Skip to main content

Numeri 33 – God is getrou deur die volk se omswerwinge en wil hulle veilig in die land laat woon

In hierdie hoofstuk word ‘n opsomming gegee van die trekke en staanplekke van Israel, van Egipte af tot in Kanaän.  Interessant genoeg word hier 40 plekke genoem tussen Rameses in Egipte en die Jordaan in Moab vanwaar hulle die Intog sou aanpak.  Dit kan moontlik ‘n subtiele verwysing wees na die 40 jaar tydperk in die woestyn totdat die tyd vir die uiteindelike in besit neem van die land aangebreek het.  ‘n Hele paar plekke is onbekend:

  1. Sukkot (Eks. 12:37),
  2. Etam (Eks. 13:20 – aan die rand van die woestyn),
  3. Pi-Hágirot (Eks. 14:2 – by die Rietsee),
  4. Mara (Eks. 15:23 – met die bitter water),
  5. Elim (Eks. 15:27 – met sy twaalf fonteine en sewentig palmbome),
  6. Rietsee (Eks. 13-15),
  7. Sinwoestyn (Eks. 16:1),
  8. Dofka,
  9. Alus,
  10. Refidim (Eks. 17:1 – waar hulle water gekry en oorlog teen die Amalekiete gemaak het),
  11. Sinaiwoestyn (Eks. 19:1 – waar hulle die wet gekry, en die Tabernakel gebou is),
  12. Kibrot-Taäwa (Num. 11:34 – waar hulle kwartels gekry het),
  13. Gaserot (Num. 11:35 – vanwaar hulle na die Paranwoestyn is om die land te verken),
  14. Ritma,
  15. Rimmon-Peres,
  16. Libna,
  17. Rissa,
  18. Kehelata,
  19. Har-Sefer (berg Sefer),
  20. Garada,
  21. Makhelot,
  22. Tagat,
  23. Terag,
  24. Mitka,
  25. Gasmona,
  26. Moserot (waar Aäron later oorlede is, vgl. Deut. 10:6),
  27. Bene-Jáäkan (waar daar putte was, vgl. Deut. 10:6),
  28. Gor-Gidgad,
  29. Jotbata (wat waterryk was, Deut. 10:7),
  30. Abróna,
  31. Esjon-Geber (waar Salomo later skepe gebou het naby Elat aan die kus, vgl. 1 Kon. 9:26),
  32. Sinwoestyn by Kades (waar hulle weer slaags geraak het met die Kanaäniete en dié slag hulle oorwin het),
  33. Horberg op die grens van Edom (Num. 20, waar Aäron oorlede is),
  34. Salmona,
  35. Punon,
  36. Obot (Num. 21:10),
  37. Ije-Abarim regoor Moab (Num. 21:11),
  38. Dibon-Gad (Num. 21:30),
  39. Almon-Diblataim,
  40. Abarimberg, voor Nebo (waar Moses oorlede is, vgl. Deut. 32:49).

Uiteindelik is hulle in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, met ‘n kamp wat gestrek het van Bet-Jesimot af tot by Abel-Sittim, waar Moses sy laaste drie toesprake sou lewer wat ons in die boek Deuteronomium opgeteken kry.

Hierna brei die skrywer uit oor die opdragte van die Here vir die Intog:

  • Alle inwoners van dié land moet verdrywe word.
  • Al die afgodsbeelde moet verwoes word.
  • Die hele beloofde land moet in besit geneem en bewoon word.
  • Die land moet deur loting volgens die stamme en proporsioneel volgens hulle grootte verdeel word.

Die motivering is drieërlei:

  1. God gee die land aan hulle as besitting.
  2. Elke stam moet sy eie grond hê.
  3. Die inwoners moet verdryf word, anders: “sal dié van hulle wat oorbly, soos splinters in julle oë en soos dorings in julle sye wees. Hulle sal teen julle oorlog maak oor die land waarin julle woon, en dan sal Ek aan júlle doen wat Ek aan húlle wou doen!

En laat ons tog onthou.  Daardie laaste dreigement het ‘n paar keer in vervulling gegaan met die ballingskappe en wegvoerings van 721 v.C., 605 v.C., 597 v.C. en 586 v.C.

Boodskap

Hierdie hoofstuk onderstreep twee punte.

1.  Die eerste is dat die Here die volk na baie omswerwinge by die beloofde land gebring het. Hy was dus getrou selfs ten spyte van die tallose kere wat hulle ongehoorsaam was.  Die Here se getrouheid is die een vaste grondslag waarop ‘n mens kan bou.

2.  Die tweede is dat die Here vir hulle ‘n land wil gee waar hulle nie aan dieselfde uitdagings as in die woestyn en selfs vroeër in Egipte blootgestel sou wees nie. Hy wil hulle beskerm.

Hy wil daarom alle inwoners verdryf saam met hulle afgode sodat hulle nie: “soos splinters in hulle oë en soos dorings in hulle sye sou wees nie.”

Dit is nie dat Israel enigsins beter was as die Kanaäniete nie.  Trouens, Israel word gehelp ten spyte van hulle sonde, terwyl Kanaän gestraf word vanweë hulle sonde (Ronald Goetz in Kaiser se The Promise-plan of God).  Die onderskeid was in die millennia-lange skuld van die Kanaäniete van voor Abraham se tyd af (Deut. 9:5), trouens van Gam se tyd af (Gen. 9:22).  Die sondes van die Kanaäniete het hulle volle maat bereik, die beker van hulle goddeloosheid het oorgeloop, en die Here het besluit om ‘n streep te trek (Gen. 15:16; Lev. 18:28).

God is dus nie onregverdig met die uitwissing van die Kanaäniete nie, maar as die Regter van die hele aarde doen Hy wat reg is, en in dié geval straf Hy hulle vir hulle sonde.  Hy is heilig en lief vir die goeie.  Dit beteken dat Hy onheiligheid en die kwaad noodwendig moet haat, omdat dit voortvloei uit sy heiligheid en goedheid.  Dat Hy dit vir eeue kan verduur, beteken nie dat Hy nie uiteindelik sal optree nie.  Wie dink dat God nie die sonde straf nie, misgis hom of haar met God se heiligheid.

Soos Lucius Lactantius in sy De Ira Dei (“Oor die woede van God”) in die 3de eeu n.C. oor God se toorn geskryf het: “He who loves the good by this very fact hates evil: and he who does not hate evil, does not love the good; because the love of goodness issues directly out of the hatred of evil, and the hatred of evil issues directly out of the love of goodness.  No one can love life without abhorring death; and no one can have an appetency for light without an antipathy to darkness.”

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar