens: “Dit is juis hulle silwer en goud wat hulle in sonde laat verval het: hulle was so trots op hulle versiersels, so ingenome daaroor, dat hulle daarvan vir hulle gode gemaak het, afskuwelike, walglike goed. Dit is waarom Ek hulle goud en silwer nutteloos laat word.” (7:19b). Hulle voorspoed het hulle dus in afgodery laat beland. Hoe tragies.

Die gemeenskap sal dit dus op hartverskeurende wyse ontgeld, binne die stad sowel as daarbuite: “Oorlog buite, pes en hongersnood binne.” (7:15). Let op die beskrywings van die verskrikking waarin hulle sal verkeer.

  • Hulle sal: “soos die duiwe in die valleie saam sit en kla, elkeen oor sy sonde.” (7:16). ‘n Mens sal nou nooit weer na die gekoer van duiwe kan luister, sonder om dié tragiese teks te onthou nie!
  • Al die hande sal slap hang, daar sal water teen al die knieë afloop.” Geen verduideliking is nodig vir dié beskrywing nie!

Almal sal verslae wees en in rou gedompel weens die ramp wat hulle gaan tref. En ons weet dat die groot beleëring van Jerusalem nou net 5 jaar in die toekoms gelê het, en dat die groot wegvoering in ballingskap 2 jaar later plaasgevind het.

Die ergste is dat die Here hier agter sal wees en Hom van hulle sal afskei: “Ek sal maak of Ek niks sien nie.” (7:22). Die tempel sal ontwy en vernietig word, soos dit inderdaad ook met die inwoners van die land sal gebeur. Dit alles omdat niemand in opstand gekom het oor die land se regters wat moordenaars is, en die stad wat vol geweld geword het (7:23). Die Here laat daarom “die slegste nasies” teen hulle optrek om ‘n: “end (te maak) aan die hoogmoed van mense met mag.” (7:24).

Dié afskeiding van die Here sal op onstellende wyse sigbaar raak in die afwesigheid van openbarings aan die profete, gebrek aan leiding van die priesters, en die stilword van die raad van die oumense. Dié mense wat leiding moes neem, sal stil raak weens hulle eie angs oor die Here se oordeel wat in werking kom (7:26-27a).

Die enigste sprankie hoop is dat dié oordeel gemik is daarop dat mense deur die oordeel sal besef dat God die Here is … (7:27b).

Boodskap

Esegiël se beskrywing van die magsmisbruik in die land deur die owerhede sal vir baie van ons bekend voorkom. Wat vir ons miskien vreemd sal wees, is dat hy jammer is oor die feit dat die volk nie daaroor gekla het nie, nie hulle daarteen verset het of hulle protes daarteen laat hoor het nie (7:10-11). Ons aanvaar net te maklik die status quo – soos Israel – en neem nie die verantwoordelikheid op ons om ‘n verskil te maak ook op owerheidsvlak nie – plaaslik en nasionaal.

Sulke verset speel ‘n belangrike rol in die verandering wat God bring. Mense wat opstaan vir wat reg is – nie net vir hulleself nie, maar vir ander wat onder die magsmisbruik en onreg ly, en ter wille van die saak van die Here: sodat hulle kan “besef dat Ek die Here is” (7:27). Verset is ‘n belangrike deel van die proses van verandering in die gemeenskap. Dit kon selfs moontlik hier die toorn van die Here afgewend het, as genoeg mense in Juda en Jerusalem vir die reg opgekom het, en sélf die regte dinge gedoen het.

Stilbly wanneer onreg gedy, maak dat jy later geen vrymoedigheid sal hê om enigiets te sê nie.

Waar mense egter sélf met liefde en trou en nie met magsmisbruik lewe nie, en sélf die Here met alles in hulle dien en nie skroom om dié wat in magsposisies sit aan te spreek en aan God se standaarde te hou nie, dáar kan verandering kom.

Ons het die dure plig om ons stem te laat hoor, om die waarheid te verkondig aan dié in magsposisies, terwyl ons self die regte dinge doen, en daadwerklik optree om dié wat onder die onreg ly, met raad en daad by te staan.

View all posts in this series

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Ek is bly vir vandag se boodskap, dankie Mnr Chris, dit maak dit tog duidelik vir my dat die kerk so n belangrikke rol in ons samelewing speel en kan nie wag om Sondag in die kerk te wees nie.

    Amen

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: