Skip to main content

Numeri 31 – Die Here straf die Midianiete met ‘n grootskaalse uitwissing

Daar bly een taak vir Moses oor voor hy sou sterwe.  Die Here wil hê dat die Israeliete die Midianiete straf vir wat hulle aangedoen is met die verleiding tot afgodery en onsedelikheid (Num. 25).  Daarna sal hy by “sy volksgenote versamel word”, ‘n eufemisme vir die lewe na die dood.

Pinehas kry die taak om die 12 000 man teen die Midianiete in oorlog te lei met die silwertrompette en ander heilige voorwerpe, waarskynlik onder andere die ark. In ‘n verskriklike veldslag wis hulle al die mans uit wat teen hulle oorlog gemaak het, sonder dat ‘n enkele Israeliet sneuwel, en neem die vroue en kinders gevange saam met ‘n groot klomp buit.

Vyf van die Midianitiese konings sneuwel, waaronder Sur, die pa van die Midianitiese vrou Kosbi wat deur Pinehas doodgemaak is toe sy in die kamp met Simri gemeenskap gehad het, sowel as Bileam, die aanstigter van die aanvanklike versoeking.  Hulle verwoes ook die stede.  Midian is hiermee ‘n gevoelige slag toegedien, hoewel hulle tog later in die tyd van Gideon weer ‘n bedreiging geraak het (Rigt. 6).

Moses is egter glad nie tevrede met die feit dat die vroue teruggebring is nie, want dit was immers juis deur die vroue wat die probleme aanvanklik ontstaan het.  Dit lei tot die tragiese uitwissing van al die seuntjies en alle vroue wat reeds gemeenskap met ‘n man gehad het.  Die Israeliete kon die dogters en maagde laat lewe en vir hulle as vroue vat.

Die helfte van die buit is gelykop verdeel tussen die manne wat oorlog gaan maak het.  Die ander helfte van die buit is verdeel onder die mense wat agterbly het.  Die priesters het 0,2 % van die oorlogvoerders se helfte gekry en die Leviete 2 % van die ander helfte.  Die Leviete was immers ‘n groter groep.

Omdat almal oorleef het, bring die bevelvoerders van die soldate ‘n ekstra offer aan die Here van al die goue sierade wat hulle gebuit het.  “Dit sou die Here altyd aan Israel herinner.”  Die soldate het egter hulle buit gehou.  Let ook op hoe die reinigingswater hier sy doel dien, soos Moses in Numeri 19 gereël het.

Boodskap

Ek het reeds uitvoerig geskryf oor hoe ‘n mens die voorkoms van geweld in die OT moet beskou: Ekskursie – geweld in die OT.  Ek herinner jou aan die feit dat dit nooit maklik is om dié geweld in die voorsiening van die Here te verklaar en verstaan nie, veral nie waar dit nie net die mans in die oorlog vernietig nie, maar selfs die kinders en vrouens raak.

Die versoeking is groot om dié verhale as fiksie te verwerp of op een of ander wyse die voorkoms van geweld te versag deur die blaam op ‘n verkeerde verstaan van God se opdrag te plaas.  Dit is egter beter om jou toevlug te neem tot die vier perspektiewe wat ek vroeër aangeroer het.

  1. God se soewereiniteit help ons verstaan dat God se weë en gedagtes nie is soos ons s’n nie. Dit is nie ‘n ontduiking van ons verantwoordelikheid om sulke tekste beter te verstaan nie, maar ‘n erkenning van die beperktheid van ons begrip en ‘n aanvaarding dat Hy beter weet wat goed en reg is as wat ons kan insien.
  2. In aansluiting hierby is dit duidelik dat hier sprake is van ‘n regverdige straf vir die wig wat die Moabiete en Midianiete tussen God en sy volk wou indruk deur die verleiding tot afgodery en onsedelikheid. Dit is ook ‘n feit dat God aanvanklik juis nie wou hê Israel moet met hulle naby familie oorlog maak nie, maar die Midianitiese koning Balak wou die vriendskaplikheid van Israel nie aanvaar nie.  Die oorlog is dus geregverdig in die sin dat dit uitgelok is deur die kwade bedoelings en gedrag van die Moabiete en Midianiete.
  3. In die breër prentjie van die Heilige Oorlog wat nog voorlê vir Israel, is dit ook so dat hierdie oorlog ‘n voordeel vir Israel ingehou het, nie net in terme van die grondgebied wat hulle so ingepalm het nie, maar ook in terme van die gereedheid vir die uiteindelike inname van die Intog. Hulle sou verseker ook geleer het dat die oorwinning eintlik by God se werk berus het.  Hulle was immers ‘n klein klompie wat die oorlog gevoer het, en nie ‘n enkele een is dood nie!
  4. Neem ook in ag dat by die uitwissing van die seuns en getroude vroue dit op Moses se inisiatief gedoen word, sonder dat hy ‘n eksplisiete opdrag van die Here daartoe gehad het. Die Here is wel betrokke by die verdeling van die buit, wat ‘n mens as ‘n implisiete goedkeuring kan neem, maar tog duidelik nie eksplisiet by die gewelddadige uitwissing van die seuns en getroude vroue nie.  Dit is waarskynlik deel van die progressiewe openbaring dat God hier ook aansluit by sy mense se kapasiteit en gereedheid om sy openbaring te kan ontvang.  Met die verloop van die heilsgeskiedenis kon God al hoe meer van sy wil en wese openbaar, totdat die tyd ryp was en Hy sy Seun in sy volheid aan die mensdom kon bekendstel en Hy op ‘n selfverloënende manier mense vir sy koninkryk begin werf het. Tog moet ‘n mens ook nooit vergeet dat daar ‘n eindoordeel is waaraan alle mense blootgestel gaan word, en ‘n ewige verdoemenis wag vir dié wat sonder Christus sterwe. Dit is enige tyd net só ‘n werklikheid as die lot wat die mense van Midian hier getref het.
View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar