Skip to main content

Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Esegiël sluit sy profesieë af met ‘n inspirerende visie op die stroom water wat van onder die heiligdom se drumpel deur die oospoort loop en lewe gee so ver as wat dit gaan tot in die Dooie See (47:1-12).  Daarna fokus hy op die grense en verdeling van die land (47:13-48:29) sowel as op die stad waarvan die naam voortaan sal wees: “Die Here is daar.” (48:30-35).  Al drie hierdie beskrywings skets die ideale situasie wat God vir sy mense in gedagte het.  Oorvloedige lewe, gelyke kanse in sy teenwoordigheid.

47:1-12 – Die stroom water uit die tempel gee lewe tot in die Dooie See

Die man met die meetstok vestig Esegiël se aandag op die stroom water wat van onder die heiligdom se drumpel regs deur die oospoort loop.  Dit word met verdrag al hoe dieper.  Groot hoë bome het op die walle daarvan gegroei waarvan die vrugte voedsaam en die blare genesend was.

Met die terugkeer na die tempel sê die man vir Esegiël dat dié stroom deur die Jordaanvallei tot in die Dooie See loop en selfs die soutwater vars maak tot voordeel van die mense, die dier en selfs die visse: “Waar die stroom kom, sal alles lewe.”  Net ‘n deel sal sout bly, waarskynlik vir gebruik in die kultus (43:24).  Die vissers sal oral voordeel uit die oorvloed trek van En-Gedi (vandag nog aan die Dooie See) af tot by En-Eglajim (waarskynlik die varswater bron naby Qumram waar die Dooie See rolle ontdek is).

Interessant is die ooreenkoms met Johannes se visioen van: “die rivier met die water van die lewe” wat elke maand vrugte lewer en waarvan die blare van die boom genesing bring “vir die nasies” (vgl. my bydrae: Openbaring 22 – God bring lewe en genesing – Die Here Jesus is op pad terug).  Dit is duidelik dat Johannes op Esegiël se profesie uitbrei en in ‘n breër konteks plaas, beide in terme van die eindtyd sowel as in terme van die boodskap ook vir die nasies.

47:13-48:29 – Die land word regverdig onder die twaalf stamme verdeel

land-verdeling
Grafika met erkenning aan http://www.gutenberg.org

Let op dat die land regverdig verdeel word onder die twaalf stamme, die nageslag van Jakob, d.w.s die hele Israel.  Omdat Levi hulle deel by die heiligdom gekry het, kry die twee seuns van Josef, Efraim en Manasse, elkeen ‘n gelyke deel soos die ander tien stamme. Dit gee ‘n verdeling van dertien grondgebiede as ‘n mens die grondgebied van die heiligdom byreken.

Anders as in Numeri 34 met die vorige indeling van die gebiede van die 12 stamme, gee Esegiël hier ‘n baie meer eweredige verdeling van die land as van te vore.  Die enigste voorrang lê in hoe naby Juda en Benjamin aan die middelste strook ingedeel word, die deel waar die heiligdom van die Here geleë is.  Vergelyk die indeling op meegaande kaart (Grafika met erkenning aan http://www.gutenberg.org).

Die grense is basies die Jordaanvallei aan die oostekant, die Middelandse See aan die westekant, die grens tussen Israel en Damaskus (Sirië) aan die noordekant, en die grens met Egipte aan die suidekant.

Interessant genoeg kry die vreemdelinge wat al ‘n geslag lank tussen hulle woon ook grondgebied: “Julle moet sulke vreemdelinge as medeburgers tussen julle beskou.” (47:22).

Sewe van die stamme lê na die noorde van die sentrale strook waar die heiligdom, die Levitiese gebied en die grondgebied van die regeerders is.  Van die noordgrens af tot by die tempel word die gebiede van Dan, Aser, Naftali, Manasse, Efraim, Ruben en Juda ingepas.  Die eerste drie stamme is afstammelinge van Jakob se byvroue (Dan en Naftali van Bilha, Ragel se slavin – Aser van Silpa, Lea se slavin), en die volgende vier stamme van sy vroue Lea (Ruben en Juda) en Ragel (Josef – Manasse en Efraim).

Vyf van die stamme lê na die suide van die sentrale strook af.  Hierdie keer word hulle genoem van die heiligdom af tot by die suidgrens: Benjamin, Simeon, Issaskar, Sebulon en Gad.  Die eerste stam is ‘n afstammeling van Jakob se geliefde vrou Ragel (Benjamin), en dan volg drie seuns van Lea (Simeon, Issaskar, Sebulon) en die laaste stam is ook ‘n afstammeling van Silpa, Lea se slavin.

48:30-35 – Die stad se naam word: “Die Here is daar.

Esegiël sluit sy visioen af met ‘n visie op die uitgange uit die stad wat op eweredige wyse toegang aan die twaalf stamme verleen.  Die stad self is vierkantig en 5 km2 in oppervlak, 9 km in omtrek.  Sy naam is: “Die Here is daar.” Weereens is die ooreenkomste met Johannes se visioen van die hemelse Jerusalem met sy twaalf poorte opvallend.

Boodskap

Esegiël se laaste visioen sluit nie net hfst. 40-48 op ‘n inspirerende wyse af nie, maar inderdaad ook sy boek as sodanig.  Teenoor die afgryse van die ballingskap en die verydeling en verwoesting van Jerusalem en die tempel in die eerste deel van sy boek, beskryf hy hier die ideale situasie wat God vir sy mense in gedagte het.  Dit begin by God wat ‘n plek vir Homself in die lewe van sy mense skep, en ‘n tempel wat sy oorsprong in Homself het (hfst. 40-42).  Dit word voortgesit in die vergifnis en aanbidding wat die sentrum van nie net die Godsvolk se geestelike lewe vorm nie (hfst. 43-44), maar alles in die gewone lewe beïnvloed.  Selfs die Dooie See kan die effek van die lewe wat God gee nie weerstaan nie (45-48).

Die hart van Esegiël se visie is dat die Here oorvloedige lewe gee vir al sy mense met gelyke kanse in sy teenwoordigheid.  Selfs die regeerders moet soos gewone gelowiges aanbid in die tempel!  Dit is wat God vir sy mense in gedagte het, selfs vir die vreemdelinge wat hulle met die volk assosieer.

Hierop is natuurlik ook die boodskap van die NT gebaseer, hoewel dit in die lewe van Jesus en die Openbaring aan Johannes met nog meer detail uitgespel word.  Die vervulling van dié visie van Esegiël lê uiteindelik in die nuwe hemel en aarde, die nuwe Jerusalem waarin God self die tempel in die midde van die gemeenskap van gelowiges sal wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!