Skip to main content

Jeremia 38 – Jeremia ly in die put totdat Sedekia hom raadpleeg

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie lyding van Jeremia neem in hoofstuk 38 toe met ’n weifelende Sedekia wat eers toelaat dat Jeremia in ’n put gegooi word, voordat iemand hom darem oor Jeremia ontferm (38:1-13).  Daarna vra Sedekia weer raad by Jeremia, raad wat hy soos sy gewoonte nou al is – tot sy skade en dié van sy volk – nie volg nie (38:14-28).

Jeremia 38:1-13 – Jeremia word gered deur ‘n ontmande Ethiopiër

In ’n opvolgaksie teen Jeremia deur vier van Sedekia se amptenare, Sefatja, Gedalja (die latere goewerneur wat vermoor sou word), Jukal en Pasgur – almal geswore vyande van Jeremia – word Jeremia met Sedekia se goedkeuring (“Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie”) in ’n put in die binneplaas van die paleiswag gegooi. Hulle het hom beskuldig van verraad deurdat hy die volk aangeraai het om oor te loop na die Galdeërs: “Hy sal sy lewe red, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.”

Hulle was bekommerd dat dit die volk en veral die soldate negatief sou beïnvloed: “Hierdie man wil nie die volk help nie, hy wil hulle benadeel.”  Sedekia se goeie guns aan Jeremia deur vir hom brood te verskaf van Bakkerstraat af was dus kortstondig.

Jeremia het in die modder onder in die put ingesak en die gevaar geloop om te sterf.  Gelukkig het ’n ontmande Kussiet (waarskynlik van Ethiopië), Ebed-Melek, hom oor Jeremia ontferm en Sedekia om genade gesmeek.  Ironies genoeg sit Sedekia by die Benjaminpoort, waarskynlik besig om reg te spreek in sake tussen lede van die volk in Jerusalem.

Sedekia doen egter die regte ding en stuur 3 man (sommige manuskripte en die LXX sê dit was dertig man) saam met Ebed-Melek (“slaaf van die koning”) om Jeremia te help.  Hulle het Jeremia uitgetrek met toue en stukke klere onder sy armholtes.  Jeremia was nie klein nie, wil dit voorkom, óf hy het, meer waarskynlik, beskerming nodig gehad!

Daarna kon hy weer in die binneplaas bly, hoewel daar nie meer brood oor was in die stad nie en hulle almal regtig begin honger ly het.  Bakkerstraat het dus ook nie meer vir Jeremia gewerk nie.

Jeremia 38:14-28 – Sedekia volhard in sy weiering om na die Here te luister

Sedekia was duidelik uiteindelik erg geraak deur die hongersnood en die dreigende ballingskap, want in dié verhaal sit hy by die derde ingang van die tempel en laat Jeremia haal om verder met hom te praat.  ’n Mens sou wou sê, in plaas daarvan om soos sy voorouers die tempel binne te gaan en die Here om genade te smeek!

Sedekia weet egter die einde is in sig, maar is steeds meer bekommerd oor sy eie lot as oor dié van sy mense en wil by Jeremia weet wat hom te doene staan.

In ’n kostelike interaksie kry Jeremia Sedekia eers sover om te sweer dat hy Jeremia nie iets sal aandoen nie: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.”  Hoe waar!  Sedekia gee egter die onderneming, en Jeremia spel dan ’n pad van hoop vir Sedekia uit.  Dit sou beteken dat Sedekia hom aan Nebukadnesar sou moes oorgee, soos sy voorganger en broerskind, Jojagin, gedoen het.

Ongelukkig steur Sedekia hom nie daar aan nie, waarskynlik weens ’n kombinasie van ’n swak en weifelende karakter – hy is selfs bang vir dié Jode wat reeds oorgeloop het na die Galdeërs, kan jy nou meer – sowel as ’n domastrante hoogmoed.

Ons kry ’n kykie in hoe die Here met Jeremia gewerk het, want hy probeer die koning oortuig om die Here te glo: “dit is wat die Here my laat sien het …”  Die Here het Jeremia dus waarskynlik ’n visioen gegee van wat wag aan die einde van die beleg.  Hy gebruik ook ’n digterlike beskrywing van die misleiding van die koning se gewaande vriende wat “hom van die wal in die sloot gehelp het.”  Pragtig vertaal!

Sedekia kan homself egter net nie sover kry om te luister nie, en maak Jeremia stil met ’n opmaak storie vir sy amptenare.  Die gevolg van Sedekia se weiering om na die woord van die Here te luister, is egter dat hy ’n vernederende dood ly soos Kronieke en Konings dit beskryf, en Jeremia in die volgende hoofstukke (hfst. 39-40) grafies sal uitspel.

Jeremia word darem ná die beleg van Jerusalem begenadig en vrygelaat deur Nebukadnesar, hoewel hy daarna tog uiteindelik weens die anargie in die land moes vlug na Egipte toe en sy laaste woorde in Tagpanges (vandag Tel Defne, aan die Menzalameer in Noord-Egipte) geuiter het, woorde téén Egipte!

Boodskap

In hierdie hoofstuk word die weifelende en besluitelose karakter van Sedekia op grafiese wyse geteken.  Hy gee in dat Jeremia se vyande hom byna doodmaak, en gee gelukkig ook in dat een van Jeremia se min “vriende” hom van ’n seker dood in die put red.  Selfs toe die Here vir hom ’n visioen gee deur Jeremia, kan Sedekia homself nie sover kry om die Here op sy woord te neem nie.  Hoe tragies!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.