Numeri 27 – God handhaaf die erfreg van vroue en stel Josua as leier aan
In aansluiting by die sensuslys van hoofstuk 26 brei hoofstuk 27 uit oor die vyf dogters van Selofgad wat vir Moses gevra het om ook ‘n stuk grond as deel van die stam van Manasse te kry. Die beginsel van regverdigheid word gehandhaaf deur die erfreg uit te brei sodat ook vroue kon erf as daar nie ‘n manlike nasaat in ‘n familie was nie – Numeri 27:1-11. Numeri 36 sal die beginsel verder uitbrei. Josua word ook as opvolger van Moses aangestel as leier en aanvoerder van die volk – Numeri 27:12-23.
Selofgad se dogters word gelyk gegee en die erfreg aangepas vir vroue – Numeri 27:1-11
Die vyf dogters van Selofgad – Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa – kom na Moses net ná die verdeling van die land volgens die militêr weerbare mans afgehandel is, en vra vir Moses om ook ‘n stuk grond as deel van die stam van Manasse te kry. Hulle pa is ook in die woestyn dood, maar nie as gevolg van die opstand van Korag nie: “Hy het deur sy eie sondes gesterf.” Hy was dus nie ‘n rebel nie.
Omdat Selofgad nie seuns gehad het nie, sou hulle as dogters nie kon erf nie, want die erfreg is via die seuns toegepas. Hulle vra dus dat die erfreg aangepas word sodat hulle grond sou kon kry saam met die ander. Anders sou Selofgad se familie doodgewoon uitsterf en sy dogters sonder ‘n tuiste in die land wees. Dit sou as ‘n oordeel van die Here geïnterpreteer kon word (Deut. 29:20) terwyl dit eintlik net ‘n grysgebied in die reg was wat uitgesorteer kon word.
Die Here handhaaf dan ook die beginsel van regverdigheid op versoek van Moses en brei die erfreg uit sodat ook vroue kon erf as daar nie ‘n manlike nasaat was in ‘n familie nie: “Selofgad se dogters het gelyk”, sê die Here. Hulle nagedagtenis sou saam met die res van die volk geëer word in terme van grondgebied (vgl. Deut. 25:5-10).
Moses maak terselfdertyd nog verdere reëlings wat sorg dat die grond wat eenmaal aan ‘n stam uitgedeel is, deel van daardie stam bly, selfs al is daar nie manlike óf vroulike nasate nie. As daar nie seuns óf dogters was nie, het die grond in rangorde óf na die broers van die pa, óf na die ooms aan vaderskant, óf na die naaste bloedverwant, ongeag geslag.
Numeri 36 sal die beginsel verder uitbrei sodat die moontlike onreg die hoof gebied kan word dat vroue van ‘n ander stam kan erf, as die mans met wie hulle trou van ‘n ander stam sou wees. Hulle moes daarom binne stamverband trou as hulle die erfreg wou benut.
Met die Intog vertel Josua dat dié vyf dogters daarom saam met die res van Manasse grond gekry het om dié beginsel na te kom (Jos. 17:3-6; vgl. 1 Kron. 7:15). Só het dit ‘n vaste reël geword in Israel wat die idee troef dat Israel net volgens die reëls van ‘n patriargale bestel geleef het. Ook ander volke het dié reg gehad in daardie tyd (vgl. die kodeks van Hammurabi).
Kaleb gee selfs vir sy dogter Aksa ‘n stuk vrugbare landbougrond met fonteine op haar versoek om die grond wat sy reeds gekry het van hom af uit te brei. Lees die pragtige storie van haar en Otniël (Jos. 15:13-19)! Ook Job laat sy dogters erf saam met sy seuns (Job 42:15).
Josua word as opvolger van Moses aangestel as leier en aanvoerder van die volk – Numeri 27:12-23
Ons kry nóg ‘n kykie in die besondere intieme verhouding wat Moses met God geniet het met die Here se opdrag dat hy teen die Abarimberg (waarskynlik dieselfde as die Neboberg – Deut. 32:49) uitklim en die land bekyk wat God aan die Israeliete gee. God wou hom ‘n voorsmakie gee van die beloofde land, ‘n aksie wat die betekenis van ‘n voorsmakie van die ewigheid ingeneem het in die uitleg van die Hebreërskrywer (Hebr. 11:13-16).
Die realiteit was egter dat Moses, nadat hy die beloofde land gesien het, sou sterwe net soos sy broer Aäron, omdat hulle twee hulle teen God se bevel verset het en Hom, die Heilige, nie voor die volk gehoorsaam het nie, toe die volk by Kades in die Sinwoestyn teen God in opstand gekom het.
Let op hoe Moses egter nie fokus op wat hy gaan verloor nie, maar op watter gevolge sy dood vir die volk sal inhou. Daarom vra hy van die Here dat Hy iemand oor die volk sal aanstel wat vir hulle ’n leier en aanvoerder kan wees. Anders sal die volk van die Here soos skape sonder wagter wees. Hy maak staat daarop dat die Here God aan alle mense die lewe (gees) gee.
Die Here se planne is alreeds agter mekaar en gee Moses opdrag om Josua as sy opvolger die hande op te lê. Nie net het God se Gees op hom gerus nie, maar hy was die eerste om Israel in oorlog te lei in die woestyn teen die Amalekiete (Eks. 17:9).
- Josua het die eerste boek ontvang waarin hierdie oorloë opgeteken is juis om hom te versterk in die pad wat die Here met hom sou loop (Eks. 17:14).
- Hy was Moses se assistent en oral betrokke waar die Here met Moses gepraat het (Eks. 24:13).
- Hy het op ‘n keer agtergebly in die tent van ontmoeting waarskynlik in die hoop dat hy ‘n soortgelyke ontmoeting met God sou kon hê as sy mentor Moses (Eks. 33:11).
- En hy het saam met Kaleb ná hulle verkenningstog gepleit dat die volk nie die aftog moet blaas nie, maar die Here vertrou om die land in te neem (Num. 14:6).
Hier word Josua nou aangestel in die plek van Moses, ‘n rol wat hy met onderskeiding sou vervul (Jos. 24:31). Sy droom om in die tent van ontmoeting die Here te ervaar, word ook uiteindelik bewaarheid, soos in Deuteronomium vir ons later vertel sal word (Deut. 31:14)! Die boek met die woorde van Moses sou egter al hoe belangriker vir hom word in opdrag van die Here (Jos. 1:7-9), soos dit inderdaad ook vir die geloofsgemeenskap deur die eeue geword het. Josua het selfs die voorreg gehad om daaraan te help skryf (Jos. 24:25-26).
Moses lê vir Josua daarom die hande op voor die hele volk en die hoëpriester Eleasar en spel vir hom sy opdrag uit. Daarmee het Moses sy gesag oorgedra op Josua sodat die volk Israel hom kon gehoorsaam. Eleasar word ook bevestig in sy rol om via die urim en tummim die Here se wil te onderskei, veral in terme van die Heilige Oorlog wat binnekort sou begin. Eleasar sou die besluit neem wanneer oorlog gemaak moet word en wanneer nie.
Boodskap
Die verhaal van Selofgad se dogters bevestig God se regverdigheid selfs in grys gebiede. Hy is in sy wese billik en regverdig wat aanpas by die praktiese situasies in die volk en sorg dat die beginsel van regverdigheid toegepas word. Dit is hoe God is. Dit is waarop ons kan staatmaak ook in die praktiese vrae wat ons van tyd tot tyd moet hanteer.
Die verhaal van Josua se aanstelling as leier en aanvoerder van Israel bevestig God se sorg vir ons ook in terme van leierskap. Jesus beklemtoon in Markus 6:34 en Johannes 10:3-4 die noodsaak van herders vir die volk as Hy van die Jode as skape sonder ‘n herder praat op voetspoor van Moses se versugting in Numeri 27:17 dat die Here iemand aanstel wat die volk se leier en aanvoerder kan wees ná sy dood, sodat die volk van die Here, sê Moses: “nie soos skape sonder wagter sal wees nie” (OAV).
Daarmee begrond Jesus natuurlik sy eie rol as Goeie Herder vir die skape! Geen wonder dat Jesus se naam in Hebreeus Josua is nie! Hy wys ook vir ons hoe ons onder mekaar moet werk om die Here se werk in terme van leierskap uit te voer.
Die handoplegging van Josua: “’n man op wie my Gees is”, is ‘n teken van die geestelike gesag waarmee leiers bemagtig word. Die kerk het Israel hierin nagevolg soos ons kan sien in Handelinge 6:6 met die handoplegging van die sewe leiers wat gekies is om die versorging van die weduwees te behartig. Ons sien dit ook in Handelinge 13:3 waar Saulus en Barnabas vir hulle roeping afgesonder word, sowel as in die beskrywing van Timoteus se aanstelling (1 Tim. 4:14) en dié wat hy sou aanstel (1 Tim. 5:22). Handoplegging het dus in die NT dieselfde funksie van bemagtiging.
Handoplegging het in die NT egter ook nog die funksie van ‘n insluitende seën (Jesus wat die kinders hande oplê in Matt. 19:13-15), genesing (Mark. 6:5; 8:23; Luk. 4:40; 13:13; Hand. 28:8) en die ontvangs van die Heilige Gees (Hand. 8:17-19; 9:12, 17; 19:6; vgl. Hebr. 6:2). ‘n Gebruik waarvan ons gerus meer kan maak in ons kerklike lewe.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Numeri
- Inleiding – ‘n reisverhaal
- Indeling – twee generasies
- Ekskursie – geweld in die OT
- Ekskursie – Numeri in die NT
- Numeri 1-2 – Elkeen kry sy plek in die kamp
- Numeri 3-4 – Elke Leviet kry ‘n taak en verantwoordelikheid
- Numeri 5 – Elke Israeliet moet rein leef, veral in die huwelik
- Numeri 6 – Die impak van geloftes aan en die seën van die Here
- Numeri 7 – Die Tabernakel word toegewy en ingewy
- Numeri 8 – Die Leviete word afgesonder en gereinig vir hulle dienswerk
- Numeri 9 – Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap
- Numeri 10 – Die tyd vir die reis na Kanaän het aangebreek
- Numeri 11 – Die Here troef die gulsige verset van die volk met sy Gees en ‘n oordaad vleis
- Numeri 12 – God bevestig Moses as sy betroubaarste dienaar
- Numeri 13 – Ons was soos sprinkane in ons eie oë
- Numeri 14 – Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat?
- Numeri 15 – Verdere riglyne vir die hantering van sondes
- Numeri 16 – Verset lei tot veroordeling wat net getroef word deur voorbidding en versoening
- Numeri 17 – Aäron se kierie met ryp amandels boesem ontsag in
- Numeri 18 – Israel word ‘n gemeenskap van gee en neem
- Numeri 19 – God voorsien reinigingswater sodat hulle met Hom in gemeenskap kan lewe
- Numeri 20 – God se soewereine transformasie troef ongehoorsaamheid en onbarmhartigheid
- Numeri 21 – God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou
- Numeri 22 – Die Here gebruik die bose Bileam om Israel te seën
- Numeri 23:1-26 – Niemand kan God se seën tot niet maak nie
- Numeri 23:27-24:25 – Geseën is dié wat jou seën; Vervloek dié wat jou vervloek
- Numeri 25 – Pinehas se passie vir God stop die plaag as straf vir afgodery en onsedelikheid
- Numeri 26 – Elkeen kry sy plek in die land
- Numeri 27 – God handhaaf die erfreg van vroue en stel Josua as leier aan
- Numeri 28-29 – Die daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse kalenders vir die vyf offers en vyf feeste
- Numeri 30 – Hou jou aan alles wat jy beloof
- Numeri 31 – Die Here straf die Midianiete met ‘n grootskaalse uitwissing
- Numeri 32 – Ruben, Gad en die helfte van Manasse kry grondgebied oos van die Jordaan
- Numeri 33 – God is getrou deur die volk se omswerwinge en wil hulle veilig in die land laat woon
- Numeri 34-35 – God beskerm die volk met grense en asielstede. Die Leviete kry ook stede en weiveld
- Numeri 36 – Elke Israeliet moes vashou aan sy deel van die stam se grond
Tags: Numeri
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus
Chris van Wyk
| #
Hi Awie, “beter” beteken hier “het ‘n groter impak.” Dit is my weergawe van Paulus se lering dat Korintiërs hulle moet toelê op die “groter / belangriker gawes” soos die Grieks in 1 Korintiërs 12:31 vertaal moet word (χαρίσματα τὰ ⸀μείζονα). Hy gee die lering omdat die Korintiërs die spreek in tale verkies (hoër geag) het eerder as profesie, terwyl profesie juis ‘n belangriker gawe was wat ‘n groter impak in die gemeente gehad het. Dit is waarom die 2020-vertaling van “belangriker genadegawes” praat (1 Kor 12:31). Want, dit is waaroor dit gaan. Op soortgelyke wyse vertaal die 2020-vertaling die een wat profeteer as “van groter waarde” as die een wat in tale spreek (1 Kor 14:5). Gawes is dus gelyk in die sin dat die Gees dit aan elkeen uitdeel soos Hy dit wil. Maar dit is ongelyk in terme van die impak wat dit in ander se lewe kan hê. Tale stig jouself en as dit reg gedoen word, is dit ‘n teken aan ongelowiges (1 Kor 14:22), maar profesie – die uitleg van God se Woord vir vandag – bring almal tot insig, verantwoording en aanbidding omdat die geheime van die hart blootgelê word (1 Kor 14:24-25). Profesie is dus ‘n “groter” of “belangriker” gawe in die konteks van die gemeente. Hoop dit help!
Chris van Wyk
| #
Hi Roland, ek verduidelik dit in die breër konteks van die perikoop. Lukas 17:20-36:
Teks en konteks
Let op hoe Jesus in die eerste twee verse in gesprek met die Fariseërs gaan oor die huidige onsigbaarheid van die koninkryk van God. Om net daarna tot en met vers 37 met sy dissipels oor die uiteindelike sigbaarheid van die koninkryk van God te praat. Die boodskap van die huidige onsigbaarheid is dus vir die Fariseërs wie se oë blind is vir wat Hy doen onder hulle. Die boodskap van die toekomstige sigbaarheid is vir sy eie mense om hulle hoop te versterk, selfs al moet hulle self in verwagting leef en nie in aanskoue nie.
17:20-21 Met die Fariseërs praat Jesus hier oor die feit dat die koninkryk van God wel in sy aardse bediening raakgesien kan word. Dit is wat die frase beteken: “die koninkryk van God is onder julle.” Hulle het egter ‘n politieke of militêre koninkryk verwag. Daarom is die koninkryk vir hulle onsigbaar. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Dis die “vinger van God” wat uit die onsigbare geestelike sfeer sy impak in hierdie wêreld maak (vgl Luk 11:20; Matt 12:28). Die Fariseërs het nie oë om dit raak te sien nie, want hulle glo nie in Hom nie.
17:22-23 Met die dissipels praat Jesus oor die toekomstige koninkryk van God wat uiteindelik sigbaar sal word wanneer Hy weer na die aarde toe sal terugkom. Dit sal aan die een kant ‘n uitdaging vir hulle wees, omdat hulle sal verlang om dit te sien, maar dat die wagtyd lank gaan wees. Waarvoor hulle veral versigtig moet wees, is om nie mislei te word deur mense wat voortydig allerlei aansprake maak dat Hy hier is of daar.
