Skip to main content

Numeri 16 – Verset lei tot veroordeling wat net getroef word deur voorbidding en versoening

Net wanneer ‘n mens dink daar kan nie nóg iets verkeerd gaan in die woestyn nie, dan word jy verras met ‘n volgende fase in die verset van die volk teen die pad wat die Here met hulle loop.  Eers was dit die onversadigbare lus vir vleis van die volk (hfst. 11).  Toe het Mirjam en Aäron teen Moses in opstand gekom (Num. 12).  Dit is opgevolg met die volk se weiering om die land van belofte binne te trek uit vrees vir die “reuse” (Num. 13-14).

Hier in hoofstuk 16 word die ontevrede verset voortgesit met ‘n verdere opstand teen Moses deur Korag, ‘n Leviet, en Datan en Abiram, nageslag van Ruben, die oudste seun van Jakob.  Hulle het in opstand gekom teen die posisie wat die Here hulle onder die volk gegee het.   Korag wou ‘n priester wees, nie net ‘n Leviet nie.  Datan en Abiram wou waarskynlik hê dat hulle die voorregte van die eersgebore stam kon geniet deur ‘n meer prominente leierskaprol te speel.

Ten diepste het hulle God se verkiesing van Moses en Aäron as leiers begeer.  Hulle jaloesie het egter tragiese gevolge, want die verset deur die groepie leiers (Num. 16:1-18) word nie net beantwoord deur die Here se veroordeling en straf nie (Num. 16:19-40), maar boonop nagevolg deur die volk in hulle verdere verset teen Moses en Aäron wat deur die Here met ‘n plaag beantwoord word.  Dié straf word uiteindelik net die hoof gebied deur die voorbidding en versoening wat die twee leiers inderhaas vir hulle bewerk (Num. 16:41-50).

Die verset van Korag, Datan en Abiram – Numeri 16:1-18

Korag was ‘n Leviet en deel van die Kehat-groep waarvoor Eleasar, seun van Aäron en volgende hoëpriester, verantwoordelikheid geneem het.  Hy verenig saam met Datan en Abiram, afstammelinge van Ruben, oudste seun van Jakob, en versamel ‘n “bende” van 250 mans rondom hulle en kom in opstand teen Moses en Aäron.  Dat Abiram se pa On genoem is, is onheilspellend betekenisvol, want dit was die naam van een van die Egiptiese gode.

Hulle kom in opstand teen Moses en Aäron op grond van die feit dat elke lid van die geloofsgemeenskap geheilig is, en dat die Here by hulle was, net soos by Moses en Aäron. Natuurlik was dit waar dat die Here by hulle almal was.  Hy wou immers die hele volk Israel as ‘n koninklike priesterdom gebruik (Eks. 19:5-6), ‘n droom wat in die NT waar geword het (1 Pet. 2:5, 9).

Maar, die fout wat hulle gemaak het, is dat hulle Moses-hulle beskuldig van selfverheffing, terwyl dit die Here self is wat hulle in die posisie van leierskap geplaas het.  Daarom verdedig Moses ook nie homself nie, maar val voor die Here op sy knieë neer in gebed, want dit is uiteindelik ook net die Here wat sy wil in só ‘n geval kan bevestig.

Sy reëling ná sy gebed is dat almal hulle vuurpanne met wierook moes volmaak en die volgende môre na die altaar toe bring, sodat die Here kan uitwys wie Hy verkies: “Julle Leviete matig julle te veel aan!

Datan en Abiram wou nie dié roete volg nie, want hulle wou waarskynlik nie as priesters optree nie, maar net as leiers van die volk. Hulle wou die gewaande “misleiding” van Moses gebruik om hulle eie posisie onder die volk te versterk.

Korag en die ander Leviete gryp egter die kans aan om deur die Here aangewys te word as priesters.  Selfs toe Moses hulle waarsku dat dit een ding is om Aäron aan te vat, maar ‘n geheel ander ding om ‘n komplot teen die Here te smee.  Aäron het juis twee seuns,  Nadab en Abihu, verloor toe hulle ongeoorloofde vuur voor die Here gebring het.  Priesterskap was nie kinderspeletjies nie (Lev. 10)!

Die veroordeling en straf van die Here – Numeri 16:19-40

Die Here se sigbare teenwoordigheid word dié dag ‘n vreeslike veroordeling wat bedoel was nie net vir die “bende” van Korag, Datan en Abiram nie, maar vir die hele volk!  “Gee pad van hierdie gemeente af, dat Ek hulle in ’n oogwink kan vernietig.

Weereens is Moses en Aäron op hulle knieë voor die Here om vir die volk voorbidding te doen: “Sal u toorn teen die hele gemeente ontvlam as net een mens gesondig het?

Die Here tree daarom op teen die drie goddelose belhamels en hulle mense met ‘n bevel dat die ander lede van die geloofsgemeenskap nie sal omkom weens die sonde van Korag, Datan en Abiram nie.  Hulle sterf ook nie ‘n gewone dood nie, maar ‘n buitengewone straf van die Here deurdat hulle lewend afdaal in die doderyk toe die “aarde sy mond oopmaak”.

Die vuurpanne van die Leviete wat gesterf het, word as ‘n herinneringsteken aan Korag-hulle se sonde tot dun plate geslaan en die altaar daarmee oorgetrek.  Net mense wat deur die Here uitgekies is, kon diens doen by die Tabernakel.

Die verset van die volk en die versoening wat Moses en Aäron bewerk – Numeri 16:41-50

Die opstand was egter nie verby nie.  Die volgende môre het die volk weereens teen Moses en Aäron in opstand gekom wat vanselfsprekend weer reaksie van die Here ontlok het met ‘n plaag wat die volk begin tref het.  Dit is net afgeweer deur die voorbidding van Moses en Aäron wat gelei het tot versoening vir die gemeente met Aäron se vuurpan met wierook.

Boodskap

Drie dinge tref my in hierdie hoofstuk.  Dit is ‘n bietjie langer as gewoonlik, maar uiters relevant vir ons lewe vandag:

1.  VOORBIDDING: Drie keer is daar in hierdie hoofstuk ‘n dreigende krisis. Die eerste is Moses en Aäron se leierskap wat uitgedaag word.  Die tweede is die reaksie van die Here wat die hele volk wil verwoes weens die verset van Korag, Datan en Abiram.  Die derde is die verdere reaksie van die Here wat weereens die hele volk wil verwoes weens hulle eie verset teen Moses en Aäron.

Telkens word die krisisse die hoof gebied deur Moses en Aäron se voorbidding vir die volk gevolg deur spesifieke intervensies.

Die eerste keer stel hulle voor dat die Here moet wys wie Hy verkies, waarmee hulle wys dat hulle nie vasklou aan hulle posisies nie, maar hulleself net op die Here se keuse sal verlaat.  Die tweede keer maak hulle staat op die Here se regverdigheid deur Hom te vra om nie almal uit te wis oor een persoon se sonde nie.  Dit laat ‘n mens dink aan Abraham se gebed vir Lot!  Die derde keer doen hulle hulle werk deur versoening op die regte manier vir die volk te doen met Aäron se vuurpan met wierook.

2.  GENADE: Die een groot stuk hoop uit dié tragiese verhaal is dat Korag se seuns nie gesterf het saam met die bende wat rondom hom versamel het nie (Num. 26:11). Dit is net die “bende” wat hy om hom versamel het wat saam met hom omkom.  Sy familie was ongedeerd, anders as wat die geval was met Datan en Abiram wie se families hom nagevolg het in hulle verset.  Hulle weiering om saam te gaan met Korag se sonde, sowel as die voorbidding en versoening wat Moses en Aäron vir die volk gedoen het, het dus tot vergifnis en genade vir Korag se nageslag, die Koragiete, gelei.

En die wonderlike is dat die Koragiete mettertyd ‘n toenemend belangrike rol sou begin speel, soos die Here dit vir hulle bewerk het, in terme van leierskap sowel as in die liturgie van die volk.  Watter genade!

2.1  Die eerste getuienis daarvan is in die bediening van die priester-profeet Samuel aan die einde van die Rigterstyd.  Samuel was die seun van Elkana, ‘n direkte afstammeling van Korag (1 Kron. 12:6), gebore ná sy ma Hanna hom met groot passie van die Here afgebid het, en aan die Here toevertrou het (1 Sam. 1).

Samuel het met groot gesag in die spore van Moses sowel as Aäron gevolg.  Hy het trouens albei rolle beklee, maar nie soseer omdat hy dit wou hê nie, maar omdat die Here hom daarvoor gekies het, dit wat sy voorvader wederregtelik begeer het.

2.2  Van die Koragiete het later diens gedoen as deurwagte by die heiligdom (1 Kron. 9). Sommige was soldate in Dawid se leër (1 Kron. 12). Ander was weer bekend as musikante in die tempel (1 Kron. 6).

2.3  Hulle het ook ‘n belangrike rol gespeel in die liturgie van die tempel en 11 Psalms geproduseer wat in die Bybel opgeneem is.  Die Psalms is in twee versamelings van die Koragiete in die Psalms opgeneem.  Die eerste versameling lei die tweede Psalmboek in: Psalms 42; 44-49.    Die tweede versameling word aan die einde van die derde Psalmboek ingesluit: Psalms 84-85; 87-88.

2.4  ‘n Ander Koragiet, Heman, ‘n kleinseun van Samuel, word uitgesonder as ‘n musikant (1 Kron. 6), maar het veral bekend geword deurdat hy sy dogters ingesluit het in die tempeldiens as sangers wat vroue tot hulle reg in die tempel laat kom het (1 Kron. 25).

Heman se mense het ook onder begeleiding van die liere, harpe en simbale as profete opgetree.  Samuel was nie verniet hulle voorouer nie!  Hulle het dus nie net ’n funksie in terme van die begeleiding van die liturgie in die tempel en die geloofsgemeenskap gehad nie, maar ook ’n funksie in terme van die begeleiding van die geloofsgemeenskap om God se wil te hoor en te interpreteer.  Heman het selfs as ’n siener vir die koning opgetree en hom in godsdienstige sake begelei.

Die Koragiete het dus uiteindelik in ’n baie spesiale verhouding tot God gestaan.  Darem wonderlik wat kan gebeur as ‘n mens die Here vertrou om sy roeping en doel met jouself te verwesenlik, en nie ander se gawes of posisies te begeer nie!

3.  WAARSKUWING: Hoewel Korag se nageslag dus toenemend hulle regmatige plek in die geestelike bediening ingeneem en volgestaan het, staan Korag egter steeds uit as ‘n waarskuwing aan gelowiges om tevrede te wees met wat die Here gee en nie meer te verwag as wat Hy gee nie.

Korag word daarom op drie plekke in die NT gebruik as ‘n waarskuwing dat gelowiges nie in dieselfde slaggat van verset as hy sal verval nie. Dit behels die volharding in versoekings (1 Kor. 10), die opdrag om jou af te skei van dwaalleraars en self van ongeregtigheid weg te breek (2 Tim. 2), en nie te val vir die verleiding van jou natuurlike drange om in opstand teen die Here te kom nie (Judas 11).

3.1  VERSOEKINGS: In 1 Korintiërs 10:10 verwys Paulus na hierdie verhaal van verset in Numeri 16 waar hulle deur die engel van die dood omgekom het.  In die konteks waarsku Paulus teen afgodery en onsedelikheid, maar veral teen die versoeking om in verset teen God se wil vir die lewe te kom wat Hom uittart en minag.

Dit is immers wat die toegee aan versoekings behels.  Dit is om God se uitkoms in situasies van beproewing te ignoreer en jou eie kop te volg.  Sy belofte is steeds van krag: “Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” (1 Kor. 10:13b).  Sy uitkoms moet ons aangryp met die krag wat Hy verleen sodat ons nie in verset teen Hom kom soos Korag nie.

3.2  DWAALLERAARS: Paulus gebruik in 2 Timoteus 2:19 ‘n soortgelyke frase as dié uit Numeri 16:5: “sal die Here bekend maak wie Hom toebehoort” (OAV) om die Here se onderskeiding tussen dié wat aan Hom behoort (Moses en Aäron) en dié wat afvallig geraak het (Korag, Datan, Abiram), aan te dui: “Die Here ken die wat syne is”.

In Numeri word Korag, Datan en Abiram as afvalliges aangedui.  In 2 Timoteus word Himeneus en Filetus aangedui wat deur hulle dwaalleringe sommige van die geloof laat afdwaal het.  Hulle voorbeeld mag nie gevolg word nie.

Die Here se onderskeiding tussen mense, ook in die NT geloofsgemeenskap, maak dus steeds saak.  Ons moet tevrede wees met die rol en posisie wat God gee soos Hy dit vir ons in terme van ons gawes uitdeel.  En ons mag nie saamwerk met dié wat die Here se wil verontagsaam nie.

3.3  NATUURLIKE DRANGE: In Judas 11 gebruik Judas, die broer van Jesus, ook Korag as ‘n voorbeeld van verset teen die wil van die Here.  Waar jou natuurlike drange jou verlei om in opstand te kom teen die wil van God, sodat jy die voordeel daarvan kan geniet, beweeg jy op gevaarlike terrein.  Sy opsomming van sulke mense is as volg: “Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot. Hulle leef net volgens hulle eie begeertes, praat groot en sê vleiende dinge van mense om daaruit vir hulleself voordeel te trek.” (Judas 16).

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar