Numeri 9 – Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap

Soos die eerste Paasfees die Uittog uit Egipte ingelui het (Eks. 12), só lui die tweede Paasfees die voortsit van die reis deur die woestyn na die beloofde land in – Numeri 9:1-14.  Soos die wolk- en vuurkolom voorheen die kompas was op die trek uit Egipte deur die Rietsee (Eks. 13), só word dit nou ook die geval op die trek van Sinai af na die beloofde land – Numeri 9:15-23.

Wanneer die wolk optrek, was dit die teken dat die volk moes trek.  Wanneer die wolk afkom, was dit die teken dat die volk moes kamp opslaan.  Soos God dus sou beweeg, só moes die geloofsgemeenskap Hom getrou volg.

Die tweede Paasfees word gevier – Numeri 9:1-14

Met die viering van die tweede Paasfees was daar egter persone wat nie kon deelneem nie as gevolg van die feit dat hulle onrein was, waarskynlik weens dood in die familie.  Hulle het dus gevra of hulle maar tog die Paasfees kan vier nie.  Die Here het hulle verlof gegee om die Paasfees ‘n maand later te vier en terselfdertyd dit ‘n reël vir die toekoms gemaak as mense bv. op reis sou wees en nie die Paasfees saam met die geloofsgemeenskap kon vier nie.  Dieselfde het ook die vreemdeling gegeld wat met Israel geïdentifiseer het.

In die tyd van koning Hiskia het hy ná die wegvoering van die noordryk die oorblywendes in die land genooi om die Paasfees in Jerusalem saam met die mense van die suidryk Juda te kom vier.  Weens logistieke probleme het hulle hierdie reël gebruik om dit in die tweede maand van die jaar te vier (2 Kron. 30).

Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap – Numeri 9:15-23

God se teenwoordigheid in die wolk- en vuurkolom het ‘n bevestigende en begeleidende rol gehad.  Aan die een kant het dit die volk verseker van sy teenwoordigheid.  Gedurende die dag kon hulle die wolk op die Tabernakel waarneem.  Gedurende die nag was dit soos vuur.

Aan die ander kant was die optrek van die wolk van die Tabernakel af die teken dat hulle verder moes reis.  Dit was dus hulle begeleidende kompas.  Wanneer die wolk weer afgekom het, was dit die teken dat hulle moes kamp opslaan.  Wanneer God dus beweeg het, het die geloofsgemeenskap agter Hom aan beweeg.  Wanneer God tot rus gekom het, het hulle Hom daarin nagevolg en kamp opgeslaan.  Dit was soms korter – ‘n paar dae of ‘n maand – en soms langer – tot ‘n jaar lank by tye.

Psalm 105:37-45 brei uit oor die vertroue wat hierdie vuurwolk by die volk geskep het, ook as ‘n boodskap aan die nasies.  Jesaja 4 gebruik ook die beeld van die vuurwolk om die herstel van God se teenwoordigheid by sy mense ná die oordeel te beskryf.

Boodskap

  1.  Die Paasfees van die OT word vervul in die nagmaal van die NT. Jesus sterf doelbewus as ons Paaslam die Vrydag op die Paasfees waarvan die nagmaal die vorige aand een van ons sakramente geword het.  Daarom vier ons nie meer die Paasfees nie, maar wel die nagmaal as 1) herinnering aan die dood van die Here Jesus ter wille van ons, 2) waarborg van die versoening met God, 3) viering van die gemeenskap met die lewende Here, 4) verwagting van sy wederkoms, 5) vreugde oor die vrug van sy dood en opstanding in ons lewe, en 6) en dankbaarheid oor die heil wat in Christus ons deel is.

Soos die eerste Paasfees die trek uit Egipte gesimboliseer het, dien die nagmaal as ‘n bevestiging dat ons inderdaad uit die slawerny van ons sonde bevry is.  Soos die tweede Paasfees ook die trek na die beloofde land gesimboliseer het, dien die nagmaal as ‘n voortdurende bevestiging dat ons deur die Here op die geestelike reis na die nuwe hemel en aarde begelei en versorg sal word.

  1.  Die wolk- en vuurkolom van die OT word vervul in die menswording van die Here Jesus Christus wat onder ons kom “tabernakel” het, soos die Griekse woord in Johannes 1:14 vertaal kan word. Op die berg van verheerliking het ‘n helderligte wolk die dissipels ook oordek as teken van God se teenwoordigheid waarna God bevestig het dat Jesus die Een is wat nou hulle begeleier is (Mark, 9:7; Matt. 17:5; Luk. 9:34-35).  Sy hemelvaart was ook met ‘n wolk (Hand. 1:9) en sy wederkoms en oordeel sal ook op ‘n wolk wees (Luk. 21:27; Openb. 14:14-16) wat dié perspektief verder versterk.

Die Heilige Gees het ook met vuur gekom wat in tonge verdeel het en op elkeen gekom het (Hand. 2:1-4).  Met sy inwoning van elke gelowige het Hy die Een geword wat ons nou in opdrag van die Here Jesus in die waarheid lei (Joh. 16:13).  In ons gehoorsaamheid aan Hom kan ons die fyn aanvoeling ontwikkel om te beweeg of te rus wanneer God dit van ons vra op die reis na die beloofde land.

Johannes gebruik in Openbaring 20:9-10 ook die idee van die “kamp” in die woestyn uit Numeri 9:18-23 as beskrywing van die wyse waarop die geloofsgemeenskap as ‘n eenheid in ‘n “laer” moet vasstaan in die oorlog wat die Satan teen hulle voer.  Met die agtergrond wat Numeri 9 dus verskaf, beteken dit dat hierdie oorlog in absolute gehoorsaamheid aan die Here aangepak moet word.  Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap.  Wanneer God rus, rus die geloofsgemeenskap.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: