Skip to main content

Numeri 1-2 – Elkeen kry sy plek in die kamp

Die tyd vir die volk van Israel om die reis deur die woestyn voort te sit na die beloofde land Kanaän het aangebreek, veertien maande ná die Uittog uit Egipte.  Die Tabernakel is voltooi, die voorskrifte van die wet is gegee, en elkeen het goed geweet hoe hulle in gehoorsaamheid aan die Here en mekaar moet leef.  Hulle was gereed om die Here te volg na die plek wat Hy vir hulle in Kanaän sou aanwys.

Vir die uitdagings waaraan hulle in die woestyn blootgestel sou word, was daar egter nog ‘n paar finale voorbereidings om te tref.  Hulle moes militêr, sosiaal en geestelik as ‘n eenheid saamgesnoer word vir die uitdagings wat hulle in hulle konflik met ander nasies sou ervaar.  Hulle moes ook leer hoe om in die praktyk as families binne die groter geheel met mekaar en God te leef.

Die militêr weerbares word getel

Die eerste opdrag aan Moses en Aäron is om die weerbare manne wat vir militêre diens geskik is, te tel.  Daarmee is hulle aandag gefokus op die weerbaarheid wat hulle nodig sou hê nie net op die reis deur die woestyn nie, maar ook met die Intog in die beloofde land.

Die feit dat die Here dié opdrag gee, is betekenisvol, want Dawid moes dit ontgeld toe hy die volk wederregtelik getel het onder aanhitsing van die Satan (1 Kron. 21:1; vgl. ook 2 Sam. 24:1 waar dit die Here self is wat hom daartoe aanhits, omdat die Here toornig was oor Israel weens ‘n ongespesifiseerde rede).  God wil hiermee aan elkeen ‘n plek gee binne die geloofsgemeenskap.  Dit sluit die militêre, sosiale en geestelike dimensies van die volk in.

Let op dat daar twaalf leiers uit die stamme aangewys word om saam met Moses en Aäron die sensus te behartig.  Levi was uiteraard nie deel van hierdie proses nie, aangesien hulle nie ooit militêr aangewend is nie.  Hulle is wel later getel met die oog op hulle spesifieke verantwoordelikhede (Num. 4:34-49).

Josef se nageslag het in twee stamme ontwikkel, Efraim en Manasse.  Met die leiers uit dié twee stamme was die aantal leiers dus steeds twaalf in getal.  Laat ‘n mens dink aan die aanvulling van die getal van die dissipels in die NT dat hulle die volle getal twaalf kon bly (Hand. 1:21-22).

Elke Israeliet kry ‘n plek in die kamp

Die tweede opdrag aan Moses en Aäron was om aan elke Israeliet ‘n plek in die “kamp” te gee rondom die Tabernakel van die Here.  Elke persoon se plek by sy eie familie en stam was belangrik, sowel as hulle plek in verhouding met die ander stamme en ook met die Tabernakel.

Dit gaan nie net oor ‘n sosiale en geestelike hiërargie waarin elkeen sy plek moes ken nie, maar om te sorg dat elkeen wat aan die volk behoort inderwaarheid ‘n plek gehad het om sy eie te kan noem.  Só sou dit immers ook met die uiteindelike verdeling van die land gebeur, soos ons reeds met die sensus van die tweede generasie agterkom (Num. 26).

Hier is ‘n diagram wat dit vir jou visueel uitlê.

Wycliffe Bible Encyclopedia

Die vaandel (děḡěl – banner/signal) waarvan ons hier lees was ‘n uitkenningsteken vir die stam (vgl. Hoogl. 2:4 waar dieselfde woord gebruik word: “His banner over me was love”).  Daarbenewens was daar ook ‘n teken (ʾôṯ) vir elke familie, ‘n soort familie embleem, soos die reënboog interessant genoeg ook as teken van God in Genesis beskryf word (Gen. 9:12).

Hierna sou die reëlings rondom die Levitiese gemeenskap (hfst. 3) en hulle ampspligte volg (hfst. 4), die voorskrifte vir die reinheid van die geloofsgemeenskap (hfst. 5) en die Nasireërs, sowel as die Aäronitiese seën (hfst. 6) en die voorsiening vir die Levitiese werk (hfst. 7), hulle reiniging (hfst. 8) en die viering van die tweede Paasfees (hfst. 9) in voorbereiding vir die reis deur die woestyn.

Boodskap

Om hierdie twee hoofstukke se betekenis vir jouself toe te eien, kan jy aan twee ooreenkomste met die NT verhale dink.

1.  Dit is in die eerste plek opmerklik dat die Here Jesus moeite doen in sy laaste onderrig aan sy dissipels om hulle van ‘n plek in die hemel te verseker, ‘n plek wat Hy gaan gereedmaak vir hulle: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek … En as Ek gegaan het en julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh. 14).

Dink vandag daaroor dat jy in die geloof ‘n heenkome vir ewig het by God die Vader; dat daar in sy huis nie net baie woonplek is nie, maar ‘n plek vir jou, ‘n plek wat Jesus vir jou gereedmaak.  Wanneer dit klaar is, kom Hy jou haal om vir ewig by Hom te wees.

2.  Dit is ook insiggewend in die tweede plek dat die geloofsgemeenskap as sodanig in die NT as ‘n “laer” beskryf word. Johannes gebruik in Openbaring 20:9-10 hierdie idee van die “kamp” in die woestyn as beskrywing van die wyse waarop die geloofsgemeenskap as ‘n eenheid in ‘n “laer” moet vasstaan in die oorlog wat die Satan teen hulle voer (vgl. ook Ef. 6:10-13).  Hierdie idee sal later aangevul word in Numeri 9:18-23 met die opdrag dat die volk telkens in gehoorsaamheid aan die Here moet beweeg. Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap.

Dink vandag dus ook daaroor dat jy aan die een kant in die geloofsgemeenskap ‘n plek het, dat jy deel is van die liggaam van Jesus Christus, en dat jy aan Hom behoort, dat jy Hom aanbid, maar dat jy tegelykertyd saam met almal wat in Hom glo, van betekenis is in die stryd vir geloof op ons reis in hierdie wêreld, daar waar jy vir Hom leef.  “Worship and war”, soos Alan Stibbs dit beskryf (Search the Scriptures).

Daarmee word twee van ons grootste behoeftes aangespreek: om te behoort en van betekenis te wees.  Sê vir die Here dankie daarvoor en sorg dat jy jou plek saam met die kinders van die Here volstaan in aanbidding en die geloofstryd!

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar