Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel”

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Die volgende profesie is gemik op die herstel van die land.  Dit beslaan twee dele:

  • Aan die een kant verkondig die Here verwoesting oor Edom, die bergland van Seïr (die dorpie Petra is in dié streek geleë), wat hulle vergryp het aan beide Israel en Juda se grondgebied in hulle ballingskap: “Jy het gesê: ‘Altwee volke en altwee lande is nou myne, ons gaan daardie land vat.’” (35:1-15).
  • Aan die ander kant verkondig die Here dat Israel weer die land in besit sal neem as hulle eiendom. Die “Berge van Israel” sal nie weer sy bewoners afskud nie! (36:1-15).

35:1-15 – Die hele Edom gaan ‘n land sonder inwoners word

Die oordeel oor Edom, nageslag van Esau, kom weens beide die vyandskap van ouds af (35:5) en hulle vergryp aan die grondgebied van beide Israel en Juda toe dié in ballingskap weggevoer is.  Dit sluit in dat hulle nie net die gesteelde grond sal moet afstaan nie, maar dat hulle ook hulle eie grondgebied kwyt sal wees.  Hulle haat, woede en afguns baat hulle dus niks nie.

Volgens die NAV se vertaling van vers 10 lyk dit asof die Edomiete op ‘n manier ook beweeg is tot dié onregmatige besetting van Israeliese grondgebied omdat hulle daarmee gedink het dat hulle dan ‘n aanspraak op God sou hê: “Die Here is daar!” (35:10).  Dit is egter beter om die frase as ‘n uitroep van Esegiël te neem wat sê, julle het julle misgis deur die land te vat, want die Here is steeds daar!  So het die meeste vertalings dit.

Dit leer ons dat waar die oordeel van die Here oor iemand of ‘n volk voltrek word, ander nie moet probeer voordeel trek daaruit nie.  So word dit ook in die profeet Obadja uitgespel. God haat immers vermetelheid en verwaandheid.  Dit maak nie regtig saak of die oordeel deur Israel en Juda se eie toedoen was of nie. In beide gevalle het hulle inderdaad hulle verdiende loon ontvang met die ballingskappe, maar dieselfde perspektief sou geld as die rampe onverdiend sou wees.   ‘n Mens is nie leedvermakerig en verlekker jou in die pyn van ander nie, selfs al is dit welverdiend. Veral nie as die mense “broers” en nie “vreemdelinge” is nie.

‘n Mens kan nie anders as om te dink aan die verhaal van die Barmhartige Samaritaan waar Jesus die “vreemdeling” gebruik om die wetgeleerde te oortuig om sy naaste lief te hê soos homself (Luk. 10). Hoeveel te meer moet “broers en susters” dit nie vir mekaar doen nie.

Een van die Psalmdigters herinner die Here aan dieselfde gebeure in Ps. 137:7: “Onthou die Edomiete, Here, dié dag toe Jerusalem ingeneem is, hoe hulle aangehou sê het: ‘Breek af, breek af die stad tot in sy fondamente.’” Vgl. ook Jeremia se beskuldiging in sy Klaagliedere (4:21-22 – “Wees gerus maar opgewek en bly, Edom … maar ook jy sal die oordeelsbeker moet drink …”).

36:1-15 – Die “Berge van Israel” sal nie weer sy bewoners afskud nie

Soos Esegiël met die naderende ballingskap die “Berge van Israel” aangespreek het om hulle gereed te maak om verwoesting te aanvaar – hfst. 6 – só verkondig Esegiël nou aan dieselfde berge dat hulle vir die terugkeer van Israel gereed moet maak – hfst. 36.  Edom se vergryp aan “daardie oeroue hoogtes” sal omgekeer word.

Die vernedering van die land sal omgekeer word deur die Here.  Hy beveel die land om te sorg: “dat daar bome met takke en vrugte is vir my volk Israel, hulle terugkoms is naby.” (36:8).   Die Here gaan weer na die volk omsien en vir hulle sorg.  Dit sluit in dat die land bewerk en beplant sal word, amper soos dit was met die tuin van Eden (Gen. 1:28).  Die mense sal vermeerder en vrugbaar wees.  Ook die land sal die voordeel daarvan hê.

Dit leer ons dat daar ‘n intieme verband nie net tussen mense en hulle grond is nie, maar ook tussen God en die aarde: “Die mense sê van julle, berge van Israel, dat julle mense opvreet en dat julle julle bewoners afskud.  Maar julle sal nie weer mense opvreet nie en nie weer julle bewoners afskud nie.” (36:13-14 – vgl. die slegte gerug wat die verspieders met die eerste poging tot ‘n Intog oor die land versprei het: “’n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak …” – Num. 13:32).  Die Here sal sorg dat selfs die land nie weer dié tipe beskuldigings sal hoor nie!

‘n Mens sien nou ook hoe Esegiël se visie van herstel vorm begin aanneem.  Dit sluit die Dawidiese herder (hfst. 34) en die land (hfst. 35-36) in, waarna Esegiël in die volgende hoofstuk die volk (hfst. 36:16-38) ook sal insluit wat deur die Gees vernuwe sal word (hfst. 37).  Uiteindelik sal God Hom oor die hele Israel ontferm (hfst. 37:15 vv. sowel as hfst. 39) sodat al sy mense in die teenwoordigheid van die Here – met die simbole van die tempel en die land – tot hulle reg kan kom (hfst. 40 vv.).

Boodskap

Die gedeelte herinner ons aan die intieme band wat daar tussen mense en hulle grond, sowel as tussen God en die aarde is.  Waar dié verhoudinge skeef loop, ly nie net die mense daaronder nie, maar ook die grondgebied.  God se herstel sluit dus nie net in dat mense en hulle verhouding met hulle grondgebied herstel word nie, maar inderdaad dat ook die aarde voorspoed sal belewe.

Dit laat ‘n mens anders kyk na die konflikte wat op só baie plekke op die aarde rondom grondbesit en verwante dinge bestaan.  Selfs waar mense van hulle gebied vervreem word deur hulle eie toedoen – oorlog, skuld, onbeholpenheid, rampe – moet ander nie probeer om daaruit voordeel te trek nie.  Dit laat ‘n mens ook anders kyk na die ekologie en die wyse waarop ons lewenstyl dit bedreig.

Geen wonder dat die Here ‘n nuwe hemel en spesifiek ook ‘n nuwe aarde belowe as deel van die koninkryk wat Hy kom vestig nie.  Jesaja dra reeds daardie boodskap (Jes. 65:17; 66:22 – “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, in my diens sal staan, sê die Here, so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.”) en Jesus belowe in die Bergrede dat dit juis sagmoediges is – nie die vermeteldes en verwaandes nie – wat dié nuwe aarde sal ontvang (“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” – Matt. 5:9).

Ook Petrus praat van die verwagting wat ons koester vir ‘n nuwe aarde waar die geregtigheid van God sal heers (“Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” – 2 Petr. 3:13).  En Johannes sluit sy Openbaring af  met dieselfde visie (Openb. 21:1).

View all posts in this series

Esegiël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: