Skip to main content

Numeri 20 – God se soewereine transformasie troef ongehoorsaamheid en onbarmhartigheid

Dit is merkwaardig dat Numeri van hoofstuk 19 tot 20 ‘n hele 38 jaar oorslaan, die hele tyd van die eerste generasie se omswerwinge in die woestyn tot hulle weer by Kades uitkom sodat die tweede generasie die land kan binnetrek.  Hoofstuk 20 begin ook nie met ‘n positiewe hoopvolle verhaal nie.  Trouens aldrie opgetekende verhale in die hoofstuk vertel van verydeling en mislukking.

Dit begin met Moses en Aäron se struikeling net voor die Intog om nie die Here te vertrou en sy heiligheid te erken  nie.  Hulle sou daarom nooit die beloofde land sien nie – Num. 20:1-13.  Dit vervolg met die weiering van hulle broersvolk Edom, nageslag van Esau, om hulle op enige manier by te staan om deur hulle grondgebied te trek na Kanaän toe.  Die kwaaivriendskap sou net in intensiteit hierna toeneem – Num. 20:14-20.  Dit sluit af met die dood van Aäron op Horberg.  Sy seun sou die beloofde land binnegaan as hoëpriester. Aäron nie – Num. 20:22-29.

Moses en Aäron vertrou die Here nie en erken nie sy heiligheid nie – Num. 20:1-13

Dit is merkwaardig dat die hele 38 jaar omswerwing deur die woestyn oorgeslaan word en die verhaal hier in Numeri 20 hervat word met die Israeliete wat weer in die Sinwoestyn aankom by Kades waar hulle gereed sal begin maak om die beloofde land in te neem.  Ons lei die tydperk af uit Aäron se dood wat net hierna by die berg Hor beskrywe word (Num. 20:22-29), sowel as die gegewens in Deuteronomium 2:14.  Aäron het gesterf in die vyfde maand van die 40ste jaar ná die Uittog uit Egipte (Num. 33:38), nadat die aanvanklike reis deur die woestyn ongeveer 2 jaar geduur het.  Aäron was 123 jaar oud met sy dood.

Dit is duidelik uit Numeri 33 dat Israel se omswerwinge deur die woestyn na die mislukte Intog hulle deur 18 ander plekke geneem het waar hulle van tyd tot tyd kamp opgeslaan het (Num. 33 – Ritma tot by Éseon-Geber).  Die gebeure op daardie uitmergelende roete word egter as totaal onbelangrik gereken vir die doel van Israel se verhaal.

Wat wel belangrik is, is die tragedie wat hom aan die einde van hierdie lang vrugtelose tydperk in die lewe van Israel afspeel in Moses se lewe by Kades. Nie net is sy suster Mirjam hier dood nie, maar na alles wat hy verduur het van die volk, struikel hy en Aäron oor die laaste hekkie net voor die Intog.

Toe die volk weereens kla oor water, en die Here sê hy moet “die kierie” vat – die kierie van Aäron met die ryp amandels wat in die tent van die getuienis was (vgl. Num. 17:10) – en die rots vir water moet vra, toe raak Moses se geduld op met die volk.

Let op dat sy sonde nie soseer was dat hy die rots twee keer met die kierie geslaan het nie.  Nee, dit begin alreeds by Moses wat vir die volk vra: “Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?”  En toe slaan hy boonop die rots twee maal dat daar water kan uitkom.

Moses het dus die Here nie erken vir sy voorsiening van water nie, maar op voortvarende wyse die aandag op hulleself gevestig asof hulle die bron van die voorsiening was.  Dit is waarom die Here hom (en Aäron) onmiddellik daaroor aanspreek: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.

Die BDV vertaal dit nog beter: “Omdat julle nie vertroue in My gestel het om My heiligheid voor die oë van die Israeliete te erken nie, daarom sal …”  Vertroue en erkenning gaan hand aan hand.  Anders word die heiligheid van God aangetas, iets wat leiers altyd moet bevorder.

Moses en Aäron moes dus op ‘n manier opgetree het wat God se heiligheid verheerlik het en sy betroubaarheid en deernis met die Israeliete bevestig het.  Daarom kry dié plek ook die naam van Meriba, “rusie”, maar dié keer nie weens die volk se verkeerde optrede nie, maar weens die leiers s’n.  Daarom is die straf ook so streng.  Soos die volk sou ook hulle nie die beloofde land sien nie.

Edom weier om Israel deur hulle gebied te laat trek – Num. 20:14-21

Die lied in Eksodus 15 ná Israel deur die Rietsee van farao se mag bevry is, het alreeds gesuggereer dat Edom, soos Kanaän, uit vrees vir hulle God téén Israel sal optree.  Geen wonder dat die koning van Edom dus hier negatief reageer op Moses se versoek om deur hulle grondgebied te mag trek.

Let op hoe Moses hulle familiebande beklemtoon: “So sê u broer Israel,” en die bekende, maar uitdagende geskiedenis van die slawerny in Egipte as motivering vir sy versoek om Edom se barmhartigheid aanhaal: “Die Egiptenaars het ons voorvaders én vir ons sleg behandel.”

Hy brei ook uit oor die hulp wat die Here aan hulle verleen het, en die engel wat hulle help trek het, amper soos Jakob dit toentertyd gedoen het toe hy Esau tegemoet getrek het ná sy vlug weens sy bedrog (Gen. 33).  En hy is duidelik daaroor dat hulle niks sal vat, selfs nie water nie.  Dié sal hulle koop.

Die koning van Edom sluit egter sy hart vir Israel en weier dat hulle deur Edom trek, selfs nie toe Moses ‘n tweede keer vra nie.  Met ‘n magsvertoon van sy leër dwing hy Israel om die ompad rondom die Seïrberg te neem.

In Deuteronomium gebruik Moses die verhaal as ‘n waarskuwing aan Israel op die vooraand van die Intog dat hulle God se reëlings met die nasies moet eerbiedig.  Edom se gebied, nageslag van Esau, sowel as dié van die Moabiete en Ammoniete, nageslag van Lot se twee dogters, was daarom buite perke vir die Israeliete.  Net die land Kanaän was hulle beloofde land, nie hierdie drie nasies se grondgebied nie.  Dit was God se geskenk aan hulle.

Lees gerus verder oor die impak wat hierdie respek vir die volke wat ‘n gedeelde afkoms met hulle gehad het, later in die geskiedenis van Israel ná die Intog gehad het.  Omdat Israel nie die Ammoniete en Moabiete verwoes het met die Intog nie, kon hulle op die Here se hulp staatmaak toe dié twee nasies wederregtelik op grond van ‘n verdraaide historiese bewussyn teen Israel opgetrek het.  Jefta kon hulle daarom oorwin op grond van ‘n korrekte verstaan van wat regtig gebeur het met die Intog en kon deur die bemagtiging van die Gees teen hulle optree (Rigt. 11).

Dieselfde het gebeur in die onderskeie oorloë teen Edom in die tyd van Saul en Dawid. Edom het selfs onderhorig aan Dawid geword in sy tydperk as koning weens hulle voortdurende opstand teen Israel (2 Sam. 8:14). Ook in die profete word daar telkens ‘n oordeel oor Edom uitgespreek (Jes. 34:5 vv.; Jer. 49:7 vv.; Eseg. 25:12 vv.).  En die aanklag is veral weens hulle gebrek aan broederliefde (Amos 1:11). Trouens die hele profeet Obadja handel daaroor.

Aäron sterf op die Horberg – Num. 20:22-29

Met hulle reis rondom die gebied van Edom kom Israel by Horberg waar die Here halt roep in Aäron se lewe (Deut. 10:6 dui die gebied as Moseret aan).  Met die uittrek van sy hoëpriesterskleed word sy gesag op sy seun Eleasar oorgedra en sterwe Aäron op die berg.  Sy nagedagtenis is met ‘n dertig dae routydperk gevier.

Boodskap

Hierdie gedeelte laat ‘n mens met twee oorhoofse perspektiewe op die lewe.

1.  Die eerste perspektief is die verydeling en tragedie van ongehoorsaamheid en onbarmhartigheid. Dit dwarsboom die verhouding met God net soseer as wat dit die verhouding met mekaar laat misluk.  Moses en Aäron se ongehoorsaamheid dwarsboom hulle lewensdroom om die volk die land binne te lei.  Edom se onbarmhartigheid teenoor die volk bring verwydering tussen dié twee broersvolke wat mettertyd in volskaalse oorlog sou ontwikkel.  Aäron se dood getuig van die einde van ‘n droom.  Moses s’n sou ‘n tydjie later volg, sonder dat hy die land kan binnegaan.

Die eerste perspektief is dus ‘n waarskuwing aan ons om die Here te dien in totale gehoorsaamheid, want Hy kan dit nie net afdwing nie, Hy is dit werd om gedien te word!  Ons moet Hom en sy wil vir die lewe daarom met die diepste respek hanteer.

2.  Die tweede perspektief is die bevestiging van God se soewereine transformasie selfs van die haglikste situasie. Hy gee steeds baie water vir die volk al probeer Moses en Aäron sy eer steel.  Hy beskerm die volk teen die onbarmhartigheid van Edom en sou hulle telkens deur die loop van die geskiedenis teen hulle help.  Hy voorsien ‘n opvolger vir Aäron as hoëpriester sodat daar voortgang kan wees in die diens by die Tabernakel.

Die tweede perspektief is dus ‘n aanmoediging vir ons en ‘n bron van vurige hoop.  God se planne word nie gefnuik deur ongehoorsaamheid en onbarmhartigheid nie.  Daarop kan ons ten volle en in alle omstandighede vertrou.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar