Skip to main content

Esegiël 47-48 – God verdeel die land regverdiglik en gee lewe vanuit die heiligdom vir die hele land

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Esegiël sluit sy profesieë af met ‘n inspirerende visie op die stroom water wat van onder die heiligdom se drumpel deur die oospoort loop en lewe gee so ver as wat dit gaan tot in die Dooie See (47:1-12).  Daarna fokus hy op die grense en verdeling van die land (47:13-48:29) sowel as op die stad waarvan die naam voortaan sal wees: “Die Here is daar.” (48:30-35).  Al drie hierdie beskrywings skets die ideale situasie wat God vir sy mense in gedagte het.  Oorvloedige lewe, gelyke kanse in sy teenwoordigheid.

47:1-12 – Die stroom water uit die tempel gee lewe tot in die Dooie See

Die man met die meetstok vestig Esegiël se aandag op die stroom water wat van onder die heiligdom se drumpel regs deur die oospoort loop.  Dit word met verdrag al hoe dieper.  Groot hoë bome het op die walle daarvan gegroei waarvan die vrugte voedsaam en die blare genesend was.

Met die terugkeer na die tempel sê die man vir Esegiël dat dié stroom deur die Jordaanvallei tot in die Dooie See loop en selfs die soutwater vars maak tot voordeel van die mense, die dier en selfs die visse: “Waar die stroom kom, sal alles lewe.”  Net ‘n deel sal sout bly, waarskynlik vir gebruik in die kultus (43:24).  Die vissers sal oral voordeel uit die oorvloed trek van En-Gedi (vandag nog aan die Dooie See) af tot by En-Eglajim (waarskynlik die varswater bron naby Qumram waar die Dooie See rolle ontdek is).

Interessant is die ooreenkoms met Johannes se visioen van: “die rivier met die water van die lewe” wat elke maand vrugte lewer en waarvan die blare van die boom genesing bring “vir die nasies” (vgl. my bydrae: Openbaring 22 – God bring lewe en genesing – Die Here Jesus is op pad terug).  Dit is duidelik dat Johannes op Esegiël se profesie uitbrei en in ‘n breër konteks plaas, beide in terme van die eindtyd sowel as in terme van die boodskap ook vir die nasies.

47:13-48:29 – Die land word regverdig onder die twaalf stamme verdeel

land-verdeling
Grafika met erkenning aan http://www.gutenberg.org

Let op dat die land regverdig verdeel word onder die twaalf stamme, die nageslag van Jakob, d.w.s die hele Israel.  Omdat Levi hulle deel by die heiligdom gekry het, kry die twee seuns van Josef, Efraim en Manasse, elkeen ‘n gelyke deel soos die ander tien stamme. Dit gee ‘n verdeling van dertien grondgebiede as ‘n mens die grondgebied van die heiligdom byreken.

Anders as in Numeri 34 met die vorige indeling van die gebiede van die 12 stamme, gee Esegiël hier ‘n baie meer eweredige verdeling van die land as van te vore.  Die enigste voorrang lê in hoe naby Juda en Benjamin aan die middelste strook ingedeel word, die deel waar die heiligdom van die Here geleë is.  Vergelyk die indeling op meegaande kaart (Grafika met erkenning aan http://www.gutenberg.org).

Die grense is basies die Jordaanvallei aan die oostekant, die Middelandse See aan die westekant, die grens tussen Israel en Damaskus (Sirië) aan die noordekant, en die grens met Egipte aan die suidekant.

Interessant genoeg kry die vreemdelinge wat al ‘n geslag lank tussen hulle woon ook grondgebied: “Julle moet sulke vreemdelinge as medeburgers tussen julle beskou.” (47:22).

Sewe van die stamme lê na die noorde van die sentrale strook waar die heiligdom, die Levitiese gebied en die grondgebied van die regeerders is.  Van die noordgrens af tot by die tempel word die gebiede van Dan, Aser, Naftali, Manasse, Efraim, Ruben en Juda ingepas.  Die eerste drie stamme is afstammelinge van Jakob se byvroue (Dan en Naftali van Bilha, Ragel se slavin – Aser van Silpa, Lea se slavin), en die volgende vier stamme van sy vroue Lea (Ruben en Juda) en Ragel (Josef – Manasse en Efraim).

Vyf van die stamme lê na die suide van die sentrale strook af.  Hierdie keer word hulle genoem van die heiligdom af tot by die suidgrens: Benjamin, Simeon, Issaskar, Sebulon en Gad.  Die eerste stam is ‘n afstammeling van Jakob se geliefde vrou Ragel (Benjamin), en dan volg drie seuns van Lea (Simeon, Issaskar, Sebulon) en die laaste stam is ook ‘n afstammeling van Silpa, Lea se slavin.

48:30-35 – Die stad se naam word: “Die Here is daar.

Esegiël sluit sy visioen af met ‘n visie op die uitgange uit die stad wat op eweredige wyse toegang aan die twaalf stamme verleen.  Die stad self is vierkantig en 5 km2 in oppervlak, 9 km in omtrek.  Sy naam is: “Die Here is daar.” Weereens is die ooreenkomste met Johannes se visioen van die hemelse Jerusalem met sy twaalf poorte opvallend.

Boodskap

Esegiël se laaste visioen sluit nie net hfst. 40-48 op ‘n inspirerende wyse af nie, maar inderdaad ook sy boek as sodanig.  Teenoor die afgryse van die ballingskap en die verydeling en verwoesting van Jerusalem en die tempel in die eerste deel van sy boek, beskryf hy hier die ideale situasie wat God vir sy mense in gedagte het.  Dit begin by God wat ‘n plek vir Homself in die lewe van sy mense skep, en ‘n tempel wat sy oorsprong in Homself het (hfst. 40-42).  Dit word voortgesit in die vergifnis en aanbidding wat die sentrum van nie net die Godsvolk se geestelike lewe vorm nie (hfst. 43-44), maar alles in die gewone lewe beïnvloed.  Selfs die Dooie See kan die effek van die lewe wat God gee nie weerstaan nie (45-48).

Die hart van Esegiël se visie is dat die Here oorvloedige lewe gee vir al sy mense met gelyke kanse in sy teenwoordigheid.  Selfs die regeerders moet soos gewone gelowiges aanbid in die tempel!  Dit is wat God vir sy mense in gedagte het, selfs vir die vreemdelinge wat hulle met die volk assosieer.

Hierop is natuurlik ook die boodskap van die NT gebaseer, hoewel dit in die lewe van Jesus en die Openbaring aan Johannes met nog meer detail uitgespel word.  Die vervulling van dié visie van Esegiël lê uiteindelik in die nuwe hemel en aarde, die nuwe Jerusalem waarin God self die tempel in die midde van die gemeenskap van gelowiges sal wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms