Skip to main content

Numeri 8 – Die Leviete word afgesonder en gereinig vir hulle dienswerk

In hierdie hoofstuk word die laaste detail ten opsigte van die Tabernakel en die Leviete gegee voordat hulle die eerste Paasfees in die woestyn sou vier en die reis na die beloofde land sou aanpak.  Dit sluit die voorskrifte in vir die versorging van die menora (kandelaar) met die sewe lampies in die heiligdom (Num. 8:1-4), die afsondering en reiniging van die Leviete vir hulle dienswerk (Num. 8:5-22) en die reëlings vir die termyne waarin hulle die dienswerk kon verrig (Num. 8:23-26).

Die versorging van die menora met die sewe lampies – Num. 8:1-4

Die instruksies vir die maak van die 34 kg goue menora met sewe arms en sewe lampies is reeds in Eksodus 25:31-40 gegee en in fyn detail vertel.  Die uitvoering daarvan is in Eks. 37:17-24 vertel.  Hier word dit kortliks weer genoem met ‘n fokus op die feit dat die lampies na vore moet wys om sy lig effektief in die heiligdom te kan gee.

Soos ek vroeër al geskryf het, deurdat die sewe lampies voortdurend sou brand, het dit die betekenis aan die volk oorgedra dat die Here nie slaap of sluimer nie, maar altyd as hulle Beskermer sou optree (Ps. 121:4), presies dit wat ook in hoofstuk 6 beklemtoon is met die Aäronitiese seën.  Die profeet Sagaria sou in sy vyfde gesig ‘n weergawe van dié kandelaar sien waaraan ‘n uitbreiding van die boodskap gekoppel is wat die leiers (die goewerneur Serubbabel saam met die hoëpriester Jesua) opgeroep het om op dié God te vertrou: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” (Sag. 4:6).

‘n Mens bespeur in die kandelaar ‘n herinnering aan die teenwoordigheid van die Here vroeër in die brandende doringbos (Eks. 3), sowel as ‘n voorafskaduwing van Johannes se visie op Jesus wat sy teenwoordigheid tussen sewe kandelare laat geld waarin dit as ‘n simbool van die sewe gemeentes in Klein-Asië gebruik word (Openb. 1).  Die kandelaar in die tabernakel dra dus nie net die boodskap van God se teenwoordigheid as ‘n abstrakte iets oor nie, maar as ‘n teenwoordigheid wat sy mense inderdaad beskerm.

Die afsondering en reiniging van die Leviete vir hulle dienswerk – Num. 8:5-22

Soos ons in Numeri 3 gesien het, is die Leviete uitgekies om die Here in die Tabernakel te dien in die plek van al die eersgeborenes van Israel (vgl. Eks. 13).  Hulle dienswerk het veral in die beskerming van die Tabernakel sowel as die administrasie en logistiek van die vervoer daarvan bestaan.  Betrokkenheid by die offers en die heiligdom is uitgesluit, behalwe dat die Kehatiete wel die heiligdom kon vervoer nadat dit deur die priesters toegemaak is met blou en rooi doeke sodat die Leviete nie direk in aanraking daarmee kon kom nie.

Soos die priesters – Aäron en sy seuns – aanvanklik afgesonder en gereinig is (Eks. 29; Lev. 8), word die Leviete nou ook afgesonder en gereinig.  Die Leviete is simbolies besprinkel met reinigingswater waarna hulle alle liggaamshare afgeskeer het.  Interessant genoeg het die Nasireërs iets soortgelyks gedoen, maar in hulle geval ná die tyd van hulle gelofte verby was.  Hier word die skeerdery vóór die Leviete se dienstermyn gedoen.

Die Leviete se klere is ook gewas wat ook anders is as wat met die priesters die geval was.  Die priesters het nuwe klere gekry met hulle afsondering en toewyding vir die amptelike funksie wat hulle in die heiligdom moes verrig.  Dit onderstreep die onderskeid tussen die priesters en die Leviete deurdat dit ook net die priesters was wat met olie gesalf is as bevestiging vir die diens wat binne die heiligdom gelewer sou word.

Ná die uiterlike reiniging is daar ‘n brandoffer met die gepaardgaande graanoffer sowel as ‘n sondeoffer gebring om versoening te doen vir hulle algemene sondigheid sowel as enige konkrete onopsetlike sondes waaraan hulle skuldig was.

Die Israeliete – waarskynlik die leiers – het hulle hande simbolies op die Leviete geplaas om die Leviete se afsondering namens die volk aan die Here te beklemtoon.  Daarmee is die Leviete as beweegoffer aan die Here toegewy, ‘n gedagte wat die OT agtergrond vorm van Paulus se bekende oproep aan alle Christene in Romeine 12 om hulleself as “lewende offers” aan God toe te wy.

Daardeur is die Leviete as God se eiendom afgesonder en kon hulle hulle dienswerk verrig as ‘n gawe van God aan die priesters.  Die spesifieke dienswerk van die Leviete is reeds in meer detail uitgespel in Numeri 3-4.

Die reëlings vir die termyne waarin hulle die dienswerk kon verrig – Num. 8:23-26

Dit wil voorkom asof Leviete op 25 onder toesig toegelaat is om diens te begin doen (Num. 8:24), maar eers op 30 jaar oud volle verantwoordelikheid kon neem.  Ons lei dit af uit die feit dat die diensdoende Leviete in hoofstuk 3-4 net tussen 30-50 jaar oud getel is.  Op 50 jaar oud moes hulle ook aftree (Num. 8:25).

Later in die geskiedenis is Leviete van 20 jaar oud af toegelaat om diens te doen.  Ons sien dit in die tyd van Dawid (1 Kron. 23:24) sowel as Hiskia (2 Kron. 31:17), soos dit ook die geval was ná die ballingskap (Esra 3:8) waarskynlik omdat daar te min dienende Leviete beskikbaar was.

Boodskap

‘n Mens kan twee elemente in dié hoofstuk uitlig wat steeds vandag tot ons spreek soos ons dit veral raaksien in die wyse waarop Paulus in Romeine 12 hierop uitbrei.

  1. Dit is duidelik dat elke gelowige moet groei in sy of haar afsondering en reiniging vir die Here. In Numeri 8 was dit net die Leviete (en In Lev. 8 natuurlik die priesters) wat deur só ‘n proses van afsondering en reiniging moes gaan om in diens van die Here te kan staan.  Hulle moes as ‘n “beweegoffer” aan die Here gewy word.  Paulus sluit daarby aan maar maak dit van toepassing op alle gelowiges: “Broers en susters, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame as ’n lewende, heilige en aanneemlike offer vir God te bied.  Dit is sinvolle godsdiens.  Julle moet nie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die wil van God is – wat goed en aanneemlik en volmaak is.” (Rom. 12:1-2 – BDV).  Dit geld ook vir jou as gelowige.  Laat die Gees jou lei om in alle opsigte in heiligheid te groei sodat jy volkome volgens die wil van God kan lewe.  Jy kan ook kyk na Romeine 8 wat uitbrei op die reinigende werk van die Heilige Gees in elkeen van ons.
  2. Dit is ook duidelik dat geen gelowige uitgesluit is in die diens aan die Here nie. Dit is nie meer net die Leviete en priesters wat vir ‘n spesifieke doel afgesonder en gereinig word nie soos in Numeri 8 en Levitikus 8 nie.  Die Gees van Christus gee aan elke gelowige ‘n gawe – profesie, diens, onderrig, bemoediging, mededeelsaamheid, leiding, barmhartigheid – soos Paulus verder skryf in Romeine 12 (vgl. 1 Kor. 12 wat nog ‘n paar gawes byvoeg – woord van wysheid, woord van kennis, geloof, genesing, dinamiese kragte, onderskeiding van geeste, verskillende soorte tale) en stel ons só in staat om saam te werk om die liggaam van Christus te bou (Ef. 4:1-16).  Daar is wel ook besondere gawes – apostels, profete, evangeliste, en herder-leraars – wat ten doel het om gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk.  Maar dit is ‘n onderskeid in funksie nie in verantwoordelikheid nie.  Alle gelowiges is ingetrek in die dienswerk in die liggaam van Christus.  Vind dus uit waarmee God jou begenadig het en raak betrokke in die liggaam van Christus.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.