Skip to main content

Numeri 7 – Die Tabernakel word toegewy en ingewy

Hierdie lang hoofstuk verwys terug na die toewyding van die Tabernakel (Num. 7:1 – vgl. Eks. 40), en handel dan vervolgens oor die offergawes vir die vervoer van die Tabernakel, die offergawes vir die inwyding van die altaar (Num. 7:11-88), en die bevestiging van die gesprek tussen die Here en Moses in die tent van ontmoeting (Num. 7:89).  Vir die gerief van Afrikaanse lesers word die offergawes vir die inwyding van die altaar net een keer genoem, omdat die twaalf leiers se offergawes identies was.  In die grondteks word dit egter twaalf keer genoem.

Die toewyding van die Tabernakel – Num. 7:1

Hierdie toewyding van die Tabernakel verwys na dieselfde gebeure as in Eksodus 40.  Die toewyding van die priesters word in Levitikus 8 vertel.

Die offergawes vir die vervoer van die Tabernakel – Num. 7:2-10

Dit wil voorkom asof die 12 stamleiers saam 6 waens en 12 osse geskenk het as offergawes wat deur die Here ingespan is as hulp vir die Leviete.  Die Gersongroep van Eljasaf, wat vir die bedekking van tente en seile moes sorg, het 2 waens en 4 osse gekry vir hulle werk.  Die Merarigroep van Elisafan, wat vir die struktuur, die raamwerk en gereedskap, van die Tabernakel moes sorg, het die grootste deel gekry, 4 waens en 8 osse.  Oorhoofs het Itamar, seun van Aäron dus vir al die waens en osse verantwoordelikheid geneem, want hy was vir hierdie twee groepe verantwoordelik vanuit die priesterlike geledere.

Die Kehatgroep van Suriël het niks hiervan gekry nie, want hulle sou die heiligdom se “meubels” moes dra volgens die Here se besluit.  Hulle was onder beheer van Eleasar, die ander oorlewende seun van Aäron wat later hoëpriester sou word na sy pa se dood (Num. 20:26).

Die offergawes vir die inwyding van die altaar – Num. 7:11-88

Elkeen van die 12 stamleiers het ook ‘n uitgebreide stel offergawes gebring wat oor ‘n tydperk van 12 dae geoffer is.  Daarmee is die altaar ingewy.  Dit het telkens bestaan uit:

  • ‘n silwerskottel met ‘n graanoffer – vir die viering van die gemeenskap met God;
  • ‘n goue pannetjie met wierook – vir die graanoffers en sondeoffers, asook veral vir die wierookaltaar net voor die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het waarop elke oggend en aand wierook gebrand moes word terwyl aandag aan die menora met sy lampies gegee is (vgl. Eks. 30 en Eks. 37). Hoofstuk 8 sal verder hierna verwys;
  • drie brandoffers (bul, ram, lam), ‘n sondeoffer (bokram) – vir versoening van hulle algemene sondigheid;
  • 17 maaltydoffers (2 osse, 5 ramme, 5 bokramme, 5 lammers) – vir die bevestiging van die verbond met God – wat uiteraard ook vir die families bedoel was om by die Tabernakel mee fees te vier.

Die bevestiging van die gesprek tussen die Here en Moses – Num. 7:89

Die betekenis van hierdie groot aantal offergawes lê in die wonder van God se teenwoordigheid wat telkens in die Tabernakel, die tent van ontmoeting, tussen God en Moses gemanifesteer het.  Daarom die bevestiging dat die offerkultus nie maar net ‘n klomp formalistiese rituele aan die gang gehou het nie, maar gefokus was op die lewende gesprek wat daar voortdurend en wedersyds tussen Moses en God plaasgevind het.

Boodskap

Die offergawes vir die dienswerk van die Leviete, sowel as die offergawes vir die inwyding van die altaar onderstreep die waarde van ons gawes aan God.  Dit is natuurlik nie op dieselfde wyse as in Numeri meer belangrik nie, maar dit is steeds belangrik as die skaduwee van die werklikheid wat ons in Christus ervaar.

Ek het reeds in my bydraes oor Levitikus gewys daarop dat dit die rede is waarom in die NT steeds van ons dienswerk en dissipelskap in terme van offers aan God gepraat word.  Dit sluit ons liggame, geloof, gawes, getuienis, belydenis, aanbidding, verkondiging, gedrag, en gebede in.

  • Paulus praat van ons liggame as ‘n lewende en heilige offer aan God (Rom. 12:1), en van ons geloof as: “’n offer in diens van God” (Fil. 2:17 – met ‘n verwysing na Levitikus se “drankoffers”: “Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet.”.  Hy praat ook van ons gawes, wat ‘n wa en ‘n span osse kan insluit!, as iets wat: “voor God ’n offer met lieflike geur (is), vir Hom aanneemlik en welgevallig” (Fil. 4:18) sowel as die getuienis van ons lewe as: “die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan.“ (2 Kor. 2:15).  Ons hele lewe en bediening is dus ‘n offer aan God.
  • Die Hebreërskrywer stem saam dat ons gawes van goed doen en mededeelsaamheid ‘n offer aan die Here is: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.” (Hebr. 13:16).  En voeg daarby dat ons belydenis van Jesus as die Here ‘n lofoffer is aan God: “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.” (Hebr. 13:15).
  • Petrus brei daarop uit deur ons aanbidding, verkondiging en gedrag as geestelike offers te beskryf: “Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” (1 Pet. 2:5 – vgl. dit saam met vers 9-11 en 12-17).
  • Johannes interpreteer ook ons gebede as iets wat in die goue wierookbak op die goue altaar voor God se troon in die hemel aan God geoffer word: “’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” (Openb. 8:3-4 – vgl. Eks. 30:1-10; 37:25-28; dit word ook met die “graanoffer” en “sondeoffer” verbind: Lev. 2:1; 6:15; 16:13; 24:7).
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda