Skip to main content

Numeri 5 – Elke Israeliet moet rein leef, veral in die huwelik

In die boek Levitikus is reeds uitvoerig aandag gegee aan die reinheid van die hoëpriester en die priesters om hulle dienswerk te kan verrig (Lev. 21) sowel as aan die reinheid van die volk in terme van dieet, geboortes, siektes, uitskeidings sowel as die hantering van die tabernakel (Lev. 11; 12; 13-14; 15).  Hier word nou verder op die reinheid van die volk uitgebrei deur aandag te gee aan:

  1. die optrede rondom velsiektes, geslagsiektes (gonorree) en lyke – Num. 5:1-8,
  2. die hantering van enige benadeling van jou naaste – Num. 5:9-8,
  3. die oordrag van besit met offergawes en gewyde gawes – Num. 5:9-10, en
  4. die hantering van agterdog in die huwelik – Num. 5:11-31.

Die feit dat die volk deur God uitgekies is om aan Hom te behoort en rondom sy heiligdom as geloofsgemeenskap te vergader, het ‘n direkte implikasie vir hulle lewe:

  1. persoonlike reinheid ter wille van die gesondheid van die gemeenskap,
  2. goeie sosiale verhoudings ter wille van hulle naaste wat restitusie met 20% rente aan die benadeelde, en offergawes ingesluit het, omdat dit die verhouding met God geskaad het,
  3. godsdienstige verantwoordelikhede in terme van offergawes vir die priesters, en selfs ‘n strewe na
  4. integriteit in terme van hulle huweliksverhoudings.

Netso sal die Leviete hierna ook spesifieke opdragte kry vir hulle reiniging na aanleiding van hulle take en verpligtinge – Numeri 8.

Almal wat getel is en ‘n plek gekry het rondom die Tabernakel moes immers die Here gehoorsaam in sy spesifieke voorskrifte. God het in die heiligdom in die middel van die kamp gewoon.  Daarom moes die volk met nougesette aandag aan sy voorskrifte leef vir elke area van hulle lewe.

Sondes teenoor jou naaste

Let op dat die benadeling van jou naaste as ‘n sonde teenoor die Here beskou is: “en dus ontrou teenoor die Here”.  Die twee tafels van die wet is dus as ‘n integrale eenheid beskou.  Jy kon nie God liefhê en Hom dien, en jou naaste haat nie.  Die omgekeerde was natuurlik ook waar, soos Johannes jare later in sy brief aan die gemeente in Efese verkondig het: “As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.” (1 Joh. 4:20).

Integriteit in die huwelik

Ontrou in die huwelik was strafbaar met die dood.  Daarom moes die integriteit van die man sowel as die vrou beskerm word.  Nie net ter wille van hulleself nie, maar ter wille van die hele geloofsgemeenskap.  Almal moes die huwelik eer en op geen manier mekaar daarin benadeel nie.

Soos Paulus later skryf aan die Tessalonisense: “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge.” (1 Tess. 4:3-6).

So ook die Hebreërskrywer aan die gemeente in Rome: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” (Hebr. 13:4).

Waar ‘n man dus selfs net agterdogtig was of sy vrou ontrou was of nie – sonder enige direkte bewyse – is die integriteit van die huwelik sowel as die regte van die vrou beskerm deur ‘n seremonie wat bedoel was om in die teenwoordigheid van die Here die skuld of onskuld van die vrou na vore te bring, aangesien ‘n regsprosedure nie sou werk nie.  God word dus as ‘n getuie ingeroep om sekerheid te bring oor wat in die geheim gebeur het of juis nie gebeur het nie.

Let op dat die vrou se onskuld vasstaan totdat sy deur die seremonie skuldig bewys word al dan nie.  Let ook op dat sy nie doodgemaak word as die seremonie haar skuld sou bewys nie, anders as wat die geval sou wees as daar ander getuies sou wees van owerspel.  Sy sou in hierdie geval net onvrugbaar wees.  Die gewyde water waarin stof van die Tabernakel se vloer gegooi is, sou immers nie haar vrugbaarheid as sodanig kon wegneem nie.  Dit sou net die Here kon doen, met die simbool van sy teenwoordigheid (water en stof van die Tabernakel).

Hierdeur is die hele gemeenskap teen geheime sondes sowel as die onreg van jaloesie beskerm.  As die vrou onregverdiglik beskuldig is, sou die seremonie in die teenwoordigheid van die Here dit uitwys, en almal sou die waarheid daaroor weet.  Die man sou die skande daarvan moes dra.  Dieselfde sou geld as die seremonie sou uitwys dat die man se agterdog nie ongegrond was nie.  Die vrou sou die skande daarvan moes dra, onvrugbaarheid.

Die boodskap aan die volk was deur hierdie voorskrif ongetwyfeld dat niks vir die Here onsigbaar is nie, al sou hulle reken dat iets net in die geheim gebeur het.  Soos Dawid in Psalm 139:2-4 van God se intieme kennis van ons skryf: “U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.  U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.  Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, Here, U ken dit geheel en al.

Hierdie waarheid oor God – wat alles weet wat aangaan – lê waarskynlik agter Jesus se woorde waarin Hy sy dissipels waarsku om nie te huigel nie: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.” (Luk. 12:1c-3).  Dit geld uiteraard ook vir ons dade.

Boodskap

Die impak van hierdie gedeelte op ons eie geestelike lewe lê in die besef dat daar niks is in ons lewe wat nie in die teenwoordigheid van die Here geleef mag word nie.

  1. Ons het ‘n verantwoordelikheid rondom persoonlike reinheid, al kan ons met die moderne middels tot ons beskikking die aansteeklike effek op die gemeenskap vermy. Hier in die woestyn moes hulle strenger maatreëls volg.
  2. Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons naaste om hulle in geen opsig te benadeel nie. Ons sondig daarmee teen die Here en moet ook ons verpligting rondom restitusie nakom, al is die wetlike voorskrifte nie meer op ons van toepassing nie.
  3. Ons moet ook ons verpligtinge rondom die gemeente nakom, weereens, al is die wetlike voorskrifte van die offergawes en gewyde gawes nie meer op ons van toepassing nie.
  4. En dan het ons ‘n dure verpligting om die huwelik in stand te hou. Lees weer wat Paulus skryf aan die Tessalonisense en die Hebreërskrywer aan Rome en volg hulle leiding nougeset na.
View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar