Skip to main content

Numeri 13 – Ons was soos sprinkane in ons eie oë

Met die aankoms van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn is die opdrag van die Here dat Moses twaalf leiers uit die twaalf stamme as verkenners moet aanwys.  Moses se opdrag aan hulle was om deeglik te kyk na die land en sy mense om die volk opgewonde te maak oor wat die Here vir hulle gaan gee en ook inligting te kry vir hulle veldtog – Numeri 13:1-20.  Die verkenning sluit die hele land in van die Sinwoestyn in die suide tot by Lebo-Hamat in die noorde met spesiale vermelding van Hebron waar God aan Abraham die belofte van die land gemaak het – Numeri 13:21-25.  Met hulle terugkoms was hulle positief oor die moontlikhede van die land, maar negatief oor die gevaar wat die mense vir die Israeliete ingehou het.  Kaleb se verweer dat hulle die land sál kan inneem, word getroef deur die slegte gerug wat die meerderheid van die verkenners onder die volk versprei: “Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.” – Numeri 13:26-33.

Twaalf verkenners – Numeri 13:1-20

In opdrag van die Here laat Moses die volk twaalf leiers kies om as verkenners op te tree.  Die term wat gebruik word vir “verken” beteken in ander kontekste “ondersoek”.  Dit is dus nie net op ‘n militêre verkenning gemik om die toeganklikheid van die stede en die paraatheid van sy mense te toets nie, maar ook op ‘n evaluasie van die vrugbaarheid en geskiktheid vir hulle toekoms.  Hulle moes van die vrugte saambring as hulle kon.

Die twaalf leiers sluit Kaleb van die stam Juda in sowel as Hosea van die stam Efraim, een van die Josef-stamme.  Albei sal van hier af belangrike rolle speel.  Die redakteur verduidelik dat Hosea dieselfde man is wat deur Moses Josua genoem is, en wat al ‘n paar keer in die verhaal tot hier vermeld is.  Moses het met hierdie naam Josua se verbintenis aan Jahwe duidelik gemaak met die voorvoegsel wat drie konsonante (JHW) van die naam Jahwe bevat.  Hosea-Josua sou uiteindelik die volk in die beloofde land inlei met die tweede probeerslag.

In Deuteronomium 1:19-25 verwys Moses terug na hierdie gebeure in sy toespraak aan die tweede generasie van die volk op die voorhand van hulle Intog in Kanaän.  Daar beklemtoon hy sterker die rol van die volk in die keuse van hierdie manne, anders as hier in Numeri waar God se rol sowel as sy eie sterk op die voorgrond is.

Terloops, Kades word met ‘n hele paar verskillende name in die Bybel aangetoon: Kades-Barnea (Num. 32:8), En-Mispat (Gen. 14:7), en figuurlik gesproke ook Meriba (Num. 27:14) soos dit ook die geval was met Refidim in die Sinwoestyn tussen Elim en Sinai wat deur Moses Meriba genoem is weens die rusie wat daar rondom water ontstaan het (Eks. 17:7).

Die verkenning – Numeri 13:21-25

Die roete wat hulle volg, is van die suide in die Sinwoestyn tot reg in die noorde by Rehob (stad in die latere stamgebied van Aser – Jos. 19:28) en Lebo-Hamat  wat uiteindelik die noordgrens van die landgebied van Israel sou uitmaak in die tyd van Salomo (1 Kon. 8:65) en Jerobeam II (2 Kon. 14:25).

Dit val op dat spesiale vermelding gemaak word van Hebron en die Eskolspruit, want dit is waar Abraham by die groot bome van Mamre gebly het en Makpela van Efron, ‘n Hetiet, gekoop het as graf vir hom en sy mense (Gen. 13:18; 23:19). Ook Isak en Jakob het daar gewoon (Gen. 35:27; 37:14).

Drie van die mense (clans) wat in Hebron gebly het, word genoem: Agiman, Sesai, en Talmai.  Hulle was afstammelinge van Enak, bekend as besondere lang mense, die “reuse” (Griekse vertaling van Nefilîm).  Kaleb sou later juis hulle grondgebied kry en dié drie verslaan (Jos. 15:14; Rigt. 1:20).

Die redakteur gee ‘n bietjie verdere historiese agtergrond en verduidelik dat Hebron sewe jaar vóór die Egiptiese stad Soan gebou is, ‘n stad wat hulle in Egipte geken het, soos ons uit Psalm 78:12,43 kan agterkom.  Geleerdes identifiseer Soan met die stad Tanis in Egipte. Daarmee bevestig die skrywer dat dié dinge regtig gebeur het.

Hebron verbind dus die Intog met die belofte wat aan Abraham gegee is dat die Here die land van Kanaän vir hom en sy nageslag gee.  Die verwysing na die Eskolspruit dien dieselfde doel, want Eskol was die broer van Mamre met wie Abraham in ‘n goeie verhouding was. Maar weens die goeie vrugte wat hulle juis daar afgesny het – druiwe, granate, vye – en die feit dat Eskol in Hebreeus “druiwetros” beteken, dra dié verwysing ook die betekenis van die vrugbaarheid van hierdie land. Dit is dus ‘n vrugbare land wat die Here vir Israel gee.

Die slegte gerug – Numeri 13:26-33

Die verslag oor die land was baie aanvanklik redelik gebalanseerd.  Die vrugbaarheid van die land het geblyk uit die vrugte wat hulle kon wys, veral uit dié deel waar Abraham vroeër gebly het.  Dit het by wyse van spreke: “oorgeloop van melk en heuning.” Die melk verwys waarskynlik na bokmelk en die heuning na ‘n soort mos wat hulle van druiwe en dadels gemaak het.

Maar die uitdaging van die mense in hulle stede was ontsaglik.  Nie net was die stede versterk en groot nie.  Die mense was ook groot.  Sommige was “reuse” (Griekse vertaling van Nefilîm), afstammelinge van Enak.  Die Hebreeuse Nefilîm is deur die Jode verbind met die “hemelwesens” van Genesis 6, hoewel die Griekse vertaling waarskynlik nader aan die waarheid is.  Die nasate van die “hemelwesens” het immers ook in die vloed in die slag gebly.

Hulle lys ook die groepe wat in die onderskeie streke gebly het:

  • Die Amalekiete, nasate van Esau (Gen. 36:12, 16), in die Suidland waarteen hulle al geveg het in die woestyn (Eks. 17).
  • Die Hetiete by wie Abraham Makpela gekoop het in Hebron.
  • Die Jebusiete wat net noord daarvan in die omgewing van die stad Jebus, later bekend as Jerusalem, gewoon het.
  • Die Amoriete wat in die Bergwêreld gewoon het van wie Jakob alreeds Sigem vir homself verower het en as erfenis vir Josef nagelaat is (Gen. 48:22). Later het die Amoriete dwangarbeid vir die Josefstam verrig wat hulle gebied ingeneem het (Rigt. 1:35).
  • Die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan. Hier word hulle as aparte groep geïdentifiseer, maar die naam is ook as aanduiding van alle bewoners van Kanaän gebuik.

Kaleb kon egter sien in watter rigting dié verslag gaan en het kapsie gemaak teen die beklemtoning van die vermoëns van die mense van Kanaän met die woorde: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”  Die aanspraak van Kaleb is egter in die wind geslaan uit vreesagtigheid: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.

Die manne het mense gaan werf vir hulle standpunt deur ‘n “slegte gerug” waarin hulle ‘n vreesaanjaende prentjie van die land geteken het as een: “wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak.” Die direkte konflik tussen hulle aanvanklike beskrywing van die land as ‘n land van melk en heuning en nou as een waarin lewe nie moontlik is nie, het hulle nie gekeer nie.  Ten alle koste moes die Intog teengestaan word.

Hulle het gevoel: “soos sprinkane in ons eie oë”, en daarom inderdaad: “so was ons ook in hulle oë.”  Die tasbare teenwoordigheid van God in hulle midde het minder getel as die tragiese twyfel in hulle eie vermoëns.  God se wondervoorsiening is nie met geloof begroet in hulle lewens nie.

Boodskap

Dit is duidelik dat leierskap ‘n onontbeerlike rol speel in die wel en weë van ‘n geloofsgemeenskap.  Dit is een ding om verkennend op te tree om die konteks waarbinne ons leef beter te verstaan.  Dit is ‘n heel ander ding om die Here te vertrou om die roeping wat Hy het, uit te voer as die uitdagings van die konteks dreig om jou te oorrompel en jy oor jouself dink dat jy maar net ‘n sprinkaan is, minderwaardig en klein.

Kaleb se moed en oortuiging was egter gebou op sy visie van God.  Al het sommige leiers gedink dat hulle soos sprinkane is, het Kaleb vasgehou aan God se belofte en vanuit God se grootheid gedink en gelei.  Hy het daarom ook nie omgegee om alleen te staan nie.  Josua sou eers in die volgende rondte saam met hom vir gehoorsaamheid aan God se opdrag in die spervuur gaan staan.

Geen wonder dat Kaleb uiteindelik nie net die voorreg gegun word om die beloofde land binne te gaan nie, maar juis die land kry van die mense wat die grootste uitdaging gebied het, die land van die “reuse”, sowel as die plek waar Abraham vroeër gewoon het. En onthou dat uit Kaleb se stam, Juda, is die Messias gebore!

Kaleb het God gesien soos Hy in Psalm 2:4-5 geteken word: “Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle.  Hy spreek hulle aan in sy toorn, in sy gramskap jaag Hy hulle op loop.”  Dit is wat ons ook nodig het as ons Hom moet volg in ‘n situasie wat baie moed gaan verg.

Dit is uit hierdie hoek heerlik om die getrouheid van die twaalf dissipels raak te sien toe hulle deur die Here Jesus uitgestuur is om bekering te gaan preek, duiwels uit te dryf en baie te genees (Mark. 6:7-13; Matt. 10:1-15; Luk. 9:1-6).  Dit is ook ons roeping om die evangelie van die koninkryk regdeur hierdie wêreld te neem, maak nie saak watter “reuse” daar op ons wag nie.  Ons God jaag hulle by wyse van spreke “op loop” en bring hulle tot inkeer!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar