Numeri 14 – Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat?
Hierdie hoofstuk lees soos ‘n boeiende kortverhaal. Dit beskryf in sewe episodes die eb en vloei van die verhouding van die volk met God:
- Dit begin by die frustrasie van God met die feit dat die volk vir hoe lank al sy almag bly onderskat. Hulle huil uit vrees vir die Intog eerder as om op God te vertrou – Numeri 14:1-12.
- Moses reageer op God se toorn deur Hom aan sy groot liefde vir hulle te herinner en te vra dat Hy hulle sonde sal vergewe – Numeri 14:13-19.
- Die Here demonstreer sy vergifnis, maar is ook duidelik daaroor dat nie een van dié wat Hom geminag het die land sal sien nie – Numeri 14:20-25.
- God sal met hulle maak soos Hy hulle hoor sê het. Hulle sal die binnekant van dié land nooit sien nie op grond van hulle eie ongeloof – Numeri 14:26-30.
- Wat die Here wel sal doen, is om aan hulle kinders die land te gee. Dié land wat hulle pa’s en ma’s verwerp het, sal hulle lief kry – Numeri 14:31-35.
- Die verkenners in verset word nie vergewe nie, en sterf deur ‘n plaag van die Here, omdat hulle ‘n slegte gerug oor die land versprei het en direk tot die vrees van die volk aanleiding gegee het – Numeri 14:36-38.
- Die volk is egter self vermetel genoeg om op hulle eie vermoëns staat te maak en die land tóg in te val toe hulle agterkom dat hulle verkeerd opgetree het, maar téén die Here se wil. Daarom faal hulle in hulle onderneming. Die Here was nie daarin teenwoordig nie – Numeri 14:39-45
Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat – Numeri 14:1-12
Die teenstand teen Moses en Aäron kom van die hele geloofsgemeenskap af, uitgesonderd ‘n enkeling soos Kaleb wat hom reeds bereid verklaar het direk ná die verkenning om gehoorsaam te wees aan die Here. Die mense het egter aanhoudend hardop gekla en gehuil reg deur die nag in hulle tente weens die “slegte gerug” van die ander verkenners en die volgende dag gerebelleer teen hulle leiers: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het!”
Josua word waarskynlik deur dié rebellie oortuig om hom te skaar by Kaleb en skeur saam met Kaleb sy klere nadat Moses en Aäron voor die hele volk op hulle knieë geval het. Mirjam se stem het stil geraak ná haar vorige rebellie teen Moses (Num. 12). Haar naam word nog net een keer verder in die verhaal genoem met haar dood.
Op roerende wyse probeer Kaleb die volk oortuig om die Here te bly vertrou en nie in opstand te kom teen sy wil vir hulle nie. Die land is ‘n buitengewone goeie land en die Here is hulle só goedgesind dat Hy die land vir hulle wil gee. Omdat die Here aan sy volk se kant is, hoef hulle nie vir die land se mense bang te wees nie. In die Hebreeus sê Kaleb: “Hulle is ons kos”!
Die volk wil egter ander leiers hê wat hulle kan terugneem na Egipte toe weg van wat die Here vir hulle wil gee. Daarom word hulle nie deur Kaleb se pleidooi en bemoediging oortuig nie, en dreig om die leiers met klippe dood te gooi.
Die Here se magtige teenwoordigheid by die tent van ontmoeting verdryf egter enige sweem van onsekerheid by die Israeliete oor waar Hy staan in dié konflik. In sy gesprek met Moses kom ‘n mens agter dat die volk se verset ten diepste natuurlik teen die Here is. Hulle het sy almag nie vertrou nie tot sy groot frustrasie. Daarom vra die Here vir Moses: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?” Hy wil hulle uitwis met die pes en eerder net met Moses verder gaan. Die voortbestaan van die volk is dus in gedrang weens hulle vrees vir die volgende fase van hulle gehoorsaamheid aan sy plan vir hulle lewe.
Vergewe tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde – Numeri 14:13-19
Soos tevore met die krisis van die goue kalf (Eks. 32; Eks. 33) wys Moses die Here op die feit dat as Hy die volk uitwis, sal al die ander volke kan dink dat God inderdaad nie almagtig is nie, omdat Hy nie in staat was om die volk deur die woestyn in die beloofde land te bring nie. ‘n Uittog sonder ‘n Intog sal nie sin maak nie.
Daarom gebruik Hy die selfopenbaring van God dat Hy ‘n God van vergifnis is, al spreek Hy niemand sonder meer vry nie (Eks. 34) – en al het die Here verkondig dat die gevolge daarvan tot in die derde en vierde geslag van dié wat God haat geldig bly, soos dit in die tweede gebod uitgespel is (Eks. 20) – en smeek namens die volk dat Hy hulle genadig sal wees.
Op briljante wyse gebruik Hy die wonderdade van die Here – die Uittog uit Egipte, die wolk- en vuurkolom – om nie net die voorsiening vir die volk te beklemtoon nie, maar die feit dat Egipte dit kon sien en die nasies daarvan te hore gekom het, te onderstreep. Die wonders van God is nie net iets wat sy mense verbly nie, maar getuienisse van God se grootheid aan ‘n wêreld wat in opstand is teen Hom, in die hoop dat dit hulle harte sal versag om in Hom te glo. Daarom dat Johannes in sy evangelie telkens die wonders van Jesus as “tekens” beskrywe.
Trouens, die Here sou jare later in die 6de eeu v.C. dieselfde waarheid gebruik in opdrag aan Esegiël om die Terugkeer uit ballingskap aan die volk in Babel te verkondig (Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself). Die wonder van die Skrif wat die Skrif gebruik in die uitleg van die waarheid wat van God af kom!
Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie – Numeri 14:20-25
Let op dat die Here hierdie smeking van Moses vir die volk eer en die volk vergewe. Aan die een kant spaar Hy die eerste generasie se lewe, al sou hulle die beloofde land nie sien nie. Nie een van dié wat God geminag het, sou die beloofde land sien nie, net die twee getroues, Kaleb en Josua. Ons kom selfs later agter dat Hy uiteindelik net die tien verkenners in verset teen sy wil vir die volk met die dood straf. Die volk moet egter omdraai terug op die pad na die Rietsee toe. Watter angswekkende uitkoms, veel erger as die uitdaging van die land!
Aan die ander kant hef God op uiters regverdige wyse die gevolge van hulle sonde op die tweede generasie op, sodat die kinders nie uiteindelik só onder hulle pa’s en ma’s se sonde ly dat hulle ook nie die beloofde land sien nie. Die lang ompad deur die woestyn sou wel steeds hulle lot ook wees. Maar God se vergifnis verseker dat hulle die beloofde land kon binnegaan. Almal onder twintig jaar oud.
Die tweede generasie word natuurlik veertig jaar later op hulle beurt herinner om in hulle gehoorsaamheid te volhard toe die tyd kom om die beloofde land binne te val, soos Moses dit in Deuteronomium 5:9-10 met die herhaling van die Tien Gebooie en meer spesifiek die tweede gebod doen.
Sou hulle self sondig deur die Here nie te vertrou nie, bly die gevolge van die tweede gebod van krag: “Jy mag hulle (afgode) nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.” ‘n Belangrik insig om ter harte te neem in ‘n mens se hantering van die tweede gebod.
God spreek regtig niemand sonder meer vry nie, behalwe waar die vergifnis van die Here deur gehoorsaamheid omarm word. Dan hef Hy selfs die gevolge vir die derde en vierde geslag op. En kom die ander deel van die tweede gebod in spel, dat God sy liefde betoon aan die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam. Watter ongelooflike waarheid om te omarm!
Esegiël sal hierdie waarheid weer ‘n slag onderstreep in Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem. God is regverdig. Hy hef die gevolge van die sonde op waar Hy gehoorsaam word, al beteken dit soms steeds ‘n woestyntyd. Hy is ook billik. Hy sien die individu raak in sy lojaliteit aan Hom.
Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het – Numeri 14:26-30
Op ironiese wyse laat die Here die een deel van hulle wens waar word. Hulle het gekla: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het!” Dit is presies wat die Here nou vir hulle gee. Hulle sal in die woestyn sterf: “Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het.” Net Kaleb en Josua sal oorleef.
Die ander deel van hulle opstand teen Hom waarin hulle vreesagtig was oor die toekoms van hulle kinders keer Hy juis om en sê dat dit juis hulle, die tweede generasie, sal wees wat die land sal beset. Hulle sal nie krygsgevangenes word, soos die eerste generasie gevrees het nie, maar krygers wat in die Naam van die Here die land sal inneem.
Dit laat ‘n mens dink aan die talle plekke waar die Here waarsku teen ydele woorde, hetsy in wense of vrese. Nie net dié wat die Here se Naam ydellik gebruik nie en die derde gebod daarmee oortree nie, maar ook dié wat woorde gebruik wat leeg en doelloos is en van ‘n opstand teen die lewe saam met God getuig.
Jesus se waarskuwing teen jou persoonlike gebruik van vrugtelose woorde sluit hierby aan: “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele (in Grieks argos – onbedagsame, onversigtige, onverskillige) woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.” (Matt. 12:36 OAV).
Paulus waarsku ook later die gemeente in Efese om versigtig te wees vir wat ander sê wat afwyk van die waarheid: “Laat niemand julle met ydel (in Grieks kenos: leë, waardelose, waarheidslose, doellose) woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.” (Ef. 5:6 OAV).
Petrus roep ons op tot ‘n algehele heilige lewenswandel wat ook by hierdie gedagterigting aansluit: “Wees heilig, want Ek is heilig. En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele (in Grieks mataios: nuttelose, futiele) lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie.” (1 Pet. 1:16-18 OAV).
Die eerste generasie in die woestyn was ‘n helder voorbeeld uit die geskiedenis van die waarheid van dié oproepe téén ydelheid in woorde en werke.
Julle kinders sal die land wat julle verwerp het, lief kry – Numeri 14:31-35
Wat die Here wel sal doen, is om aan hulle kinders die land te gee. Dié land wat hulle pa’s en ma’s verwerp het, sal hulle lief kry. Die pad daarheen lei wel deur die woestyn, ‘n gevolg van die sonde van hulle pa’s en ma’s. Maar die vergifnis wat Hy gee, baan vir hulle die weg om die belofte in vervulling te sien gaan.
Daardeur sal die eerste generasie agterkom wat dit beteken om die Here téén jou te hê. Ook die tweede generasie sal daaruit leer om nie in dieselfde slaggate te trap as hulle ouers deur ongeloof en ongehoorsaamheid nie.
Die verkenners in verset het gesterf deur ‘n plaag van die Here – Numeri 14:36-38
Die verkenners in verset word egter nie vergewe nie, en sterf deur ‘n plaag van die Here, omdat hulle ‘n slegte gerug oor die land versprei het en direk tot die vrees van die volk aanleiding gegee het. Hulle vrees het ‘n hele volk in verset gebring téén God.
Geen wonder dat in net die volgende hoofstuk uitgebrei sal word oor moedswillige sondes: “sondes wat met ‘n hoë hand gedoen word.” Dit beteken, sondes wat as’t ware jou hand téén God oplig, wat sy wil doelbewus verag en verontagsaam en Hom in oneer en diskrediet bring. Waar dit ander ook op soortgelyke wyse in opstand bring, is die gevolge vir jou tereg afgryslik. Soos hier met die tien verkenners.
Vermetelheid verlei die volk om die land in te val téén die Here se wil – Numeri 14:39-45
Die volk word egter anders as wat ‘n mens verwag nie afgeskrik deur die straf van die tien verkenners nie. Dit spoor hulle aan om in hulle arrogansie en vermetelheid op hulle eie vermoëns te probeer staat te maak om die land tóg in te val toe hulle agterkom dat hulle verkeerd opgetree het, maar téén die Here se wil. Daarom faal hulle in hulle onderneming. Die Here was nie daarin teenwoordig nie.
Die feit dat die vrees van die volk vir die vreeslike mense van Kanaän soos mis voor die son verdwyn toe hulle agterkom dat hulle verkeerd was, openbaar waarskynlik hulle sonde die heel beste in hierdie verhaal. Dit is nie dat hulle só bang was vir die “reuse” van die land dat hulle glad nie kans gesien het om die land in te sypel nie. Hulle wou net nie die Here se pad kies nie. Hulle wou nie met sy leier Moses saamwerk nie.
Hulle vermetelheid verlei die volk dus om die land in te val téén die Here se wil. En dit is ‘n volslae mislukking. Die Amalekiete en Kanaäniete (Amoriete) het hulle soos ‘n swerm bye verjaag, soos Moses in Deuteronomium 1:44 dit so pragtig stel. Sonder die Here – let op dat die ark nooit die kamp verlaat nie – kan géén onderneming slaag nie.
Boodskap
Moses reflekteer aan die einde van die woestyntyd in Deuteronomium 1:26-46 oor hierdie kritiese gebrek in die gehoorsaamheid van die eerste generasie van die volk om die tweede generasie aan te spoor om die Here volkome te vertrou soos dit in Numeri 14 vertel word.
Hy lê daar veral klem op die feit dat die verkenners die moed van die volk gebreek het al het Moses hulle verseker dat die Here vir hulle sal veg. Hy herinner hulle terselfdertyd aan sy eie onvermoë om die Here enduit te gehoorsaam, soos later in Numeri 20 vertel sal word. Ook Moses sal die land dus nie kan ingaan nie, net Kaleb en Josua. Hy wei ook uit oor hulle vermetelheid om uiteindelik tóg die land in te probeer val téén die Here se bevel. Hulle het gedink dit sal kinderspeletjies wees, maar het sleg tweede gekom.
Hierdie verhaal van Numeri 14 is dus ‘n ongelooflike raak beskrywing van die geestelike lewe met God. Van die noodsaak van vertroue op God om ons vrees vir die lewe te oorkom. Van die dwase vermetelheid om iets sonder God se almag aan te pak, wat nog te sê as Hy direk daarteen waarsku.
Die Hebreërskrywer vergelyk daarom die verhaal van die dwase ongehoorsaamheid van Israel om die Here se almag te wantrou en in verset teen Hom te kom in Numeri 14 (vgl. Ps. 95 wat verder hierop uitbrei) deur nie bereid te wees om die land in te neem nie. Hy kontrasteer hulle opstand teen God met die getrouheid van Jesus wat tot die einde gehoorsaam was.
Dit is ‘n helder waarskuwing aan die geloofsgemeenskap om nie in dieselfde strik van ontrouheid te trap as die volk in die woestyn en so die belofte van God se rus mis te loop nie: “Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (Hebr. 3:7-19).
Ook Paulus gebruik die reis deur die woestyn op pad na die beloofde land as ‘n metafoor om die gelowiges in Kolosse aan te moedig om in alle omstandighede geduldig te volhard sodat hulle die “erfenis” wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig in besit kan neem (Kolossense 1:3-14; vgl. ook Matt. 18:29; 25:34; Gal. 5:21; Ef. 1:18; Hebr. 9:15; 1 Pet. 1:4). Paulus bid dat hulle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang en vas en sterk in die geloof te staan sodat hulle nie losgeruk word van die hoop wat in hulle gewek is deur die evangelie nie (Kol. 1:21-23).
Hierdie tipe gehoorsaamheid en volharding word ook van ons gevra.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Numeri - July 20, 2017
- Inleiding – ‘n reisverhaal - July 24, 2017
- Indeling – twee generasies - July 25, 2017
- Ekskursie – geweld in die OT - July 26, 2017
- Ekskursie – Numeri in die NT - July 27, 2017
- Numeri 1-2 – Elkeen kry sy plek in die kamp - July 28, 2017
- Numeri 3-4 – Elke Leviet kry ‘n taak en verantwoordelikheid - July 31, 2017
- Numeri 5 – Elke Israeliet moet rein leef, veral in die huwelik - August 1, 2017
- Numeri 6 – Die impak van geloftes aan en die seën van die Here - August 2, 2017
- Numeri 7 – Die Tabernakel word toegewy en ingewy - August 3, 2017
- Numeri 8 – Die Leviete word afgesonder en gereinig vir hulle dienswerk - August 4, 2017
- Numeri 9 – Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap - August 7, 2017
- Numeri 10 – Die tyd vir die reis na Kanaän het aangebreek - August 8, 2017
- Numeri 11 – Die Here troef die gulsige verset van die volk met sy Gees en ‘n oordaad vleis - August 9, 2017
- Numeri 12 – God bevestig Moses as sy betroubaarste dienaar - August 10, 2017
- Numeri 13 – Ons was soos sprinkane in ons eie oë - August 11, 2017
- Numeri 14 – Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? - August 14, 2017
- Numeri 15 – Verdere riglyne vir die hantering van sondes - August 15, 2017
- Numeri 16 – Verset lei tot veroordeling wat net getroef word deur voorbidding en versoening - August 16, 2017
- Numeri 17 – Aäron se kierie met ryp amandels boesem ontsag in - August 17, 2017
- Numeri 18 – Israel word ‘n gemeenskap van gee en neem - August 18, 2017
- Numeri 19 – God voorsien reinigingswater sodat hulle met Hom in gemeenskap kan lewe - August 21, 2017
- Numeri 20 – God se soewereine transformasie troef ongehoorsaamheid en onbarmhartigheid - August 22, 2017
- Numeri 21 – God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou - August 23, 2017
- Numeri 22 – Die Here gebruik die bose Bileam om Israel te seën - August 24, 2017
- Numeri 23:1-26 – Niemand kan God se seën tot niet maak nie - August 26, 2017
- Numeri 23:27-24:25 – Geseën is dié wat jou seën; Vervloek dié wat jou vervloek - August 28, 2017
- Numeri 25 – Pinehas se passie vir God stop die plaag as straf vir afgodery en onsedelikheid - August 29, 2017
- Numeri 26 – Elkeen kry sy plek in die land - August 30, 2017
- Numeri 27 – God handhaaf die erfreg van vroue en stel Josua as leier aan - August 31, 2017
- Numeri 28-29 – Die daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse kalenders vir die vyf offers en vyf feeste - September 1, 2017
- Numeri 30 – Hou jou aan alles wat jy beloof - September 4, 2017
- Numeri 31 – Die Here straf die Midianiete met ‘n grootskaalse uitwissing - September 5, 2017
- Numeri 32 – Ruben, Gad en die helfte van Manasse kry grondgebied oos van die Jordaan - September 6, 2017
- Numeri 33 – God is getrou deur die volk se omswerwinge en wil hulle veilig in die land laat woon - September 7, 2017
- Numeri 34-35 – God beskerm die volk met grense en asielstede. Die Leviete kry ook stede en weiveld - September 8, 2017
- Numeri 36 – Elke Israeliet moes vashou aan sy deel van die stam se grond - September 9, 2017