17:24 Jesus se wederkoms sal onverwags, maar duidelik herkenbaar wees, soos die weerlig op een plek slaan, maar die hele hemelruim verlig.
17:25 Dan keer Jesus terug na die hede en praat oor sy lyding en verwerping deur “hierdie geslag”, ‘n verwysing na die Joodse leiers.
Jesus verwys dan na twee voorbeelde uit die geskiedenis wat die dissipels sal help om die wederkoms te verstaan. Die verhaal van Noag en die oordeel van die vloed. En die verhaal van Lot en die oordeel oor Sodom. Albei hierdie verhale is van ‘n ongeïnhibeerde boosheid wat die samelewing oorgeneem het. Totdat God met sy oordeel ingegryp het.
17:26-27 Die mense het in Noag se tyd vir ongeveer ‘n eeu lank aangegaan met hulle lewe terwyl Noag die ark gebou het. Geëet, gedrink, en getrou. Totdat alles klaar was, Noag in die ark ingegaan het, die vloed van God se oordeel gekom en almal uitgewis is. So sal dit ook wees met Jesus se wederkoms.
17:28-30 Die mense het in Lot se tyd dieselfde gedoen. Hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant, gebou. Maar, op die dag wat die engele Lot en sy mense uit Sodom gered het, het die vuur en swael van God se oordeel uit die hemel gereën en almal uitgewis. So sal dit ook wees die dag waarop die Seun van die mens aan almal geopenbaar sal word. Hy sal kom met ‘n verlossende oordeel.
17:31-32 Jesus illustreer die gereedheid wat hy van sy dissipels verwag met die voorbeeld van iemand wat op die dak van sy huis is. Hy moenie nog tyd verspil om ‘n paar besittings uit die huis te gaan haal as die Here kom nie. Hy wat in die veld is, moenie terugdraai na wat by die huis is nie. “Onthou Lot se vrou!” Sy het in ‘n pilaar van sout verander toe sy teruggedraai het na wat agtergebly het in Sodom en Gomorra en is agtergelaat (Gen 19:17, 26). Sy het só haar redding verloor.
17:33 Jesus verklaar hierdie beginsel vir sy dissipels soos volg. As jy hier jou lewe probeer behou deur in te pas by hierdie wêreld, sal jy juis jou lewe daar met die wederkoms verloor. Maar, selfs as jy jou lewe hier verloor, omdat jy aan Hom getrou bly, sal jy jou lewe vir ewig behou in die hiernamaals (vgl Luk 9:24).
17:34-35 Die wederkoms sal ook ‘n skeiding bring tussen mense. Tussen eggenote en werkgenote. Die “aanneming” is ‘n verwysing na die engele se werk om die gelowiges van die ongelowiges te skei by die wederkoms. Wie Jesus in hierdie lewe “aanneem” (Joh 1:12), sal met sy Wederkoms “aangeneem word.”
17:36 Die dissipels probeer dan die plek agterkom waar dit sal gebeur. As die tyd dan onbekend is. Miskien kan hulle ten minste die plek identifiseer waar dit sal gebeur. Jesus antwoord hulle egter nie direk nie. Hy gebruik ‘n moeilike interpreteerbare verwysing na aasvoëls. Dit kan dui op die herkenbaarheid van die wederkoms, soos ’n mens weet daar is ’n lyk as aasvoëls daarom vlieg. Hulle sal dus weet as die wêreld ryp is vir oordeel. Die wêreld sal soos ’n verrottende lyk wees waarom die aasvoëls draai. Dan sal die einde kom.
Boodskap en betekenis
Hierdie verhale van Noag en Lot, en Jesus se toepassing daarvan, moet ons waaksaam maak om Jesus te gehoorsaam in hierdie lewe, en gereed maak sodat ons Hom in die volgende lewe kan ontvang as Hy terugkeer. Die tragiese feit dat die wederkoms ook skeiding sal bring tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie, moet ons aanvuur om die evangelie aan almal te bring.