Numeri 32 – Ruben, Gad en die helfte van Manasse kry grondgebied oos van die Jordaan

Waar die belange van vroue in Numeri 27 (en 36) ‘n aanpassing van die erfreg genoodsaak het, word op dieselfde soepele manier die versoek van die stamme Ruben en Gad gehanteer om aan die oostekant van die Jordaan in die Jaser- en Gileadstreke grondgebied te kry.  Dit was goeie veewêreld en ‘n perfekte woonplek vir hulle weens die groot troppe vee wat hulle besit het. Dit was in elk geval gebied wat hulle van die Amoriete verower het ná dié hulle wederregtelik aangeval het (Num. 21).

Let op hoe vernuftig die leiers van Ruben en Gad die gesprek benader.  Eerstens is hulle baie eerbiedig teenoor Moses in die teenwoordigheid van die hoëpriester Eleasar en die ander volksleiers: “As u dit goedvind …” Tweedens wys hulle daarop dat die gebied van die Amoriete deur die: “Here vir die volk Israel” verower is, wat hulle versoek in die oë van Moses moet legitimeer.

Moses reageer egter baie skerp daarop, want nie net sou dit beteken dat hulle nie in die oorspronklike beloofde land van Kanaän hulle grondgebied sou kry nie, hulle sou moontlik verlei kon word om nie die res van die volk te help om die land Kanaän te oorwin nie (vgl. Deut. 3:12-20 vir Moses se terugblik hierop).

Hy was bang dat hulle volksgenote ontmoedig kon word – letterlik: “julle dwarsboom die hart van die kinders van Israel” – soos dit te vore gebeur het met die 12 verkenners en dat die volk weer aan God ongehoorsaam sou kon word: “En nou kom julle, sondaarsgeslag, net soos julle voorvaders destyds, en julle maak die Here nog meer kwaad vir Israel. As julle nou aan Hom ontrou is, sal Hy die hele volk nog langer in die woestyn laat bly en hulle tot niet laat gaan.

Die twee stamme is daarom in die derde plek duidelik daaroor dat hulle steeds aan die voorpunt sal trek van die Israeliete en nie sal rus tot: “elke Israeliet sy besitting ontvang het nie.”  Hulle is dus eerbiedig, baseer hulle versoek op God se werk, en verbind hulle onomwonde aan die Intog van Israel in die beloofde land.  Hulle wou egter steeds oos van die Jordaan bly, as Moses dit sou toelaat.

Moses het ingestem op hulle eie voorwaardes, maar hulle herinner aan die gevolge van ongehoorsaamheid.  Dit sou ‘n sonde nie net teen hulle volksgenote wees nie, maar teen die Here.  Sou hulle aan Hom ongehoorsaam wees: “moet julle weet dat julle sonde julle sal agterhaal.”

Moses betrek ook vir Eleasar om die reëling vanuit die priesterlike teokrasie te bekragtig. Indien Gad en Ruben egter nie hulle kant van die ooreenkoms nakom nie, sou hulle ‘n deel van Kanaän moes kry.

In die uitdeel van hierdie grondgebied kom daar nóg ‘n stam by, die helfte van die stam Manasse wat amper verdubbel het in die omswerwinge in die woestyn.  Hulle sou dus ook oos van die Jordaan bly, waarskynlik omdat afstammelinge van Makir, seun van Manasse, ‘n groot rol gespeel het in die verowering van Gilead.  Dit is dan ook waar Selofgad se dogters hulle erfgrond gekry het, aangesien Selofgad ‘n agterkleinseun van Makir was.

Jaïr van Manasse, wat ook hier genoem word, speel later ‘n groot rol in die Rigterstyd (Rigt. 10; vgl. 1 Kron. 2:21-22).

Boodskap

Dit tref my met hoeveelheid volwassenheid die stamme dit begin regkry om met mekaar te werk. Die eerbied vir leierskap, die toe-eiening van die gawes van God, sowel as die verbintenis aan mekaar help hulle om ‘n wedersyds bevredigende ooreenkoms te bereik.  Iets wat ons gerus in ons groei in geestelike volwassenheid in gemeentes in ag kan neem.  Waar ons binne die ruimtes bly wat God aan ons gegee het, en mekaar volledig in ag neem, sal ons floreer.

Dit tref my ook hoe belangrik ‘n moedige hart is, ‘n hart wat nie gedwarsboom en ontmoedig word deur ‘n afwyking van ooreenkomste nie.  Dit geld nie net individue nie, hoewel ‘n mens dit natuurlik baie keer prakties ook van enkelinge waarneem.  Dit geld egter ook geloofsgemeenskappe.  Waar ons dit regkry om ons aan ooreenkomste te hou, versterk ons mekaar, help ons mekaar om moed te hou en die pad te loop wat die Here vir ons beplan. Waar ons dit nie doen nie, dwarsboom ons nie net ander nie, maar ook onsself en skaad ons ons verhouding met God self.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: