Skip to main content

Numeri 22 – Die Here gebruik die bose Bileam om Israel te seën

Die Israeliete het in die vlakte van Moab aangekom en sou hier vertoef tot en met die Intog deur die Jordaan soos dit in die boek Josua beskryf word.  Hierdie vlakte is dan ook reg oos van Jerigo wat die eerste stad in Kanaän anderkant die Jordaan sou word wat hulle inneem.  Die vlakte van Moab is ook die plek waar Moses sy laaste toesprake sou hou wat vir ons in Deuteronomium opgeteken is.

In hoofstuk 22-24 tref ons die enigmatiese waarsêer en profeet Bileam aan (vgl. Jos. 13:22; 2 Pet. 2:15).  Koning Balak van Moab (afstammelinge van Lot en sy een dogter), om wie se grondgebied hulle so pas in vrede getrek het, huur hom in samewerking met die Midianiete (afstammelinge van Abraham by Ketura wat later in die tyd van Gideon weereens teen Israel geveg het – Rigt. 6) om die volk Israel te vervloek.  In plaas daarvan om hulle te help met kos en water, wil Balak hulle kwaad aandoen (vgl. die herinneringe hieroor by Neh. 13:2; Mig. 5:2).

Bileam kan egter nie anders nie as om die volk vier keer te seën in opdrag van die Here (Num. 23:1-24:19) wat hy afrond met ‘n paar ander uitsprake oor die Amalekiete (afstammelinge van Esau, verwant aan die Edomiete), Keniete (die deel van die Midianiete met wie Israel goeie verhoudinge gehandhaaf het) en Kittiërs (Grieke – Num. 24:20-25).  Maar alles is duidelik nie pluis met Bileam nie, soos ‘n mens reeds in die begin vermoed met die verwarrende maniere waarop die verskillende gesprekke met die Here verloop.

Uiteindelik word dit vir ons verklaar met die mededeling dat hy agter die skerms bose raad vir die Moabiete en Midianiete gegee het om die Israeliete tot afgodsdiens te verlei deur onsedelikheid (Num. 31:16; vgl. Num. 25).  Daarmee slaag hy so byna.  Daarom word hy in die voortspruitende oorlog wat God teen die Midianiete verklaar, doodgemaak deur die Israeliete (Num. 31:8) en word sy nalatenskap in ‘n baie negatiewe lig gesien in die res van die Bybel.

Sy naam word in die res van die Bybel verbind met gierigheid, afgodsdiens en onsedelikheid.  Judas en Petrus verbind: “die weg van Bileam” aan die onreg wat hy die Israeliete aangedoen het ter wille van geld (Jud. 11; 2 Pet. 2:15-16).  Jesus spel weer die: “leer van Bileam” uit as die verleiding tot afgodsdiens en onsedelikheid in sy brief aan die gemeente van Pergamum (Openb. 2:14).

Bileam is ook uit buite-Bybelse bronne bekend wat sy historisiteit bevestig (Deir Allah naby die Jordaan).

Bileam word deur Balak gehuur om Israel te vervloek – Num. 22:1-21

Let op hoe die oorwinning van die Israeliete oor Sihon van die Amoriete Balak bevrees gelaat het.  Die feit dat die Amoriete vroeër die Moabiete verslaan het soos in die gedig van Numeri 21 genoem is, het waarskynlik vir hom veral bedug gemaak dat dieselfde lot hulle sou kon tref, al het Moses-hulle vreedsaam om hulle gebied getrek.

Balak huur Bileam om Israel te vervloek in die hoop dat dit hom ‘n oorwinning oor hulle sou verleen.  Omdat Bileam in gesprek kon tree met Jahwe het Balak waarskynlik gedink dat sy plan sou werk as juis ‘n profeet van Jahwe die Israeliete kon vervloek.

Bileam was op dié stadium in Petor aan die Eufraat in die land Ammau in Mesopotamië (Deut. 23:4).  Sommige geleerdes verbind dit met Tell Ahmar naby Karkemis wat ook naby Haran is, waarvandaan Abraham na die beloofde land getrek het.  Dit verklaar moontlik Bileam se kennis van Jahwe.  Uiteraard het die Midianiete en Moabiete ook kennis gedra van die God van Israel weens die familiebande wat daar tussen hierdie drie volk was.

Bileam se gesprek met Jahwe verloop op verwarrende wyse.  Aanvanklik sê die Here dat Bileam nie saam met hulle mag gaan nie en dié rapport word aan Balak gebring.  Met die tweede besoek gee die Here egter verlof aan Bileam met die voorwaarde dat hy net mag sê wat die Here vir hom gee om te sê.  Dit is duidelik dat die Here hom nie gaan toelaat om Israel te vervloek nie.

Die Engel van die Here waarsku Bileam om net sê wat Hy vir hom sê – Num. 22:22-35

Maar dan raak die Here kwaad en keer Bileam voor deur die Engel van Jahwe wat vierkant in die pad van sy donkie gaan staan.  Drie keer gebeur dit sonder dat Bileam agterkom wat aan die gang is, totdat die donkie ironies genoeg vir hom moet verklaar wat aan die gang is.

Die Engel van Jahwe waarsku Bileam dan dat hy op ‘n gevaarlike pad is, sonder dat ons ingelig word wat dié verkeerde pad is.  Ons sal die rede vir dié waarskuwing eers later met die gebeure in hfst. 25 en 31 agterkom.  Bileam word wel verlof gegee om die versoek van Balak te gehoorsaam op voorwaarde dat hy net mag sê wat die Here vir hom gee om te sê. Interessant genoeg is dit ‘n plek waar Baäl aanbid is, die god van die Kanaäniete.

Balak ontvang Bileam en bring hom na ‘n plek vanwaar hy Israel kan vervloek – Num. 22:36-41

Balak is ontsteld toe Bileam uiteindelik by hom uitkom, omdat hy geweet het Bileam sou nie maklik die groot som geld versmaai nie.  Bileam antwoord egter baie kortaf dat hy nou hier is en daarmee basta.  Hy is egter ook duidelik daaroor dat Balak moet verstaan dat hy net sal mag sê wat Jahwe hom toelaat om te sê.  Daarmee is hulle na ‘n plek vanwaar Bileam Israel kon sien om sy werk as waarsêer en profeet te doen.

Boodskap

Jesus waarsku ons teen die “leer van Bileam” wat met afgodediens en onsedelikheid te make het (Openb. 2:14).  Judas en Petrus waarsku ons teen die “misleiding –” (Judas 11) of “weg van Bileam” (2 Pet. 2:15) weens gierigheid.  Bileam word dus as voorbeeld gebruik van mense wat die ware God ken, maar Hom verloën deur die liefde vir geld en die liefde vir die dinge van die sondige vlees.

Dit is al erg genoeg in gewone gelowiges, maar waar leiers of leraars deur geld en onsedelikheid verlei word, kan dit nie in sterk genoeg taal afgekeur word nie. Niemand van ons sal ongeskonde bly as ons val vir gierigheid en losbandigheid nie.

Die hoop in Numeri 22 is dat die Here nie net bewus is van alles wat gebeur nie, maar die planne van ‘n bang Balak en ‘n bose Bileam kan fnuik; dat wat as ‘n vervloeking bedoel is, in ‘n seën vir Israel verander kan word; dat wat ten kwade bedoel is, ten goede uitwerk vir dié waarteen gekonkel word.

‘n Mens sien hier eintlik die krag van die seën van die Here wat Hy in Numeri 6 reeds vir Aäron en die priesters gegee het waardeur sy Naam op Israel sal rus.  Die Here beskerm inderdaad vir Israel; Hy laat sy gesig oor hulle skyn in sy genade; Hy lig sy gesig op na hulle en gee sy vrede.  Hy sal dit selfs laat gebeur deur mense wat dit sleg bedoel met Israel!

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar