Skip to main content

Numeri 11 – Die Here troef die gulsige verset van die volk met sy Gees en ‘n oordaad vleis

Die volk is nog maar net ‘n bietjie meer as drie dae ver op hulle reis na die beloofde land, waarskynlik nog by die eerste kampplek wat Gobab moontlik vir hulle aangewys het.  Hulle gehoorsaamheid met die bou van die Tabernakel en aan die militêre, sosiale, en godsdienstige strukture waarin die Here hulle geplaas het, verdamp soos mis voor die son.

In vyf episodes word die gulsige verset van die volk en die Here se reaksie daarop vertel:

  1. Die volk begin kla oor hulle swaarkry en verwyt die Here waarop die Here met ‘n verterende vuur antwoord wat sommige uitwis. Die plek kry die naam Tabera (“brand”) wat ‘n simbool word vir God se reaksie op ondankbare verwytende verset – Num. 11:1-3.
  2. God se streng optrede help egter net vir ‘n tyd. Net daarna kry die mense van gemengde afkoms (gepeupel) wat hulle met die Israeliete geassosieer het (vgl. ook Eks. 12:38) ‘n “onversadigbare lus vir vleis” wat die volk verlei om ook terug te verlang na die vleis, vis, komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel van Egipte – Num. 11:4-9.
  3. Dit loop uit op ‘n indringende gesprek tussen Moses en die Here waarin die realiteit van die uitdaging van hierdie reis deeglik bespreek word en die Here twee baie spesifieke reaksies aankondig: ‘n deel van sy Gees word vir die leiers gegee om Moses te help, en vleis vir die volk se lus – Num. 11:10-23.
  4. Die Here se belofte van sy Gees vir die leiers gaan dan in vervulling – Num. 11:24-30,
  5. en ‘n massiewe swerm kwartels wat vleis voorsien vir die volk, maar terselfdertyd die verwytende gulsige lede van die volk troef met dodelike oordaad. Die plek kry die naam Kibrot-Taäwa (“grafte van gulsigheid”) wat ‘n simbool word vir God se reaksie op gulsigheid wat maar net gierigheid in ‘n ander gedaante is – Num. 11:31-35.

Die Here is ‘n verterende vuur teenoor verwytende verset – Num. 11:1-3

Die volk begin kla oor hulle swaarkry in die woestyn, al was hulle nog maar net drie dae op reis.  Die Hebreeuse woord vir “kla” (miṯ·ʾô·nenîm) wat hier gebruik word, word net nog een keer gebruik in die Klaagliedere van Jeremia:  “Wat kla ’n mens oor sy lewe?  Hy moet liewer sy sonde oorwin.  Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek en ons tot die Here bekeer.” (Klaagl. 3:39-40).

Die gebruik van hierdie woord kom dus ooreen met die kere toe hulle gebrom (wǎy·yāʹ·lěn) het oor water (Eks. 17:3) en gemurmureer (wǎy·yǎl·lî·nû – dieselfde werkwoord van die stam lwn) het oor kos (Eks. 16:2; vgl. Num. 14:2).  Hulle behoeftes het hulle verlei om die Here te verwyt (Num. 11:1), en hulle soos tevore te verset teen die Here se pad met hulle wat ook tóé sy toornige reaksie uitgelok het (Eks. 16:2; 17:3; Num. 14:2).

Hierdie tipe klagtes is dus nie dieselfde as die klagtes wat in Job en die Psalms op roerende wyse verwoord word, nie as verwyte van of verset teen die Here nie, maar as verlangens en verwagtings van die Here: “Hoor my as ek kla, o God, beskerm my lewe teen die bedreiging van die vyand!” (Ps. 64:2).

Israel was hier eerder soos “grommende bere, soos duiwe wat kla en kla” (Jes. 59:11), nie soos Dawid wat na aanleiding van sy verblyf in die spelonk, waarskynlik op vlug van Saul, eerder sy klag voor God uitgestort het en Hom vertel het van sy nood. (Ps. 142:3).

Judas skryf waarskynlik ook hieroor en beskryf sulke klakouse as mense wat: “ontevrede is met hulle lot” en net leef: “volgens hulle eie begeertes” (Judas 16).  Paulus raai ons daarteenoor aan om alles te doen: “sonder kla of teëpraat” (Fil. 2:4), ons begeertes in alles met smeking en danksegging aan die Here bekend te maak, soos Dawid, en God te vertrou vir ons lewe (Fil. 4:4-7).

Jakobus raai ons aan om selfs in ons onderlinge verhoudinge nie oor mekaar te kla nie, in die vertroue dat die Here self as Regter sal optree (Jak. 5:9).  Soos Petrus ook sê: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.” (1 Pet. 4:9).

Die Here antwoord die Israeliete se verwytende verset met ‘n verterende vuur wat sommige in die kamp uitwis. Hy hoor nie net alles wat hulle sê, waar hulle ook al is nie, maar sy toorn ontvlam oor hulle ondankbaarheid en verwyte.  Die plek kry daarom die naam Tabera (“brand”) wat ‘n simbool sou word vir God se reaksie op ondankbare verwytende verset.

Die Hebreërskrywer verwys na hierdie tipe verset en beskryf God op soortgelyke wyse as ‘n “verterende vuur”.  Daar rus, sê hy, ‘n groot verantwoordelikheid op die geloofsgemeenskap om te: “Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.” (Hebr. 12:15).  Ons moet eerder daarop fokus om in alle omstandighede dankbaar te wees: “Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur.” (Hebr. 12:28b-29).

Die volk het ‘n onblusbare lus vir vleis – Num. 11:4-9

God se streng optrede help egter net vir ‘n tyd.  Net daarna kry die mense van gemengde afkoms (gepeupel) wat hulle met die Israeliete geassosieer het (vgl. ook Eks. 12:38) ‘n “onversadigbare lus vir vleis” wat die volk verlei om ook terug te verlang na die vleis, vis, komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel van Egipte.  Die manna was net nie meer goed genoeg vir hulle nie, al hoef hulle nie daarvoor te gewerk het nie.  Dit het snags saam met die dou by die kamp geval.

Die manna was wit soos koljandersaad en effens deurskynend soos balsemgom of –hars (Commiphora africana).  Dit het soos heuningkoek gesmaak, soos ons al in Eksodus 16 gelees het.  Hier word verder gesê dat die verwerkte produk – plaatkoekies of roosterkoeke – soos oliekoeke gesmaak het.  Dit was dus ‘n veelsydige geurige voedsel.

Die probleem was natuurlik nie die behoefte aan afwisseling en proteïne nie, maar die feit dat hulle terugverlang het na Egipte en die voorsiening van die Here verontagsaam het.  In plaas daarvan om hulle behoeftes aan Hom bekend te maak, het hulle in hulle gedagtes van Hom afstand gedoen en in opstand gekom teen die uitdagings van die reis wat hulle met God onderneem het.

Die idee dat elke huis vir elke dag manna moes gaan optel, lê natuurlik agter die gebed wat die Here Jesus ons geleer het in die NT: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” (Matt. 6:11).

Wat ons ook moet raaksien, is dat van die begin af die voorsiening van die Here aan ‘n daaglikse gehoorsaamheid gekoppel word.  Dit is ‘n tema regdeur die Pentateug en die res van die profetiese literatuur dat God verseker voorsien, maar dat Hy ook onwrikbare gehoorsaamheid vereis. Sy seën is aan ons gehoorsaamheid verbind.  Dié wat aan Hom ongehoorsaam is, ontbeer sy voorsiening, trouens, ontgeld baie keer sy toorn soos dit hier weereens beklemtoon word.

Die indringende gesprek tussen Moses en God – Num. 11:10-23

Dit is nie net die Here wat dié keer die gemor hoor nie, maar ook Moses.  Dit loop uit op ‘n indringende gesprek tussen Moses en die Here waarin die realiteit van die uitdaging van hierdie reis deeglik bespreek word.

‘n Mens kom agter dat die Here van te vore vir Moses die opdrag gegee het om die volk te versorg soos ‘n moeder haar suigeling aan haar bors laat drink, maar dié opdrag vir hom net te swaar geword het.  Hierdie slegte behandeling kan hy net nie meer verduur nie.

Die Here reageer daarop met twee baie spesifieke reaksies.  Hy belowe dat ‘n deel van sy Gees op Moses ook vir die leiers gegee sal word om Moses by te staan, en dat God ook vleis sal voorsien vir die volk se lus.  Die eerste reaksie toon God se empatie met Moses.  Die tweede sy ongeduld met die volk.  Hulle sal nie net ‘n stukkie vleis kry nie, maar so veel dat hulle daarvan naar sal word, omdat hulle die Here getart en verwyt het oor die plek waar hulle hulle bevind.

Moses reageer met ongeloof, omdat hy net nie kon glo dat daar genoeg vleis vir die mense voorsien kon word uit wat hulle gehad het nie.  Selfs al sou ‘n wonderwerk gebeur en al die vis in die see vir hulle gevang word, dink hy nie sal daar genoeg wees vir dié mense nie!

Die Here se reaksie is berispend, sonder om Moses te verneder en bevestig God se mag om in oorvloed te voorsien: “Dink jy Ek het nie die mag nie? Jy sal nou self sien of my woord bewaarheid word of nie.”  Die Here wil dus ook deur hierdie gebeure Moses se geloof in God vergroot.

Die Here gee van sy Gees vir die leiers – Num. 11:24-30

Moses word oortuig dat die Here sal doen wat Hy sê en voer die eerste opdrag uit om die leiers van die volk nader te laat kom dat God van sy Gees op hulle kan lê om hom met die begeleiding van die volk te help (vgl. Besaleël in Eks. 31:2).  Die Here se belofte van sy Gees vir die leiers gaan dan in vervulling en hulle profeteer as teken daarvan, hoewel dit nie daarna weer gebeur het nie.

Selfs Eldad en Medad wat nie opgedaag het vir die ontmoeting nie – die teks sê nie hoekom nie – het die gawe van God se gees ontvang, ‘n teken van God se genade.  Die teenkanting van Josua daarteen lei tot die ongelooflike uitspraak van Moses: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”  Iets wat natuurlik in die NT vervul is!

Die Here troef hulle gulsigheid met dodelike oordaad – Num. 11:31-35

‘n Massiewe swerm kwartels wat deur ‘n wind van die see se kant af aangewaai is, voorsien die volk van ‘n oormaat vleis, een meter dik, maar troef terselfdertyd die  gulsige verwytende lede van die volk met dodelike oordaad.  Dit lei ons af uit die feit dat dit net die “gulsige mense” is wat begrawe word (vers 37).  Die Here wag nie eers dat hulle naar word nie, maar bring hulle om die lewe.

Die plek kry die naam Kibrot-Taäwa (“grafte van gulsigheid”) wat ‘n simbool sou word vir God se reaksie op gulsigheid wat maar net gierigheid in ‘n ander gedaante is.  Lees Psalm 78 wat oor die raaisel van hierdie onbestendigheid van die volk uitwy en Psalm 106 wat weer uitbrei oor die fundamentele goedheid van die Here ten spyte van die sondige opstand van sy volk (vgl. ook Neh. 9:15-20; Deut. 32:22-24).

Die volk het verder getrek na Gaserot op pad na die Paran woestyn en ‘n tyd lank daar gebly.  Die gebeure van hoofstuk 12 sal daar plaasvind.

Boodskap

Dit is ‘n ongelooflike ryk gedeelte.  Ek het alreeds ‘n hele paar aspekte hierbo aangeraak.  Hier is ses aspekte van hierdie gedeelte wat vir my uitstaan:

1.  God voorsien op wonderlike maniere

In die inleiding tot Numeri het ek reeds in die gedeelte oor die gebruik van Numeri in die NT gewys op parallelle met die verhaal van die vyf broodjies en die twee vissies in al die evangelies (vgl. Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17; Matt. 14:13-21; Joh. 6:1-14).

2.  God gee oorvloed

Daar is ook twee sulke tipe verhale van oorvloed in die OT wat aan Elisa verbind word: die vermeerdering van die olie vir die weduwee van ‘n profeet (2 Kon. 4:1-7) en die vermeerdering van die twintig garsbrode wat vir ‘n honderd mense kos voorsien het, op grond van God se wondervoorsiening, soos Elisa gesê het: “want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou.” (2 Kon. 4:42-44).

3.  God gee leiers wat deel is van sy oorvloed

Dit is ook interessant dat die verhaal van die voorsiening van die kwartels in die woestyn gekoppel word aan die aanwys, bemagtiging en uitstuur van die sewentig leiers, soos ‘n mens dit ook in die verhale van die broodvermeerdering sien in die evangelies.  In al drie Sinoptiese evangelies word die verhale van die broodvermeerdering gekoppel aan die roeping en uitstuur van die twaalf dissipels as uitvloeisel van hulle roeping (vgl. Mark. 6:7-13; Matt. 10:1-15; Luk. 9:1-6).

4.  God bemagtig alle gelowiges deur sy Gees

Die impak van Numeri 11 in die NT is daarmee egter nog nie uitgeput nie.  Die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2:1-4 kan verbind word aan hierdie verhaal in Numeri 11 waar die Gees op sewentig leiers kom en hulle bemagtig om as profete te begin optree. Die gawe van profesie wat hierdie sewentig leiers ontvang het, het wel ná die aanvanklike bemagtiging verdwyn, maar die verantwoordelikheid as leiers in ondersteuning van Moses het gebly.  Die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 het egter op die hele gemeenskap van gelowiges gekom en is daarna telkens aan nuwe gelowiges gegee (Hand. 2:37-38).  Die bemagtiging van die Heilige Gees in terme van sy vervulling, gawes en vrug het ook nooit tot ‘n einde gekom nie, hoewel Hy ook bedroef (Ef. 4:30) en verwerp (1 Tes. 4:8) kan word.  Die verwysing na en wens van Moses dat die Gees op almal gelê sal word in Numeri 11:29 kan ook verbind word met die gebed om die Gees wat inderdaad in die NT in vervulling gaan (Luk. 11:13).

5.  God werk op diverse maniere op diverse plekke met diverse mense

Die gesprek tussen Johannes en Jesus oor mense wat in sy Naam praat, maar nie deel van die dissipelgroep is nie, toon ook duidelike ooreenkomste met die gesprek tussen Moses en Josua oor profete in Numeri 11 (Luk. 9:49-50).  Net soos Moses niemand wou keer nie, doen Jesus dit ook nie: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle.

6.  Wees te alle tye en in alle omstandighede versigtig vir gulsigheid wat ons verlei om ongehoorsaam aan God te word

Paulus waarsku die geloofsgemeenskap ook in 1 Korintiërs 10:1-22 dat hulle hulle nie: “deur sondige begeertes moet laat dryf nie” soos in die verhaal in Numeri 11:4-34 waar die lus vir vleis Israel by Kibrot-Taäwa tot opstand teen God verlei het (vgl. ander OT gedeeltes wat hierdie gebeure ook as voorbeelde van rebellie aanhaal: Ps. 78:18; 106:13-20; Neh. 9:15-20; Deut. 32:22-24).   Israel se sonde in die woestyn was geleë in die feit dat hulle iets anders wou hê as wat God vir hulle voorsien het.

Hierdie tipe gulsigheid sou weer kop uitsteek in die reis deur die woestyn in die verdere konflik oor brood en water (Numeri 21:5) en hulle uiteindelik verlei tot afgodery en onsedelikheid (Numeri 25:2) weens Bileam se raad aan koning Balak van Moab (Num. 31:16).  Dit is wat met slegte begeertes gebeur.  Trouens, dieselfde het vroeër gebeur by Sinai toe Aäron die volk se begeertes met ‘n goue kalf bevredig het (Eks. 32).  Dit het hulle tot afgodery en onsedelikheid verlei.

As slegte begeertes toegelaat word om grond te vat in ‘n mens se lewe, selfs al is dit net ‘n ongelukkigheid met God se voorsiening, maak dit jou ‘n teiken vir versoekings – die “uitnodigings” van die Moabitiese vrouens (Num. 25:2) – en kan dit lei tot afgodery en onsedelikheid en die dood.

Ten spyte van die feit dat die Here Bileam gekeer het om Israel te vervloek en eerder te seën (vgl. Deut. 23:4-5; Jos. 24:9-10; Neh. 13:2; Miga 6:5) het die Moabiete en Midianitiese leiers (Num. 22:4) dus tog in hulle doel geslaag om Israel in afvalligheid te laat verval.  En word hierdie verhaal ‘n voorbeeld wat vir alle tye die geloofsgemeenskap waarsku teen slegte begeertes.

Bileam word uiteindelik wel doodgemaak in die oorlog teen die Midianiete (Num. 31:8; vgl. Jos. 13:22), maar sy nalatenskap bly voortbestaan in terme van die sonde waartoe hy Israel verlei het en wat telkens vir die geloofsgemeenskap ‘n uitdaging sou bly.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar