Skip to main content

Numeri 9 – Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap

Soos die eerste Paasfees die Uittog uit Egipte ingelui het (Eks. 12), só lui die tweede Paasfees die voortsit van die reis deur die woestyn na die beloofde land in – Numeri 9:1-14.  Soos die wolk- en vuurkolom voorheen die kompas was op die trek uit Egipte deur die Rietsee (Eks. 13), só word dit nou ook die geval op die trek van Sinai af na die beloofde land – Numeri 9:15-23.

Wanneer die wolk optrek, was dit die teken dat die volk moes trek.  Wanneer die wolk afkom, was dit die teken dat die volk moes kamp opslaan.  Soos God dus sou beweeg, só moes die geloofsgemeenskap Hom getrou volg.

Die tweede Paasfees word gevier – Numeri 9:1-14

Met die viering van die tweede Paasfees was daar egter persone wat nie kon deelneem nie as gevolg van die feit dat hulle onrein was, waarskynlik weens dood in die familie.  Hulle het dus gevra of hulle maar tog die Paasfees kan vier nie.  Die Here het hulle verlof gegee om die Paasfees ‘n maand later te vier en terselfdertyd dit ‘n reël vir die toekoms gemaak as mense bv. op reis sou wees en nie die Paasfees saam met die geloofsgemeenskap kon vier nie.  Dieselfde het ook die vreemdeling gegeld wat met Israel geïdentifiseer het.

In die tyd van koning Hiskia het hy ná die wegvoering van die noordryk die oorblywendes in die land genooi om die Paasfees in Jerusalem saam met die mense van die suidryk Juda te kom vier.  Weens logistieke probleme het hulle hierdie reël gebruik om dit in die tweede maand van die jaar te vier (2 Kron. 30).

Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap – Numeri 9:15-23

God se teenwoordigheid in die wolk- en vuurkolom het ‘n bevestigende en begeleidende rol gehad.  Aan die een kant het dit die volk verseker van sy teenwoordigheid.  Gedurende die dag kon hulle die wolk op die Tabernakel waarneem.  Gedurende die nag was dit soos vuur.

Aan die ander kant was die optrek van die wolk van die Tabernakel af die teken dat hulle verder moes reis.  Dit was dus hulle begeleidende kompas.  Wanneer die wolk weer afgekom het, was dit die teken dat hulle moes kamp opslaan.  Wanneer God dus beweeg het, het die geloofsgemeenskap agter Hom aan beweeg.  Wanneer God tot rus gekom het, het hulle Hom daarin nagevolg en kamp opgeslaan.  Dit was soms korter – ‘n paar dae of ‘n maand – en soms langer – tot ‘n jaar lank by tye.

Psalm 105:37-45 brei uit oor die vertroue wat hierdie vuurwolk by die volk geskep het, ook as ‘n boodskap aan die nasies.  Jesaja 4 gebruik ook die beeld van die vuurwolk om die herstel van God se teenwoordigheid by sy mense ná die oordeel te beskryf.

Boodskap

  1.  Die Paasfees van die OT word vervul in die nagmaal van die NT. Jesus sterf doelbewus as ons Paaslam die Vrydag op die Paasfees waarvan die nagmaal die vorige aand een van ons sakramente geword het.  Daarom vier ons nie meer die Paasfees nie, maar wel die nagmaal as 1) herinnering aan die dood van die Here Jesus ter wille van ons, 2) waarborg van die versoening met God, 3) viering van die gemeenskap met die lewende Here, 4) verwagting van sy wederkoms, 5) vreugde oor die vrug van sy dood en opstanding in ons lewe, en 6) en dankbaarheid oor die heil wat in Christus ons deel is.

Soos die eerste Paasfees die trek uit Egipte gesimboliseer het, dien die nagmaal as ‘n bevestiging dat ons inderdaad uit die slawerny van ons sonde bevry is.  Soos die tweede Paasfees ook die trek na die beloofde land gesimboliseer het, dien die nagmaal as ‘n voortdurende bevestiging dat ons deur die Here op die geestelike reis na die nuwe hemel en aarde begelei en versorg sal word.

  1.  Die wolk- en vuurkolom van die OT word vervul in die menswording van die Here Jesus Christus wat onder ons kom “tabernakel” het, soos die Griekse woord in Johannes 1:14 vertaal kan word. Op die berg van verheerliking het ‘n helderligte wolk die dissipels ook oordek as teken van God se teenwoordigheid waarna God bevestig het dat Jesus die Een is wat nou hulle begeleier is (Mark, 9:7; Matt. 17:5; Luk. 9:34-35).  Sy hemelvaart was ook met ‘n wolk (Hand. 1:9) en sy wederkoms en oordeel sal ook op ‘n wolk wees (Luk. 21:27; Openb. 14:14-16) wat dié perspektief verder versterk.

Die Heilige Gees het ook met vuur gekom wat in tonge verdeel het en op elkeen gekom het (Hand. 2:1-4).  Met sy inwoning van elke gelowige het Hy die Een geword wat ons nou in opdrag van die Here Jesus in die waarheid lei (Joh. 16:13).  In ons gehoorsaamheid aan Hom kan ons die fyn aanvoeling ontwikkel om te beweeg of te rus wanneer God dit van ons vra op die reis na die beloofde land.

Johannes gebruik in Openbaring 20:9-10 ook die idee van die “kamp” in die woestyn uit Numeri 9:18-23 as beskrywing van die wyse waarop die geloofsgemeenskap as ‘n eenheid in ‘n “laer” moet vasstaan in die oorlog wat die Satan teen hulle voer.  Met die agtergrond wat Numeri 9 dus verskaf, beteken dit dat hierdie oorlog in absolute gehoorsaamheid aan die Here aangepak moet word.  Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap.  Wanneer God rus, rus die geloofsgemeenskap.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda