Skip to main content

Numeri 15 – Verdere riglyne vir die hantering van sondes

Hierdie hoofstuk handel oor riglyne wat met die hantering van vier tipe sondes te make het.  Vorige riglyne word verder aangepas en nuwes gegee.  Dit handel oor:

  1. Riglyne vir bykomende offerandes vir hulle algemene sondigheid – Numeri 15:1-21;
  2. Riglyne vir onopsetlike sondes sowel as moedswillige of opsetlike sondes – Numeri 15:22-31;
  3. Riglyne vir die skending van die Sabbat – Numeri 15:32-36;
  4. Riglyne vir klossies aan hulle klere wat herinner aan God se gebooie sodat hulle nie die sondige begeertes van hulle hart en oë navolg nie – Numeri 15:37-41.

Dit is heel gepas ná die vorige hoofstuk waarin die verset van die volk gemaak het dat hulle op ‘n tragiese manier die vervulling van God se landsbelofte gemis het.  Die land is nie totaal vir die volk verlore nie – hulle kinders sal die land inneem – al moet hulle die straf vir hulle ongehoorsaamheid dra.  Die feit dat hier ook ‘n duidelike reël vir moedswillige en opsetlike sondes neergelê word, antisipeer die verdere verset van Korag, Datan en Abiram van hoofstuk 16.

Bykomende offerandes – Numeri 15:1-21

Die Here gee hier ‘n paar bykomende riglyne vir allerlei offerandes wat hulle ook later in die land sal kan gebruik om versoening te doen vir hulle sondes.  Al die offers wat op die altaar verbrand kon word, is vuuroffers genoem.  In hierdie geval verwys dit na brandoffers, gelofte- en vrywillige offers, en maaltydoffers.  Die vuuroffer was dus nie ‘n ekstra offer nie.

Die reëlings vir die maaltydoffers word uitgebrei veral met die oog op die feeste en meer konkrete detail oor die graanoffers en drankoffers word gegee.  Onthou dat die een wat die offers gebring het met die maaltydoffer ook sy familie en vriende kon nooi om te deel in die vreugde.  ‘n Deel van die offer is immers aan die een wat offer teruggegee om by die ingang van die tent van ontmoeting te geniet saam met sy mense (vgl. Esegiël 45-46 – God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit wat Numeri 15 se detail oor offers ingewerk het by sy profesie).

Die vreemdelinge word ook nie vergeet nie, en toegang verleen tot die kultus indien hulle hul met die geloofsgemeenskap sou vereenselwig: “Daar moet in die gemeente dieselfde voorskrif wees vir julle en vir die vreemdeling wat by julle woon. Dit is ’n vaste voorskrif vir julle nageslag dat die vreemdeling net soos julle moet wees voor die Here. Een en dieselfde wet en bepaling moet op julle en op die vreemdeling wat by julle woon, van toepassing wees.”

Onopsetlike en moedswillige sondes – Numeri 15:22-31

Die Here herhaal van die vorige riglyne vir die hantering van onopsetlike sondes en gee ook ‘n duideliker riglyn vir moedswillige of opsetlike sondes.

Moedswilligheid of opsetlikheid is nog net drie keer aangespreek in die Pentateug:

  • Eksodus 21 het riglyne gegee vir die hantering van die moedswillige of opsetlike doodmaak van iemand. Dit was gereken as moord en het die doodstraf verdien.  Indien die dood egter onopsetlik was, sonder voorbedagte rade of uit selfverdediging, kon iemand asiel kry op ‘n voorgeskrewe manier.
  • Eksodus 33 het die volk se moedswilligheid met die episode van die goue kalf aangespreek wat net deur die bemiddeling van Moses beredder is .
  • Levitikus 5-6 het die kleiner jakkalsies van opsetlike sondes in terme van woorde (bv. bedrog) en kleiner optredes wat mense onrein gemaak het, aangespreek, waarvoor die skuldoffer versoening kon bring.

Hier is dit duidelik dat sondes, selfs waar dit onopsetlik is, skuld op die persoon wat sondig, sowel as die geloofsgemeenskap laai.  Daarom is daar riglyne vir offers nie net vir die persoon wat sondig nie, maar vir die hele geloofsgemeenskap.  God se standaard in die wet moes te alle tye nagekom word.  Selfs waar onopsetlik of onwetend gesondig word, bly die persoon of die geloofsgemeenskap skuldig en moes daar versoening gedoen word vir die sondes.

Moedswillige of opsetlike sondes val egter in ‘n heel ander kategorie.  Dit word as só erg gereken dat daar net een manier is om daarmee te handel.  Jy word afgesny van die geloofsgemeenskap.  Dit gebeur wanneer die persoon se woorde of werke die Here oneer aandoen, sy woord minag, of sy gebooie verbreek op moedswillige of opsetlike wyse.  Só ‘n optrede verdien net een ding, en dit is die doodstraf.

Die Hebreeuse frase (tǎ·ʿǎśěʹ beyāḏ rā·mā) wat in die Afrikaanse vertaling met “moedswillig” of “opsetlik” vertaal word, kan letterlik vertaal word as: “met ‘n hoë (opgehefde) hand optree.”  Dit beteken om die Here se woord willens en wetens teen te staan, en sy wil vir die lewe uit te daag.  Sulke sondes kan nie met die normale offerstelsel versoen word nie, en verdien die doodstraf (vgl. 1 Sam. 3:14 waar die ongeregtigheid van Eli se familie ook nie vergewe word nie, omdat dit moedswillig was).

Jesus verwys waarskynlik in sy uitleg van die sonde teen die Heilige Gees na die beskrywing van moedswillige of opsetlike sondes in Numeri 15:30-31 (Matt. 12:32).  Indien die werk van die Heilige Gees op soortgelyke wyse verag en verontagsaam word, en daarbenewens deur “lastering” aan die duiwel toegeskryf word, soos Jesus dit uitlê, is dit ‘n sonde wat só afgryslik sleg geag word dat dit onvermydelik tot die (geestelike) dood sal lei.  Daarvoor is ook nie vergifnis moontlik nie.  Wie God en sy woord minag, word deur Hom geminag.

Skending van die Sabbat – Numeri 15:32-36

Die wet rondom die Sabbatdag is alreeds in Eksodus 20:10 gegee.  Werk is daarmee verbied sodat almal kon rus en die Here kon aanbied en gemeenskap met mekaar kon geniet.  Hierdie verbod het die vorige reëlings ingesluit wat kosmaak verbied het.  Alles moes reeds die vorige dag voorberei geword het (Eks. 16:23).  Hier het egter nou ‘n nuwe probleem opgeduik.  Iemand het hout gaan bymekaarmaak, waarskynlik om vuur te maak.

Hulle het nie onmiddellik opgetree nie, al het die wet reeds vuurmaak verbied (Eks. 35:3).  Hulle het daarom die persoon gevange gehou totdat die wet verantwoordelik in dié situasie uitgelê en toegepas kon word.  Die Here se riglyn was dat die optel van hout, selfs al het jy nog nie vuur gemaak daarmee nie, reeds ‘n oortreding was van die Sabbatsgebod, omdat dit jou bedoeling om vuur te maak, verraai het.  Daarom het die persoon die doodstraf gekry.  Dit wys ook hoe wetgewing algaande ontwikkel is na aanleiding van praktiese situasies soos dit opgeduik het, gebaseer op die basiese riglyne wat reeds met die Tien Gebooie en die ander wetgewing van Eksodus en Levitikus gegee is.

Klossies aan hulle klere as herinneringsteken téén sondige begeertes – Numeri 15:37-41

‘n Nuwe riglyn word vir die Israeliete gegee om hulle te help om die stryd teen sondige begeertes van hulle hart en oë te voer.  Hulle moes klossies op die some van elkeen se klere aanbring, met ‘n blou toutjie by die hoekklossies.  Die klossies sou hulle herinner aan God se gebooie sodat hulle nie die sondige begeertes van hulle hart en oë navolg nie.

Dit is interessant dat die kleur van die toutjie blou was. Dit sou hulle herinner het aan die heiligheid van God self.  In die visioen van God, wat die sewentig leiers bevoorreg was om te sien, was daar onder sy voete plaveisel van saffiersteen wat so blou soos die hemel was, ‘n kleur wat dus met God self geassosieer was (Eks. 24).

Dit het in afgeleide sin ook van die hoëpriester gegeld in terme van sy gesag en toewyding.   Die hoëpriester se borssak waarin die Urim en Tummim was, was onder andere van blou weefstof gemaak (saam met gouddraad, en pers en bloedrooi weefstof), soos ook sy skouerkleed. Sy mantel was trouens heeltemal uit blou weefstof gemaak as teken van gesag en toewyding met aan die soom granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof wat met goue klokkies afgewissel is. Ook die roos van genade op sy tulband was met ‘n blou toutjie vasgemaak daaraan! (Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding).

Die riglyn was duidelik gemik op ‘n heilige lewe aan die binne- en buitekant: “As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie. Julle moet aan al my gebooie dink en hulle onderhou sodat julle aan My gewy sal wees.

Boodskap

‘n Mens kan baie maklik vasval in die detail van hierdie hoofstuk en dink dat hierdie riglyne nie meer geld vir ons vandag nie.  Daar is natuurlik ‘n groot element van waarheid in só ‘n houding, want ons hoef nie meer hierdie offers te bring nie; ons hoef nie die sabbat te onderhou soos hulle dit gedoen het nie; ons hoef nie meer klossies aan ons klere vas te maak met blou toutjies om ons te herinner aan God se gebooie om ons sondige begeertes van ons hart en oë hok te slaan nie.

Maar ons moet raaksien dat hierdie dinge skaduwees is van die werklikheid wat in Jesus Christus aangebreek het.  Dat dié dinge waarna dit wys – ‘n heilige lewe in hart en handel – steeds onverhandelbaar op ons van toepassing is.  Daarby is die boodskap rondom opsetlike of moedswillige sondes steeds helder en duidelik op ons van toepassing.  Die Here se vergifnis hef die doodstraf op, maar nie die eis tot ‘n heilige lewe nie.

Oorweeg jou lewe in die lig van hierdie Skrif en laat die Gees jou begelei om die werke van die vlees dood te maak: “As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” (Rom. 8:13).

Dit is die blywende opdrag van die Here regdeur die OT tot aan die einde van die NT.  Dit sluit die sondes van beide dié van die hart en dié van die oog in, soos Numeri 15 ons leer.  “Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.” (Hebr. 12:1-2a).

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar